Onderhoud met Martina Klopper

Die digter as patoloog     

Louis Esterhuizen in gesprek met Martina Klopper

 

Martina Klopper

Martina Klopper

Martina Klopper is in 1976 gebore en het grootgeword op  Reitz in die Oos-Vrystaat. Sy matrikuleer aan die Bethlehem Voortrekker Hoërskool.  Sy het haar B.Mus-graad in 1999 behaal by die Universiteit van Pretoria. Sy voltooi in 2008 ʼn M.A.-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Sy  het begin werk as rekenaarprogrammeerder vir sowat vyf jaar lank,  hoofsaaklik databasis-ontwerp. Sy werk tans as ʼn besigheidsanalis in die finansiële dienste-sektor en woon in Kaapstad. 

 

Martina, vertel ons ietsie omtrent jou agtergrond, by wyse van bekendstelling?

Ek het grootgeword in Reitz in die Vrystaat en gematrikuleer in Bethlehem. Daarna het ek musiek studeer by Tukkies en ‘n paar jaar later kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Ek woon in Woodstock en werk tans ek as ‘n besigheids-/data-analis in die IT-bedryf.

Hoe het dit gebeur dat jy ʼn passie vir die digkuns en meer spesifiek die maak van gedigte ontwikkel het?

Op skool het ek baie min gelees, nou en dan ‘n storie, nooit poësie nie. Dit was altyd net die klavier. Op universiteit ook. Toe raak ek verlief op ‘n ingenieur wat wou dig en ek trek saam met ‘n vriendin in wat Afrikaans studeer. Die ingenieur het my bekendgestel aan die skryfkuns en my vriendin aan die Afrikaanse letterkunde en haar verligte vriendekring. Ek het op 21 my eerste gedig geskryf omdat die ingenieur meer in my vriendin belanggestel het as in my. Hulle is nou gelukkig getroud en ek skryf gedigte.

Volgens jou biografiese besonderhede het jy ʼn M.A.-graad in Kreatiewe Skryfwerk onder leiding van prof. Joan Hambidge voltooi. Hoe sinvol was dié gestruktureerde leiding en – blootstelling vir jou gewees?

Ek het verskriklik baie by Joan en my medestudente geleer. Dissipline was die eerste les; hoe beter jy jou tyd kan bestuur, hoe beter die verse. Behalwe vir die feit dat die skryfskool baie gehelp het met die tegniese aspekte van die digkuns, het Joan se mentorskap en fyn aanvoeling vir die student se emosionele energie asook die vermoë om dit te gelei en begelei by wyse van opdragte en raad en toewyding, die grootste bydrae gelewer. Ek kan dit aanbeveel vir enige jong digter.

Die titel van jou debuut het nogal ʼn baie spesifieke (emosionele) impak. Hoe ontgin jy die verskillende (emotiewe) implikasies van ʼn titel soos Nadoodse ondersoek in die bundel? Met ander woorde, wat beteken dié titel vir jóú?

Die titel is sinoniem met “outopsie” wat beteken “om self te sien”. Die bundel open met die Latynse frase “Hic locus est ubi mors gaudet succurrere vitae” wat beteken “Dit is die plek waar afgestorwenes juig om die lewendes te help”. Dit verskyn dikwels as ‘n kennisgewing by outopsiepraktyke. Ons is almal vertroud met die bydrae wat die resultate van lykskouings vir die mediese asook die forensiese professie beteken het en steeds beteken. Die titel aktiveer dus die idee dat die skryf van poësie ‘n manier van sien is; ‘n verkenning, ‘n ondersoek. Dit impliseer ook dat die skryf van poësie ‘n aflegging van die digter verg. In ‘n forensiese outopsie wat ek bygewoon het, was ek baie geïnspireer deur die eerlikheid van ‘n lyk. Jou lyf kan al jou geheime en leuens verklap. Soos poësie.

In die bundel ontwikkel hierdie idee aan die hand van die volgende metafore:

 Die leser as patoloog: Die aflegging wat die digter maak deur te publiseer maak van die leser ‘n patoloog. Die leser kan die gedigte/digter dissekteer soos hy wil. En elke leser sal ‘n eie opinie/verslag lewer. Die feit dat die digter geen aandeel daarin kan hê nie, maak van die leser ‘n objektiewe waarnemer. ‘n Patoloog.

