Digstring: Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Digstring

 

 Kortstondige kalligrafie

Adolph Jentsch

 

 

Nou ís dit so

dat ek jou asemhaling mis:

 

elke deinende penveeg

ougoud oor skuiwende duine

van hierdie oerwoestyn

palet  na  doek

 

strepies grysroos pastel op horisonne

meng en waai met gryswit newelbanke

na die binneland by Swakopmund

 

daardie wuiwende grashalms

wit pluise in die wind

kwas jy roeserig in met rooigrassade

rondom die heuwels van die Omatako

 

die sonblou hemel styg op

uit die leegte van Khowas

en vang die oog van die watergat   

tussen fyn getrapte grysgroen stof

 

titsels klipperige stippellyne

van die Skaaprivier stol

waar die boomblaarare

gryswit ophou fotosinteer.

 

Uit dié kortstondige kalligrafie

wou ek skoon leer skryf.

 

© Lucie Möller (Uit: Watermerke, 2009: Protea Boekhuis)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Lucie? Hoe het dit ontstaan?

Ongeveer vyf jaar gelede in Mei 2005, maar die inkubasietyd daarvan was heelwat langer. Baie prikkels het bygedra tot die gedig se ontstaan: Van my eerste kennismaking met die skilderkuns van Adolph Jentsch in 1969; later boeke wat ek daaroor gelees, en gedagtes wat ek met mense gedeel het wat hom persoonlik geken het (soos Olga Levinson en Matty en Helen Druker). Die ingewing om miskien iets daaroor te skryf, het gekom toe ek ‘n boek, Art in Namibia (saamgestel deur Adelheid Lilienthal en uitgegee deur die Nasionale Kunsgalery van Namibia, 1997), geskenk gekry het van die destydse President daarvan, André Strauss. Daarin is van Jentsch se werke afgebeeld en sy styl en kunsfilosofiese beskouinge bespreek.

Hoe die aanvanklike persoonlike ervarings, die gesprekke, boeke en so meer tot ‘n gedig gelei het wat ‘n eie bestaan kom voer, is moeiliker om te verduidelik. Soms is dit ‘n hele smeltkroes van juis dié dinge, soms is dit iets heeltemal anders wat die geleier is wat bydra tot die finale skryfproses van ‘n gedig. Daar is die ervarings, die gedagtes of  idees wat in ‘n taal uiting soek, wat mens vorm wil gee, maar nooit dit alleen nie. Dit is immers nie nét ‘n taaluiting nie. Dikwels is dit eers ‘n soort belewenis van iets wat mens nog nie kan beskryf nie, ‘n gewaarwording of gevoel en daarmee saam die inherente ritme van dié ding wat vers wil word, inkanterend soms. Dis asof die “iets” (daardie “thought fox” van Ted Hughes, die donker embrio soos  T.S. Elliot dit noem miskien) wat op sy eie wysie “aangeslibben” kom en in jou kop bly pols tot dit geuiter kan word, maar sy eie wysie reeds het. Dit is vir my soos ‘n stroom van geleiding en hierdie “ritmiese fragment” van ‘n taaluiting, is dan wat as basis dien vir die vormgewing. Dit kan die spesifieke stemtoon van die gedig skep, die inherente ritme en betekeniskonteks van ‘n gedig dra. Dis daardie asemhaling van die ritme wat dwarsdeur die gedig bly verklank wat aanvanklik net sien, ervaar of gedagte was. Ek glo dis daardie ongeskonde deel, die ritme van alle skeppende kuns, dit wat nie verwarbaar is nie maar eg, wat dit vir ‘n digter moontlik maak om in sy regter breinhelfte (of is dit nou sy deel van laterale denke?) te gaan delf . Dit is miskien die “smal poort” waardeur daardie “onsegbare” (toegegee, soms met heelwat getimmer), gesê wil word.

My “ritmiese fragment” was daardie deel van die gedig  “…dat ek jou asemhaling mis”, omdat dit vir my spesifiek na die kunstenaar se ingesteldheid verwys; om die skilder se eenwording met die voorwerp (om artefakt, onderwerp daaruit te skep), te illustreer. Met daardie ritmiese fragment wou ek die wisselwerking tussen voorwerp en kunstenaar, die brug tussen die ruimtelike en die geestelike suggereer. Daarna deur spesifieke landskapstonele te beskryf, te wys hoe die skilder die kleurskemas meng, met vinnige en akkurate kwashale die lig en skadu, die illusie van beweging in die toneel in die moment vasvang. Daardie meesterlike spel van kleure, sy soort van chiaroscuro wat ons in sy werke sien, dit het ‘n blywende indruk op my gemaak.

