Andries Bezuidenhout. Gedigte en musiek op ʼn wintersaand in Juniemaand

0:50 Sondagoggend, 20 Junie 2010. Pas terug van die musiek-gedigte gig by Steak & Ale in Bothalaan, Lyttelton. Wasem voor my mond, so koud is die woonstel. Hopelik skop die verwarmer vinnig in.

Die gig is deur Andries de Beer – ook bekend as Abjater Ronkedoor – aanmekaargesit, met hulp van Yabadaka Shamah. Abjater skryf self gedigte en het saam met sy medewerker Anna Coke opgetree. Die twee het om die beurt kort verse gelees. Hulle skryf oor hedendaagse kwessies, speel met woorde, vang jou onkant deur gedigte kort af te knip en in die lug laat hang.

Abjater Ronkedoor

Abjater Ronkedoor

Yabadaka Shamah het die beroemde gedig “My ousie is ʼn blom” geskryf, waarna daardie versamelbundel vernoem is. In die dag bestuur hy taxi. In die aand skryf hy gedigte en maak musiek. Hy speel die baskitaar en tree saam met ʼn paar van die bands op.

Yabadaka sê ʼn zebra sonder wit strepe is ʼn swart donkie en ʼn zebra sonder swart strepe is ʼn wit donkie. In ʼn onderhoud met die joernalis Fred de Vries vertel Yabadaka van soortgelyke geleenthede, vroeër in die destydse Up the Creek in Sunnyside. Dit was ook voorlesings deur opkomende Afrikaanse digters. Hy het deur Leti Kleyn daarby betrokke geraak, maar die voorlesings het doodgeloop toe die bywoning daarvan taan. Hy vermoed dit het te make met die toenemende gewildheid by swart poësieliefhebbers.

Yabadaka Shamah

Yabadaka Shamah

ʼn Paar dae gelede is ek gevra om die digters en musikante by die Steak & Ale-voorlesing voor te stel, seremoniemeester te speel. Kabous Verwoed het nie daarvoor kans gesien nie. Dis ʼn moerse uitputtende job, veral omdat ek bitter min van die mense ken. Ek lees Mongane Serote se gedig oor die dry white season voor:

it is a dry white season brother,
only the trees know the pain as they still stand erect
dry like steel, their branches dry like wire,
indeed, it is a dry white season
but seasons come to pass.

Dalk was dit ʼn té morbiede wyse om die aand te begin. Tog is daar soveel hoop in die gedig, veral as dit so koud is – ʼn droë Hoëveldkoue. Ek wens dit was somer.

Abjater se program is propvol en veeltalig – meestal Afrikaanse kunstenaars, maar ook mense wat in Engels, Sotho en Tsonga sing en skryf.

Oscar Benjamin, woonagtig in Yeoville, Johannesburg, dra van sy gedigte voor. Dit handel meestal oor xenofobie. Hy sê sy gedigte maak hom seer. ʼn Mens kan dit sien as hy dit voordra. Hy reël elke Woensdag om 18:00 poësiesessies by Joint Car Wash in Yeoville. 

Die meeste Afrikaanse digters verduidelik nie in Engels waaroor hul gedigte handel nie. Neem mense dan net aan dat almal in die land Afrikaans kan praat? As Kingman Usana op die verhoog klim om te sing, praat hy net Zoeloe. Ek wonder waaroor sy songs gaan. Dis folk, melodieus, mooi. Master B sing Tsonga. Hy spreek die gehoor ook uitsluitlik in Tsonga aan.

As almal tog maar net op Engels wil verduidelik waaroor die musiek en gedigte handel.

ʼn Hoogtepunt is Piet Botha en Jacob Wulana, van Tidal Waves, wat saam sing en kitaar speel. Die mense kom uit die rookwalms in die Steak & Ale se kroeg om te hoor wat hulle doen.

Piet Botha

Piet Botha

Jacob Wulana

Jacob Wulana

Ook Gareth Wilson, van Southern Gypsey Queen, wat saam met Andre Kriel van Black Cat Bones speel, bekoor die gehoor.

Die plan is blykbaar om volgende ʼn draai in Atteridgeville of Mamelodi met die program te gaan gooi. Ek hoop maar dit werk uit, word iets meer standhoudend as die kortstondige slukkies “versoening” rondom sokker- en rugbygames.

Hier kom die verwarmer se hittegolwe nou by my bene uit. 01:10. Ek scan gou die prentjies wat ek in my notaboek sit en teken het. Rowwe sketse, dalk eerder indrukke, karikature. Mense kon nie lank op die verhoog bly sit nie – vol program. Ek dink ek kon tog iets van Ronel Nel in die prent vang, al het sy verkoue gehad:

Ronel Nel

Ronel Nel

Verwysings

Onderhoud met Yabadaka Shama: Fred de Vries. From Abdullah to Zille: The Fred de Vries Interviews (Wits University Press, 2008), pp. 296-202.

“For Don M – Banned” deur Mongane Serote uit Tim Couzens en Essop Patel (reds.) The Return of the Amasi Bird: Black South African Poetry 1891-1981 (Ravan, 1982), p. 241.

