oewerbestaan

oewerbestaan. Melt Myburgh. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-369-0. Prys: R140. 76 bladsye.

 

oewerbestaan

oewerbestaan

Dis al amper ‘n dekade sedert ek van Melt Myburgh as digter te wete gekom het, naamlik deur ‘n bydrae van agt gedigte tot Nuwe stemme 2 (2001).

Intussen het dié oud-onderwyser (aan ‘n Engelse privaatskool in Grahamstad) bekendheid verwerf as redakteur van LitNet, ook via sy verslaglewering oor literêre gebeure in veral die Wes-Kaap op die einste webwerf. Onlangs is verneem dat hy by die Woordfees-span op Stellenbosch aangesluit het as mede-organiseerder van dié jaarlikse fees, asook van die jaarlikse Versindaba (tot verlede jaar georganiseer deur Louis Esterhuizen en Marlise Joubert).

Poësieliefhebbers se nuuskierigheid oor sy digterskap word nou bevredig met die verskyning van oewerbestaan, sy solodebuut.

Dis ‘n ietwat teruggetrokke, fyngevoelige maar tog beheersd-hartstogtelike persona wat na vore tree uit die bundel. 

Die bundeltitelwoord wys nie slegs heen na Myburgh se grootwoordjare op Karos, ‘n besproeiingsboere-nedersetting naby Upington langs die Oranjerivier nie. (Hiervan verneem ons veral uit die gedigte van afdeling1 in die bundel.) Ook die eenkant-houding van die buitestandersfiguur, die betragtende bewonderaar van die driftige lewenstroom word hierdeur aangedui – van die stoepsitter wat “geduldig die agterplaas [fynkam] / vir leidrade wat dalk mag verklap / dat ‘n visioen op hande is” (eerste strofe van die titellose openingsgedig van die derde bundelafdeling).

Daar word méérmale op die stoep gesit in dié bundel, veral in die genoemde afdeling 3. En die bundelmotto (‘n vertaling van ‘n ou Sjinese spreuk) lui:

as ‘n mens lank genoeg op een plek bly sit,

sal die hele wêreld mettertyd verby jou draai.

Vandaar – vanuit ‘n ietwat onttrokke posisie – is dit miskien makliker om ‘n (illusie van) deurskouing en beheer te handhaaf. Onbewaakte blootstelling aan die werklikheid, so word in die alleenstaande openingsgedig van die bundel gesuggereer (‘n gedig wat, beeldveldspronge en al, myns insiens ook iets poësiebeskouliks kommunikeer), kan ontluisterend wees:

 

aankoms

 

daar is iets sexy in die manier

waarop die falcon sy flappe beur teen die wind

en met hidrouliese presisie neerstryk op warm teer

 

wanneer die kajuitdeur lig en treetjies sak

slaan die hitte bloedneus

 

die matador se hemp geruïneer[.]

 

As sensitiewe, gay persoon (soos ‘n mens al uit ‘n gedig soos “swem in die kanaal” uit die openingsafdeling kan aflei) moes die digter hom van jongs af ‘n buitestander gevoel het te midde van die veeleisende, nugtere en rigiede boerderybestaan in die woestynagtige gebied waar hy opgegroei het. Dis in die lig van só ‘n lewenservaring dat ‘n kort, titellose gedig soos die volgende veelseggend word:

 

sleepwaens met kafbale waterpas gepak

kruip in ‘n prosessie deur hekke wawyd oop

werkers wag in oorpakke, lusernhake in die hand,

gereed om die vrag by die koöperasie

se halfklaar piramide te voeg[.]

 

Sonder liefde vir daardie wêreld is die digter nie. Maar dan behels dit ‘n gekompliseerde, ironie-gelade deernis. Één gedig ter illustrasie:

 

terugblik

 

alles lyk so eenvoudig

deur die oë van ‘n kind

 

bekend aan my die flets gesig

van ‘n lyk uit die rivier gebring

 

my oog het gewoond geraak

aan trekvoëls in oranje kolomme lig

 

lokasievroue rek tussen takke

na nawels soet en pit en skurf

 

die herfs speel met windpompsterte

bedompig luier die aandwind in wingerdblare

 

hart-karos, besaai met motorwrakke

standplaas van omsingelde gedagtes

 

eendag kom ek permanent terug

om in ‘n kameeldoring se koelte te rus[.]

 

“[K]anale en onderpaaie” is nie verniet die titel van afdeling 1 nie.

