Lewies Botha.Oorlog en gerugte van oorlog
Niel van Deventer se blog neem my toe terug na 1989. Dit is die jaar wat die SAW uit Namibie ontrek. Dit is eintlik al wat ek wil sê daaroor;
Tuiskoms -1989
nêrens beweeg daar optog-vlotte deur die strate
nie.voëltjies fladder nie linte blinkertjies vanuit hoë geboue
nie. kerkstraat is nie gevul met vurige omhelsings tussen jagse jonges
nie. nêrens blaas toeters en hang dronk lag lywe uit stampvol motors
nie. meisies wapper nie soos swerms wilde vinkies
nie. reik nie oopbloes na helde in oopbus konvooie langs strate
nie. strooi nie klam blom broekies op die verhoë voor voete
nie. niemand swaai aan oom paul se pluiskuil
nie. leiers glimlag nie met moses oop arms nie
op voorblaaie brand steeds motorbande
kerkraadvergaderings woed voort
ouers is besonders besorgd
wat gaan jy volgende jaar doen ?
want die oorlog is verby.
© Lewies Botha





Wat ‘n treffende gedig, Lewies! Baie dankie. Wat ek veral van hou, is hoe jy die probleem van die dubbele “nie” dramatiseer deur dit elke keer na die volgende reël te skuif. Daardeur begin dit amper soos ‘n inkantasie klink.
Baie dankie Pieter,
Ek is bly jy se “die probleem van die dubbele nie” dit is nogal n moeilike een, en een waarmee ek telkens worstel. Nie altyd ‘n oplossing om dit so om te gooi nie omdat dit dan die “nie” uitermate beklemtoon, tog was ek self verras hoe goed dit hier werk. Iewers hierop versindaba (ek is jammer dit het my ontgaan wie en watter gedig dit was, dalk kan Louis of Marlise help) het ek ook gesien waar die reelbreuk op die dubbel “nie” goed gewerk het.