My gedig is my persoonlike weergawe van hierdie ervaring van sy skilderye, niemand anders s’n, en die opnoem van kleurmengsels, die herhalings en kontraste, was ‘n poging om dit uit te druk. Daaruit laastens, die versugting om maar só te kon skryf soos hy skilder. Die bedoeling was nooit om my te vergelyk met die skilder nie. Uit hierdie besef van: Hier staan ek nou by die aanskoue van groot kuns, en die gewaarwording dat ek in die teenwoordigheid van iets groter as die kunswerk en die kunstenaar self is, daaruit het die gedig moontlik sy ontstaan gevind.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Al my gedigte gaan deur ‘n proses van aanvanklike vinnige notas maak van die gedagtes of idees wat aankom. Soms kom net ‘n enkele fragment van ‘n reël wat ek  uitbou in versreëls en strofes, dit skommel om meer dramatiese effek te bereik, veral as dit vertellend van aard is. Alhoewel meeste begin as ‘n gedagte of gevoel oor iets, wat soms op waarnemings of ervarings teruggaan, kom almal nie ewe maklik tot vorm nie, maar hierdie een is wel vinnig afgehandel

In die begin skryf ek dus taamlik intuïtief, so op die gevoel af. In hierdie geval was  dit juis daardie iets wat my in sy werke diep geraak en geestelik verruim het, wat dit miskien makliker laat vorm vind het.  Ek hou nie juis volledige joernale nie, maar tog vouers waarin ek elke gedig vanaf sy kriptiese aantekeninge met aanhalings uit boeke en artikels daarby, tot by sy finale uitdruk bymekaar hou. Dis maar ‘n metode om my gedagtegange of gedig-“idees” uiteindelik in “vorm” te kry. As ek daardeur sif, kry ek soms nuwe ingewings en werk dit in totdat die versreëls en strofebou, saam met die inherente ritme en betekenis, my minstens bevredig.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die vers is wel aan my gegee in “erster Fassung”, d.w.s. sy oorsprong het ek taamlik onmiddellik beleef  toe ek die skilderye gesien en ervaar het. Dit het my inderdaad so geïnspireer dat ek toe reeds geweet het ek sou eendag daaroor iets wou sê. Daardie respek wat alle groot kuns by ‘n mens wek, en wat mens hoop gee om self skeppend te raak.

Elke digter het seker al die ervaring gehad dat sommige gedigte maklik kom, gegee is. Dat so ‘n gedig gou op homself afsmelt om skoon en suiwer sonder sy gietvorm of was,  daar te staan op papier. Dan is daar die ander gedigte wat dalk heelwat inspirasie het, maar nog baie  “hamer en stut” of gietwerk verg, en met dié gedigte kan mens sukkel verby die herskryf en oorskryf tot by doodskryf toe. Na te veel van die soort dissekterende aksie hoeveel van “das Ding an sich” (Rilke) bly nog oor? Soms loop die vers suiwer en ongestoord tot sy eie afsmelting, miskien nog nie in finale vorm nie, maar tot waar jy weet: Dis nou sover soos my stel taaluitinge (wat ook maar soos ‘n stang in die mond werk) my wil vat.

Een hoofgedagte of versreël kom gewoonlik maklik in die begin, maar dit maak nog lank nie die hele gedig nie. Soms is dit wel die hele gedig. Maar daardie “alfa-kuiken” (J.L. Marais) wil oorleef, en sal bly vassteek soos ‘n neet en hopelik die kern van die gedig bly.

Daar is altyd woorde wat ek heroorweeg, toets aan die klanke, ander opsoek en probeer kies vir die algemene gevoel en stemtoon van die gedig, dus nie net vir sy betekenis of logiese korrektheid nie, maar ook nie net vir sy klankeffek nie. Oral moet die woord met sy klankbeeld, sy enkelvoudige of meerduidige betekenis, bly saambeef op die hele web of stramien van die gedig.

As iets my werklik aangryp, soos in hierdie geval die kuns van ‘n meester, tesame met die ervarings wat ek self met die landskap van Namibië gehad het, dan gebeur iets: Dis asof mens ontvanklik gestel word vir woorde, idees. Dié gedig het ek dus redelik vinnig en gemaklik geskryf, sonder gewroeg. Daar is ook nie eintlik veranderinge op hierdie gedig aanbeveel deur my klankborde, redakteurs of keurders nie.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Dis seker een van die moeilikste aspekte waarmee ek as digter sukkel, die versoeking is altyd daar om nog iets (hoe klein ookal, dalk net ‘n voorsetsel of komma) te verander, om so ‘n ander moontlike interpretasie te bring, of uit te sluit.

