Andries Bezuidenhout. Hoe 1993 in 2010 lyk

Ek lees weer Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Dis in 1993 gepubliseer, die jaar voor die verkiesing. Hoe het dit gevoel om in 1993 te wees? Dalk moet ʼn mens ʼn aanloop vat. In Januarie 1992 is Paul Simon die eerste groot internasionale kunstenaar wat Suid-Afrika toe kom na die kulturele boikot. Ons ry van Pretoria af Johannesburg toe – met Smitstraat langs tot by Ellispark – om hom te sien optree. In Maart daardie jaar gaan stem ek in die laaste wit referendum, om apartheid te beëindig. Ek wroeg oor die spesifieke bewoording, maar pragmatisme kry die oorhand. Ek stem “ja”.

Op 17 Junie word 46 mense by Boipatong doodgemaak, klaarblyklik ʼn skermutseling tussen die ANC en Inkatha. Op 7 September word 29 mense by Bisho (nou “Bhisho”) doodgeskiet. Op Kersdag sterf Helen Joseph. In Desember daardie jaar en Januarie die volgende jaar teken ek prente. Ek kan nie onthou waar ek was nie. Swakopmund?

Alhoewel om te lewe is onnatuurlik in 1995 met die Ingrid Jonkerprys bekroon is, kan ʼn mens ʼn sekere mate van ambivalensie bespeur in die onmiddellike reaksie deur resensente; ofskoon daar oorwegend positief oor die bundel geskryf is.

Volgens A.P. Grové maak “onkonvensionele taalgebruik, selfs taalvervorming op baie plekke; die abrupte onderbreking van ʼn gedagtegang; halfvoltooide sinne met gepaardgaande afwykende interpunksie; hebbelikheidjies soos byvoorbeeld die moeilik regverdigbare vervanging deurgaans van ‘’n’ met ‘i’ en ʼn fonetiese skryfwyse wat soms die leser dwing om vooraf te transkribeer,” dat om te lewe is onnatuurlik “met die eerste kennismaking… nie ʼn leser-vriendelike indruk maak nie.” Hy het dit ook teen “taalspeletjies” waarvan “die poëtiese wins tog erg beperk is.” Gert Vlok Nel blyk, volgens Grové, “hom op verskillende maniere teen konvensie [te] verset in ʼn poging om die kreatiewe vermoë van die taal te verhoog; om as ‘t ware ʼn nuwe stuk werklikheid uit die taal te pers.”

Ten spyte van “eksesse”, slaag Gert Vlok Nel tog, volgens Grové, tot ʼn mate daarin om sekere situasies in die taal voelbaar te maak: “Die taal beskryf nie slegs nie, dit produseer ook.” Alle gedigte is nie so “vreemdmakend” nie, skryf hy, met “meer as een goeie gedig” in die bundel “wat wys dat hy [Gert Vlok Nel] dit ook met ʼn meer konvensionele werkswyse kan klaarspeel.” Alhoewel baie van die gedigte anekdoties is, is dit nie slegs “eenvoudige spoorwegstories” nie; ʼn ryk plaaslike konteks en ʼn netwerk van persoonlikhede maak dat “die bundel byna die vorm van ʼn familiekroniek aanneem, ʼn kroniek wat van opwinding en teleurstelling vertel, van spanning en dood en van verydelde verwagtings”. Grové verwys ook positief na die gebruik van onderbeligting en hoe ʼn opeenstapeling van digterlike irrelevansies dramaties ingespan word.

Petra Müller, in ʼn oorweldigend positiewe resensie (“[d]it slaan jou asem weg”, “so opwindend soos ʼn grasbrand”, “‘n moerse liefdesdigter”), verwys na die feit dat Gert Vlok Nel in praattaal skryf, maar dit steeds regkry om daardie taal terug te dwing na die “‘verhoogde spraak’ wat die poësie eintlik maar is.” Sy beskryf die gedigte as “[o]nvergeetlike taferele uit die gewone bestaan wat al hoe vreemder word hoe langer jy aan hulle lees.” Alhoewel Nel se tegniek argeloos voorkom, skryf Müller, het hy by “die beste leermeesters” geleer – spesifiek Ezra Pound en e.e. cummings. Haar besware is egter dat die “leermeesters” soms té sigbaar is, dat die versreëls soms te arbitrêr afgebreek word en dat van die gedigte te kripties is. Sy wys ook daarop dat die bundel baie dun is.

