Die heel-al op die punt van ‘n naald

Judasoog: ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange

deur Cas Vos

  

In die Keur van gedigte het die digter self die keuring gedoen. Dis ook goed so. Dit is immers die digter se eie werk en daarom het hy die reg om te kies en te keur.

Die samestelling van ‘n Keur van gedigte kan diachronies of tematies geskied. Gewoonlik val die keuse op ‘n diachroniese of historiese verloop. Dit het ook met Johann de Lange se samestelling gebeur.

Die bundeltitel is die hegting van die geheel. Judasoog en sy sinonieme kom in ‘n verskeidenheid gedigte voor (vgl. p. 65, 67, 74, 78). Die begrip kry in verskillende gedigte ‘n rykdom betekenismoontlikhede. Judas is die verraaier, maar ook die een wat veraai is; die verworpene. In die kombinasie Judasoog val die klem op waarneem. Dit vind deur ʼn “loergat” plaas. As seksuele kode dui dit op genot of die smagting na genot (p. 65). Maar dit kan ook op verwerping wys.

De Lange maak van verskillende kodes gebruik om die liefde te verwoord. In Flaminke is dit die tradisionele rose. Al is dit ‘n geliefde metafoor, slaag die digter daarin om dit vars te pluk en in die gedig te rangskik. Reeds in die openingsgedig kom die digter se noukeurige aandag aan en gebruik van woorde aan die lig. Daar is by de Lange vars en verrassende beelde. Oor die emmer praat hy van sy “roesbruin ribbekas” en sluit af met “hy slaap sy roes af”. ‘n Idioom word deur die emmer geskep en deur die digter omskep in ‘n nuwe betekenismoontlikheid.

Die digter se tegniese vaardigheid is van meet af eie aan sy poësie. Sy beweging van strofes deur onklaarreëls in volgende strofes voort te sit, kom dikwels by de Lange voor (vgl. Oujongnooi, Inlywing). Woordbreuke is ‘n tegniek wat die digter effektief aanwend (byvoorbeeld drup-pel in die gedig Betwixt, vgl. veral die gedig Ernst van Heerden). Witruimtes (Spitsroede) kom ook seldsaam by de Lange voor. By T.T. Cloete is dit byna té opvallend. Die verbindingsteken & is eie aan de Lange se verse. Nuwe woordskeppings en -wendinge kom dikwels by die digter voor. Hy skryf ook in vaste patrone. In hierdie verband verwys ek na sy pragtige Sonnet aan Orpheus (vgl. ook Sondagmiddagsonnet).

Die seksuele kode is reeds in de Lange se eerste bundel teenwoordig. Hierdie kode word op verskillende vlakke ontsluit. In Brief doen hy dit op ‘n liriese manier wat meesleurend werk. Hy is subtiel en speels in die gedig. Die refrein versterk die skryfdaad in die donker. Die teenstellings is opvallend: lig (kerse) en donker, spoghotel en toilet, hemel en hel. Leipoldt 1 en 2 is ‘n meesterstuk. Leipoldt se menslikheid, sensitiwiteit, lyflikheid, digterskap, drome en pyn kom op verskillende vlakke na vore. Aardlief is ‘n kwatryn wat die eerste reeks treffend afsluit. Die kosmiese dimensie in de Lange se poësie word hier helder aan die bod gebring. Die mens beland uiteindelik in die skoot van die aarde.

Die bundelreekse van Wordende naak af worstel met die homo-erotiese bestaan. Die bestaan is nie net ‘n enkelbestaan nie, maar ‘n saam-leef en ‘n lewe binne ‘n sosiale omgewing. Die sosiale omgewing verklaar dikwels menswees, ook die seksuele kant daarvan, té maklik en té goedkoop, tot “ongewens”. Die reg om ook seksueel te leef, word ten onregte van sommige mense wat nie in ‘n bepaalde sosiale patroon inpas nie, ontneem. Dit is teen dié verontregting dat de Lange se homo-erotiese verse skerp en poëties kragtig protesteer. Die erotiese verlange word uitgebeeld in byvoorbeeld Male muse en Stoombad. Die seksuele verhouding bring ook die pyn van afskeid (vgl. Jy’s skaars weg). Homo-erotiek in al sy geledinge kom in de Lange se verse aan die lig (vgl. Orpheus in die middestad). Daar is ook die onbekendheid met mekaar (Kissing the rod). Die seksuele daad en woordeskat word nou-keurig in Tongnaai 2 beskryf. Daar is ook sprake van ontbering en pyn (“wondbare lyf”) in verhoudinge. Dan is daar die een wat die laaste sê het: die dood (Aan ‘n onbekende seun). De Lange dig ook oor ou Sluipdood, vigs in Coke & sodomie. Dit is die poëtiese vernuf wat hier opval.

