Digstring: Cas Vos. kersrook

Digstring

 

 

 kersrook

 

smoke drawing – diane victor

 

 

kerse vlam op

en laat visioene lig

dans

 

soos die eerste goddelike

asem se uitblaas      lê

ek jou in rook

op papier uit

 

ek sien jou skaduvlek

weerloos teen vergaan stry

 

as ek bewend aan jou raak

verdwyn jy in ‘n wit

leegte

 

op my papier

is jou rookspore

nagelaat

 

 

(c) Cas Vos (Uit: Intieme afwesige, 2009: Protea Boekhuis)

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Cas? Hoe het dit ontstaan?

Die gedig is een oggend in Maart 2009 geskryf. Dis een van daardie gedigte wat in die nag skielik en onverwags in my skoot geval het. Daardie aand was ek nog op soek na ‘n geskikte voorblad. Toe hoor ek van Diane Victor se “smoke drawings” en weet onmiddellik dat dit die voorblad is en hieruit moet ‘n gedig kom. Ek het die konsep ook die aand gekry toe ek hoor dat, indien die “smoke drawing” aan lig blootgestel word, verdwyn die tekening.

Die volgende dag het ek ‘n afspraak met Diane gemaak. Ek het by haar gehoor hoe sy die “smoke drawings” maak. Sy het die geheim aan my verklap. Met ‘n vlammende pen het ek gedagtes vir die gedig neergeskryf. Dit was ‘n oomblik van kerslig en kreatiwiteit tussen ons.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het net na die gesprek met Diane gebeur. Dit is aan my “gegee”. En wie sê “nee dankie” vir ‘n present? Nie ek nie.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Daar was min sweet, eintlik net gloed en verwondering.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Dit was die konsep wat my geboei het. As jy aan die “smoke drawing” raak, raak die seuntjie weg. Soms is dit presies dieselfde met ‘n verhouding: dit is so broos en breekbaar dat selfs ‘n aanraking ‘n persoon kan laat verdwyn. En al wat oorbly, is die rookspore (vingerspore) van herinnering. Die “smoke drawing” wat ek as voorblad gebruik, dui ook op die aard van die bundel. Dit gaan oor die intieme afwesige, die breekbaarheid, die kwesbaarheid van verhoudings, die verlange en die pyn. Die gedagte loop deur die bundel en word veral in die persone van Abélard, Hélïose en hulle liefdeskind, Astralabe vergestalt.

Diane se kuns is in ‘n groot mate sosiale kommentaar. Kommentaar op die breekbaarheid, pyn en vlietenheid van die mens in verskillende omstandighede. Die intensiteit van sosiale verval, val telkens in haar werk op.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek het ‘n letterkundige wat noukeurig na my verse kyk. Daarna is ek in die hande van die keurders van die bundel.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit was van my laaste verse vir die bundel Intieme afwesige wat in September 2009 verskyn het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die “feit” is dat dit op ‘n werklike kunswerk berus. Ek sien die “smoke drawing” elke dag, want ek het dit as verjaardagpresent gekry. Die weerloosheid, broosheid en verlange van die kunswerk praat elke dag met my. Die “feit” is dat dit verwys na Astralabe, die seun van Abélard en Héloïse. Die “fiksie” is dat dit nou nog na pyn, verlange, verlies, verdriet en vervlietenheid verwys. Enigeen kan hom/haar in die vers in verbeel.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit gaan oor Astralabe wat deur verdriet en verlange oordek is. Die spreker is die digter (of dan die leser) wat met Astralabe in gesprek tree. In die eerste strofe word die proses van “smoke drawing” verbeeld. Die voltooiing kom in strofe twee as Diane die kunswerk in rook uitlê. Maar dis ook die digter wat die seuntjie deur die gedig tot lewe bring. Deur die “smoke drawing” kry Astralabe na eeue van vergetelheid weer lewe.

Die “ek” in die derde strofe is die digter (leser) wat na die seuntjie kyk en sien hoe hy teen weerloosheid stry. Dit lei tot ontroering en ‘n bewende aanraking, maar dan verdwyn die kind. Al wat oorbly, is wit stilte. En natuurlik die herinnering: rookspore op papier. Hiermee kan elke leser maak wat hy/sy wil. Elkeen het tog die wit leegte en rookspore op papier.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die gedig is deur Diane Victor geïnspireer. Sy is een van die voorste kunstenaars wat ek bewonder. Telkens is daat nuwe grensverskuiwings in haar werk. Dit blyk nou weer uit haar uitstalling, Trancend, by die Goodman-galery in Johannesburg. Daar het ek weer ‘n gedig gekry! As grafiese kunstenaar is Diane onverpoosd op soek na nuwe maniere van segging. Dis die mens in al sy gestaltes wat haar inspireer. Ek dink dis wat die digter ook behoort te doen: soek na en ondersoek voortdurend nuwe maniere van segging. Dit moet mense anders laat dink, kyk en leef.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

O hemel, dit wemel van persone. Werklikes, verbeeldes, dooies. Vir my is ‘n konsep belangrik. Dit vorm die draende grond van die gedig en stel my in staat om die gedig volgens ‘n patroon/patrone te rangskik. Maar ‘n gedig laat hom/haar nie maklik rangskik nie. Daarvoor is hy/sy te woelig en te vlugtig.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit verskil, hoop ek, heelwat. Maar gedigte verskil weer van mekaar. Dit hang van elke gedig af. In hierdie geval het die “smoke drawing” die gang en ritme van die gedig bepaal en ‘n eie stempel daarop afgedruk.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, die uniekheid van die kunsvorm wat Diane gebruik. Dat sy van kersrook tekeninge kan maak, is verbysterend. En dan die menslikheid van die gedig in ons gebroke konteks.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Die gedig het my nie gelos nie. Daarom was daar die verlossing deur woorde. Ek het ‘n vlam aangesteek en toe die kers doodgeblaas. Woorde het op papier verdig.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek is baie dankbaar oor die reaksie. Veral die visuele kunstenaars ervaar dit intens en opwindend.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Louis, nou vra jy my ‘n ding. Ek moet deur die donker jare sluip. Dis ver ver terug. Lank lank gelde. Ek was so 10 jaar oud. Maar ‘n gedig? Miskien ‘n eerste vlagie rook.

 

Cas Vos

Cas Vos

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.