Digstring: Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Digstring

 

 

Poets van ons vaderland unite 

 

 

hierie, landgenote, isse klein scarlattigrappie vir princess benjamin

en sweetness pikini altwie offisiere in macassar se poeliesietasie.

 

kom sweetness pikini wattie inpas inne bikini soe ten o’clock

by princess benjamin wyl sy canderel roer in haar rooibos

                                                                                                             

dis nou agterie klagtetoonbank assie muise ophou piep

ennie walrus ingeslaap het

wattie grass ennie crystals ennie ecstacy

die coke ennie pitte ennie acid

die lollies ennie tubes ennie enema direct

moet guard wat afgevat is vannie witpype

ennie rook-ore ennie tikgatte ennie lanies

mettie raybans innie omtes

en soes hultwie ok maar peanuts merrit verdien

 

hierie isse klein scarlattiwietelattie virrie princess mettie stokkie

ennie swietiepaai twiere in bevel mettie hectic schemes: check haar,

uitie stasie se kantien uit kom sy swaaigat met haar koffie

 

tik pikini die roaring royalty op haar linker epaullettie mettie peitsie

left right left soes hulle tieliepels klieketietieng

innie macasserse terrible twieling koppies

ennie security mettie klokkie byrie ingang gan slaap het in sy hokkie

 

heita blue blood vannie station, wienk nikita pikitini

my coolste kortrokqueenie wattie baas is

ek wiet iets van hierie piepmuis macassarse poeliesiestasie

wat twie mighty meisies soes ons nie kan wiet

sonner ommie pieperellekoors te slaatie : 

‘n hooimied dagga in goingsakke wat lê  en kwagga

vir fokol in ons store room, wat sê jy kom ons varrit

hierie kamtige evidence van ‘n swart gat innie universe

ons is mossie magtagge ladies van hierie vloere

en fokkie  wieke lank  wag oppe kieriekopsalaris

ek wietie van jou nie kommissaris ma’ my tjieng is oppiedoppie

en ek soeke sony enne aaiPot enne perm

ek soeke lexus soesie ene van-aai merrim

van korrektiewe dienste wattie langer wou ry nie inne krokkie

en hierie tonne woollies quality dagga lê nagge

en dagge onner onse nieste vir miljoene

mettie hele township wattie sal droom om te splittie

as onsie bale wiet op hulle voorstoepe gan droppie

 

hierie isse klein scarlattijumpstart virrie poelieste

wattie wiet hoelat hul met hulle highnesses

en swishy swieties innie macassars in moet makie: 

nou varrit van my, al wat mens kan maak isse musiekie

net ‘n biekie met domenico scarlatti wattie winkel uit my tong yt tickle

en my answitch soes dominoes op trickle

 

got, ennie princess issie starrag oppie uptake-ie en sy sê:

fok pikini nou maak jy my tieties tight en pieng

sit sy haar tieliepel innie piering en rukkie klokkie yt sy bracket

en twiekie walrus se slietelbossie

yt sy belt en da ‘  gat hulle soes thelma en louise

soes bonnie en clyde, ma met daai sjiek sashay

vannie swinging macassar chickies en hulle begin laai

daai dagga ytie evidence hold binne innie gat vannie  meraai

 

hierie gattie vyf trips wiesie, more likely fortie, sê miss benjamin

virrie swiet poppie mettie brainwaves van macassar se poeliesiestasie,

ons korte fokken lorrie enne paar cool copse vannie flatse

vir operation transport

 

dissie klein scarlattikotiljonsie dié virrie inhouse scandal van macassar

ennie understandable motives vannie verdagtes,

want guilty kan hulle byna nie wiesie mettie example

vannie selebi’s ennie miesies van cwele wat mettie mules

smsies piep ennie hele effing country wat in sy moer in is nie

 

hierie isse klein scarlattisongkie bietjie sad ok hier om middernag

mettie screech owl  wat skrou  ennie ruik van brand uitie hiewels

dis tyd virre modulation innie minor  key ma’ my ghrêmmer is exhausted

en pogorelich spelie bure wakker hoe lykit as ek jitsvinger  invite 

om hierie item te  promote onnerie slogan:

poets van ons vaderland unite

en hourie nasie ytie crooked ways 

vannie law enforcers yt 

 

(Ps: En dan wil hulle nog ‘n threeday million dollar paartie gooi, so lank as warrit

gevat het vi’onse djirre djesus om te resurrect! Daais mos totally insane!

Maggie potholes om hulle insak innie godforsaken Bloemfontein!)