Ek gebruik wel ‘n soort ordeningsbeginsel al is dit aanvanklik taamlik lukraak. Die hele vers is dan nog losserig in sy kompartemente, in hierdie geval rondom die vier prente opgebou. Al lyk dit miskien voorafbeplan, het dit eintik maar so by my opgekom en verteenwoordig vir my die verskillende stadia van ‘n reis deur die landskap van die skilderwerke en die lewe self.

Die vraag duik dikwels by my op: wat laat ek weg, wat sluit ek in, maar ek probeer tog om een of ander dramatiese en chronologiese opbou of ordening in te werk. Daarvoor gebruik ek stemme of  sprekers, soms is dit ‘n alleenspraak. In hierdie geval het ek ook iets anders probeer, naamlik die dramatiese instrument van simboliek, hier spesifiek die opnoem van kleure, of wat dan met sekere kleure geassosieer word (nie dat dit as universeel gesien word nie), maar tog om ‘n interpretasie van die skilderye te gee soos ek dit ervaar het, ook in die kontraste wat ek probeer skep het daarmee, ens.

Dis vir my as digter dus belangrik dat die gedig ook sensories ervaar word, daarom is die visuele beskrywend benader en die ondertone van die helder kleure saam met die grys telkens spesifiek genoem. Jentsch het juis helder kleure gemeng met grys om ‘n sagter effek te bewerkstellig wat meer subtiel is op die oog: soos lig, die sonstrale in natuurtonele, mistigheid en newels, maar ook om die illusie van iets diafaan, daardie ligdeurlatende effek te bereik. Dit vergestalt daardie leegheid van die oop ruimtes, daardie ruimtelike ervaring op sensories vlak. Aanvanklik was die kleur- en detailbeskrywings dus vir my belangrik, maar dit wou ook ‘n ragwerk van betekenislae suggereer, en ek het gehoop, meer as dit.

Hier wou ek met die beskrywing van kleure “momente van lig” en beweging in die ervaring van die skilderye verwoord. Dit was nogal belangrik vir my gesien in die lig van die kunstenaar se kalligrafiese en pointillistiese styl en tegniek waarvoor hy bekend is.

Met die verdere afwerking van die gedig het ek ook plekname ingewerk om as bakens te dien vir die plasing van die “reis” deur die skilderye, die agtergrondtonele, die landskap waar dit afspeel.

Verder het ek woorde en uitdrukkings gekies met betekenisvolle klanke en ritmiese effek: In die beginstrofes die lang vokale, volronde en stemhebbende klanke, daarna in die slotstrofes al hoe meer stemlose sluitklanke en frikatiewe byvoorbeeld  die “titsels klipperige stippellyne… stol” wat as grondtoon die soort dramatiese effek bewerkstellig wat tot die denouement lei: om spraakloos te staan.

Want, ten slotte raak selfs die digter stemloos en woordloos: Dit wat sy grootste vrees is, het ek probeer klankmatig vergestalt. In die slotstrofe besef die digter – veral die nog wordende digter, dat hy stom gelaat is, tot stilte gedwing is voor die kunswerke.  Uit die kortstondige kennismaking het hy weliswaar dalk nog nie geleer “skoon skryf” nie, maar die besef en die versugting is daar.  Is of sal hy ooit in staat wees daartoe, dit bly die onbeantwoorde vraag, ook in hierdie gedig.  Daarom eindig dit nie met ‘n “greep” op sake nie, maar ‘n floue “wou”.  Met die tegniek om “the voiced against the unvoiced sounds” te plaas in hierdie gedig, wou ek die dramatiese effek verhoog, en terselfdertyd miskien ‘n geskakeerdheid op ‘n ander vlak teweegbring. Die hele relaas verduidelik natuurlik my ervaring van die dinge en sal nie noodwendig so deur ‘n ander persoon gelees word nie.

Vir my was hierdie gedig “klaar” toe ek die futiliteit van my blote beskrywings van die  kunswerke besef. Toe ek dié insig kry, self ‘n “aha”- moment beleef wat vir my die lig laat opgaan: Hier is iets wat eintlik groter is, of waarvan die impak groter is as wat ek ooit in woorde kan stel. Ek het iets probeer vasvang wat hom nie laat vasvang nie. Daardie kortstondige moment as die lig by jou opgaan dat hier staan jy nou voor groot kuns, soos die skepping van daardie landskappe daar buite, van die Skepping self .

