Carina van der Walt. Watou – poësie oorskry grense

Watou 2010: Tussen taal en beeld, verzamelde verhalen # 2 het die afgelope naweek weer begin. Hierdie poësie- en beeldende kunstefees hou twee maande lank aan in Watou- op die grens tussen België en Frankryk. Aanvanklik was dit Poëziezomers onder leiding van die inwonende Vlaamse digter, Gwy Mandelink. Die afgelope twee jaar, na hy en sy vrou se verhuising en vriend Hugo Claus se dood, het Jan Moeyaert oorgeneem as organiseerder. 

Die dorpie Watou slaap nog as ons op Vrydagmiddag om vyfuur daar aankom. Op die dorpsplein is ons motor die sesde. Enkele fietse staan aangeleun langs voordeure. Hier en daar sit iemand voor ‘n kroegie of hotelletjie met ‘n lafenis in die hand. 37º C. Is dit die vooraand van ‘n poësie- en kunstefees? Watou is tog bekend, of nie?

Ons is in Suid-Afrika kunstefeeste met baie mense en ‘n geroesemoes gewoond. Met Woordfees, wat miskien die naaste aan Watou kom, word poësie en ander literêre vorme soos die roman en kinderverhale in die breedste sin van die woord ontgin. Watou is bedrieglik klein en nikserig. Die uitgangspunt is eerstens poësie en tweedens beeldende kuns. Net dit. En presies dit maak dit anders.

Die frekwensie waarteen digters en gedigte op die plein, op sypaadjieteëls en teen mure voorkom, is hoog. Dit is deel van die permanente gesig van Watou. Wie op hoogte is met wát in die poësiewêreld gebeur, weet dat die gedig van Mandelink naby sy ou huis nuwe betekenis kry.  Sy sewende en nuutste bundel is Schemerzones. Dit is einde 2009 vrygestel.

Moeyaert het nie ‘n maklike taak om nuwe lewe in die ou konsep van Poëziezomers in te blaas nie. Saterdagmiddag begin Watou volstroom met vyftig plusser en studente. Dit weerspieël die ou en nuwe benadering op Watou. Die ouer besoekers is daar vir die bekende, klassieke digters en hulle werk: Hugo Claus, Remco Campert, Rutger Kopland, Lucebert, Paul Snoek en Eddy van Vliet. Hulle bekoor steeds, bedwelm mens amper, soos Campert wat Lamento op ‘n videofilm met stromende water voorlees. Hier volg die eerste twee strofes:

 

Hier nu langs het lange diepe water

dat ik dacht ik dacht dat je altijd maar

dat je altijd maar

 

hier nu langs het lange diepe water

waar achter oeverriet achter oeverriet de zon

dat ik dacht dat je altijd maar altijd

 

Gedig - Mandelink

Gedig van Gwy Mandelink

Soms loop mens ‘n internasionale digter raak soos die Italiaan Guiseppe Ungaretti. Sy gedig is aangebring aan die buitekant van ‘n wit aantrekhokkie in die veld. Binne-in lê ‘n fyngetekende panorama van die Vlaamse kunstenares Sofie van der Linde. Gedig en panorama vind mekaar in die inleidingswoorde van Zwijgen:

 

Ik ken een stad

die zich elke dag met zon velt

en ogenblikkelijk is alles in vervoering

 

 

 

Ek assosieer spontaan. Waarom is daar nie lekker loslit Kaapsafrikaans in die helderkleurige aantrekhokkies op Muizenberg nie?

Aantrekhokkies met gedigte buite op en kuns binne-in.

Aantrekhokkies met gedigte buite op en kuns binne-in.

 

Die jongklomp is studente van die Koninklijke Academie voor Schone Kunsten in Gent. Ek leer opnuut iets by hulle: dat poësie ook ‘n sintuiglike ervaring sonder woorde kan wees. Net sig, klank en balans is al genoeg. Op die vervalle solder van ‘n klooster kom mens af op Miks Mitrivics se installasie Carething. Aan die een kant staan ‘n paar staal- en plasiekemmers om druppels van die plafon op te vang. Het die geiser gebars? Aan die anderkant staan ‘n snaakse konstruksie onder plastiek vol holtetjies wat ook water opvang en ‘n warm elektriese plaat. As jy tjoepstil staan, hoor jy:

 

tip tiep

tip-tip tssjjj

tiep tip

tiep tssjjj

tiep-tiep

tssjj …

 

En dan kry jy stadig so ‘n verwonderde smile van herkenning op jou bakkies! Dis poësie! Op ‘n ander plek aan die rand van die dorpie stap mens onbevange in ‘n rooi container. Jy hoor hoe rol goed rond – staal op staal? Skielik wonder jy: bedrieg klank my? Beweeg die vloer van die container? Vorentoe, agtertoe, links, regs… Waar is mens veronderstel om te wees? Op see? Buite gaan kyk jy onder die container. Ja, daar’s die hidroliese voetstukke: Onshore / Offshore. Klank en beweging wat jou onverhoeds betrap – dis ook poësie!

Die mooiste poëtiese ervaring was met die openingsaand van Watou. Die hele dorp, oud en jonk, belangrikes en nuuskierige besoekers het na ‘n stukkie grasveld buite Watou gestroom.

Almal het ‘n lugballon van Chinese ryspapier gekry: wittes en perses en oranjes. Onderaan? ‘n Wasring wat met mens moes aansteek. Jy wag totdat jou eie lugballon met warm lug volgetrek het. Jan Moeyaart gee instruksies oor die mikrofoon:

 

wacht  wacht  wacht 

voel hoe hij trekt 

laat hij goed vol trekken

goed vol trekken, mensen

Goed

laat  laat  laat

Dan gebeur dit voor jou oë. Die lugballonne styg rustig op in die Watouse lug. Na vyf of meer minute begin die heel hoogstens soos verskietende sterre terugval grond toe. Uitgebrand. Ongrypbaar. Beeldskoon. Poësie kom lê sag op jou netvlies – vir altyd onthou.

Watou lugbalonne

Watou lugbalonne

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Poësie in vlug met lugbalonne

Poësie in vlug met lugbalonne

Bookmark and Share

Comments are closed.