Digstring: Johannes Prins. man diesel

Digstring

 

 Man diesel  

Hoe kom ‘n vers

na jou toe

vra jy op vrouedag in hendrik potgieter

ek skud my kop

en sê nee ek weet werklik nie

want dis soms vreemd

die hele ding

ons sou byvoorbeeld

op pad makro toe

wees om te gaan wyn koop

en dan klim daar

sommerso

‘n vers by ‘n man diesel

se deur uit

en tuur ver in sy blou overallbroek

na die metrocop wat hom pas

afgetrek het

en verstel onder sy maag

aan sy belt se kopergespe

vee met swart naels

en ‘n hand so groot

soos my oupa s’n

oor sy sweterige

voorkop

 

en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe

en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself

 

 

(c) Johannes Prins (Uit: een hart, 2009: Lapa Uitgewers)

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jo? Hoe het dit ontstaan?

Seker so ses maande voor die publikasie van een hart.Ek ry gereeld in Hendrik Potgieterrylaan aan die Wes-Rand Makro se kant toe om te gaan wyn koop. Wyn koop is vir my effe van ‘n ritueel – ek kan ‘n uur of langer daar tussen die rakke staan en niks koop nie. Óf ‘n kis of twee – afhangend van die finansies & die behoefte…

Dit was op pad terug van só ‘n ekskursie (op Vrouedag) dat ek die grote Man Diesel-trok langs die pad sien staan het – daar waar dit deur die metropolisie afgetrek is. Op my eie – maar die gesprek in my kop was dié van ‘n vroeëre vraag wat my vrou my eenkeer gevra het: “Hoe kom ‘n vers na jou toe?”

En, soos dit in die vers uitkom, weet ek dikwels nie hóé dinge inmekaar val nie. Maar die ryery – soos bestuur met my maak – stem my dikwels tot skryf. En skielik het ek dié groot ou met die boeppens by die trok sien uitklim, en daar staan my oorle oupa voor my. ‘n Groot man van Adelaide in die Oos-Kaap wat ek dink beter Xhosa as Afrikaans kon praat.

In ‘n oogwink staan ek daar langs my oupa op die rooi stoep in Millstraat 1, Adelaide. Die ou groot huis agter ons met die silwer sinkdak wat neerbuig op wit pilare terwyl sonbesies die stofstrate se hitte besing.

En my oupa wat met sy geliefde sakmes ‘n appel sit en skil & dan die skil so langs my op hou om te wys “dis langer as jy!”.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die laaste twee reëls het aanvanklik heeltemal anders gelyk (in vorm). Maar die res het redelik vinnig gekom.

Dit was vir my baie belangrik om daai twee reëls “reg” te kry, want dis die laaste woorde in dié gedig wat die sluiting van die hele bundel moes bewerkstellig.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Al’s is gegee – gelukkig. Maar die laaste twee reëls – soos hierbo gesê – het bietjie tob & ‘n glas of wat Thelema Shiraz geneem…

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Geen ordeningsbeginsel nie, nee. Toe die laaste twee reëls se wending vir my werk, toe werk hy.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Gewys ja, maar nie bespreek nie. My vrou sien meeste van my gedigte & ek hang nuwe verse gewoonlik teen die muur langs my rekenaar by die werk. Dan daag daar soms mense op & sê iets daaroor.

Van die verse in een hart is vir vriende in Kaapstad & Pretoria gestuur. Maar meer as reaksie op ‘n e-pos eerder as ‘n “kan ons die vers bespreek”. Natuurlik is die gevolg kommentaar op die vers waaraan ek my gewoonlik steur.

In een só ‘n e-pos het ek die slot van die inka-vers “melkweg” by Joan gekry.

Verskeie vroue figureer in die bundel – meeste van hulle is geken in die saak. Ek dink net een nie… dalk twee.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Spesiaal vir een hart geskep – hoewel ek dit nie toe geweet het nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gesprek in my kop in die vers is heeltemal fiktief – dit het nooit gebeur nie.

Die herinneringe aan die stoep en my oupa-hulle en Adelaide is heeltemal gesien deur die filter van my jeug. Fiksie voorop!

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Metapoësie; kommunikasie; kreatiwiteit; vertaling van ‘n realiteit; transportasie; herinneringe – dis wat by my opkom.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nope.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Beslis ja. Dikwels spreek ek iemand spesifiek aan oor wie die gedig gaan of wat by die ontstaan daarvan betrokke is. Ander kere is dit ‘n meer algemene leser ingedagte om insae te gee waarheen ek met die bundel gaan.

By een voorlesing by die Stoep in Nelspruit so maand of wat gelede, het ek agtergekom dat brugspelers (natuurlik!) dié bundel meer toeganklik vind. Hulle verstaan die taal – hulle kliek net.

Deesdae wanneer ek voorlees begin ek met: “Wie van julle speel brug?” By die Stoep was die gesprek tussen my en die gehoor soos ‘n brughand self.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Net twee verse in die bundel is “poësiebeskoulik” soos Bernard (Odendaal) daarna verwys het: die eerste een & die laaste een.

Hier wou ek sluiting bewerkstellig wat aansluit by baie verse (wat tussen hakkies is) & die hart én selfs die “a” van die hart op die voorblad. Om uit die hart te praat en om úít te praat (uit ‘n spesifieke konteks) & om dit verstaanbaar & op ‘n kreatiewe manier aan te bied.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Dalk die knipmes en die appelskil, maar ek verstaan oupa’s elders (in Argentinië byvoorbeeld 😉 doen ook sulke goed.

Dis waarskynlik eerder ‘n landelike verwysing as tipies Suid-Afrikaans.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Nee, ek dink die vers werk.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Baie ja. Meeste mense het daarvan gehou.

Minstens twee resensente se reaksie was vir my baie interessant.

Met verwysing na “verse” (die eerste gedig in die bundel) en dié een, het Bernard gesê:

“Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.”

Wat Bernard ook tereg sê is dat ongewone beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie – want my poësie vermoed ek sluit aan by Fado (wat met die alledaagse werk, die werking van dit wat is).

In Beeld (7 Desember 2009) skryf Marius Crous weer (oor die genoemde twee verse):

“En terwyl hierdie gedig (‘verse’) geslaag is, vind ek die slotgedig ‘man diesel’, minder geslaag en effe geforseer.”

Uiteenlopende reaksie dus.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Op dees aarde – nee glad nie.

 

Johannes Prins

Johannes Prins

Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA  in Afrikaans en Nederlands.

    Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar.

     In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook  by tot As die son kom oogknip,  die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji.

     In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante.

     Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Digstring: Johannes Prins. man diesel”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Dis ‘n baie mooi gedig daai, Jo.

  2. Jo Prins :

    Baie dankie, CP.

  3. sonja vermeulen :

    wil graag kontak maak met Johannes ons was het in die selfde straat gebly in Vredelust?

  4. Webmeester :

    Sonja, as jy FB toegang het sal jy hom daar opspoor!

  5. Hallo Sonja! Ek’s by jprins@beeld.com