Digstring: Marius Crous. Die ander man

Digstring

 

 Die ander man                         

Na Nina Simone se The ohter woman

 

die ander man

kan bekostig om duur etes te kook

kan maklik sy hare laat stileer

kan sy naels laat manikuur sy voete pedikuur

kan rits van die een boekwinkel na die ander

kan sy goue kredietkaart flash

kan bekostig om ingevoerde lakens op sy bed te hê

kan jou troetel met die regte wyn die regte boeke die regte

vakansieplekke

kan jou saaklik opbel vir foonseks by die werk

kan jou neervly op ‘n bed sonder kindergoed en hondehare

kan bekostig om jou lyf te masseer tyd te maak vir jou praatjies

kan saam oe en aa oor jou elektroniese musiek jou opgooiende

                                                                                        soprane

die ander man

kan maar afgaan en jou voël in sy mond neem

kan maar jou gat lek tot dit blink jou tiete knyp

kan maar jou spiere bewonder lofliedere lek op jou harige

                                                                                  boude

maar die ander man

is die een wat alleen slaap

is die een wat alleen woon

is die een wat kinderloos leef

is die een wat sondae moet omkry

is die een wat sy lyfhonger moet stil alleen op sy bed

alleen aan tafel alleen in die fliek alleen

is net ‘n groomed weergawe van my

in oggendjapon en deurmekaar hare koffiebeker in die hande

as hy so sit en uitstaar voor hom

‘n vaal swael in ‘n goudgetinte koutjie

 

 

(c) Marius Crous (Uit: Aan ‘n beentjie sit en kluif, 2006: Protea Boekhuis)

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Marius? Hoe het dit ontstaan?

Hierdie gedig het ek in 2004 geskryf. Ek het een dag na die liedjie van Nina Simone geluister, “The other woman” en dit toe van toepassing gemaak op my eie ervaring.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Nee, ek het heelwat herskryf aan die gedig; veral om die beeldspraak reg te kry. Die moeilikste was om `n gepaste metafoor te kry vir die vasgevange geliefde.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Sjoe, uit eie ervaring kon ek heelwat put, maar moes – soos in 2 aangedui – ook heelwat dink en herdink.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die bladspieël verklap reeds hoe die gedig gestruktureer is. Dit begin met die “die ander man” en elke volgende versreël begin met “kan” wat die stelling voltooi. In die derde strofe kom `n mate van wending – “maar die ander man” en dan begin alles weer met “is”.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nee, nie juis nie. Deesdae gee ek my verse vir my goeie vriendin Lenelle Foster. Sy is genadeloos eerlik en krities. Wanneer ek net sussende woordjies wil hoor, gee ek dit vir een van my onkritiese vriende. Mens het so `n vriend/in nodig wat jou kaalkop die waarheid kan vertel, sonder dat julle na die tyd kwaaivrinne is.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit het die eerste keer in my tweede bundel verskyn.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gedig is redelik outobiografies, maar daar is ook aangedik.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die spreker is die verguisde vrou wie se man `n verhouding met `n ander man aan het en dan haar woede – a la Nina Simone- probeer verwoord. Aan die einde van die gedig speel sy haar troefkaart – sy het die man by haar, terwyl die geliefde (ander man) alleen is en tevrede moet wees met die bietjies aandag wat hy van die getroude beminde kry. Amper soos in die fliek “Ignorant Fairy” waar die geliefdes mekaar net oor naweke sien.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die Nina Simone song.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Binne die bundelkonteks sluit die redelik goed aan by die tema.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nie wat ek kan dink nie? Dalk `n tipiese Suid-Afrikaanse toneel?

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?

Ja, want geen vers is ooit afgehandel nie.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Oor die spesifieke gedig – so ver ek my kan onthou – is daar nie iets gesë nie.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ja, in standerd 5 het ons “kreatiewe skryfkunde” gehad en ek moes `n gedig oor berge skryf – wat nog moes rym ook. Iemand het my gedig geplagieer en tot vandag toe onthou ek nog sy weergawe: “berge hoog, berge laag / berge middeldeur gesaag.” Dit rym!

 

Marius Crous

Marius Crous

Marius Crous is in 1965 gebore. Hy debuteer met die bundel Brief uit die kolonies (2003), waarvoor hy die Universiteit van Johannesburg se debuutprys ontvang. In 2006 verskyn sy tweede digbundel Aan ‘n beentjie sit en kluif.

Benewens ‘n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands verwerf hy ook MA-grade in Afrikaans-Nederlands en Engels.

Hy het die Kreatiewe Skryfkundekursus onder leiding van prof. Marlene van Niekerk voltooi.

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Bookmark and Share

Comments are closed.