Leon Retief. L’inconnue de la Seine

Soos die geval is met elke rivier wat deur ‘n groot stad loop is die Seine ‘n laaste toevlug vir eensame en desperate mense wat nie verder kans sien vir die ondermaanse nie. Laat in die negentiende eeu, waarskynlik in die 1880’s, het die lewe te veel geword vir ‘n jong vrou en het sy haarself in die Seine verdrink.

Haar lyk is uit die rivier gevis en na die Paryse lykshuis geneem. Daar was geen tekens van geweld aan haar te bespeur nie en dit is algemeen aanvaar dat sy selfmoord gepleeg het. Saam met die liggame van ander onbekende afgestorwenes is sy op een van twaalf swart marmertafels agter ‘n venster uitgestal in die hoop dat iemand haar sou kon eien. In daardie jare was besoeke aan die lykshuis om die kadawers te besigtig ‘n gewilde vorm van vermaak onder Parysenaars, byna soos die Londenaars se uitstappies na Bedlam.

Die meisie is nooit geïdentifiseer nie en sy is in ‘n anonieme graf begrawe. Haar gesig het een van die assistente by die lykshuis egter so aangegryp dat hy ‘n dodemasker daarvan gemaak het. Presies hoe hierdie masker bekendheid verwerf het is onseker, maar talle kopieë is gemaak en met die naam “L’inconnue de la Seine” het dit tydens die 1920’s en 1930’s later ‘n soort van ikoniese status in Frankryk en ook elders in Europa verwerf, byna soos afdrukke van Dürer se Biddende Hande wat in my prille jeug teen talle mure gepryk het. Of natuurlik die drie eendjies…

Foto’s van hierdie masker (ek het dit nie in “lewende lywe” gesien nie) toon inderdaad ‘n gesig met ‘n vreemde bekoring, ‘n geheimsinnige, Mona Lisa-agtige glimlag en ‘n uitdrukking van stille geluk.

Foto deur Man Ray

Foto deur Man Ray

 

Skrywers soos Anaïs Nin, Camus, Nabokov, Rilke en ander is deur hierdie dodemasker geïnspireer en meer as een roman of gedig is geskryf wat op haar geskiedenis gebaseer is.

 

 

 

L’Inconnue de la Seine
Vladimir Nabokov

Urging on this life’s denouement,
loving nothing upon this earth,
I keep staring at the white mask
of your lifeless face.

Strings, vibrating and endlessly dying,
with the voice of your beauty call.
Amidst pale crowds of drowned young maidens
you’re the palest and sweetest of all.

In music at least linger with me!
Your lot was chary of bliss.
Oh, reply with posthumous half-smile
of your charmed gypsum lips!

Immobile and convex the eyelids.
Thickly matted the lashes.  Reply-
can this be for ever, for ever?
Ah, the way they could glance, those eyes!

Touchingly frail young shoulders,
the black cross of a woolen shawl,
the streetlights, the wind, the night clouds,
the harsh river dappled with dark.

Who was he, I beseech you, tell me,
your mysterious seducer?  Was he
some neighbor’s curly-locked nephew
of the loud tie and gold-capped tooth?

Or a client of star-dusted heavens,
friend of bottle, billiards, and dice,
the same sort of accursed man of pleasure
and bankrupt dreamer as I?

And right now, his whole body heaving,
he, like me, on the edge of his bed,
in a black world long empty, sits staring
      at a white mask?

-Berlin, 1934

 

Rilke het die masker in ‘n Paryse winkel raakgesien terwyl hy die beeldhouer August Rodin se sekretaris was en dit beskryf as “…die gesig van ‘n jong vrou waarvan ‘n afgietsel in die lykshuis gemaak is omdat dit so mooi was, omdat dit geglimlag het, so misleidend geglimlag het, asof dit weet.”

Drie jaar later het hy “Washing the Corpse” geskryf oor die uitlê van die lyk van ‘n onbekende jong vrou:

 

They washed her neck

And because they know nothing of

Her fate,

They made another one up together,

Washing all the while…

 

As die verhaal hier geëindig het sou dit maar net ‘n vergete voetnota in die geskiedenis van Parys gewees het wat enkele mindere werke deur bekende en onbekende skrywers tot gevolg gehad het. ‘n Verstommende toeloop van omstandighede het egter verseker dat l’inconnue bly voortleef het, al is dit dan onder ‘n ander naam en eintlik dus maar net so anoniem as die dag toe sy uit die Seine gehaal is.

Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) soos ons dit vandag ken behels onder andere mond-tot-mond asemhaling wanneer geen mediese toerusting byderhand is nie. Alhoewel hierdie begrip vandag vir ons vanselfsprekend klink was dit nie altyd die geval nie en selfs die ontdekking dat ‘n pasiënt se onderkaak opgelig moet word om ‘n oop lugweg te verseker is ‘n relatief nuwe verskynsel. In ‘n ietwat bisarre agtiende-eeuse metode om drenkelinge te probeer resussiteer is tabakrook in die slagoffer se rektum ingeblaas – die rook is darem eers in ‘n ballon geblaas voordat dit na die rektum oorgedra is sodat mond-tot-rektum asemhaling nie nodig was nie. Hierdie metode was nie juis baie suksesvol nie.

Mond-tot-mond asemhaling is reeds in 1773 gepropageer maar het skynbaar nie algemeen gewild geword nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het dit bekendheid begin verwerf toe die Amerikaanse weermag dit aan sy soldate geleer het. Dokters het besef dat baie lewens gered kon word as dit op ‘n gestruktureerde wyse aan mediese en paramediese personeel onderrig kon word. Die vraag was hoe, want mens kan nie so iets op vrywilligers oefen nie en soos ons almal weet, practice makes perfect.

Peter Safar was ‘n narkotiseur wat baanbrekerswerk gedoen het oor intensiewe sorg oor die algemeen en KPR in die besonder – hy het byvoorbeeld die eerste intensiewe sorg eenheid in die VSA tot stand gebring. Tydens die vyftigerjare van die vorige eeu het hy en die Noorweegse narkotiseur Bjorn Lind by ‘n narkosekongres in Stavanger aan die gesels geraak en saamgestem dat ‘n pop waarskynlik die beste uitweg sal wees om sulke opleiding te verskaf.

Lind het die Noorweegse speelgoedvervaardiger Asmud Laerdal genader. Een van Laerdal se gewildste produkte was ‘n pop genaamd “Anne”, maar hy het ook nagemaakte plastiekwonde gemaak wat deur die Noorweegse weermag gebruik is om paramedici op te lei. Kort tevore het hy sy tweejarige seun van verdrinking gered en dit het sy entoesiasme vir hierdie projek aangevuur.

Safar, Lind en Laerdal het aan die werk gespring en in 1960 het Laerdal sy eerste pop bekend gestel – Resusci-Anne, so genoem na die speelgoedpop wat hy vervaardig het. Hoe moet die pop se gesig lyk het hy gewonder. Destyds was meeste medici mans en hy het besluit dat hulle nie daarvan sou hou om mond-tot-mond op ‘n manlike pop te oefen nie.

Tydens ‘n besoek aan sy skoonouers het hy l’inconnue se masker gesien en besluit dat hy haar gesig sou gebruik. Ek weet nie of hy bewus was van die geskiedenis van die masker nie.

Resusci-Anne

Resusci-Anne

 

 

Hoe dit ook al sy, Resusci-Anne is bekend gestel met l’inconnue se gesig en dit het mettertyd wêreldwye bekendheid verwerf. Honderdduisende mense het KPR op Resusci-Anne geleer.

‘n Aantreklike storie, maar daar is mense wat die egtheid van die verhaal betwyfel. Die Lorenzi-familie is al vir meer as 140 jaar modelmakers in Parys en Claire Forrestier, ‘n afstammeling van die oorspronklike Lorenzi, is nie seker dat die masker wel van ‘n lyk afkomstig is nie. Volgens haar is die masker se vel te glad vir iemand wat in die water gedryf het. Nogtans, as die meisie se lyk uit die water gehaal is binne ‘n paar uur na haar verdrinking sou haar vel waarskynlik nie makroskopiese tekens van nadoodse veranderinge begin toon het nie.

Wie weet… Wat die geval ook al is, ‘n onbekende meisie se gesig het op ‘n onverwagte wyse bly voortleef lank na haar dood en ongetwyfeld baie lewens gered.

My dank aan Marlise Joubert wat die gedigte van Nabokov en Rilke opgespoor het.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Leon Retief. L’inconnue de la Seine”

  1. Rita :

    Leon ek het hierdie vertelling baie geniet – dis so interessant dat hierdie onbekende meisie soveel kunstenaars geinspireer het. Dalk selfs meer as die Mona Lisa? Of Monroe.