Bernard Odendaal. Rondom die versreël 1. Die aandete

Die aandete

 

Trane en brood.

’n Diepe geswyg.

En twee wat makeer.

’n Gebed en ’n sug.

En elkeen wyk stil

in die eensaamheid weer.

  • Totius. Uit: Passieblomme, 1934

 

A.P. Grové (1977/1953:17-18) skryf boeiend oor die dramatiese opbou van dié klein gedig. Passieblomme was ’n “bundel persoonlike liriek waarin die digter die dood van sy twee kinders verwerk […] [“Die aandete”]  bring ons dwingend onder die besef van die stomme verslaendheid van ’n mens wie se weg ’n blote roetinegang geword het”. 

Totius wend die gegewens wat hy gekies het om dié verslaendheid uit te beeld, noukeurig aan. “Die duidelikste word dit as ons die argument van die gedig in ons eie woorde probeer gee, miskien só: ‘Die huis is so leeg noudat die kinders weg is. My vrou en ek is voortdurend van die twee leë plekke bewus en daarom praat ons selfs aan tafel skaars met mekaar. Elkeen is besig met sy eie gedagtes; ons verrig slegs die noodsaaklikste en na die ete soek elkeen maar weer die eensaamheid op.’”

So ’n prosaïese navertelling “vernietig” die dramatjie wat so versigtig opgebou is “totaal”, skryf Grové. “Wat in die gedig ’n werklikheid was, het in ons weergawe ’n betoog geword.”

Hy wys ook op die patos in die ironie dat juis die aandete-toneel gekies is daarvoor – “die oomblik en plek waarop die hele gesin gewoonlik bymekaar is”. Pleks van “gesellige verkeer” word die allerpynlikste gemis ervaar, juis hier aan die etenstafel en hierdie tyd van die dag.

Die afwesigheid van enige geselligheid word op verskeie vlakke beklemtoon. Die “[d]iepe geswyg” , dat elkeen “stil / in die eensaamheid” verkeer, word genoem; “die enigste woorde wat uitgespreek word, is tot God gerig”. Grové vestig die aandag op die woord “weer” in hierdie verband: “[D]ie mens kom uit die eensaamheid, soek gemeenskap aan tafel en keer dan tog maar weer terug na die eensaamheid. Dis ook nie net ‘eensaamheid’ nie; dis ‘die’ eensaamheid, iets wat dus vir die spreker bekend is, ’n ou bekende waarheen hy maar weer telkens sy toevlug moet neem.”

Maar ook die “taalmiddele” speel volgens Grové mee: die kort sinne, met weglating van woorde wat veronderstel kan word (ellipse); die swaar pouses (met punte vasgelê) aan die einde van elk. “Dis amper asof die digter teen sy sin moet praat, of hy nie genoeg woorde het nie. Hier is geen plek vir swierige sinne nie. Dit alles is nie toevallig nie: in hierdie suinige woordgebruik word die stomheid, die huiwering om te praat tot ’n tasbare werklikheid gemaak.”

Hy kon bygevoeg het dat die verslaendheid, die lamgeslaandheid van die eters beklemtoon word deurdat dit juis die gesegdes is (waarskynlik iets soos “daar is”) wat telkens ge-ellipseer word in die eerste vier sinne. “Daar is” is bowendien nie ’n gesegde wat handeling uitdruk nie; eerder dat iets bestaan lós van die mens se wil of willekeur.

Eers in die slotsin is daar ’n werkwoord, bowendien ‘onderskraag’  deur die enjambement om die beweging te help suggereer. Maar dan is dit ’n beweging, ’n handeling wat semanties eerder negatief gemerk is: “wyk”. Dié optrede ‘doen’ letterlik niks om die situasie te verbeter nie.

Grové interpreteer die gebruik van die enjambement soos volg: “[Dit] bring ’n onverwagte versnelling in die gedig te weeg, ’n versnelling waarmee ’n sekere haas, ’n gretigheid gesuggereer word om weg te kom van die ondraaglike samekoms om die tafel.”

“[S]til” kry daarby bykomende klem deurdat dit die enigste woord is, in ’n gedig vól swaar pouses, wat in ’n enjamberingsposisie staan – daar op die rand van die eensaamheidsafgrond.