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Aanvanklik torring ek self daaraan totdat ek voel nou is hy klaar uitgeloop uit die wordingsproses: tot daar iets van ‘n afgeslote geheel, vir my immers, op papier is. Verskeie persone wat ek gereeld vra om ‘n eerste klankbord te wees, is my vriend Peter Raper, en daarna die digtersgroep by die Huis vir Afrikaanse Poësie waar ons die geleentheid kry om gedigte voor te lees, ook aan buitemense. Daar kom dikwels goeie voorstelle wat my help om die teks af  te rond, maar poësie soos skilderwerk, soos seker enige ander kunsuiting, duld nie graag vennootskappe nie.

Later as ek myself kan distansieer van die gedig om meer logies daarna te kyk (soos die keurders, redakteurs en kritici), woel dit nog heelwat  knope los, maar die gevaar is dat daardie eerste “ongeskonde” gedigidee of  ritmiese fragment in sy oorsprong doodgesmoor word. Die finale vorm kom natuurlik eers in die proses waar jy met die keurders en redakteurs te make kry. In hierdie geval is die gedig feitlik sonder veranderinge aanvaar vir publikasie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

In dieselfde jaar 2005 is dit opgeneem in die CD-gedigteversameling Klikspringer (uitgegee deur Ian Raper/Forum Pers, 2005), en later in my debuutbundel Watermerke ingesluit wat verlede jaar (2009) deur Protea Boekhuis uitgegee is.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die konkrete gegewe, die “feite” wat aanleiding gegee het tot die gedig, was my persoonlike kennismaking met die werke van Adolph Jentsch en wat ek oor hom en sy kuns gelees het. Hoe ek dit ingeklee het as ‘n soort belewenis waarin ek meegevoer is, miskien beginnende as ‘n gesprek met die kunstenaar, maar tog as alleenspraak, dit was die fiktiewe deel. Aanvanklik is die versugting die van die voorwerp om tot kunswerk omskep te word , daardie “iets” wat as voorwerp of objek dien vir die skilder of kunstenaar in die algemeen. Later is dit die digter se versugting om sy pogings tot kuns te kan omskep: om skoon te skryf.

Dat daar iets van ‘n besef van die kortstondigheid van juis dié  “momente van lig”, en veral menslike verhoudings, die liefde en die lewe self, ingesluip het, vorm dalk die oorheersende ondertoon van die gedig.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Soos ek in die bostaande vrae probeer wys het, het dit eerstens gegaan oor die ervaring van vier skilderwerke van ‘n meester. Daarby is tog ook die suggestie dat dit oor veel meer as bloot die kortstondige kyk na vier skilderwerke gaan. Terwyl ek die “beskrywings, die drama opdis”, hoop ek merk die leser dat iets anders aan hom begin werk het, naamlik my gedig self wat miskien meer wil wees as waaroor dit onder andere “handel”, naamlik die kortstondige, vervlietende ervaring van alles.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?

Ja, soos hierbo genoem, was dit die skilderye van Adolph Jentsch self, gesprekke met kennisse en dan die boeke van Olga Levinson “Adolph Jentsch” (1973, uitgegee deur Human & Rousseau, Kaapstad), en die versamelbundel deur Adelheid Lilienthal Art in Namibia, wat bepaald ‘n invloed op die gedig gehad het. Die afdrukke van sy akwarelle en sy olieverfwerke daarin, onder andere landskaptonele met die Omatako-berge in die agtergrond, die “Watergat op die plaas Khowas”, en laastens die oliedoek van die droë Skaaprivier, is spesifiek gekies vir die beskouing hier. Verder, tydens die jare met my navorsing oor plekname en VN-werkswinkels in Namibië, kon ek die Windhoekse Kunsgalery, museums en argiewe gereeld besoek en daar weer eens onder die indruk kom van die sterk ruimtelike invloed van die woestynlandskap op meeste van die kunstenaars van die gebied. Uit al die bronne kon ek oplees oor sy styl, sy ingesteldheid jeens die natuur en sy kunsfilosofiese beskouinge en so meer. Dit wou ek herbesoek in my gedig