 

 

© Marlene van Niekerk. April 2010 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Marlene? Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gediggie geskryf na aanleiding van ʼn storie in die koerant van die twee polisievroue wat dagga uit hulle eie polisiestasie in Macassar gesteel en toe daarmee gaan smous het, baie snaaks. (DB 13 Januarie p. 9)

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Nee, dit was redelik vinnig, miskien met ʼn bietjie duikkloppery die dag of twee nadat die lyf uitgekom het.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet? )

Heelwat was “gegee”, nie soveel gewroeg en gesweet nie. In die eerste plek was dit die polisievroue se wonderlike name Princess Benjamin en Sweetness Pikini wat my aangedraai het.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

So tydens die skryf het ek twee vormingsmiddele beetgekry, as mens nou hierdie noemer wil gebruik, naamlik klank en ʼn handeling: die “ie”-klank deurgaans, soms met bondels alliterasie op “s”en “t”, en voorts ʼn anekdotiese inslag met ʼn refreinagtige betragting  tussen die  “hoofstukkies” van die verhaaltjie. Ek wou ʼn komiese praatvers skryf, iets met die oog op voordrag, vandaar die langerige reëls met baie sillabes, en met sinkopasies wat deur grondmetrum hik, met ander woorde ʼn verhaal wat ook klink na iets.  Ek dink nie dat anekdotiese gedigte noodwendig klankskraal of prosaïes hoef te wees nie, of dat die praatvers in opposisie gemaneuvreer moet word teenoor klankdigte nie. Mens kan met een en dieselfde lepel ʼn storie én ʼn musiekie in die ore gee. En my ore is altyd hongerig vir’n musiekie. Ek toets hierdie soort gedig ook altyd in mondelinge vorm uit op mense wat nie reëlmatig poësie lees nie, en maak aanpassings waar nodig sodat dit goed begryplik is.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ja, ek lees dit altyd voor aan my eerste leser, iemand met geoefende ore vir klank en ritme en ʼn antenna vir swak reëls en ongepaste woordkeuse. Soms slaan ek natuurlik goeie raad in die wind.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek het dit so twee maande nadat ek dit geskryf het op Versindaba gepubliseer. Dit is ʼn goeie plek om lesers se reaksies te toets.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Wel, die feite staan in die koerantberig, die twee polisievroue het regtig die dagga gesteel uit hulle eie polisiekantore en dit gaan verkoop in die township. Die sosiaal-maatskaplike omgewing van korrupte polisiëring en ongebreidelde gierigheid en dwelmgebruik klop geredelik met die Suid-Afrikaanse werklikheid. Die dramatisering, die dialoog, die ruimtelike inkleding, die psigologie van die betrokkenes is natuurlik volledig gefabriseer. Die spot en die kritiek, is van die spreker in die gedig,  is tendensieus en subjektief, die gebruik van ʼn soort Afrikaaps maak dit familiêr. Ek luister dikwels straatgesprekke af en gaan werk dit tuis verder uit. Die worldcupgedig op die Versindaba webblad het ek in Andringastraat voor die drankwinkel gehoor en met slegs klein bystellings net so gaan oorskryf. Ek dink ons lewe in ʼn soort limerick in hierdie land.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dis gewoon grappig, slapstick satire.  No great shakes, geen pretensie tot enige of ewigheidswaarde en inhoudelik ook absoluut niks nuuts nie. Mens lees elke dag sulke stories in die koerante. Dis maar net variasie op die tema, ʼn klein kritiese klank- improvisasie.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?

Toevallig was ek tydens die koerantlees aan die luister na sonates van Scarlatti soos gespeel deur Pogorelich. Die klank van die polisievroue se name, die ritmes van die Scarlatti-musiek, die gedefinieerde, stuwende aanslag van Pogorelich, het saamgewerk om die vorm van die gediggie in te gee. Nie dat ek so ʼn oordrag van musiek na woorde ooit kan laat slaag nie. Digters bly altyd ver agter by musiek, by wat musiek kan regkry. En dis ʼn lang tree van Kaaps tot Scarlatti, maar wat die ritme en die speelsheid betref, voel ek, is hulle familie!

