Digstring: Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com

Digstring

 

 Reënboognasie: Fear dot com 

 

 

In alle kleure reën

bloed hier beter

as kill bill

in cinemascope

 

the bride se kopwaai-

swaardtegniek

verfyn met vyf vingers

om ‘n made-in-china mes

 

soos clockwork orange

kreun ‘n vrou onder

the old ultra-violence

the old in-out in-out

 

the devil wears prada

en amagents snyerspakke

gucci lacoste arbite camel

drop dead gorgeous

 

halfmas hang ons trois couleurs:

bleu is onse hemelhel

blanc die lyke neergevel

rouge die rowe in ons grond

 

 

(c) Jelleke Wierenga (Uit: Bloot mens, 2009: Protea Boekhuis)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jelleke? Hoe het dit ontstaan?

Ek het dit geskryf terwyl ek besig was met die uitsoek, skaaf en skryf van gedigte vir my debuutbundel Bloot mens, so drie of vier jaar gelede. In die metropool Montagu waar ek woon, is daar geen bioskope of teaters om die inwoners se aandag van die natuurskoon en die af-en-toe-keelafsny-van-‘n-vrou af te trek nie. Ek kyk net televisie wanneer ek iemand met DStv se huis oppas. My ou Blaupunkt het in elk geval ook al groen geword, nes ek, maar hy letterlik. Wanneer ek nie in ‘n leesfase is nie, kyk ek by tye kompulsief video’s. Drank werk nie vir my nie. Ek neem digitale videoskywe  by ons plaaslike Vee’s Videos uit, waar hulle ook gebraaide hoenderstukke verkoop, en kyk hulle op my skootrekenaar in die bed, soms met sjokolade gedoop in tee. Die groot vreugdes van die lewe is dikwels klein. Die keuse van sielsverkwikkende DVS’e by Vee’s Videos is nie baie groot nie. Eendag, terwyl ek te midde van die oorverdowende gedreun van die TV en braaiende hoenders probeer besluit wat om uit te neem, besef ek skielik dat baie van die titels ‘n metafoor vir die opwindende gebeure in Suid-Afrika is. Fear dot com. Kill Bill. Running with scissors. Drop dead gorgeous. Army of darkness. Resident evil. Drag me to hell. Die idee het by my opgekom: Wat van ‘n protesgedig gemaak van die titels van DVS’e? Ek het later teruggekom met ‘n notaboekie en ‘n klomp titels afgeskryf. Ek het ook aantekeninge gemaak van die teks op die agterplat van die houers. Aan die hand van dié bladsytjies gekrapte woorde het ek die gedig geskryf.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig was heelwat langer as nou, want ek het probeer om soveel moontlik van die titels op my lysie in te werk. Ek het taamlik maklik geskryf aan sekere strofes, maar ander het my soveel probleme besorg dat ek dit naderhand geskrap het. Al my gedigte gaan deur baie oorskrywery en skrap van woorde – soms bly daar so min oor dat dit nie meer sin maak nie. Dan gaan ek terug na die oorspronklike weergawe en begin weer. As kopieskrywer is ek geskool om woorde te sny tot op ‘n bepaalde woordtelling. Ook om so direk en duidelik moontlik te skryf, wat dalk ‘n nadeel is. In die manuskripweergawe van die gedig was daar ‘n ekstra strofe:

running with scissors

hol ‘n malhuis mense

en all the president’s men

speel in hul masturbatorium

Ek het toe pas die DVS Running with scissors gesien (ook die boek gelees) en die verwysing na die “masturbatorium” kom daaruit. Inderdaad speel Jacob Zuma se manne (en vroue) in hul masturbatorium terwyl die land in duie stort. Jeanette Ferreira (of Martjie Bosman?) van Protea het voorgestel ek ruil die eerste twee reëls om:

‘n malhuis mense

running with scissors

Dit het die sintaksis dalk verbeter, maar hoe ek ook al met die strofe rondgespeel het, ek kon dit nie na my sin kry nie – dus: “when in doubt, leave out”, die ou gesegde destyds toe ek nog by Beeld gewerk het.

Strofe drie het ná heelwat wroeg en sweet na sy finale vorm ontwikkel. Die manuskripweergawe was:

op die ritme van ‘n vrouegil

clockwork orange

the old ultra-violence

the old in-out in-out

 

In ‘n stadium was die eerste reël ook:

op beethoven se negende

Die verwysing na Beethoven se Negende Simfonie is na aanleiding van Alex, die bendeleier in A Clockwork Orange, se obsessie met dié simfonie. Verbasend genoeg was die DVS van die rolprent in Vee’s Videos. Ek lees Wikipedia sê clockwork orange kom van ‘n ou Cockney-gesegde: “As queer as clockwork orange.” Dinge gaan vir my baie “queer” in ons land, en ek verwys nou nie na homoseksuele nie.