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee, die ervaringe of belewenisse wat aanvanklik aanleiding gee tot ‘n gedig kom  taamlik wisselvallig en toevallig. Dat naas hierdie ervaringe, die gedigidee in ‘n sekere taal verwerk word om miskien later saam met ander gedigte gebundel te word, het dalk so iets as basis, maar ek doen dit nie met die oog op ‘n spesifieke gehoor nie.  Dit het waarskynlik meer te doen met die intuïtiewe aanvoeling van iets binne my, of sekere belewenisse wat in ‘n gedig uitgebeeld of gesê kan word, as met die gehoor daar buite. Behalwe dat mens in ‘n sekere taal skryf en die sprekers daarvan jou eerste gehoor is, kan dit dalk vertolk word dat dit gemik is op ‘n groep, maar ek skryf en publiseer ook in Engels en Duits.

Dit gebeur soms dat ek ‘n gedig in Afrikaans begin skryf of in Engels, net om oor te slaan na die ander taal waarin dit vir my makliker vloei. Dit het waarskynlik daarmee te doen dat met die skryf van die gedig ek taamlik op die klank en ritme ingestel is in ‘n spesifieke taal:  soos die idees en beelde kom, soek dit sy taal- en spesifieke taaluiting. As dit nie met die regte, fyner verstegniese aspekte soos woordritme, vol-, half- en binnerym, woordklanke wat ook betekenisassosiatief werk, geskryf kan word nie, is ek dalk nie in die regte taal besig nie. Daarom is vertaling van verse ook nie maklik vir my nie.

Alhoewel ek al deelgeneem het aan versamelbundels oor spesifieke temas of wat opgedra word aan ‘n spesifieke persoon, kom die gedig op sy eie. Dit is vir my nie ‘n uitgesoekte groep lesers wat ek wil bereik nie, behalwe as ons redeneer: goed ons skryf in Afrikaans,  en vir wie skryf ons dan, net die paar belangstellende akademici, of vir die gewone mens ook? Hoeveel mense kan my lees in my moedertaal? Maar ek glo, die oomblik dat die skrywer soos die skilder pen of kwas op papier sit, wil jy tog iets deel met iemand, en dat die potensiële leser/luisteraar/kyker altyd in die agterkop of in die gedagte is, sou ek nie wou ontken nie. Hoekom anders dit hoegenaamd met pen of kwas probeer vasvang ? 

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis nie ‘n suiwer natuurvers nie, al lyk dit in die “uiterlike natuurbeskrywings” miskien so. Eintlik is geen van my gedigte net bloot dit nie. Alhoewel ek intens belangstel in die natuur en uiteraard ook in natuurskilders, is dit veral Adolph Jentsch se kunsfilosofiese ingesteldheid jeens sy  “onderwerpe”, sy meesterlike kalligrafiese en pointillistiese styl en vaardigheid  as “natuurskilder” wat my aangegryp het en wat ek in die gedig wou verwoord. Want dis deur sy passie as skilder, sy oorgawe as persoon tot sy kunsuiting dat sy kunswerke baie meer as net natuurskilderye word.

