Digstring: Annie Klopper. ‘n deurnagbraai in Oranjezicht

Digstring

 

 

‘n deurnagbraai in Oranjezicht 

 

 

met Oros en vodka veg ons teen die daglig

en dros ons soos honde in Oranjezicht

ons wys tande en gooi ons koppe terug

teen die duifgrys glasure van die eerste lig

 

ons vyl ons tonge skerp teen growwe woorde,

ys klingel kil teen die dawerende akkoorde

van ons uitrafelende strontpraatsinode –

deur die donker omsingel, is ons die nag se gode

 

of net rompies en bene en longe en leuens

en stompies en biere en wyfies en reuns

wat blaf en sug en gluur en kreun

teen die eerste sig van oranje lig

 

© Annie Klopper (Uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Annie? Hoe het dit ontstaan?

Ek het na afloop van ‘n deurnagkuier saam met vriende die gedig van Peter Blum, “Drosterhonde bo Oranjesig” in my kop gehad. Ek hou nog altyd van die woord drosterhonde en die idee van honde wat dros en raas. Ook die onheilspellendheid van daardie gedig. Die inhoud van Blum se gedig het egter niks te make met myne nie, maar ek dink my vriendekring klink en lyk soms soos daardie drossende honde. (Ek hou ook van die naam Oranjezicht. Dis ‘n sintuiglike pleknaam en werk dus goed. Die braai het nie eintlik daar plaasgevind nie, maar dit kon netsowel.)

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar was aanvanklik eers twee strofes en toe drie en heelwat redekaweling oor die woord “stronpraatsinode”. Maar dit was ‘n redelike vinnige proses en dit is maar min of meer geskryf soos dit daar staan.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Nee wat, gedigte hoef nie altyd bloedsweet te wees nie. Dit moet lekker wees om te skryf. Dit is ook nie aan my gegee nie, dit het soortvan gebeur en ek het neergeskryf wat ek sien. (Ek sê nie gedigte benodig geen ekstra inspanning nie, maar dis vir my ‘n vorm van ontspanning bo enigiets anders.)

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Gewoonlik bepaal die eerste drie of vier reëls die ordening. As die eerste vier reëls toevallig lekker ritmies werk in ‘n vormvaste wyse, skryf ek die res in dieselfde toon. As die eerste twee of vier reëls nie vormvas is nie, probeer ek nie verder vormvas skryf nie, maar vind dan ander maniere om die gedig te orden.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek sal soms my vriende dwing om na ‘n nuwe gedig te luister. Dis dikwels ook ‘n goeie manier om mense te kry om huis toe te gaan wat te laat by my woonstel kuier. (Daar is darem een of twee wat omgee, maar hulle is te vriendelik en sê altyd alles is mooi.) Ek lees dit ook altyd hardop as dit klaar is. Dit moet goed klink. Ek is in elk geval my strengste beoordelaar.

Ander kere gesels ek graag met mense soos Danie Marais oor ‘n nuwe gedig. In hierdie geval het Danie en Ronel de Goede (samestellers van Nuwe Stemme 4) gehelp met ‘n sukkelende stukkie wat eers was:

 

ys klingel stom teen die dawerende akkoorde

van ons inkonsekwente strontpraatsinode –

 

En nou lui:

 

ys klingel kil teen die dawerende akkoorde

van ons uitrafelende strontpraatsinode –

 

Ook was “die nag se gode” eers “donderse gode”.

 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek het hierdie vers seker so twee maande voor voorlegging aan Nuwe Stemme 4 (waarin dit in 2010 verskyn het) geskryf. Gewoonlik neem dit maar ‘n tydjie vir my om gemaklik genoeg te wees met ‘n gedig om dit die wêreld in te stuur. Ek bêre en herlees dit eers.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Dit is ‘n feit dat ek en my vriende al baie deurnag gekuier het. Dit is fiksie dat dit in Oranjezicht was. Dit is ‘n feit dat dit nie vir my saakmaak nie. Dit is fiksie dat dit behoort saak te maak.

Is dit ‘n narratiewe vers?

Nee, ag, dis ‘n oomblik. ‘n Foto.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor dronk, verveelde mense wat raas. (En, as ‘n mens nou ernstig moet raak daaroor, is dit oor hoe ons onsself graag verhul agter die verskansing van drank, die nag en “veiligheid in getalle” by gebrek aan ‘n eie identiteit. Dis oor my liminale generasie jong Afrikaners wat voortdurend soek na ‘n nuwe vorm van solidariteit en in die proses dikwels oënskynlik kopverloor.) [Nota: limen = Latynse woord vir drumpel.]

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?

Soos reeds genoem: Peter Blum se gedig “Drosterhonde bo Oranjesig” en dan ook die FAK-liedjie “Die lied van jong Suid-Afrika”. Ook het ek ‘n uitsig op Oranjezicht vanaf my balkon in die stad en Fokofpolisiekar wat min of meer permanent in die agtergrond speel.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ek dink aan my vriende en tydgenote wat nie noodwendig omgee nie. As ek iets kan skryf wat hulle sal laat regop sit, is dit goed.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Al my gedigte verskil na gelang van my bui, maar ek dink hierdie een is “harder” as die res.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Dit is tipiese gedrag van my generasie wit Afrikaanssprekendes in die stad en voorstad, maar dit kan ook netsowel enige ander plek in die wêreld wees. Dis Suid-Afrikaans omdat dit tipies my ervaring in Kaapstad is.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

‘n Vers is seker nooit klaar nie en daar is altyd nog iets wat anders kon wees. There are many ways to skin a cat. Maar gelukkig raak ek gou verveeld met een ding en wil die volgende een aanpak, so ek verlaat dit maklik.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Die leser kan jou nooit tevrede stel nie, want jy kan hom nie sien nie. Dis nie soos ‘n gehoor by ‘n rockshow wat horings met hulle vingers maak en skree nie. Die lesers wat gewoonlik vir jou sê dis cool, is gewoonlik mense wat jy ken. Daarom, dink ek, sal ‘n mens nooit tevrede wees met die leser se reaksie nie, want jy gaan altyd wonder wat mense regtig daarvan gedink het. Maar op die ou-end maak daardie anonieme, gesiglose lesers se opinie nie eintlik soveel saak as jou beste vriendin jou gedig gememoriseer het en soms dele daarvan aanhaal nie. Dit behoort genoeg bevrediging te bied. Net jammer dit is nie altyd die geval nie. En daarom skryf ons weer, met die hoop dat die volgende een sal bevredig.

 

Annie Klopper

Annie Klopper (Die Rockjagter) woon in Kaapstad. Sy is redakteur by Protea Boekhuis en is LitNet se musiekkorrespondent. Haar rubriek oor plaaslike musiek op LitNet, getiteld Rockjagter, het gelei tot haar gereelde insetsels op RSG onder dieselfde titel. Annie behaal ‘n B.A. in Geesteswetenskappe asook ‘n Honneurs (cum laude) en ‘n M.A. (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Annie was mede-navorser vir die MK-dokumentêr Johnny en die Maaiers, mede-samesteller van die 2007-heruitgawe van Eugene Marais se Die Siel van die mier (Protea), bydraer tot Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar (Sun Media) en van haar gedigte is opgeneem in Penseel 2007 (Universiteit van Stellenbosch), Versindaba 2008 (Protea) en Nuwe stemme 4 (Tafelberg).

 

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.