Iets wat met die komplekse verhouding met daardie wêreld verband hou, is die tekening van die vaderfiguur in enkele boeiende gedigte. “[I]nfancio y muerte” in die eerste afdeling lyk plek-plek voorafskaduwend van “by my pa se dood” in die slotafdeling. Uit laasgenoemde blyk dat die vader selfmoord gepleeg het (“maneuvers vir dié klein slagveld sorgsaam beplan”). Die “ek” in die gedig stel hom die vader in die hemel voor, arbeidsaam “in die grootbaas se olyfboord”, wakend oor die geliefdes wat op die aarde agtergebly het. Diepe deernis, innig identifiserende medelye met die vader, blyk uit die onstellende slotreëls:

 

intussen hou ek die spieël angstig dop    

vir lyne wat jóú lees as voorsaat[.]

 

Van vroeg af in die bundel word ‘n behoefte uitgespreek om te ontsnap aan so ‘n (eintlik bedreigende) werklikheid (kyk die treffende gedig “visioen van die kanaalape”); ‘n strewe om dit te transformeer of transendeer. ‘n Lokkende figuur, wat redelik gou assosieerbaar word met die Spaanse digter Federico Garcia Lorca (vergelyk die Spaanse woorde vega en sierra, en die aanspreking van “dierbare frederik” in “karos”), duik al in enkele gedigte van afdeling 1 op.

Lorca lyk, gemeet aan wat byvoorbeeld Uys Krige in sy inleiding tot Verse van Lorca oor hom skryf (in 1987 by Human & Rousseau gepubliseer), na die identifikasiefiguur wat die ingetoë subjek in oewerbestaan wens te wees. Lorca was ‘n “vulkaan van geesdrif en lewenskrag”, onweerstaan in sy sosiale aantreklikheid, veelvuldig begaafd – aldus Krige. Dat hy homoseksueel was, en oor “‘n diep tragiese sin vir die lewe” beskik het, vermeerder die identifikasiemoontlikhede.

Vandaar dat die tweede bundelafdeling “om federico” heet, met die volgende openingstrofe:

 

ontvlugting bring troos

só wou hy altans glo

daarom rol hy ‘n kaart van spanje oop[.]

 

Die dor jeugwêreld van Myburgh (en ander dele van Suid-Afrika) word in ‘n hele paar gedigte hier verheffend parallel gestel aan die Spaanse suide (of ander dele van Spanje). Ook die vader word, in ‘n roerende gedig, by wyse van spreke na dié ‘grootser’ wêrelddeel (Lorca se geboorteplek) verplaas:

 

nét hier

fuente vaqueros

 

hierso, pa, nét hier

deur die landerye in die vega

kan jy met die honde loop

 

en soos christus op ‘n hoë noot

jou hande hemelwaarts reik

terwyl hulle op agterpote

jou lyf probeer natrek

 

hiér, pa, is die ideale plek

waarheen jy hulle ook kan lei

en met ‘n gedempte knal verlos

van pyn opgedoen met hondebaklei

 

soos don federico garcía rodriques eens

kan jy jou vingers berekend

oor die toppe van suikerbeetlote sprei

(die diere aanbiddend aan jou skene)

 

en as hulle vermoeid vas wil steek

sal jy met ‘n laaste blyk van genade

‘n oomblik lank wag

en verwonderd in die rigting van die alhambra kyk[.]

 

Dis eers in hierdie sfeer dat die grootliks onderdrukte (homoëroties getinte) sensualiteit tot duideliker botviering kan kom:

 

duende

 

dié gedig sneuwel in my hand

 

ek mis jou ek verlang ek wil aan

jou raak seën my met jou lippe

bederf my met jou hande wys my

af stal my uit beroof my van alles

draai my om eet my op ek sal jou

koester seun van my welbehae[.]

 

Ander wyses van omvorming of oorstyging van die alledaagse geskied deur die deurskouende, openbarende en verwonderde kyk, soos met die titel van die derde afdeling, “gesigte”, vooropgestel. Indrukke, insigte, verbeeldingsvlugte en vergesigte (ook aangaande die self), maar ook bevooroordeelde sienings en pretensies (uiteraard gesatiriseerd) word gebied in gedigte wat meermale aantreklik en/of treffend is (“eisteddfod”, “privaat skool”, “voor elsa se stoep I”, “gedagtes van ‘n stoepsitter”, ensovoorts). Gedigte oor die virtuele wêreld van digitale speletjies (“playstation 2”) en films (“sissy spacek in ‘n kombuistoneel”), asook oor die mistieke wonderwêreld wat deur “miss helen” in die Uilhuis op Nieu-Bethesda geskep is (“‘n beeld raak los”, “www.owlhouse.co.za”), kom voor – maar ook verse waarin ontdek word dat “die wêreld sy wonders versteek onder klippers / wat vir ‘n oomblik lank onder skoensole blink” (“gedagtes van ‘n stoepsitter”).