Ontvlugting is ‘n gedig wat Ingrid Jonker se uitvaart na die see herroep. Dit is veral die hegte komposisie van die gedig wat opval. Die “krulkopsee”, meeue, skeepsreg, water en wind het alles met die groot see te doen. Dit is ‘n ontroerende gedig.

In sy gedigte kom beeldgedigte as vorm van vroeg af al aan die orde (vgl. Die aartappeleters). Dit is veral die kleure wat in die gedig die aandag trek. In Passie kom die seksuele motief weer voor. Hier is dit veral die teenstellings wat opval.

Die afdruk van N.P. van Wyk Louw kom ook in de Lange se verse voor (vgl. Piromaan). In gedigte haal ‘n digter ook deur ander asem. Maar, soos in die geval van de Lange, word dit nou sy eie asem. Dageinde is ‘n voortreflike gedig en tog pla die sinne wat met “die” begin. Dis net maar my struikeling oor die “die”. Daar is pragtige beelde in die gedig. Laatherfs eggo van Wyk Louw, maar dan in de Lange se eie unieke stem.

Pa is ‘n ontroerende gedig. Dis ‘n deurleefde gedig. Die boubeeld loop dwarsdeur die gedig. Die refrein (“Maar ek vergewe jou”) as herhaling roep die herinnering en die deernis pynlik op. Die ander Pa gedigte is in ‘n ander toonaard, en tog is dit dieselfde Pa. Die derde gedig oor die Pa is meer ‘n beeldgedig, maar ook ‘n onthulling van die psigiese aard van die Pa (“rusteloos”, “glimlag half sku”).

De Lange het talle beeldgedigte geskryf. Hy laat die gebeelde deur sy (ver)beelding poëties opstaan en weer leef – ‘n redivivus. Van al die voortreflike beeldgedigte wil ek Ernst van Heerden (p 131-132) uitsonder. Dié gedig is ‘n kragtoer. Die proses van sloping word effektief deur sinsafkapping verbeeld. Die slot is aangrypend.

‘n Hele versameling elegieë kom in die werk van Johann de Lange voor. ‘n Kultus figuur soos James Dean word ‘n gedig. Dan is daar ook gedigte oor oa Emily Dickinson, Ernst van Heerden (2), Kurt Cobain, Eugène Marais en Jeffrey Danhmer. Drie gedigte word aan Koos Prinsloo opgedra. Seksualiteit kan die lewe vier, maar dit kan die lewe ook sloop. Soos in die geval van Prinsloo. Die verband tussen seksualiteit en dood word deur de Lange in ‘n enkele reël opgeroep: die rektum as graf.

Die broosheid en nietigheid van Prinsloo word ontroerend in die gedig vasgelê: die bang kind in maer pajamas en verwarring. Die dood van Eugène Marais deur verslawing word hartroerend beskryf. Dit mond uit in ‘n wanhoopskreet:

“Morfien! Morfien!”

Die seisoene speel in de Lange se gedigte ‘n belangrike rol (vgl. Herfs). Die algebra van nood se invalshoek is die Inval van lente. De Lange se gedigte het ‘n skeppingsbewussyn. Met militêre beelde word die koms van die lente begroet: opmars, uniform, swaarde in gelid, hordes voetsoldate en salvo’s. Daar is geen keer aan die inval van die lente nie. Ander kosmies gerigte gedigte kom ook aan die begin van Die algebra van nood voor. In die Afrikaanse tradisie word die verwantskap met Van Wyk Louw, Opperman en Cloete herken. Maar de Lange kyk na die skepping op sy eie manier.

 Die invloed van verslawing op die psige en die liggaam kom by de Lange op ‘n sensitiewe en simpatieke manier aan die lig. Die uitwerking van ecstacy op ‘n jong danser is ‘n lyf wat glim van sweet. Die spuitnaald laat glip die “ek” van die gedig heen en weer tussen verbeelde werklik-hede. Nie die liggaam nie, maar die gees word hier ‘n gedig. Die Pa word weer, in ‘n  derde gedig, raakgeloop waar hy aan die seun ‘n smal ampule gee. Deur deelname aan verslawing word hegting en verbinding bewerk. Maar die verbinding is verblinding, want oral ruik alles na oorskot. Die daad van verslawing word deur de Lange fyn beskryf en verrassend met Van Gogh verbind. Die een wat hom met ‘n doodskoot aan die ewige slaap oorgegee het. Op ‘n vindingryke wyse verbind de Lange selfmoord (Eugène) met die maak van ‘n gedig. Die pen word in die hand van die digter ‘n naald wat huiwer bo ‘n aar. Die naald laat lewe bloei – die eerste polsing van ‘n vers bring lewe. Ars poetica kom ook in de Lange se verse voor. Daar is die besinning oor die skeppingsdaad (vgl. My woorde is klippe, Taal, Die digter as inkvis, Die digter as slangbesweerder).