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Gedigte en musiek op ʼn wintersaand in Juniemaand”

  1. “This poem is about the farm. This poem is about love. This poem is also about love. This poem is about the Karoo, seen from the perspective of the alienating city. This one is about my love for Afrikaans. This next peom is a conversation with Breyten. Breytenbach, yes, but all Afrikaners are on first name terms with him.” Dit sou vir my baie snaaks wees om ‘n versameling te maak van kort Engelse opsommings van Afrikaanse gedigte!

    Ek het op skool Brink se Dry white season in die Engelse weergawe gelees, en daardie Serote gedig was voorin. Dit het my altyd so hartseer hoopvol laat voel. Fantastiese gedig.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Ja, wel, Desmond, ek weet nie hoe verhelderend my eie “This poem is a conversation with my kitchen appliances” was nie.
    A

  3. Ten minste is jou gedig klaarblyklik deel van ‘n “time honoured” tema in die Afrikaanse letterkunde: kombuise!

  4. Andries Bezuidenhout :

    Ja, nie geel of swart nie, maar koooouuuuuud.

  5. Rene Bohnen :

    Ai ek is jammer ek moes Saterdagaand elders wees! (boonop was dit daar ook koud) Daar is tog iets musikaals aan gedigte in tale wat ek nie verstaan nie, so ‘n “trippy” tipe Ritme-Realisme… Ek het destyds vreesloos deur die nag van Harties af gery om so saam met die Rastas en die rappers, saam met die baie godsdienstige Zoeloe-tenoor en die melankoliese Tswana bas, saam met Leti en Braam en ons almal van various sub-kulture te gaan verse verteer oor menige glase wyn en water (die Rastas vanselfsprekend nie alkohol gebruik nie)Dit was toe in die “nuwe” Up The Creek, nadat hulle getrek het uit Gerard Moerdykstraat. Ons het soort van vreemderig meestal by verskillende tafels gesit, maar tog oor en weer gelag en gesels, mekaar gevind, saam buite gaan rook. Selfs die herinnering daaraan voel nou soos ‘n “time warp”. Die bywoning was soms skraal ja, maar soms het soveel as agtien digters voorgelees. En toe het Up The Creek toegemaak. Viva nou vir Steak & Ale,viva! Dis nie sommer net ‘n watergat nie, dis ‘n oase;-)

  6. Louis :

    Ag, jimmel, hoe verlang ek nou nie na die “ou” Up the Creek in Gerard Moerdykstraat nie, René. Nadat ek en Henning Pieterse begin het met maandelikse poësievoorlesings by ‘n nagklub (van alle plekke!)in die onderdorp en hulle ons later uitgeskop het (na nuwe eienaars oorgeneem het), het ons die voorlesings na Sunnyside se Up the Creek verskuif. En watter wonderlike aande het ons nie daar gehad nie! Die plek met elke voorlesing tot teen die kosyne volgepak. Wat het geword van die mense, wonder ek meteens. Roger Loveday, Rita Kok, en soveel ander. Ag, ja. En die aand toe wyle Jan de Bruyn ons verras het met sy nuwe gedigte wat later “Witvuurlig” geword het. En die aand toe ek my goeie vriend Mike B. aan sy toekomstige bruid voorgestel het … Mmmm, hoe vlieg die jare nie. Ai, ai, ai.
    ‘n Wonderlike stuk, Andries. Dankie daarvoor.

  7. Het self daardie tyd (laat 1990’s?) by Up the Creek voorgelees. Dis waar ek Louis & Marlise vir die heel eerste keer gehoor het – liefdesverse vir en oor mekaar. Verstommend mooi, soos gerugte van tuine in ‘n ander land. En Henning Pieterse het klomp van die gedigte wat later in “Die burg van hertog Bloubaard” sou verskyn, hier laat hoor. Magic.

  8. Louis :

    Carina, jy verwys waarskynlik hier na die “nuwe” Up the Creek in Hatfield waar ek en Marlise wel tydens ‘n besoek aan die Noorde voorgelees het, ja. Die “ou” Up the Creek was in Sunnyside langs die Breytenbach-teater. (Nie seker of dié teater nog bestaan nie …)

  9. Louis, ek was by albei en onthou hulle goed – die een in Hatfield en die Sunnyside. Vir jou en Marlise het ek wel by die Hatfield een raakgehoor, ja. Dit was in 1998, dink ek.

  10. Vir my bly dit ‘n belewenis om julle, die kunstenaars, musikante en digters op die Steak ‘n Ale se verhoog te kan sien optree….en natuurlik die grootste eer. Baie dankie aan almal van julle. Dankie Andries vir hierdie ongelooflike samevatting en sketse van Saterdagaand se mooi oomblikke. Uitstekend!!

  11. Ronel Nel :

    Hi Andries jy’s heeltemal reg oor die inhoud verduidelik in Engels! Ons het daai aand ook mos daaroor gepraat… Dink ons moet dit maar net so aan die digters/muso’s ook stel.
    Lekker sketse! Waar’s die een van jouself?