In die oorspronklike weergawe van strofe drie het ek “clockwork orange” as werkwoorde ingespan, maar die kommentaar van die redakteur was dat die betekenis en sinsbou nie duidelik is nie. Daar is voorgestel dat ek “op” skrap, maar dit het die betekenis vir my verduister. Ná ‘n lang gesukkel en kopkrappery het ek die idee gekry om “clockwork” te gebruik in die sin van “soos klokslag”. Die eerste sin het toe gekristalliseer:

soos clockwork orange

Nou moes ek “op die ritme van ‘n vrouegil” verwerk om as tweede reël daarby aan te sluit. Die sin verwys na die derduisende vroue wat in ons land verkrag word, gereeld, ritmies. “Ritme” skakel met “clockwork” sowel as die ritme van die seksdaad. Ek moes uiteindelik die hele sin laat vaar en iets heel anders uitdink wat steeds die daad van verkragting suggereer. Uiteindelik het die visuele en ouditiewe voorstelling van ‘n verkragting my die sin gegee:

kreun ‘n vrou onder

Nie alleen is die vrou letterlik onder die man tydens die verkragtingsdaad nie, maar ook in sosiale status onderwerp en ondergeskik aan die man en uiteindelik die prooi van sy magslus.

Die laaste twee sinne:

the old ultra-violence

the old in-out in-out

het ek van die teks agter op die DVS-houer gekry. Toe ek dit neerskryf, het ek geweet dié stukkie “new speech” van Alex en sy droogs is uitstekende kopie. Waar kan jy meer sinies en grafies kry?

Die laaste strofe verwys na die driedelige rolprent Trois Couleurs: Bleu, Blanc en Rouge. Blou, wit en rooi is die kleure van die Franse vlag. Elke prent in die trilogie is losweg gegrond op die slagspreuk van die Franse Republiek: gelykheid, vryheid, broederskap. Ek het die trilogie lank gelede in Kaapstad gesien en die titels het my te binne geskied toe ek kop gekrap het oor die laaste strofe. Die kleure het my laat dink aan die vlag van die “ou” Republiek van Suid-Afrika, waar oranje, wit en blou vir talle die simbool van verdrukking en onreg was. Vandag waarborg die grondwet gelykheid, vryheid en broederskap aan elke burger van die land … te midde van erger as ooit verdrukking en onreg. Die ironieë is eindeloos.

Die strofe was in manuskripvorm soos volg:

trois couleurs wapper ons vlag halfmas:

bleu vir onse hemel blou

blanc vir lyke wit gevel

rouge vir rooi die land gesooi

Martjie Bosman se kommentaar was dat die strofe nie heeltemal werk nie en moontlik te eksplisiet is. Ek stem saam: Dit was onnodig om die Franse kleurname in Afrikaans te herhaal. Sy het voorgestel ek oorweeg iets soos:

trois couleurs wapper halfmas

bleu is onse hemel

blanc die lyk se vel

rouge die grond gesooi

 

Of selfs:  

ons trois couleurs hang halfmas

bleu is onse hemel

blanc die lyke (neer)gevel

die aarde rouge deurdrenk

 

Op grond van hierdie voorstelle het ek die slotstrofe soos volg aangepas:

halfmas hang ons trois couleurs:

bleu is onse hemelhel

blanc die lyke neergevel

rouge die rowe in ons grond

Die ritme werk vir my baie beter met sewe lettergrepe vir elke versreël. Die oorspronklike “sooie” wou om die dood (ha!) nie werk nie en uiteindelik het die beeld van “rowe” gekom, wat beter rym met “rouge” en “grond”.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Ek dink dit was so 20% inspirasie en 80% perspirasie. Die eerste strofe was ‘n geskenk – ek het dit so te sê net so neergeskryf. Ek is dankbaar oor die “hier” wat die redakteur in die tweede reël ingevoeg het. Dit het die gedig dadelik in die Suid-Afrikaanse bloederigheid geanker.

Met die skryf van die gedig het ek pas Kill Bill 1 & 2 op DVS gesien. Uma Thurman as die wraaksugtige bruid met haar fenomenale onthoofdingstegniek het my erg beïndruk. Vir die tweede strofe het ek Kill Bill 2 weer uitgeneem en gekyk. Ek wou graag iets insit oor die “five-point-palm-exploding-heart technique”, waar die Bride op vyf plekke op Bill se lyf druk en sy hart laat ontplof … nadat hy vyf treë gegee het. My Afrikaans vir die tegniek was iets soos die vyfpuntdood of die hoenderklou-tegniek. Uiteindelik het ek by die kopwaai-swaardtegniek gehou. Die vyf drukke het beslag gekry in “vyf vingers om ‘n made-in-china mes”.