Die keur uit de Lange se gedigte sluit met Nuwe verse. Die vraag is: wat is die verwandskap tussen die oue en die nuwe? Indien enige. Hierop is my antwoord: dit is steeds Johann de Lange se stem. Maar dan tog ‘n toevoeging tot sy oeuvre en ‘n afsluiting (voorlopig) van sy digwerk.

Eie aan de Lange se digkuns begin hy sy nuwe verse met ‘n aantal homo-erotiese gedigte. Dit is egter nie ‘n ydel herhaling van vorige verse oor dié tema nie. Al is die tema dieselfde, is die seggingskrag van die gedigte nuut en vars. Hy plaas idiome in ‘n homo-erotiese sfeer. Op dié manier kry dit ‘n nuwe betekenis. As voorbeeld verwys ek na “hals oor kop” wat by de Lange “heup-oor-hals” word. En ook “aardjie na sy vaartjie” (p. 137).

Die gedig oor Paganini (ook bekend as die Duiwel) is gesnaar met erotiese strykhale en ironie. Die gedig word tot “perfeksie gespan”.

Johann de Lange staan ook binne die tradisie van gedigte oor Marilyn Monroe. In hierdie verband word gedink aan T.T. Cloete, Joan Hambidge en Tom Gouws. De Lange het twee gedigte oor Monroe geskryf. Die eerste een is Gebed vir Marilyn Monroe en die laaste een kom in sy nuwe verse voor. Marilyn Monroe: foto buite beeld. Die eerste Marilyn Monroe gedig is ‘n vertaling van Ernesto Cardenal se gedig. Hierdie vertaling kry egter by de Lange ‘n eie klank en kleur.

In sy eerste Monroe gedig staan die digter as’t ware op sy knieë en pleit vir haar. Hy pleit dat die Here haar in sy teenwoordigheid sal ontmoet. Sonder haar persona en maskara. Net soos sy is. Haar lewensgang met al die drome word digterlik verwoord. De Lange betrek ook haar “aanbidders”. Sy speel haar rol namens ons – “die storie van ons eie lewens”. Deur die gedig wat ‘n lewensverhaal vertel, word die leser met haar geïdentifiseer. Die slot is roerend. Met ‘n telefoon in die hand en woorde in haar mond, gee sy haar lewe prys. Die digter pleit dat die Here tog haar foonoproep moet beantwoord. Die transendente oorstyg die immanente. In sy nuwe verse val ‘n ander lig op Marilyn. Die “ongestorwe silwer-doek legende”. Foto’s van gelukkiger tye word opgehang en verkoop soos soetkoek. Daarvoor is daar “oorgenoeg papier”. De Lange toon treffend aan hoe foto’s ‘n ander beeld van Marilyn skep. Dit is ook wat poësie doen: dit skep ander beelde.

Religieuse flitse kom in die gedig Google Golgota voor.  Ek huiwer oor die betekenis van die versreëls:

Was vandag u sterfdag

sou ons u volg

 

Is dit as konjunktief bedoel?

Maar in die verdere verloop van die gedig word die Gekruisigde in die tegnologie geraam. Hy word sigbaar op elke skerm. Kameras en mikrofone soek na ‘n sound bite. Dalk het Hy advies oor global warming. In sy Naam sal websites opgaan, boek- en filmregte en terugskote. Die digter het ‘n laaste versoek aan Joan: hy wil ook iets van die Golgota gebeure hê: ‘n 8 megapixel foto, ‘n poskaart of ‘n brief in sy handskrif of ‘n stukkie van sy kleed. Daarmee wil hy iets doen: dit op die webwerf eBay adverteer. Die digter het dan immers ook iets om te vertel en te laat sien. In hierdie gedig word na die Golgota gebeure vanuit die eietydse tegnologiese oog gekyk. Vars en oorspronklik.

Johann de Lange se Keur eindig met ‘n Aandlied. Dit is ‘n soort afskeidslied. Eendag gaan alles ophou bestaan. Die digter maak van die woordskat van die genetika gebruik: sinaps, samehang van selle, DNS. Eendag gaan dit alles ophou. Vir die digter is die groot verlies dat sy hand met pen sy greep op taal gaan verloor. Alle woorde en sin raak dan verlore. Daar is ‘n skrynende paradoks in die proses van afskeid. Die hart ontheg hom aan ‘n heelal wat aanhou sê: “Begin, begin, begin!”. En tog is die begin die voorspel tot die einde. De Lange se sluitgedig is ‘n treffende einde van die Keur van sy verse.

