Carina Stander.Gister het ‘n tannie in Woolies op my geskrou

Gister het ‘n tannie in Woolies op my geskrou. ‘n Bejaarde Britse madam wat klere gaan omruil het. Aanvanklik het sy nie op my geskree nie, maar op die kassiere met die heuningvel en kalfie-oe. Madam kyf toe so vreeslik, dat kalfogies nie ‘n woord inkry nie. Weet nie wat my ingevaar het nie - miskien was ek sommer demokraties bemoerd of lus vir ‘n bietjie adrenalien - maar toe ek myself weer kry, fluister ek in my rondste Cambridge Ingels: “Excuse me, madam, but would you please tone down a bit.”
So goed ek gooi ‘n tjoppie vir ‘n bulhond. Net daar laat los sy vir kalfogies en takel my.
“This IS my volume!” gil sy in lettergrepe. “Why should I tone down anyway?”
“Because you are making it unpleasant for the rest of us.”
Sy sampioen oor my - dubbel my ouderdom en dubbel my size - terwyl ek terstonds rondkyk om te sien of die onderklererakkie darem ‘n gawe wapen sal maak in geval van selfverdediging.
“Why should I listen to you?” dreig madam.
In wese is ek ‘n pasifis, maar net daar en dan pluk ek summier my woordgeweertjie uit en skiet so doef-doef  met ‘n doodluiterse glimlag en ‘n: “My thought exactly: why should we listen to you?”
Haar mond gaan oop, weer toe. Dit lyk amper of sy van verbasing wil lag. Sy draai terug na die kassiere. Thank-you-very-much-and-yes-please. Kalfogies knipoog skelm vir my. Ditsem, dink ek. Bere die woordgeweer weer onder my bra. Jarre vandat ek laas ‘n cowgirl was.

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Carina Stander.Gister het ‘n tannie in Woolies op my geskrou”

  1. Desmond :

    Ja-a, die meisie met die brapistool!

  2. Ja-nee, Desmond. Seg net as ek iemand vir jou moet gaan uitsort.:)

  3. Andries Bezuidenhout :

    Hel, Carina, jy’s my held. Respek (met handgebare soos Ali G)! Ek dink altyd eers na die tyd wat ek moes ges^ het. Laat hierdie antie leer dat jy nie openbare bekgevegte met digters aanknoop nie. (Ek dink nou aan daai een van Loftus oor die gedig as petrolbom. ‘n Mens sou seker een oor die gedig as onderklererak ook kon skryf.) Jiiiehhahahaaaaaa!

  4. Jo Prins :

    Lid van Stander-bende slaan toe!

  5. Heita, Andries, wat praat jy nou! ‘n Bra maak nogal ‘n skaflike kettie.

  6. Dank, speurder Jo. Macho Mama tot u diens.

  7. Bernard Odendaal :

    Carina Klein-maar-Getrain.

  8. Grietje :

    jammer dat ik het gesprek gemist heb.

    Groete Grietje

  9. Bernard, dankie vir daai! So, wanneer val ons Pole binne?

  10. Grietje, groot dank.:)

Los kommentaar