Strofe 4 het ook taamlik maklik gekom. Die redakteur het my hier van ‘n flater gered: ek het “prado” geskryf, seker oor ek nooit etiketklere dra nie. (The devil wears Prada is ‘n aanbevelingswaardige fliek met Meryl Streep in die hoofrol.)

Die inligting oor die amagents het ek gekry in ‘n artikel deur Mariechen Waldner in  Rapport van 16 September 2007, wat ek destyds uitgesny en gebêre het. Volgens die artikel verwys amagents na Suid-Afrika se transitorowers. Hulle beskou dit as benede hul waardigheid om misdadigers of gangsters genoem te word. Hulle noem hulself amagents (gentlemen) en dra net die duurste ingevoerde Europese klere.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Soos hy nou is, dink ek hy is finaal, hoewel ek natuurlik verskillende variasies op die tema kan skryf. Ek verstaan nie die vraag oor die ordeningsbeginsel nie.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek dig maar in my allenigheid. My oorlede kat het geen erg aan ‘n voorlesery gehad nie en dikwels weggeloop terwyl ek haar insette dringend nodig gehad het. Ek is baie dankbaar vir die insette van Jeanette en Martjie met die afwerking van die gedig.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Pas nadat dit geskryf is, is dit in manuskripvorm na Protea gestuur. Dit is dus die eerste keer in Bloot mens gepubliseer.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Fiksie word ingespan om die feite van die Suid-Afrikaanse werklikheid oor te dra. Die een vrou se feite is natuurlik dikwels die ander ou se fiksie, en andersom.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit borrel en prut maar gedurig in my oor wat in Suid-Afrika aangaan – die negatiewe, die slegte, die geweld, die aftakeling, die chaos, die waansin. Dit kook in my verse uit. Ek het ‘n donker streep van my pa geërf. Ek werk ernstig en hard daaraan om meer positief, mensliewend, begrypend, verdraagsaam, oopkoppig, vergewensgesind en veral minder veroordelend te wees, want ek wil nie in my volgende lewe met die karma van die negatiewe opgesaal sit nie.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Al die rolprente wat in die vers genoem word, het my aan die gewelddadigheid en waansin van Suid-Afrika laat dink. Die lysie was baie langer as dié wat genoem word.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ek skryf vir myself.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek skryf nogal uiteenlopende verse, van die lang, verhalende tot die kort en kriptiese. Ek glo nie hierdie vers verskil van my ander gedigte nie, maar ek is oop vir oortuiging deur ‘n minder betrokke leser.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die groot leuen van die reënboognasie. Bloed wat in alle kleure reën. Die mes as aanvalswapen. Die hoë verkragtingsyfer. Transito-rooftogte. Die onbeskryfbare verdriet van ‘n volk wat ongeërg uitgemoor word. Moontlik gaan dit in sekere lande in Suid-Amerika erger as hier, soos sekere mense dit graag uitwys, maar moet dit ‘n mens nou beter laat voel? My ervaring is tog oorweldigend híér, nóú.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Ek is tevrede met hoe hy nou staan, maar is nogal spyt dat “all the president’s men” en die masturbatorium in die slag gebly het.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Is resensente ook lesers? Een het my nogal gelooi oor my politieke verse (dié oeuvre van my beslaan 3 van die 38 gedigte), maar ek kan nie onthou dat iemand spesifiek na Reënboognasie verwys het nie. Van my vriende verstaan die vers glad nie, wat my verbaas, want myns insiens is dit baie eenvoudig en vanselfsprekend (as jy bekend is met die rolprente waarna verwys word).

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek het op universiteit graag deur die Groot Verseboek geblaai en parodieë van bekende gedigte geskryf in plaas daarvan om te studeer. Ek dink die gedig hieronder is my eerste “ernstige” gedig. Ek het dit geskryf toe ek by Beeld gewerk het tydens ‘n universiteitsvakansie. Die koerant was toe nog in Nieu-Doornfontein en ek het ‘n kamer in ‘n gure buurt daar naby gehuur, binne stapafstand. (Daardie dae was studente mobiel per voet of fiets. Daardie dae het ek ook nog gerook.) Ek het die gedig nog al die pad gebêre, getik op my klein draagbare tikmasjientjie, ek dink dit was ‘n Antares:

kamer in johburg

 

vliegbesmetting keurig

gedétail

teen die groen plafon

 

rembrandt van rijn filter de luxe

verstomp

meesterstukkend

 

begatte draadstoel

sper

vierlynig wit

 

gelapte blomme

bries

krampend in en uit

 

Jelleke Wierenga

Jelleke Wierenga

Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer. Haar debuutbundel, Bloot mens, het by Protea Boekhuis in 2009 verskyn.

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Bookmark and Share

Comments are closed.