Carina Stander. Ingrid se ouma, prof Hawking en ‘n dosie as

Vanoggend sê my vriendin Ingrid dat sy vanmiddag haar ouma se dosie as by die grafgrawers moet gaan afhaal en by ‘n kerk in die ooste van Pretoria ingee. Sy stel dié grillerige gedoente al van Februarie af uit en vandag is dit nou maar sulke tyd. Sy was erg oor hierdie ouma - uitwaarts genoeg om met ‘n Land Rover in Afrika te kamp; spoggerig genoeg vir ‘n diamanttoer (beter as eersteklas) al om die wêreld. Tot op 94 ‘n eiewillige entjie mens. Hier teen die einde van haar lewe het net die lipstiffie aan haar tande soms verraai dat sy nie aldag die leisels stewig vashou nie, maar sy was enduit sterk en eksentriek en lief om die breinspier te flex.

Die dag van Ouma se dood het Ingrid my gebel sodat ons saam oor die foon kon huil. En vanoggend, so met die asdoos in die vooruitsig, dog ek dis gewoon my vriendskaplike plig om die enigste verassing-grappie wat ek ken vir haar te vertel:

‘n Paar jaar gelede het ek in Cambridge gewoon toe ek hoor Stephen Hawking soek ‘n nuwe persoonlike versorger. Oud-inwoners het gewaarsku dat dié fisikus ewe bekend is vir sy boeke as vir befoeterdheid, maar o wee, my nuuskierigheidsklier werk ooraktief en ek het besluit om hom ‘n tyd lank te versorg.

Een Saterdagaand het ons gaan fliek - ‘n Amerikaanse galgekomedie waarvan ek die naam nie kan onthou nie. In een toneel moes die twee hoofkarakters (sulke regte losers) hulle buddy se as oor die see strooi, toe die wind die as skep en dit in hulle gesigte waai sodat daar lang, grys spoegslierte uit hulle monde trek. Hawking het nie gelag nie, hy het geskater. Geluidloos, gesig vertrek van plesier, sodat ek doodsbenoud om hom moes trippel, sy kop onder my arm vasgeklem, besig om sy lugpyp met die apparaatjie skoon te suig. Sênou hy versmoor? Sênou hy lag hom morsdood? Ek kon die koerantopskrifte al sien. Wie laaste lag…

* * * * * * *

Genadiglik het ons albei sy lagbui oorleef. Maar ander kere was dit amper-stamper of hy’s permanent sekelmaan toe gestuur. Sien, Hawking is ‘n roekelose helsim met ‘n voorliefde om sy rolstoel oor dolbesige keisteenstrate te woerts-warts terwyl die karre om hom toet asof dit Nuwejaar is en sy oppassers met vertikale hare agter hom aanhol. Verkeersreëls? Obviously only for the lame and the lazy.

Uitsonderlik is hy gewis. Om vir 40 jaar onder ALS (amyotrophic lateral sclerosis) te ly en steeds dertig jaar lank professor van Wiskunde by Cambridge te wees, wêreldwyd te doseer, topverkopers te skryf terwyl kommunikasie slegs bestaan uit wenkbroue wat lig vir “ja”, ‘n mond wat skeef trek vir “nee” en ‘n duim waarmee hy die rekenaar beheer. Wanneer iemand hom op straat herken, kies hy graag dié frase op sy praatrekenaar: “Not again! They always mistake me for that man.”

In die heel begin was ek so bewerig dat, toe ek eenmaal sy ritssluiter in die badkamer moes optrek, ek sy “privaatjie” (soos Ouma sou sê) vasgezip het. Kon nie mooi verstaan wat’s hy tog so halstarrig om stil te sit nie, tot ek afkyk met ‘n: “O bother, prof Hawking! How horrid! Would the world ever forgive me for messing with these genes?”

Sy tumbs up en beleefde laggie - die onthou ek goed.

Drie jaar later terug in Kaapstad kry ek ‘n oproep uit Cambridge. Konstabel sus en so seg Hawking se kinders het ‘n klag van aanranding teen sy tweede vrou, Elaine, gelê. Vermoed ek iets? Van haar het ek maar bittermin gesien, want sedert sy destyds teruggekeer het van haar kaperjolle in Italië, was ek skielik my werkie kwyt. Ha! lag Konstabel. Elaine het eintlik net mans en bejaarde oujongnooiens toegelaat om Hawking te versorg. Natuurlik alte skrikkerig dat iemand haar toertjie herhaal. Sy was voorheen getroud met die ontwerper van die eerste weergawe van Hawking se pratende rekenaar. Dis hoe sy Prof se verpleegster en sy tweede vrou geword het. In 2006 het hulle paaie geskei.