T.T. Cloete waardeer ook die feit dat die spreektaal in die bundel bedrieglik eenvoudig voorkom, maar by nadere ondersoek die onderskeid wat mense tussen “natuurlik-onnatuurlik, spontaan-bedag, beplan-onbeplan” tref, kunsmatig laat voorkom. Cloete beskryf die gedigte as “visueel skerp” en waardeer Nel se vermoë om die bekende en alledaagse vreemd te laat voorkom. Volgens Cloete slaag Nel ook daarin om sy tegniek te “verdoesel”. “[H]oe gemaklik die gedigte ook al lyk, hulle is gewoonlik goed afgerond,” skryf hy. Cloete voel egter dat die vertelswyse soms maak dat die leser die “vertelsel” onthou, eerder as die “vertelde”, hoofsaaklik weens leë slotte en die vassteek van gedigte in die triviale. Die eenvormige andersheid van die gedigte in die bundel gee dit ook ʼn “taamlike eenselwigheid”. Alhoewel nie die reël in die bundel nie, “verloop” sommige verse “in die prosaïese”.

In sy resensie verwys John Kannemeyer eers na die feit dat Gert Vlok Nel se werk as sekuriteitsbeampte by die Universiteit van Stellenbosch hom ʼn onwaarskynlike digter maak, veral binne die ʼn konteks waarin die meeste Afrikaanse digters ook letterkundiges is: “[D]ie publikasie van Nel se debuutbundel herinner ons opnuut daaraan dat ʼn professoraat in die literatuur nog geen waarborg vir goeie poësie is nie, net so min as ʼn betrekking by die Stellenbosse kampusbeheer ʼn ‘dom’ digter of ʼn poësie van handearbeid veronderstel.”

“Nel beskik oor die oor die nodige berekende sluheid om sy domheid literêr aanvaarbaar te maak,” skryf Kannemeyer, en wys op die literêre tradisie wat agter die bundel se rou realisme skuil, spesifiek verwysings na “Tram-ode”, “Karoo-dorp: Someraand” en Joernaal van Jorik, asook die gebruik van “i” in plaas van “‘n” as verwysing na e.e. cummings; ʼn feit wat Gert Vlok Nel dan ook twee weke voor die publikasie van Kannemeyer se resensie in ʼn onderhoud in Die Burger genoem het. In die onderhoud noem Nel ook invloede soos Robert Lowell en Dylan Thomas, en verwys in ʼn latere onderhoude na Alan Ginsberg en Philip Larkin.

Nietemin, ten spyte van Gert Vlok Nel se verwysingsraamwerk, asook “fraai momente en die bekoorlike ruheid waaraan Nel ons in gedig ná gedig voorstel,” voel Kannemeyer dat “die grootste deel van [die] bundel poëties nog te onaf en te rou is en dat in die meeste verse die nodige bindingselemente ontbreek om hulle tot bevredigende eenhede te heg”.

Bernard Odendaal wys daarop dat ander resensente die gedigte as rammelrig, onbenullig, of raaiselagtig beskou het, ʼn oordeel waarmee hy slegs gedeeltelik saamstem. Hy vind die feit dat tragiese situasies op nie-emosionele wyse onderspeel word as een van die bundel se “onthutsende” eienskappe: “Die taal word in die proses op talle wyses verwring om dié wêreld en sy karakters so outentiek of konkreet moontlik weer te gee. Standaard hooflettergebruik, spelling, interpunksie en sinsbou word op verskeie wyses aangetas, byvoorbeeld om die natuurlike spraak van die ongesofistikeerde sprekers na te boots, of om ʼn staat van intense emosionaliteit te suggereer.” Temas word soms met ʼn “grinterige humor” uitgebeeld en, ten spyte van die feit dat die bundel “‘n bietjie monotoon” is, waardeer Odendaal ook ʼn aantal “aantreklike liefdesgedigte”.

In ʼn literêre rubriek reageer Joan Hambidge op die bemarking van die bundel deur die uitgewers as ʼn nuwe stem wat “vars en onaangetas [is] deur enige literêre mode,” asook die feit dat die uitgewers hom bemark “as ʼn werksersklasdigter.” Sy verwys onder andere na hoe Nel verwys na N.P. van Wyk Louw se “Karoo-dorp: someraand” en voer aan dat hy ʼn berekende digterlike spel speel. Sy haal ook Nel se universiteitsopleiding op.

Gerrit Olivier voel dat, alhoewel Gert Vlok Nel ʼn vars stem het, hy “soms te hard probeer om onpresies te klink.” Die plattelandse agterplase en kombuise wat Nel bespreek herinner Olivier soms aan die Amerikaanse sanger Tom Waits. Soms ontstaan daar in die bundel “‘n eie sfeer van segging”, maar digterlike “fraaihede” en geleerde terme veroorsaak ʼn “onopgeloste registerprobleem”.