Die digter as moordenaar: Ek stel die bogenoemde aflegging in die skryfproses gelyk aan moord. ‘n Lykskouing kan tog net op ‘n afgestorwene uitgevoer word. Om te skryf is dus ‘n “gewelddadige” aksie waarin die digter afstand doen van sekere emosionele ladings. Ek gebruik die reeksmoordenaar-beeld juis omdat die skryf van poësie ‘n bewuste aksie/keuse of selfs onkeerbare impuls is, wat herhaaldelik uitgevoer word. ‘n Tipe verslawing. Hiervoor gebruik ek die reeksmoordenaar, David Berkowitz wat ook bekend staan as die “Son of Sam”, as metafoor. Hy was aktief in New York tussen 1976 en 1977 en het misleidende briewe aan die polisie en pers gerig. Nadat hy in hegtenis geneem is, het hy onder andere aangevoer dat sy buurman se hond deur ‘n demoon besete was en hom aangesê het om te moor. Om enige suiwer waarheid of emosie of gedagte onder woorde te probeer bring, impliseer altyd ‘n verlies want woorde is slegs simbole. Net soos wat die reeksmoordenaar se aksies altyd ‘n verlies aan lewe bring.

Die digter as patoloog: Jan Hendrik Leopold se term “dromende denke” het betrekking. T.T. Cloete brei breedvoerig hieroor uit in ‘n artikel wat in Kaneel (1970) opgeneem is. “Dromende denke” verwys na die unieke manier waarop die digter se denke vorm aanneem in die gedig en die skryfproses. Ander digters, in hul besinning oor die kreatiewe proses, het al met soortgelyke terme vorendag gekom. Baudelaire lig die digter se besondere denkwyse uit as ‘n goed ontwikkelde sin vir struktuur en vorm. Coleridge verwys as volg daarna: “The power of reducing multitude into unity of effect, and modifying a series of thoughts by some one predominant thought or feeling.” Sommige digters konsentreer meer op die eienaardige aard van die digterlike denke in hul beskrywing van die kreatiewe proses. Hambidge verwys daarna as ” ‘n toestand van hipnose of beswyming” (LitNet). Shelley as “harmonious madness” en Van Wyk Louw as die “digterlike skeppende waansin”. Wat Cloete hieruit aflei is dat die digter se dromende denke in ‘n vorm “dink” en dat die vorm “onvermoed en onverhoeds verrassend skeppend is”. Dit maak van die digter ‘n toeskouer van sy eie gedig. Die digter as patoloog. Die skryfproses die ondersoek.

Die bundel handel egter glad nie oor die dood of lykskouings nie. Die titel is vir my slegs ‘n metafoor wat die fisiese skryfdaad en alles wat daarmee gepaardgaan – die ondersoek, die bevindinge en veral verrassende ontdekkings, die optekening daarvan asook die finale publikasie daarvan – saamsnoer.

Die indeling van jou bundel met afdelingtitels soos “Misdaadtoneel“, “Eksterne ondersoek“, “Interne ondersoek” en “Verslag” laat ʼn mens ʼn bundel wat volgens bepaalde ordeningsbeginsels gestruktureer is, vermoed. Kan jy dalk vir ons ʼn kykie gee na hoe jy die afdelings rondom dié titels gegroepeer het?

Aan die hand van die reeksmoordenaar-metafoor heet die eerste afdeling in the bundel “Misdaadtoneel”. In hierdie afdeling groepeer ek ars poëtiese verse wat konsentreer/kommentaar lewer op die skryfdaad. Gedigte in hierdie afdeling handel hoofsaaklik oor die impuls om te skryf en kom tot die konklusie dat dit ‘n resultaat is van skending, hetsy fisies of emosioneel. Die digter as moordenaar asook vermoorde/verminkte is aan die woord. Die skryfproses word as ‘n pynlike ervaring gekarteer.