Met my gedig probeer ek op ‘n vlak beweeg waar ek nie noodwendig net ‘n suiwer interpretasie van wat ek sien of ervaar in sy skilderye, probeer weergee nie. Die ervaring wat ek probeer verdig het tot ‘n vers was immers my eie interpretasie, die vervlietende kennismaking, die beskouinge, bewuswording van iets groter as kuns, en  die onvermoë om dit vas te hou wat sulke kunswerke opwek. Daarom sluit ek in hierdie gedig met ‘n versugting (dus eerder ‘n “whimper” as ‘n “bang”), oftewel ‘n wens: as ek maar uit die kortstondige kennismaking met die meester en sy werke die skepping van kuns beter kon verstaan en so te leer “skoon skryf “; leer om die minimalisme te beoefen, die vers suiwer te hou en die ontdaangemaakte woord op die regte plek te kan plaas. Miskien is dit ‘n lang gedig, daar is baie beskrywende woorde ja,  maar dit het van my ook baie fyn kalligrafiese strepies geverg om beweging en lig in my gedig te probeer vasvang.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, behalwe die taal waarin dit geskryf is. Die milieu van die gedig wil egter ook nie net iets van die Suidwes-Afrikaanse landskapstonele oproep nie, alhoewel dit deur die beskrywing van die kunswerke van Adolph Jentsch, wat eg Namibiaans is, miskien daardeur aan die bod kom.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Dis beslis nie een van my gedigte wat ek versaak het nie, ek het nogal daaraan gewerk tot dit my bevredig het as afgeronde geheel, anders sou ek dit nie gepubliseer het nie. Met my gedig wou ek ‘n gevoel uitspreek van iets wat ek op ‘n diep persoonlike vlak ervaar het, en helaas die vervlietende aard daarvan. Die gedig wil sê: Dat my woorde tekort skiet om sy skilderye of die uitwerking wat dit op my as toeskouer maak, te beskryf, dat my waardering vir sy kunsuitinge eintlik nie in woorde gestel kan word nie: daarom die versugting. Dit het ek wel ingesien. Dit beteken nie, dat ek my pogings tot skrywe wou vergelyk met ‘n meester op sy gebied nie, eerder dat ek tot die besef gekom het “skoon skryf ” is ‘n kuns. Dis al.  Soos ek sy skilderye beskryf het, die woorde en versreëls vorm begin aanneem het, en soos die gedig algaande sy eie loop met my geneem het, het dit tog vir my gevoel daar het iets van geword wat “afgehandel” is, al was dit net binne my.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja, alhoewel die terugvoering uiteenlopend was, was dit oor die algemeen baie positief. Vir party van my mededigters en lesers was die gedig tog ‘n kunswerk in sigself,  is selfs aanvanklik as ‘n liefdesvers gesien  (nie dat dit my bedoeling was nie), maar is ook goed genoeg gevind om met ‘n prys vir die jaar 2005 bekroon te word. Maar met kritiek uit ander oorde wil ek my wel ernstig besig hou om daaruit te leer.  Want ek vra my af: Wat in my gedig, soos hy nou daar staan, het die negatiewe reaksie uitgelok?

En dan moet ek seker maar aanvaar dat dit miskien nie so toeganklik was soos ek gereken het nie, of dat die meervlakkigheid ‘n hindernis was. Maar goed, mens leer algaande: Soveel lesers, soveel interpretasies. Op die ou einde is wat tel: Watter interpretasies laat die gedig toe en wat laat hy nie toe nie? Maak dit die gedig noodwendig beter of slegter as hy verskillend waardeer word? 

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Watter gedig presies my eerste was, weet ek nie meer nie. Op hoërskool (onder aaansporing van ons onderwyser vir Afrikaans) het ek gedigte begin skryf en so vier of vyf  is opgeneem in die Jaarblad van 1966. Dit was maar jeugverse en die invloed van die sestigers het oral deurgeslaan. Hier is een van daardie pogings:

 

want ek wil nie sien

 

dit was die son om en bo my

‘n dooie kat langs die sypad

wat my laat sien het

in die verborge

dit was die skewe kerk

op die hoek van Troye-en Kotzéstraat

met sy gekleurde vensters

sy lang toring soos ‘n vinger

gesigte teen woonstelvensters

wat uitstaar

op die dakke die grys duiwe

wat stil is

die smal brug oor die Apies

wat lei na

my groot stad se strate

vol skares wat vreemd is

‘n seun wat wink en glimlag

te ver is

en ek wat omdraai

 

want ek wil nie sien

in die verborge

van my lewe nie

 

Lucie Möller

Lucie Möller

Lucie Möller promoveer in 1987 aan die Universiteit van Natal met ‘n proefskrif oor die inheemse tale se invloed op die naamgewing in Namibië. Vir die afgelope dertig jaar publiseer sy plaaslik en internasionaal boeke, artikels en referate oor naamgewing. Enkele titels is byvoorbeeld  A World of Names, Changing Place Names in Southern Africa, en Plekname in die verhale van Herman Charles Bosman.

Vanaf 1999 tot 2007 verskyn van haar gedigte op LitNet se PoësieNet en die Engelse PoetryNet. Van haar gedigte verskyn in versamelbundels en op die CD Klikspringer, saamgestel deur Ian Raper (2005).

Haar debuutbundel, Watermerke, verskyn in 2009 by Protea Boekhuis. ‘n Groot deel van die gedigte het haar Bosveldplaas in die Waterberge as agtergrond, alhoewel die studies wat sy oor plekname in Suid-Afrika en Namibië onderneem het, die inspirasie tot ‘n aantal ander verse was.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Digstring: Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie”

  1. Joan Hambidge :

    Klein verskrywing.
    T. S. Eliot, nie Elliot.

    Groete, Joan

  2. Lucie M. :

    Joan, baie dankie vir die regstelling met Eliot, en nog meer dankie dat jy gelees het aan hoe “dieper ik poog te delven…” Ai, en ek wat name behoort te ken.
    Lucie