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

My vraag by die “politieke”gediggies wat ek deesdae soms skryf is: hoe kom ek by die ore uit van die groter publiek? Maar ek dink die groter publiek het hoofsaaklik ore vir lui-tone van selfone en die geskal van vuvuzelas. Ek het  die na die media gestuur. Die Son wou dit nie publiseer nie. Die Burger ook nie en ook nie BY nie. Gewoon te lank miskien? Of op papier te moeilik? Of politiek onkorrek? Die teks het ondertussen in aangepaste vorm ʼn plek gekry in ʼn stuk dialoog in ʼn “betrokke” toneelstuk wat ek vir vanjaar se Aardklop geskryf het. Ek weet nie of daardie gehoor soveel sal lag soos die vroue agter die toonbank by die BP garage vir wie ek dit voorgedra het nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Toe ek jonk was het ek soeterige natuurgediggies geskryf.  En toe vir dekades geen poësie meer nie. Vanaf 2005 is ek weer besig om in alle rigtings te eksperimenteer met poësie. In die laaste tyd skryf ek soms kortverhale en romanteks aanvanklik in versreëls en plaas dit dan terug in prosavorm. Ek ondersoek straattaal, soos in hierdie gediggie, maar ook minimalistiese liedagtige inkledings, en ook ʼn impressionistiese styl,  af en toe iets filosofies. Ek beskou myself as eksperimenteerder. Deesdae bring die politieke toestand in ons vaderland my in beweging, op dieselfde manier as in die laat tagtigs toe ek kabarettekste en rymelary geskryf het teen die wit nasionaliste. Die tyd is lankal ryp vir fel kritiese poësie, soos Zapiro-spotprente, maar dan in digvorm. Vandaar die oproep in die Kaapse gediggie: poets van ons vaderland unite.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ek dink dis ʼn hiper-Suid-Afrikaanse gediggie. Ek dink dis krols en kreools en dit was lekker sports om dit te skryf. Mens wonder natuurlik terwyl jy dit skryf of nie-Suid-Afrikaners hoegenaamd iets daaraan sou hê. Ek het die kans gevat,  en ʼn Engelse vertaling wat ek self gemaak het, uitgedeel aan die gehoor by ʼn onlangse poësievoorlesing van PEN se World Voices Festival in New York en dit vervolgens in Afrikaans vir hulle voorgedra, min of meer in ʼn “rap” styl. Die reaksie was heel entoesiasties, miskien vanweë die “inheemse” klank daarvan? By dieselfde geleentheid het ek ook gedigte in Afrikaans van Antjie Krog uit Die sterre sê Tsau, in Afrikaans voorgedra, en ook dit het groot byval gevind. Ek dink die meeste mensdiere hou gewoon van ritmiese patrone, dis waarskynlik ons reptielbrein  wat val daarvoor, miskien ʼn soort refleks. Van peristalsis tot fornikasie is ons lewe ritmies, dat ons gedigte soms ritmies is, voel vir my heel natuurlik.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek dink hierdie ene is weens die aard van die materiaal redelik “klaar”. Dis vir my makliker om sluiting te vind vir so ʼn soort aktuele vertelgediggie as vir ʼn komplekser gedig wat vir my op baie vlakke moet sin maak of in ʼn meer gebonde vorm moet beslag kry.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan..

Daar is altyd ʼn mengsel van aanmoediging en kritiek. Maar ek glo: marsjeer op jou eie trommelslag, en doen wat jy moet doen, wat jy kán doen, wat jou tevrede maak, of dit nou mode is of nie. Op die ou end gaan dit tog eintlik net daarom om ʼn bietjie plesier te beleef op hierdie ondermaanse. Die res sal net die tyd kan leer.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was ʼn langerige gedig oor die Suidoos, met die beginreël iets in die lyn van: “My heer die Suidoos, Don Juan van die winde” wat ek geskryf het  toe ek in matriek was. Kon dit toe reeds moeilik verdra dat die Suidoos bloot die Suidoos is, tsk.  Dit is waarom Pessoa vir my so boei. “Er is metafysica genoeg in denken aan niets”, (in die vertaling van August Willemse). ʼn boom is niks behalwe boom, ʼn klip is alleen ʼn klip. Maar dan net in die stem één van sy heteronieme. Pessoa het sy Herostratos-kompleks baie goed begryp en dit op aangrypende en intelligente wyses aangewend, onder andere deur stemvermenigvuldiging. Mens kan leer daarvan.

 

Marlene van Niekerk

Marlene van Niekerk

Marlene van Niekerk is die skrywer van twee digbundels Sprokkelster (1977) en Groenstaar (1983), een bundel kortverhale, Die vrou wat haar verkyker vergeet het (1992), en twee romans Triomf (1994) en Agaat (2004).  Sy is tans verantwoordelik vir die begeleiding van M.A.-studente in die skeppende skryfkunde. Sy vra haar af of die enigste subversiewe daad in ʼn gebrutaliseerde samelewing nie dalk die skryf van klein gediggies is nie.

Van Niekerk het die volgende toekennings ontvang: 1978: Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-prys vir Sprokkelster en die Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch; 1995: M-Net-prys, CNA-prys en Noma-prys vir Triomf; 2005: UJ-prys vir skeppende skryfwerk vir Agaat.  Sy het ook in 2007 die Hertzogprys vir hierdie roman ontvang.

Luister hier na ʼn video-greep van ʼn onderhoud met Marlene van Niekerk.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Digstring: Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite”

  1. Desmond :

    Ivo Pogorelich is die Diego Maradonna van die klavier!