‘n Lykskouing bestaan hoofsaaklik uit ‘n eksterne en interne ondersoek. In die eksterne ondersoek word alle eksterne elemente soos die vel, hare, naels, oogkleur, gewig, ouderdom, geslag, asook merke, wonde, letsels, geboortevlekke en tatoeëermerke ondersoek. In die interne ondersoek word die hart, die brein en alle ander organe ondersoek. Beelde in hierdie bundel is hoofsaaklik lyflik. Merke en letsels op die vel vind gereeld neerslag asook die hart-brein jukstaposisie om spanning tussen emosie en die intellek te vergestalt. Die middelste twee afdelings heet “Eksterne ondersoek” en “Interne ondersoek” en beslaan die grootste gedeelte van die bundel. Gedigte word hoofsaaklik ingedeel aan die hand van die beelde/metafore wat aangewend word. In die eerste gedig in die “Eksterne ondersoek”-afdeling, getiteld “Uitslag”, word ‘n veluitslag byvoorbeeld as metafoor vir die digterlike kondisie aangewend. In talle van die gedigte in “Interne ondersoek” word die hart en die brein as beelde/metafore aangewend vir ‘n verskeidenheid temas.

Die resultaat van ‘n lykskouing is ‘n formele verslag wat deel word van die afgestorwene se permanente mediese rekord. Die laaste afdeling heet “Verslag” en bevat een lang gedig getiteld “Nawoordse ondersoek”. Sekere aspekte van nadoodse veranderings in die liggaam soos hipostase, rigor mortis en outolise word as metafore aangewend om die bundel en die skryfproses soos geaktiveer deur die bundeltitel self, te ondersoek en op te teken. Behalwe vir die programgedig is dit die enigste ander gedig in die bundel wat spesifiek die lykskouing-gegewe opneem. Dit kan ook as ‘n ars poëtiese vers geklassifiseer word maar op kleiner skaal; meer spesifiek van toepassing op die bundel as ‘n eenheid, die samestelling daarvan en die rede daarvoor.

Die afdelingtitels dien dus as verdere uitbreiding op die bundeltitel en die temas wat deur die “Nadoodse ondersoek”-gegewe geaktiveer word.

Heelwat van die gedigte in Nadoodse ondersoek het direk betrekking op die digterskap en die maak van gedigte … Is jy ʼn “selfbewuste” digter wat deurentyd bewus is van die “ambag” waarmee jy besig is?

Ek dig nie maklik nie en kan ‘n gedig tot vervelens toe oor en oor skryf. Ek is deurentyd bewus van die skryfdaad en die oneindige slaggate waarin die jong digter kan trap. Ek het wel in die skryfskool besef dat die skryf van gedigte baie soortgelyk is vir my aan die oplos van ‘n wiskundige probleem. Om ‘n beeld/metafoor kongruent te ontwikkel is vir my ‘n spel. Dirk Opperman was ‘n meester daarmee en sy werk het my baie in hierdie verband geleer.

Ritme en vorm is die ander elemente van die digkuns wat my fassineer en dis veral hierdie aspekte wat maak dat ek ‘n gedig twintig keer of meer kan oorskryf. Dit was ‘n ongelooflike frustrerende en langsame proses om te besef dat wanneer jy begin om byvoorbeeld ‘n sonnet te skryf, die gedig nie noodwendig ‘n sonnet wil wees nie en vice versa. Daarmee saam het die besef gekom dat die emosionele impuls en lading van ‘n gedig ook redelik onvoorspelbaar, uitgeslape selfs, kan wees. Soms moet jy maar net skryf en kyk waar dit jou uitbring. Die skaaf en regmaak moet eers wag. Ander kere is die proses omgekeerd. Die konsep van die “dromende denke” is weer relevant. Voor die gedig nie 100% af is nie, kan die onbewuste ‘n paar truuks op jou trek net soos wat ‘n ontdekking in die laaste stap van ‘n forensiese lykskouing alle reeds bekende bevindinge/aannames kan weerlê. So, om jou vraag te beantwoord: ek is ‘n baie selfbewuste digter, ja. Soms is dit baie frustrerend maar meestal ‘n bevredigende proses. Dit was baie belangrik om dit van my eie kreatiewe proses te verstaan.

Die konsep van ʼn nadoodse ondersoek word eintlik op die bundel as geheel toegepas met temas soos geweld, pyn, bloedskande, en self-straf wat uitgewerk word. Is hierdie – dikwels  ontstellende temas – vir jou iets wat van belang is op ʼn persoonlike vlak (terapeuties, selfs) of probeer jy eerder om deur middel van jou skryfwerk ʼn bepaalde “sosiale boodskap” oor te dra?

