Carina Stander. Woorde om asem te haal

‘n Klompie maande gelede het Jo Prins gevra dat ek iets vir Verslangs sal skryf. Soos altyd met koerante/ tydskifte is spasie maar knap, so mens kan nie van ewigheid tot amen aanhou gorrel nie. In elk geval, hier is my ontleding van ‘n Krog-gedig soos wat dit 29 Mei in Beeld verskyn het.

Pietermaritzburg. 6 Augustus 1863

Vannag reeds sewe keer wakker.
Die onderskeid tussen drom en kamer

word al hoe swakker. Ek is pal in die bed.
Smeer balsem vir swakheid en druppels geset

in kanfer vir die vreeslike moeg - die meesmuil
wat my daagliks tussen die kluite ploeg.

Wat baat ‘n gesin sonder aptyt; ‘n man en kind
wat al my woorde aan die hakskeen byt?

Here, maak die visioen aan my bekend
en die maat van die beker:

Die nag word uitgekurk. Van pyn klamp
my eierstokke opmekaar, spits gepels stamp

hy my om, probeer kortpotig my bekoor,
tussen sy tande blits sy asem ‘n spoor

van ontbinding. Maar die pen in my hand
is styf en ek skryf hom nuut…

die Eerwaarde skoon soos ganna bessiewas
tussen bladsye. Ek het woorde snags

geskryf wat soos blare suurstof gee,
sodat ek kon bestaan

en niks giftigs agter ooglede verberg,
maar speekloos voel God dryf

my om myself kaalvoet uit te skryf
teen hierdie brons geskubde Drakensberg.

Die gedig, “Pietermaritzburg 6 Augustus 1863” verskyn in Antjie Krog se bundel, Otters in Bronslaai (1981). Die bundeltitel word deeglik in die verse ontgin: die otter as skugter waterdier; die bronstige otterjasie (vark) wat seksuele vernielsug simboliseer; die bron as fontein, oorsprong, moederliggaam of verwysingsdokument. Die slotsiklus in die bundel, “Die leeu en die roos”, is dan ook ‘n helder voorbeeld van ‘n historiese geskrif wat as bron vir digterlike inspirasie dien. Dis gebaseer op die dagboekinskrywings van die Voortrekkervrou, Susana Catharina Smit (1799-1863), suster van die Groottrekleier, Gert Maritz. Op dertienjarige ouderdom word sy deur haar ma aan eerwaarde Erasmus Smit (34) gegee. As gevolg van sy drankprobleem (tussen sy tande blits ‘n spoor/ van ontbinding), word hy telkens deur die sendinginstituut verplaas. Teen 1837 sluit hulle by die Trek aan.

Honderd jaar later word vyftien van Susanna Smit se dagboeke in die solder van ‘n huis in Utrecht, Natal ontdek. Sy het haarself leer skryf en lees en haar Hollands was merkbaar beter is dié van Eerwaarde. Sy was goed bekend met die boeke van Hollandse piëtiste wat aan die Kaapse Kolonie beskikbaar was. Oor die geestelikheid van Voortrekkervroue skryf Chistina Landman: “These women were dependent upon a personal relationship with God to provide them with answers… Often these answers became quite personal, when God become personally involved through visions” (1994:69). Die openingsin in “Pietermaritzburg 6 Augustus 1863”, lui dan ook: Vannag reeds sewe keer wakker./ Die onderskeid tussen droom en kamer/ word al hoe swakker. Elders in die gedig vra sy: Here, maak die visioen aan my bekend… Sy verklaar ook: God dryf my

In teenstelling met haar intieme Godsbelewenis, is daar haar huwelik met Eerwaarde: ‘n swakkeling wat ontrou was aan haar. Daar is ‘n botsing tussen haar ongelukkige gesinslewe en begeerte om te skryf: Wat baat ‘n gesin sonder aptyt; ‘n man en kind/ wat al my woorde aan die hakskeen byt? Steeds skryf sy vir selfbehoud en reiniging: die pen in my hand/ is styf en ek skryf hom nuut. En: Ek het woorde snags/ geskryf wat soos blare suurstof gee,/ sodat ek kon bestaan/ en niks giftigs agter ooglede verberg… Pieter Conradie merk hier die intertekstuele verwysing na Erica Jong: We write poems/ as leaves give oxygen –/ so we can breathe (1996:66).

In die gedigtereeks word Susanna Smit getransformeer van slagoffer tot pionier. Dié transformasie bereik ‘n hoogtepunt tydens ‘n toespraak voor kommissaris Henry Cloete wanneer sy die legendariese verklaring maak dat die vroue kaalvoet oor die Drakensberg sal stap vir vryheid en reg. Krog eggo dit in die slot: om myself kaalvoet uit te skryf/ teen hierdie brons geskubde Drakensberg.

Regdeur haar oeuvre maak Krog gebruik van uitruilbare identiteit: Jefta se dogter, Lady Anne Barnard, Antjie Somers. Wanneer sy by monde van Susanna Smit praat, verteenwoordig sy die Afrikanervrou wat veg vir vryheid, geregtigheid, eerbaarheid en kreatiewe uitlewing. Die vraagstukke rondom geslagtelikheid, die selfopoffering en dapperheid van die vrou as moeder, volksfiguur en skrywer en die strewes van die individu teen ‘n patriargale stelstel, is kenmerkend van Krog én Smit se skryfwerk.

Bronne:

Conradie, Pieter. 1996. Geslagtelikheid in die Antjie Krog-teks. Kaapstad: Pieter Conradie.

Krog, Antjie. 1981. Otters in bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau.

Landman, Christina. 1994. The piety of Afrikaans women. Pretoria: Unisa.

 

Bookmark and Share

Los kommentaar