* * * * * * *

Vanaand SMS ek vir Ingrid: “Hoe was die middag met Ouma?”
Daar was net voorletters en ‘n van op ‘n bruinpapier boksie, skryf sy. En die as was vreemd-swaar.

Bookmark and Share

16 Kommentare op “Carina Stander. Ingrid se ouma, prof Hawking en ‘n dosie as”

  1. Marlise :

    ‘n Genotvolle stuk om te kon lees, Carina. Humoristies…komies, & tog voel ek skielik hartseer, oor die verganklikheid van die liggaam, oor oumas verpak/verseël en tot niet verklaar in ‘n asdosie, oor ganse ‘biblioteke’ wat afgebrand word as iemand sterf. Wie het nou weer daardie beeld gebruik? Laurie Anderson? Met haar liedjie oor haar pa?
    A, hier kry ek nou die reël:
    “When my father died we put him in the ground.
    When my father died it was like a whole library had burned down.”

  2. Bernard Odendaal :

    Carina, lyk my jy kan ‘n hele storieboek vol maak met jou herinneringe aan die (ou-)mensoppassery. Ek het gekraai van die lag. Dankie!

  3. Wysneus :

    Die fliek was The Big Lebowski. En daai slottoneel was blêddie snaaks. Ek het self gehuil van die lag, wat omtrent nooit gebeur nie.

  4. Leon Retief :

    Jy sal dalk belangstel om te hoor dat Hawking tans besoekende navorser is by die Perimeter Instituut vir teoretiese fisika in Toronto. Die direkteur van die instituut (wat privaar befonds word) is Neil Turok, seun van Ben Turok, ANC parlementslid vir ek dink Vishoek of iewers.

  5. Desmond Painter :

    Wysneus, ek moet s^e, vir iemand wat die pad polities so byster is het jy uitstekende smaak in musiek en flieks. :-)

  6. Wysneus :

    Dankie Desmond, maar, ahem, al is ek dalk die breë pad byster, glo ek my nou kronkelpaadjie die regte een. Raak soms bietjie eensaam, maar nou ja.

  7. Evette Weyers :

    Carina, Wat ‘n Heerlike storie! Oor die aanhaling oor die bib wat afbrand het. André Brink noem in “Duiwelskloof” dat daar ‘n Mali spreekwoord is; As ‘n man van Afrika sterf brand ‘n biblioteek af. Met die besonderse bib in Timbucktoo (spelling?) was dit blykbaar in almal se verwysingsraamwerk. In Mali verwys die stelling na die verlies aan inheemse kennis. (ek het ‘n beeld daaroor gemaak.) Die aanhaling skyn deur die wêreld te gereis het want mens hoor dit binne verskillende kontekse, tot in die van jou vriendin se ouma s’n

  8. Evette en Marlise, was vir ‘n week in die Bosveld boendoe - daar waar ek grootgeword het langs die rivier en waar die internettoegang so traag soos ‘n slaapsak is. Hierom: askies dat ek nou eers op die kommentare reply. Dankie vir daardie mooi aanhaling van Laurie Anderson/ Andre P Brink/ die Mali spreuk.

  9. Bernard, ek’s bly jy kon kraai.:)

  10. The Big Lebowski! Dankie vir die titel. (Wysneus & Desmond, julle moet nou nie my blog beginne gebruik as ‘n grasperk om vir mekaar te staat grom nie - ek spuit vir julle albei met die tuinslang.) :-D

  11. Leon Retief,dankie. Ek sien op Wikipedia Hawking het laasjaar Oktober by Cambridge afgetree. Is ook al amper 70 jaar oud. Soos jy skryf, woeker hy nou weer in Toronto. Die oemf!

  12. Desmond Painter :

    Goed Carina, maar onthou net (soos kinders altyd s^e), hy het dit begin, nie ek nie. :-)

  13. Wysneus :

    Nee Carina, nou verstaan ek nie. Die man komplimenteer my dan. Eers sê hy ons hou van dieselfde flieks en musieks, en dan sê hy ek’s polities die spoor byster, wat (komende van hom) ‘n kompliment is.

  14. Wysneus :

    (ronde geel glimlag-man)

  15. Desmond Painter :

    Sien jy nou waarvan ek praat, Carina, sien jy nou?!

  16. Ja nee wragtag, ‘n tuinslang is duidelik nie genoeg van ‘n skrikmaker nie. Lyk my ek moet maar ‘n regte mamba daar tussen die terriers ingooi.:)

Los kommentaar