Vlerke vir my houteend

Vlerke vir my houteend. Deur Kobus Lombard. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-354-6. R130.

 

Vlerke vir my houteend

Vlerke vir my houteend

Kobus Lombard se Geknipte naelstring uit 2001 was na my wete die heel eerste digdebuut wat deur Protea Boekhuis uitgegee is. Dit was in ‘n tyd toe uitgewers nie maklik sulke finansiële ‘waagstukke’ sou aangaan nie.

Vier jaar later kon Tussen wysvinger en duim egter by dieselfde uitgewer volg, nou ook Lombard se derde bundel.

Heelparty van die temas uit sy vorige werk is terug in Vlerke vir my houteend: die liefde vir die Namibiese natuur en landskappe, asook die (christelike) geloofsworstelinge en -belydenisse (beide in veral die eerste, maar deels ook in die derde bundelafdelings); die plattelandse mens se gevoelens van ontuisheid in die stad (in enkele gedigte in die derde bundelafdeling – minder dringend verwoord as in byvoorbeeld die digter se debuut); die (gemis aan ‘n vervullende) verhouding met die biologiese, “wegloop”-ma en die identiteitskwessies wat hiermee saamhang (die kort slotafdeling).

‘n Temakompleks in sy oeuvre wat aansienlik uitgebou word in hierdie derde bundel, is die poësie- en digterskapbeskoulike gedigte van afdeling II. (In die debuutbundel het die slotgedig en in Tussen wysvinger en duim die slotafdeling dié onderwerp aangeroer.)

Die eis dat die taal in versverband ‘n sintuiglik oortuigende werking moet hê, is veral opvallend. Vergelyk:

 

Taal

 

as woorde nie op my lippe

wil sterf nie

moet dit ruik

na kameelhout se vuur

dit moet vrank wees

soos rosyntjiebosblaar,

‘n duin se maanhaar

lemskerp na kan trek

 

as woorde kan blêr

soos pasgebore lammers

hoe kan dit ooit op my lippe sterf[.]

 

Dit is daarom tog ‘n bietjie ironies dat, naas bevredigende en onthoubare voorstellings, onderdele van die beelding in hierdie afdeling (maar ook in die ander afdelings, soos ook voorheen in sy oeuvre) mank gaan aan troebel- en gesogthede. Die (titellose) openingsgedig en die slotvers van hierdie bundeldeel bied byvoorbeeld sluitende, suggestiewe beelde van die gedigskryfproses. Ek haal laasgenoemde gedig aan, omdat dit ook die een is waaraan die bundeltitel ontleen word.

 

Vlerke vir my houteend

 

‘n ruwe eend

dryf tussen snawel en stert

op die gehekelde water

van die eikehouttafel

kraaloog staar sy na die man

met ‘n plank op sy skoot

en ‘n harpsnaar in sy oor

sy woordmes gereed

om vlerke vir sy houteend te kerf[.]

 

Maar dan lol dit in gevalle soos die volgende (uit hierdie én ander afdelings):

 

kewer ek my weg

in die rooi pit

van ‘n kameelboom se stam

piets blitse my

fyn tot vuurmaakhout

(Uit: “Water, hout, sand”)

 

hoe ver van die sweepklap

kan jou pen se op en neer

met jou oortrom resoneer

(Uit: “Wegskryf”)

 

somers buig my pen

as dit vrug wil dra

(Uit: “Ryping”)

 

Op ‘n hele paar plekke in die bundel word die geharde kameeldoring vermeld, en eintlik tot beeld van Namibiese bewoners (van menslike slag, al dan nie) uitgebou. Ook die gedig met hierdie boomnaam as titel is belangrik in hierdie verband:

 

Kameeldoring

 

kleintyd was jy die agterplaasboom

die klimboom en die tekenboom

vir my dom hande

in ydeler jare was jy net ‘n ver boom

op die horison, ‘n vryboom

met die maan agter sy takke

maar nou is jy die nabyboom –

ons bas het ewe vaal en skurf geword

ons wortels tas na dieselfde klamte

nes jy moet ek my kroon vol dorings

met gekromde arms dra[.]

 

‘n Gedig met bekoorlike momente strand op ‘n haperende slotbeeld. “[M]y kroon vol dorings” is ‘n uitdrukking wat dadelik bekende voorstellings van die lydende Christus met ‘n doringkroon op die hoof oproep. As in die slotreël dan staan dat dit “met gekromde arms” gedra word, strook dit wel nog met die voorkoms van die boom oortrek van dorings aan gekromde takke en twye, maar wil dit nie steek hou met die opgeroepte beeld van ‘n persoon wat met dorings gekroon is nie.

‘n Gesonde skeut digterlike (self-)relativering, soos in die gedig “Ek maak versies, Enos”, help dan om die leser se oordele in hierdie verband ietwat te versag.

Die derde afdeling, ongetiteld soos die ander in die bundel, maak die indruk van ‘n tematiese potpourri. Trouens, hegtheid en noodwendigheid van struktuur en samehang is nie ‘n opvallende kenmerk van die bundel in sy geheel nie. Die bundeltitel kry dit myns insiens kwalik reg om die hele inhoud daarvan te oorkoepel; dit speel té beperk toe op die digterskapstrewe en -ervaringe soos verwoord in die tweede afdeling.

Hoewel (noukeurig beplande) bundelopbou geen beslissende kriterium vir oortuigende digwerk of vir ‘n suksesvol geagte digterskap hoef te wees nie, wek die spesifieke, klinkende bundeltitel – soos dit boonop resoneer binne die konteks van die gedig waaruit dit geneem is – tog bepaalde verwagtings in hierdie verband. Vandaar dat ek meen die bundel as geheel ook ‘n bietjie teleurstel.

Soos die vorige Lombard-werke bevat Vlerke vir my houteend ‘n aantal gedigte wat op alte weinig uitloop; verse waarvan die betekenisimplikasies te kort skiet. “Briefwisseling”, “Gesprek met ‘n portret”, “Skryfplank”, “Konstante veranderlike”, “Moederskamer”, “Skoonmaakster” en “Foto’s teen die muur” is na my oordeel sulkes.

Maar daar staan in die bundel ook treffender werk. Naas enkeles wat hierbo aangehaal of vermeld is, noem ek graag nog “Klokkespel” (met sy T.T. Cloete-eggo’s), “Visserman”, “Ander oë”, “Hardekool”, “Sondag in Windhoek, 2007”, “Namibië”, “Verkyker”, “Eenrigtingkaartjie”, “Naggeluide”, “Terugreis”, “Sluitsteenwerf”, “Onthou” en “Ma se erflating”.

Die afskeidsgedigte na aanleiding van die afsterwe van die “wegloopma” van die slotafdeling bou plek-plek roerend voort op veral die gedigte in Geknipte naelstring waarin die soektog na haar verwoord is.

Lombard se verse is dikwels van korter bestek, en tematies en stilisties nogal beperk. Ander digters het al gewys dat dít nie ‘n belemmering op die pad na onvergeetlikheid hoef te wees nie. Hy kan dus bemoediging put uit die wete dat sy derde bundel al ‘n klompie gedigte bevat wat ‘n stewiger indruk maak as sy vorige werk. 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Comments are closed.