Die kort sinne is volgens Grové ook funksioneel om die teenstellings in die gedig te beklemtoon: “[D]ie ete (brood) gaan gepaard met droefheid (trane), die gebed met ’n sug.” Die teenstellings is, in die lig van wat reeds gesê is oor die ‘normale’ aard van aandete-byeenkomste, ironies gelaai.  

Ook dat hier gebruik gemaak word van die konkretiserende gedeeltelike (metonimiese) aanduidings “brood” (vir die ete en alles wat daarmee saamhang), “trane” (vir alle tekens van droefheid) en “sug” (vir verslaendheid en terneergedruktheid), is myns insiens betekenisvol, naamlik om gemis, iets wat (voelbaar) afwesig is, te hélp evokeer.

Let ook op hoe die enigste eindrym in die gedig laasgenoemde belewenis benadruk: “makeer […] weer”. Dié eindrymwoorde staan verder klankmatig verbind met “twee” en “eensaamheid”. Twee, makeer, eensaamheid, weer … die hele intrige van dié klein drama staan opgesom in hierdie woordereeks.

Maar nou meer betreffende my fokus op die versreël-segmentering. Die kort gedig met sy kort versreëls laat ’n groot, amper oorweldigende stuk wit op die betrokke bundelbladsy onbeskrewe: ’n soort tipografiese vergestalting van die swaar swye en gemis. ’n Mens lei die belang wat Totius hieraan geheg het, af as ’n mens die oorspronklike uitgawe van Passieblomme ter hand neem. Die driekwart leë bladsy 23 waarop “Aandete” verskyn, só geplaas dat dit ongeveer gesentreer is op die bladsy, kontrasteer opmerklik met die langer, woordryker gedigte (met versreëls van aansienlik groter lengte) wat op die bladsye daaromheen afgedruk is.

Net een ander gedig in die bundel, die voorlaaste vers (waarin op die sterftes van Totius se twee kinders, veral op die skielike dood van sy dogtertjie aan die hand van ’n weerligstraal, toegespeel word – maar by uitbreiding ook op die besef van die kortstondigheid en nietigheid van ons almal se bestaan), benader die bondigheid van “Aandete”. Dit is eweneens naastenby gesentreerd geplaas op die bladsy. Hier het die dominante wit klaarblyklik ’n ander betekenisfunksie. Die gedigtitel spel dit al uit:

 

Oomblik en ewigheid

 

Die oëmblik

van skrik

is lank verby;

die nuus is klaar vertel.

Die heug’nis gaan met my

verby.

 

Tog beef die tik,

dié oëmblik,

wyd oor die tyd,

in die ewigheid –

dit bly.

 

Terug by “Aandete”. Daar word dus wél iets afgedoen aan die gedig as dit saam met ander verse op ’n bladsy afgedruk word, soos in D.F. Malherbe se literêr-historiese bloemlesing Afrikaanse verse. (Sowaar die enigste Afrikaanse multi-outeur-bloemlesing, waarop ék my hand kon lê, waarin dié juweeltjie van suggestie opgeneem is – op dieselfde bladsy as “Hoe was dit haar?” en “Ek wou my ganse digkuns waag”, wat uit dieselfde oorspronklike bundel kom.) 

Sou ’n mens die segmentering wegneem, die versreëls aaneenskryf tot ’n prosaparagrafie, beleef ’n mens hoedat nog aansienlik méér (ja: aan-síén-lik) aan seggingskrag betreffende die swaar gemis en swye ingeboet word:

“Trane en brood. ’n Diepe geswyg. En twee wat makeer. ’n Gebed en ’n sug. En elkeen wyk stil in die eensaamheid weer.”

 

Bronverwysings

Grové, A.P. 1977(1953). Woord en wonder. Inleidende studie oor die tegniek van die poësie. Elsiesrivier: Nasou Beperk.

Malherbe, D.F. (Omgewerk en uitgebrei deur F.V. Lategan.) 1965 (1955). Elsiesrivier: Nasionale Handelsdrukkery Bpk.

Totius. 1934. Passieblomme. Bloemfontein: Nasionale Pers Beperk.

Bookmark and Share

Comments are closed.