Eben Venter. Dronk woorde

 

Blou krap

Blou krap

Strandloop net links van waar laaste soutwater dun, silwer sy oor die sand stoot en die hond se pienk tong laag en lank op soek, op soek na miskien ‘n sappige slakkie. En in jou kop perfek, volmaak, eenhonderdpersent mooi en boonop werk dit, jy wéét, want jy kan dit met jou binne-oor hoor: die openingsin van jou nuwe boek.

 

 

En as jy by die huis kom, eerstens sandvoete onder die tuinslang, tweedens vars water vir die hond, pê hy, en derdens volmoed voor jou komputer om daardie perfek uitgedinkte openingsin neer te skryf en jy versteen. Niks kom. Al die geprutte woorde klink hol en verskriklik gedaan. Oud.

 

Oud kan jy nie neerskryf nie. Oud klínk nie meer nie.

 

Al wat oorbly om die verstening teë te werk, is om deur die New York Times Book Review te rol (weekliks gratis in jou Inboks) en soos deur die gode gewil, kom jy op ‘n boekresensent af wat aangaan oor die einde van die roman. Sy kinders lees miskien nog so hier en daar oor Potter of vampiere, maar sy kleinkinders sal na oupa se rye romans staar soos ons na San-diertjies onder kranse. Of nie eers dit nie.

 

Waarom nog tob oor en slyp aan ‘n openingsin?

 

Ek kruip daardie en die daaropvolgende aande in my bed met hierdie vlak wond: dis verby met die roman. En lees teen die pyn (dis immers die werk wat ek vir myself gekies en toe gemaak het) een van Samuel Beckett se romans met die titel, Murphy. Ek het die boek sommer op ‘n uitverkopingstafel raakgeloop.

 

Die eerste sinne gaan so:

 

The sun shone, having no alternative, on the nothing new. Murphy sat out of it, as though he were free, in a mew in West Brompton. Here for what might have been six months he had eaten, drunk, slept, and put his clothes on and off, in a medium-sized cage of north western aspect commanding an unbroken view of medium-sized cages of south-eastern aspect. Soon he would have to make other arrangements, for the mew had been condemned. Soon he would have to buckle to start eating, drinking, sleeping, and putting his clothes on and off, in quite alien surroundings.

 

Ek trek nou al op p. 121 van Murphy en my wond het vel gegroei. Te danke aan Dr Beckett se wonderlik-absurde, komiese, patetiese, permanent werklose, uitsiglose, op onbenullighede-gefikseerde kleinman van ‘n mens, Murphy.

 

Juig dan maar alle kinders en kleinkinders en agterkleinkinders, almal wat reeds deur iPods en yl Twitterende woordjies (hoeveel nou weer?) horende doof gemaak gaan word of van nou af slegs via ‘n verminkte taaltjie met 1200 ander fopvriende gaan krabbel op Facebook of soos hol skimme van nou af tot in die onbeskryflikheid (hulle beskik oor geen woordeskat) in Virtuele Wêrelde lieflik gaan verdwaal, Murphy sal julle nooit teëkom nie. Nooit sal julle die unieke ervaring had om met hom in tweegesprek te treë nie: jy in jou kop al pratende en luisterende en aan die verbeelding en uiteindelik binne-in die kop van ‘n skrywer, van Samuel Beckett, geb. 1906, wat hierdie karakter met net behulp van woorde geskep het. Net vir jou, hooggeagte leser.

 

*

© Eben Venter,  1 Julie, 2010

Eben Venter. Foto: Michael Hammond

Eben Venter. Foto: Michael Hammond

 

 

Eben Venter is gebore in Burgersdorp en het grootgeword op ‘n skaapplaas. Hy behaal die MA graad in Filosofie by die Universiteit van Port Elizabeth.

Eben het twee kortverhaalbundels en ses romans gepubliseer waarvan drie bekroon is met  die WA Hofmeyr-prys vir die beste roman van die jaar. Van sy werk is ook vertaal in Engels, Duits en Nederlands. Eben voer ‘n nomadiese bestaan.Hy woon op die verre noordkus van Nieu Suid-Wallis, Australië, en soms woon en werk hy ook in Prince Albert in die Groot Karoo. Hy skryf ‘n weeklikse rubriek vir Die Burger en Beeld en werk tans aan sy sesde roman, ‘n ontginning van ‘n vader-seun verhouding in die anarchistiese hart van Kaapstad.

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.