Digstring: Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Digstring

 

 ek lewe in stilswye 

 

wanneer donkie donkiekar

sy vuiste bal

en vir meisie le fleur van mossiestraat 2

in haar donner slaan

met ʼn moerse klap

in ʼn poel bloed haar lewelose liggaam laat

 

en die skare sis

sy was maar net ʼn tert

die jezebel van die krotte

 

ek lewe in stilswye

 

wanneer meester jonas in sy pastoorgewaad

op die plaas besope

van oom flip se koringbier

vir rosie odendaal

in haar uitgebleikte linneromp

hoog teen die kreeberge

tussen klipdagga en willeals

skaad

 

edelagbare sy was so mooi

en ek so alleen

 

ek lewe in stilswye

 

wanneer tant siena geldskieter haar blinkgatkar

met bloedgeld van jannie janse se all pay-kaart

met tik en pine

die hel in jaag

en sondag ja en amen sê

en ‘n stuiwer in die armbeurs gooi

vir pastoor ritters se evangelie

die here het gekom

gesterf

vir die sondes van die mens

 

die susters juig

die here vergewe

 

ek lewe in stilswye

 

 

© Sydda Essop (Uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Sydda? Hoe het dit ontstaan?

Hierdie gedig is gedurende Junie 2007 geskryf op ʼn winterse Woensdagmôre. Weens my betrokkenheid as gemeenskapsaktivis, of sosiale aktivis, was ek ontsteld oor die fatalisme wat onder die gemeenskap heers, die traagheid van ons politieke leiers en regerings-departemente om ʼn verskil te maak op voetsoolvlak. Daar was ʼn wrede geval van familiegeweld daardie spesifieke week (een van baie), die desolate gevoel van angs,  futiliteit, hopeloosheid en woede het my oorval.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek skryf en bêre dit vir ʼn tyd; kom dan weer terug; telkens, lees dit hardop sodat dit  foneties ook sin maak. Dit kan somtyds baie frustrerend word om jou gedagtes te formuleer in sinne en verse sodat die boodskap deurskyn en dit was die geval met hierdie gedig!

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Ek glo hierdie gedig was aan my “gegee”. Die informasie, die inhoud, was daar rondom my  en spook elke liewe dag by my, maar  die vertelling daarvan  op papier was wroeg en sweet; maar dit maak dit die moeite werd, soos die adrenalien wat daarmee gepaard gaan wanneer jy hom afbeitel tot tevredenheid. Terselfdertyd moet jy ook die verantwoordelikheid neem vir die objektiwiteit van die inhoud, ondanks die frustrasie.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Dit was net eers reëls wat neergeskryf was om van die inhoud te kon verklaar, ʼn tipe geraamte van sinne en idees sodoende om ʼn vers te vorm. In hierdie gedig moes die reëls telkemale ʼn verklaring wees sodat dit ritmies lees en amper ʼn melodieuse klaaglied word.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek skryf amper in totale isolasie! Met “Nuwe Stemme 4” het ek die geleentheid en voorreg gekry om dit aan Ronel Foster en Danie Marais te stuur en dit per e-pos te bespreek en te slyp. Dit was ʼn wonderbaarlike bemagtigende ondervinding met baie dank aan hulle.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit is amper drie jaar nadat ek dit geskryf het en dis vir die eerste keer gepubliseer: in “Nuwe Stemme 4“.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Hierdie gedig is  gebaseer op “feit” en hierdie gedig maak voorsiening daarvoor. Dit weerspieël die sosio-politieke en ekonomiese probleme in die Karoo-gemeenskap; die fataliteit en ook die futiliteit, die salige aanvaarding van die geestesleiers wat gepaard gaan met skynheiligheid en uitbuiting; die feitelike ontkenning deur ons politieke leiers om die probleme in die gesig te staar.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dis ʼn verhaal, of eerder ʼn klaaglied, oor die hartseer en verval in my gemeenskap en die fatalisme wat daarmee gepaard gaan; die belangrike feit dat daar toeskouers in die verhoor is wat hulpeloos, magteloos, staan en treur.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die groot invloed was natuurlik die gebeure in die gemeenskap. Hierdie gedig was ʼn hoogtepunt van frustrasie weens my betrokkenheid as aktivis … Jy kan nie blindelings en amper jammerlik wegstap en sê dit pla jou nie!