Temas wat in hierdie resensies voorkom is Gert Vlok Nel se skrywerspersona (as sekuriteitsbeampte met die publikasie, ʼn gegewe wat klaarblyklik deur die uitgewers gebruik is om die bundel te bemark), Beaufort-Wes en die wit werkersklas as konteks, die geslaagdheid al dan nie van die benadering tot digterlike konvensies, asook temas soos die liefde, dood, teleurstelling en onvervulde drome as deel van persoonlike verhale. Baie van die resensente het ook die hoop uitgespreek dat Gert Vlok Nel spoedig nog ʼn digbundel sou publiseer, iets wat tot op hede nog nie gebeur het nie.

Die jaar 1993 was ʼn donker jaar. Chris Hani word op 9 April voor sy huis vermoor. Op 24 April sterf Oliver Tambo weens beroerte. In Junie sterf elf mense in die burgeroorlog in Natal, by Estcourt. Vele ander word in die konflik doodgemaak. Bespiegelinge oor ʼn “Derde Mag”. APLA vermoor elf mense in ʼn kerk in Kenilworth, Kaapstad. In Desember vermoor hulle nog vier mense in Observatory in Kaapstad, hierdie keer in ʼn kroeg.

Daar is 26 gedigte in om te lewe is onnatuurlik. Dis merkwaardig dat 26 gedigte soveel reaksie uitgelok het. Ek wonder oor die stand van die digkuns in 2010. Ek wonder hoe ons in 2027 gaan terugkyk na digbundels wat rondom 2010 gepubliseer is. Hoe gaan ons kyk na die resensies wat rondom 2010 geskryf is? Watter van die bundels gaan ons weer lees?

Verwysings:

Cloete, T.T. “Nel lewer ʼn verrassende en welkome nuwe digbundel.” Beeld, 2 Augustus 1993, p. 8.

Grové, A.P. “Om te dig is óók onnatuurlik.” Insig, 30 Junie 1993, p. 3.

Hambidge, Joan. “Oorspronklikheid is ʼn mite: Kan enige digter ‘onaangetas’ of ‘vars’ wees?” Beeld, 26 Mei 1994, p. 13.

Kannemeyer, J.C. “Playboy-digter is slim van ‘dommigheid’.” Rapport, 8 Augustus 1993, p. 18.

Müller, Petra. “Pit van die liefde in debuut: Ontploffing van poësie wat die gewone mens verstaan.” Die Burger, 3 Augustus 1993, p. 7.

Nel, Gert Vlok. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

Odendaal, Bernard. “Debuut is ‘ontstemmende, eenvoudige spookstories.” Volksblad, 29 Augustus 1994, p. 6.

Oliver, Gerrit. 1994. “Die stemme van digters.” Insig, 54: 42-45.

Steyn, Suzaan. “Gedigte uit die spoorwegwerf.” Die Burger, 23 Julie 1993, p. 7.

Wasserman, Herman. “Sy woorde sing soos wind deur stasie se kragdrade.” Beeld, 18 April 1997, p. 4.

Willoughby, Guy.  “The remaking of Afrikaans poetry.” The Star, 26 Januarie 1998, p. 6.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Hoe 1993 in 2010 lyk”

  1. Charl-Pierre Naude :

    “n Baie interessante skryfsel hierdie. Nog meer. 🙂

  2. Desmond :

    In 1993 is ek ‘n eerstejaarstudent aan die Stellenbosch Universiteit. Gert Vlok Nel word oornag ‘n kampuslegende, want toe sy bundel verskyn werk hy nog by die destydse Kampusbeheer, vandag Kampus Beskermingsdienste.

    Hy het studentekaarte nagegaan by een van die lokale een Saterdagoggend tydens ‘n eksamen, en ek was star struck. Ek het nie geld gehad om die bundel te koop nie; het dit meestal in boekwinkels gelees. Het hierdie re”el van pas en onvanpas aangehaal: “nee, nie dit nie, nie noodwendig dit nie”. Of so iets. Ek besef nou ek besit nog steeds nie die bundel nie…

    Vier jaar later is ek steeds op Stellenbosch, besig met my MA. Intussen het ek Gert iewers ontmoet, ek dink by die koffiewinkel Die Blou Okapi (en later dikwels by Saartjie Botha se Dada). Een middag op Oudtshoorn, tydens een van die vroee feeste, hardloop Nina Swart verby my en gil: “Gaan jy Gert se show kyk?!” Gelukkig het ek gou genoeg besef waarna sy verwys, ‘n kaartjie in die hande gekry, en die eerste keer Beaufort Wes se beautiful woorde gehoor…

    En wat ‘n vertoning was dit nie. Ek was uitgeboul. Nog steeds een van my live music events of all time.

  3. In Julie 2007 moes ek een aand by Henning Snyman se Karookring gesels oor my vloedbos-bundel. En daar sit hy toe in lewende lywe: legende Gert. Die metafisikus van die railway-jaart. Beautiful. In Beaufort Wes.