Andries Bezuidenhout. Die oggend na die CD launch

Vyfuur Saterdagoggend, 5 Junie 2010. Ek’s in die Steers by die Ultra City op die N1 tussen Pretoria en Johannesburg. Ek wag vir ʼn toasted ham, cheese & tomato met ʼn ekstra hashbrown in die middel. My vice, my vroegoggend regmaker. En hot chocolate, want dis koud. Einde van die nagskof. Die kelnerinne kyk met moeë oë na die TV-skerm in die hoek. Een slaap by ʼn tafel met haar kop op haar arms. Tssssssssssssss, sê ʼn ander vroegoggendklant se hamburgerpatty op die rooster. Vir hom is dit seker ʼn vroeë ontbyt. Ek is hier vir ʼn laat aandete.

Op die skerm in die hoek sing Danny K. Hy is in ʼn kamer. Hy skryf iets op ʼn skryfblok. Dis seker ʼn liriek. Hy sing iets van dat hy in die spieël kyk, maar nie eers die kant van sy gesig herken nie. In die video kyk hy vir sy tone. Hy sing oor die persoon in die spieël, hy, wat nou langer lyk as gister en dat hy die lug kan proe. Dis nag. Nou stap hy deur die strate van ʼn stad. Is dit Kaapstad? Daar’s flitsskote van fabrieke en ander geboue. Die son kom op. Hy’s nou in die veld. Daar’s hoogspanningslyne aan staalkonstruksies en nabyskote van grashalms. Hoe het hy so vinnig van Kaapstad af op die Hoëveld beland? Hy sing:

I rock to the limit
And I, I, I… I get up again
I get up again… Of só iets.

My toasted ham, cheese & tomato met die hashbrown in die middel glip in ʼn sakkie uit die kombuis tot in my hande. Lekker warm. Ek het vir ʼn uur of twee in die kar probeer slaap in die parkeerterrein voor Steak & Ale, maar dit was te koud. Dis die bottel witwyn se skuld. En toe vodka en Red Bull. My ander vice. Niel van Deventer het sy nuwe CD Jy bekendgestel. Die kroeg was propvol. Ek het saam met Katvrou en Kuberkoos aan tafel gesit. Later vir Dana Snyman raakgeloop. Op die verhoog saam met Niel was Alwyn Kotze op agtergrondstem, Thornton Abbot op baskitaar en Rudolf du Plessis op kitaar.

Mense op Versindaba ken reeds vir Niel as een van die Nuwe Stemme. Benewens gedigte skryf, hou hy hom besig met musiek. Jy is ʼn vreemde titel vir ʼn CD. Dit klink soos iets meer kommersieel. Maar dan weer, Niel se eerste CD – saam met Radio Suid-Afrika – se titel was Bid. Van die melodieë en verwerkings op Jy is hartverskeurend mooi, maar onder die oppervlak draai die duiwel rond – veral as ʼn mens na die woorde begin luister. Op die titelsnit van die nuwe CD sing Niel:

Ja daar was ʼn tyd
toe jy nog kon slaap sonder pille…
En ja daar was ʼn tyd
toe blomme nog na iets geruik het.
En ja daar was ʼn tyd
toe jy nie vir hoop te diep in die bottel hoef
te gekyk het nie.

Maar elke sigaret
brand maar net so lank.
En elke skietgebed
is maar net die klank wat jou jaag in die nag.

Jy moet probeer terug gaan…

Ek hou ook van Niel se weergawe van “In mamba”, ʼn lied deur Brolloks en Bittergal – ʼn band van Stellenbosch uit die 1990s. Dis deur Gerhard Geldenhuys geskryf en kom oorspronklik van die album Doolhof af. Dis die enigste “cover” op die CD, maar sluit tematies sterk by die res van hierdie album aan. Die meeste van die lirieke gaan oor ontnugtering en verlore onskuld. Op “Keer” sing Niel:

Want 2 keer het ek liefgehad
en 2 keer is ek gedrop,
die een keer vir ʼn ander land
en toe die ander keer vir God.

In sommige van die lirieke word God direk aangespreek, soos in “Lei my”:

Skep my na die beeld…
Ek sal wag.
Kap aan my, verf my,
Vorm my en kerf my
Alles na die beeld
Ek sal wag, ek sal wag.

Wat ʼn visie, wat ʼn illusie,
Wat ʼn dom suspisie
Dat daar iets beter wag
Na al hierdie kak.

Agterop die CD se omslag is die inskrywing op ʼn grafsteen:

WAT HY KON HET HY GEDOEN.

Ek hou nogal daarvan. Dis dalk die beste ding wat ʼn mens van iemand na sy/haar dood kan sê.

Ek kou aan my toasted ham, cheese, tomato met die hashbrown in die middel. I rock to the limit and I, I, I… I get up again… I get up again… Ek sit Jy in die CD shuttle om Danny K uit my kop te verdryf. Meer rock ‘n roll, minder geduld, skryf maar op wat ek jou skuld, ek sal dit weldra terug betaal, as die duiwel en die donker my nie dalk voor dit kom haal… Verder op die N1 huis toe, Johannesburg toe. Die son kom op. Ek’s te oud hiervoor.

Bookmark and Share

Comments are closed.