Leon de Kock - vertaling in Afrikaans
Leon de Kock - vertaling in Afrikaans deur die outeur.
Samekoms
Hoe gaan mens voort, desnoods
Ten spyte van vergane skepe
Verbrande veld
Eugène Marais se Diep Rivier
Die gedruis en gestoot van water
Groot en verwoestende droogte
Woestyn, woestheid, uitdrywing
Uit die taal van gemeenskaplikheid
Uit die taal van familiespraak
Die taal van samekoms
Terwyl almal uitmekaar en swaar van las is
Terwyl almal aan die verkeerde stam behoort
Misplaaste geskiedenisse, verkeerde totems.
Hoe om die krag weer te put
Middelpunt van die hart
Smeltkroes van bloed en been
Hoe om krag van spraak te betree
Spraak wat ‘n vader toekom
Padvinder en wag
Hoe om hierdie mag op te spoor
Mag van hande wat saamgevoeg is
Hande wat met liefde gevleg is.
(Omdigting deur Leon de Kock van ‘The Gathering’, uit Bodyhood (Umuzi, 2010) deur dieselfde outeur.)
GROOT LIEFDE
Ja , ek praat beslis van liefde
Groot liefde
Ek maak geen apologie
Dit bestaan. Ek weet dit
Ek voel dit, ek voel dit nóú
Elke dag voel ek dit
Moet asseblief nie verder met my stry nie
Dit lê egter in die verlange
In die seerste verlange
Die sagste hart
‘n Hart wat saggemaak is
In die gemaal van verlange
Getye wat aanhou, aanhou draai
Wat elke keer terugvloei, vasbeslote.
Onkeerbaar.
En om jou hart daarteen te versteen
Om dwars te staan
Om dit terug te laat deins
Om soos ‘n rots, ‘n rots vas te staan
Moet jy die gedruis van water weerstaan
Moet jy keer op keer die water laat afsak, afsak
Maar selfs ‘n rots het breukpunte
Krake wat begin oopmaak
Oor die jare begin hulle verweer
Soos die rots
Wat eindelik die omvloeiende
Die omsingelende water
Laat gaan
Wat dit eindelik laat gaan
Laat ek dit deur
Laat ek dit deur
(Omdigting deur Leon de Kock van ‘Great Love’, uit Bodyhood (Umuzi, 2010) deur dieselfde outeur.)
Apollo
Die kuns van tweestryd
Ken hy goed
Dit is tog sy spesialiteit
Elke hoek word goed bekyk
Alle kante van die saak oorweeg
Hy laat twyfel sy gang gaan
Elke voordeel sien hy raak
Selfs emosies word ingereken
Alles bereken
In bestek geneem
En nou sit hy daar
En hy wonder
Hy wonder
Hoe hy dit ooit gaan regkry
Of hy weet hoe om te val
Weg te val
Knieë lam
Van gevoel
(Omdigting deur Leon de Kock van ‘Apollo’, uit Bodyhood (Umuzi, 2010) deur dieselfde outeur.)