Die “donker stroom” van verval en die dood (om vir ‘n oomblik ‘n beeld by Eugène Marais te leen) maak egter dat die lewe self eintlik ook ‘n soort “oewerbestaan” is.  “[I]nkdood”, die slotafdeling, stel dié tematiek, en verwante motiewe soos verlies, versaaktheid en afskeid (en ook die digterlike ínskryf daartéén), aan bod.

‘n “[C]lose encounter” word deur die digter self beleef:

 

dagsê, mnr. myburgh

long time no see

jy het ietwat kleiner geraak

jou oë effens rooierig

jou ken ‘n aks skerper

jou mond stink na knoffel en dooie woorde

staan bietjie terug, so ja,

laat die warm damp opklaar

ek sien

daar’s ‘n love bite

op jou nek[.]

 

Een van die mooiste gedigte in die bundel staan ook hier – ‘n gedig wat herinner aan bekende Afrikaanse ‘liefdeswaak’-gedigte soos Breyten Breytenbach se “nagmaal” en “slaap klein beminde”, en Stephan Bouwer se “jy slaap nou”:

 

jy slaap nog, my skat

terwyl ek bloots op die rug van die highway ry.

onder my vingers vibreer

die klein spiertjies van jou lae rug.

in die baai trek die fregatte laer

fyn komeetstertjies waaier olierig agter hulle.

ons is beleër in ons liefde!

op die strandfront klap nigeriërs kleurvol hulle lappe uit,

(jy roer onrustig in jou slaap) ek wonder

op watter markplein is jou droom te koop.

 

werkgedagtes seil stroef saam met die eerste boeing in oor

                                                                          die stad.

my hart hunker na die soet reuk van jou slaap.

die taxi’s se getoet sit vas in die beton

en sinjale bly die spoor leepoog byster.

jou sluimering kerf lieflike patrone onder die laken.

ou mense trap met sweetbande en honde

‘n verbete mars teen die dood wat in die oggendmis hang

 

iewers los ‘n hadida ‘n smeekroep[.]

   

Uit die liefs onderbeklemtonende, eerder suggestiewe as uitsêende hantering van byvoorbeeld die vader- en gay-motiewe blyk ‘n sekere huiwering tussen ver- en onthulling in oewerbestaan. Dit is hoofsaaklik ‘n wins vir die bundel, deurdat die gedigte meermale aan suggestiekrag wen en gevolglik, deur die sterker appél op lesersdeelname, oorstyging van die vertolkte indiwiduele belewenisse help bewerkstellig.

Aan die debietkant staan die gevaar van mistifikasie, waaraan Myburgh myns insiens nie heeltemal ontkom nie. Om sommige van die gedigte wat inspeel op die lewens en leefwêrelde van Lorca en Helen Martins te verstaan, verg byvoorbeeld nogal besondere agtergrondkennis.  En wie is die “jy” en “ek” in “waarheen dra jou voete jou, my liefste”? Watter gebeurtenis en omstandighede moet ‘n mens jou voorstel wat tot die skuldgevoelens van die digter aanleiding gee in “beswering”? Waar bevind die skrywende ek hom in “grahamstad”? (Dit sou makliker gewees het om uit te maak indien “dié ou stadjie” as “daai ou stadjie” gestel was.)       

Maar selfs al trek ‘n mens hiervoor punte af, slaag Myburgh die toets van die solodebuut oortuigend. [O]ewerbestaan getuig van volbloeddigterskap.

 

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

   

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “oewerbestaan”

  1. Joan Hambidge :

    Bernard, my bespreking in Die Volksblad. Joan

    Wat digter kén, lewer beste verse
    2010-08-28 06:00

    Joan Hambidge

    OEWERBESTAAN deur Melt Myburgh. Protea-boekhuis. Sagteband. R140.

    DIE uitreiking van ’n debuutbundel is ’n besonderse oomblik. Dit is wanneer die digter die eerste keer sy/haar verskyning maak en wys watter bydrae daar binne ’n kanon gemaak kan word. Dikwels kan ’n mens terugskouend al die temas terugvind in die debuut wanneer ’n digter verder ontwikkel.