            Die Keur gee ‘n beeld van die veelvlakkigheid en rykdom van Johann de Lange se digterskap. As digter omspan hy die heelal. Sy digterskap verryk en verruim die Afrikaanse poësie op ‘n sonderlinge manier. De Lange slaag op ‘n voortreflike wyse daarin om die heel-al op die punt van ‘n naald te laat dans.

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Die heel-al op die punt van ‘n naald”

  1. Joan Hambidge :

    Hierdie resensie in Die Volksblad verskyn

    De Lange tref met sy beeldvermoë
    2010-07-24 06:00
    Joan Hambidge
    JUDASOOG. ’N KEUR UIT DIE GEDIGTE VAN JOHANN DE LANGE. Human & Rousseau. Sagteband. R160.

    AKWARELLE van die dors. Dit is nie net die titel van Johann de Lange se debuutbundel nie, maar dit is hoe ’n mens hierdie ryk geskakeerde digkuns kan tipeer.

    Dit is ’n digkuns van die paradoks, van onvervulling, en juis hierom is daar ’n intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval.

    ’n Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ’n herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik) as gay-digter getipeer.

    Hy het van die sterkste verse oor die tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ’n Januskant. Hy is sowel cruiser en gay-digter as besinger van die skoonheid. Hierom die gesprekke met en herdigtings van Dickinson, Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader tuis Opperman, T.T. Cloete, Ina Rousseau en Wilma Stockenström, onder andere.

    Henning Snyman skryf op die agterblad tereg: “Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”. Dit is ’n raak opsomming van die besondere beeldvermoë.

    Wat hierdie bundel vir die waarderende leser uiters waardevol maak, is die hand vol nuwe verse wat ook by die keur ingesluit is. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ’n versweë antwoord aan ’n ander digter) en ’n lieflike vers oor Marilyn Monroe.

    Daar is ’n vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos Google, SMS, Twitter, blog, en so meer, om te probeer bepaal hoe die moderne mediabehepte mens op die fenomeen Jesus Christus sou reageer.

    Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die “naakte algebra” van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) en so meer.

    ’n Mens is opnuut onder die indruk van die digter se besonderse vermoë om die gedig op ’n sekure slot af te stuur:

    Ek soek in die falende lig
    na die slot van my gedig (126, Slot).

    Hier gebruik die digter die wêreld van die digkuns om die werklike lewe te beskryf, iets wat deur die oeuvre loop. Die intratekstuele en intertekstuele aanslag kom nou helder na vore en in ’n keurbundel kry gedigte dikwels ’n nuwe betekenis, omdat hulle nou langs ander verse lê.

    Die Judasoog van die bundel betrek nie net die eksplisiete seksuele verse soos Loergat (uit Nagsweet) nie, maar aktiveer die posisie van die leser as voyeur wat die private bestaan van die digter betree. Trouens, jonger navolgers van De Lange het beslis nie die vermoë om die eks­plisiete en selfs transgressiewe beeldgebruik so oortuigend te gebruik nie. Die digter kan nooit van kitsch of grillerigheid beskuldig word nie, al dig hy oor reeksmoordenaars wat tot simbole verhef word.

    Selfs die gebruik van die plat woord (soos in Tongnaai 2) word metafories so in beheer gehou dat ’n mens net jou hoed vir die digterlike energie kan afhaal.

    Wordende naak en Nagsweet, uit 1990 en 1991 onderskeidelik, bly my twee gunstelingbundels. In die middel van die oeuvre – en al die ander bundels voorspel en keer na hierdie twee suiwer bundels terug. Die Orpheus-mite is ’n belangrike sleutel vir die begryp van hierdie digkuns met sy vele “correspondances” en “blomme van boosheid”.

    Van die Tierra del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland, van die Kaap tot Wladiwostok, vibreer hierdie gedigte met hul fyn toespelings op die Griekse mitologie en ou wyshede.

    Johann de Lange is eweneens ’n begenadigde vertaler (soos sy vertalings van Stockenström bewys het) en ’n besónderse kortverhaalskrywer. Maar dit is in sy digkuns waar ons onder die indruk van ’n suiwerheid kom:

    Die sagste wat ons het, die taal,
    bestaan solank ons asemhaal. (Taal, bl. 123)
    Hierdie digkuns is met die Ingrid Jonker- en Rapportpryse bekroon.

    Sy oeuvre word feitlik ’n register van emosies, fel en diep, skryf Snyman. En dit is presies hoe dit is.

    Die digter het self die verse gekies; ek sou waarskynlik nog bygesit het!

    Human & Rousseau se projek om keurbundels vir belangrike digters te gee moet beslis aangeprys word.