Daar is geen bedoelde sosiale boodskap in my werk nie, nee. Auden het gesê: “For poetry makes nothing happen”. Ek skryf nie vir enige gehoor nie. Om te skryf is vir my ‘n meganisme om die onbewuste te betree, dit te ondersoek en betekenis daaraan te gee. Daar is natuurlik al baie en breedvoerig hieroor geskryf. Ek wil nie nou in die psigoanalise gaan delf nie, maar wil tog ‘n treffende analogie wat Frederick Clarke Prescott tussen poëtiese visie/denke en drome in The poetic mind (1922) getrek het, noem. Hy baseer sy studie op Freud se teorie dat onvervulde begeertes in die onbewuste onderdruk word en in drome en fantasieë uitdrukking vind. Volgens hom is poëtiese visie – soos drome en fantasieë – ‘n spontane, moeitelose funksie van die verstand. Die produk van hierdie funksie is konkrete beelde wat met moeite in woorde uitgedruk kan word. Die digter, soos die dromer wat in ‘n bewuste staat sy droom moet “wysig” om dit in woorde te kan uitdruk, se visie word ook verander in die bewuste skeppingsproses. My eie kreatiewe proses is baie soortgelyk. Dis soos om te droom en ek kon tot op hede nog nie vir iemand anders droom nie.

ʼn Kenmerk van jou gedigte is die gestrooptheid daarvan ten opsigte van sentiment en selfvertroeteling. Het jy ʼn bepaalde digter as voorbeeld ten opsigte van hierdie werkwyse in gedagte gehad toe jy aan dié verse gewerk het?

Ek glo dat as jy iets in twee woorde kan sê is dit oorbodig om selfs net drie woorde daarvoor te gebruik. Digters soos byvoorbeeld DJ Opperman, NP Van Wyk Louw, TT Cloete, Johann de Lange en Petra Müller wat daarin slaag om die suiwerste segging in ‘n gedig te vind, het nog altyd as inspirasie en leermeesters gedien. 

Ter illustrasie van bogenoemde haal ek graag die vers “Skedonk II” volledig aan. Kan jy ons iets omtrent dié vers en sy ontstaansgeskiedenis vertel?

 

Hy is ʼn diesel mechanic,

sy dogter ‘n geroeste kar –

die agterplaas is swart gevlek

van haar onklaar enjin-hart se lek.

 

Sy word elke maand gebloei:

Ma pomp-pomp-hou-die-clutch

terwyl Pa koes vir die olie-spuit

uit sy skedonk se vuil onderbuik.

 

Die gedig het ontstaan rondom die idee dat skoenmakers se kinders nooit skoene dra nie. Die mechanic-beeld het hom eerste aangedoen. In ‘n soektog vir woorde en idees wat kon bydra tot die idee van die gedig en die kongruensie van die beeld, het “bloei” hom voorgedoen. Behalwe dat dit letterlik verwys na die wyse waarop ‘n enjin se olie getap word, aktiveer dit natuurlik die menstruele siklus van die dogter in hierdie gedig. En dit was dit. Met hierdie twee beelde in plek kon die res van die gedig in plek val.

Ten slotte – dankie vir die onderhoud, Martina, en ons wens jou alle voorspoed toe met dié eerste publikasie van jou. Sal jy so vriendelik wees om een van jou persoonlike gunstelinge uit Nadoodse ondersoek hieronder te kopieer vir die lesers?

Hierdie is die laaste kwatryn in die bundel:

            III  Ontbinding

 

Wurms en maaiers vreet aan haar gesig,
larwes broei uit, word vlieë en vlieg
met die laaste woorde uit haar mond:
digter ontbindend tot gedig.

 

(c) Martina Klopper (Uit: Nadoodse ondersoek, 2010: Human & Rousseau)

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud met Martina Klopper”

  1. die woorde maak jou dink daar waar jy nie noodwendig weet nie. amper soos musiek se “nie-verstaan” intieme momente wat jou so onverwags bekruip en ontstig en soos dikmelk in jou keel kom sit. en dan sonder rede soos blinkwang-appels teen jou wange afbons

  2. Joan Hambidge :

    En kom gerus na die bekendstelling: 3 September @ 5.30 vir ses wanneer ek gaan gesels met die digter. Ook o.m. oor die funksie van die Kreatiewe werkswinkel en dat ‘n professor in Skryfkunde se taak is om die engel uit die klip te verlos en elke persoon se eiesoortige aard te ontdek en haar / hom te leer om dit te ontgin.
    Waar? Folio boekwinkel Nuweland. O kom almal wat vermoeid en belas is en graag ‘n goeie digter wil ontmoet soos Martina Klopper.