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ek is die gehoor eerstens. ʼn Gedig moet ʼn storie kan vertel. Ek wil tevrede voel dat die lewe van elke mens vir my belangrik is en dat ek kan luister en probeer om ‘n verskil te maak. Terselfdertyd  is dit belangrik dat die gemeenskap baat vind daarby en diegene wat dit êrens gaan lees, verstaan, en met deernis ondersoek in hoe ‘n mate die “massas” in die skemas  leer om te oorleef.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

My gedigte is amper almal “klaagliedere. Hierdie een meer ironies, sarkasties en sinies. In hierdie gedig skree ek om hulp!

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Tot ʼn groot mate is dit tipies  “Suid-Afrikaans” ten opsigte van die storie en die inhoud; tog sukkel die inheemse inboorlinge in Australië en Amerika met dieselfde probleme. Hier in Suid Afrika is ons nog deel van hierdie idilliese euforie dat as dit goed gaan met my, is alles reg. Maar dat ons in ʼn post-apartheid landskap leef en jy sou dink dat die sogenaamde “leiers” van bevryding ons as voorbeeld van bemagtiging vir die wêreld kon toon, is teleurstellend. Dis ironies dat die volk nog glo bevryding van armoede, en die euwels wat daarmee gepaard gaan, gaan nog gebeur … Dis vir my baie tipies dat niemand omgee nie en die karakters in die gedig praat duidelik; die manier van woordspraak kan net in Suid-Afrika gebruik word en verstaan word.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek dink so, want al my karakters in my storie het ʼn stuiwer in die armbeurs gegooi of dit gesofistikeerd was of nie, kru en sleng taal, of nie. Dis die stemme uit my gemeenskap.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Dis goed om te weet wat ander mense dink. Ek glo ons moet die vryheid hê om ons menings so eerlik te lig solank dit opbouend en positief en nie afbrekend en negatief is nie.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek kry nog nagmerries daaroor! Dit was in die Graad 11 se Wiskunde-eksamen. Kon nie hond haaraf maak van ʼn probleem nie. Ook die feit dat die onderwyser nie ons gender ernstig beskou het in die konteks van Wiskunde nie. Dit was woede en frustrasie. Dit was my eerste probeerslag om te skryf.

 

Sydda Essop

Sydda Essop

Sydda Essop

is in Beaufort-Wes gebore en het daar skoolgegaan. Sy studeer in die kunste by die Universiteit van Kaapstad. In die tagtigerjare is sy betrokke as sekretaris by die “Wynberg Crisis” organisasie om bystand te lewer aan ouers en kinders wat betrokke was met  “Public Violence”. Gedurende 1989 het van haar gedigte o.a. verskyn in die bundel I Qabane Labantu onder die redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse. Sy raak betrokke in die familie se besigheid en word later ‘n voltydse gemeenskapsaktivis in die Groot-Karoo. Met die hulp van Maatskaplike Ontwikkeling loots sy die Gender program vir die bemagtiging van die vrou en dogter. Vir die afgelope drie jaar is sy betrokke in die navorsing oor die rol, invloed, mede-afhanklikheid van die multikulturele landskap en veral die inheemse bydrae op kos en medisyne in die Groot-Karoo, die rol van vroedvroue op plase en “arm kos”. Die boek hieroor word vroeg volgende jaar gepubliseer deur Quivertree. Tans is sy besig om “SANTA” op die been te bring omdat die Groot-Karoo met van die hoogste syfer van tuberkulose in die Wes-Kaap sit weens armoede, drank en dwelmmisbruik. Haar gedigte verskyn ook in Nuwe Stemme 4.

 

  

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Digstring: Sydda Essop. Ek lewe in stilswye”

  1. Lewies Botha :

    Sydda. Jou gedig vind ek so aangrypend en ook nou hierdie digstring bydrae. Ek voel net soos die titel en refrein amper in jou gedig: Ek leef in stilswye.