    Melt Myburgh se Oewerbestaan is ’n bundel wat die jeug in ’n gerepresseerde en rassistiese bestaan sinkopeer met die leefwêreld van Lorca. Dit is uiteraard ’n ambisieuse opset, juis omdat Lorca so ’n groot digter en dramaturg is. Die besoek aan Lorca se leefwêreld in die Andalusiese dorp Fuente Vaqueros in Granada is die oerbron waaruit ander gedigte waaier.

    Lorca was ’n komplekse figuur en hy is veral binne die gay wêreld ’n ikoniese figuur. Die digter is wel bewus van hierdie problematiek, want hy vra: “hoe skryf ek, dierbare frederik, hiérdie landskap vir jou oop // sonder om reëlreg my eie graf in te loop?” (16)

    Die digter aktiveer dus argetipes in ’n Jungiaanse denke: lewe, dood, waansin, normaliteit en dies meer. Die bundel betree die wêreld waaruit die digter kom (karos, met die onderskrif 40km buite Upington, bl. 16) en die landskap waarna verlang word, te wete die Spaanse wêreld van Lorca.

    Lorca is dan ’n simbool van die dood en die hele bundel kan gelees word as ’n spanning tussen eros en thanathos (in Freud se terme). Die besef word uitgespeel in die vers oor die vader se selfmoord, by my pa se dood (67) in die afdeling inkdood waarin die seun desperaat die vader vra om sy “gedigpraat” aan te hoor.

    Dit sluit aan by die vers op bladsy 15 waarin die digter as’t ware sukkel “om ’n john deere // te laat dreun op die onderpad van sy geheue”.

    Hiermee word ’n psigoanalitiese lesing uitgenooi: die dood van die vader en die dood van Lorca word een in die onbewuste en hierdie spanning kan alleen in die ruimte van die gedig opgelos word. Die films wat vasbrand in skoolsale, is die herinneringe wat vir die spreker oorweldigend en pynlik is (16).

    Die lotgeval van die gay man word dan verwoord in verse soos aan Jeffrey Dahmer (68), tereg met erkenning aan Johann de Lange wat dit uitmuntend gemetaforiseer het, en in ’n gedig oor Laurie Gaum wat heet “jesus in vlak water (na die foto van laurie gaum)” (52) waar die problematiek van Gaum se Rapport-foto’s so verwoord word:

    “as jy op water kon loop,
    sou die offer tussen jou hande
    nie ’n enkele koerant verkoop”.

    Om Gaum se ontbloting aan Christus se lot gelyk te stel, vind hierdie leser gewoon problematies. Mag dit, wonder ’n mens. Is enige mens se leed vergelykbaar met Christus se simboliese offergawe?

    In “privaat skool” (53) word die draadwerk ’n verwysing na onanisme, terwyl “playstation 2” (54) die tema pak wat reeds deur De Lange soveel sterker uitgewerk is.

    In die lykdig, “by my pa se dood” (67), word die selfmoord van die vader in ’n pynlike bestekopname beskou:

    “intussen hou ek die spieël angstig dop
    vir lyne wat jóú lees as voorsaat”

    Die gedig tree in gesprek met De Lange se pa-gedigte wat deur sy oeuvre loop en die gedig as beswering van die konflik met die vader wat die kind versaak het.

    Die vaderfiguur waarmee Myburgh in gesprek tree, is Lorca. Die leser is hierom dan bewus van ’n gevoel van uitsigloosheid en somberheid.

    Die beste verse is oor die wêreld wat die digter ken, soos “upington” (21) met die trae refleksies en die mirador van ’n oewerbestaan.

    Nie al die verse is deurgekomponeer nie. Daar is gesogte beelde (hoe lui ’n foon slank?, 17). Dikwels staan verse nog te na aan die ervaring, maar wanneer dit slaag, soos in ’n hand vol, is daar beslis bewys van talent. Daar is hiperbolies gedink, om die digter buite verband aan te haal, en die gesprek met Lorca bring winste.

    Ons ken almal die voortreflike vertalings van Uys Krige in Spaanse dans. Myburgh is oorweldig deur die betowering van Granada en die “heuwels staan knop soos boude” (32).

    Daar is suggesties en openlike verwysings na homo-erotiese aanrakings; iets wat moeiliker was in die ruimte waaruit hy kom. Heen en terug flits die gedigte na mekaar: die nou en die verlede toe die oksels nog vry was van skadu’s.

    Die liefdesverse is egter al beter deur Auden, et al. (en by ons De Lange) gehanteer en waarskynlik is die landskap-van-die-jeug die beste verse: dit wat die digter werklik ken én verken het.

    · e-pos artikel

    · Druk artikel

    · KRY VOLKSBLAD OP:

    · Jou selfoon

    · Jou Facebook-profiel