Oor ritmisiteit: “Praatpoësie” en die Afrikaanse tradisie

In my vorige bloginskrywing impliseer ek dat ritmiese innovering van die versreël makliker en suksesvoller sal plaasvind as digters genoegsaam kennis neem van die tradisie en bewustelik daarop voortbou.

    Helaas, om te bou op die tradisie beteken nie om die tradisie na te skryf nie. Wees gerus anders, wyk af, doen verskillend, maar maak net seker dat die voorafgaande tradisie weldeeglik verteer is, vir die eenvoudige rede dat dit jou taak as innoveerder gaan vergemaklik. Die Afrikaanse poësie  het ’n sterk klassieke moderne tradisie vergelykbaar met die beste soortgelyke tradisies op ander plekke. Daar skuil vele leidrade vir die toekoms in. Dis sanerend om te onthou dat dit die tradisie is wat aan jou die digtaal gegee het waarin jy skryf. Tale verskil, en mens moet bewustelik omgaan met die partikulariteite van die taal waarin jy skryf. Die aflosstokkie waarmee jy hardloop, kom van iewers. Waarheen dit op pad is, is deels ingeskryf in daardie “iewers”.   

    Onlangs het die literator Andries Visagie die onderwerp van die eietydse verskynsel van die sogenaamde “praatdigters” in Afrikaans op veelseggende wyse aangeroer. Hy het geskryf dat hierdie digters (hoewel onderling uiteenlopend), in ’n ander tyd toe dit nog die gebruik was dalk ’n literêre manifes sou opgestel het. Sy artikel gee dus blyke dat hier ’n belangrike verdelingslyn in die poësie ter sprake is, en hy is reg.

   Dat daardie verdelingslyn al op geleentheid woedende kommentaar en ontkenning – selfs van die bestaan van die verdelingslyn – uitgelok het, bekragtig die vermoede: Dis ’n verdelingslyn. En dis ’n verdelingslyn wat (per definisie) die opvolgende en die voorafgaande digkuns met mekaar sou kon vergelyk en so ’n vergelyking in objektief waarneembare terme sou kon beskryf.

     Dis ’n verdelingslyn omdat bepaalde afwykende eienskappe wat oor ’n langerige tydperk in die poësie aan die broei was, op ’n spits gedryf was. Dink aan ’n kaleidoskoop: Jy draai ’n aks, en die spikkels verander maar die prentjie bly dieselfde. Jy draai nog ’n aks, en die prentjie bly steeds dieselfde. Dan draai jy wéér ’n aks: En skielik lyk die hele prentjie fundamenteel anders! Die kumulatiewe effek het ’n waarneembaar struktureel verskillende prentjie geskep.   

      Die nuwe soort(e) digkuns verskil van die voorafgaande tradisie onder meer in semantiese sowel as sintaktiese werking, maar veral in ritmiese voorkoms. En aangesien rimikaliteit die onderwerp van my huidige blogreeks is, beperk ek my nou tot hierdie faset.

      Soms is dit meer verhelderend om eienskappe van ’n literêre “stroming” te beskryf in terme van wat dit nié is nie. Sodoende laat jy toe dat ’n prentjie langsamerhand uit die verf kom sonder om oorhaastige veralgemenings daaroor te maak. Dis wat ek hier sal doen.

        Die nuwe ritmiese voorkomste is nie eenvormig nie. Dit verskil van digter tot digter en van gedig tot gedig. Maar daar is gedeelde eienskappe.

        Joan Hambidge se stelling by Versindaba 2009,  gemaak in gesprek met Daniel Hugo, dat “praatpoësie”  eintlik “parlando” is, en dat parlando reeds voorgekom het by ’n digter soos Uys Krige en ook voorkom in ’n gedig soos “Oom Gert vertel” van Leipoldt, is tipies van oppervlakkige beskouings oor ritmikaliteit in die hedendaagse Afrikaanse vers, en dit werk vertroebelend in. Wat hierdie kommentator waarskynlik na verwys het, is Krige se gebruik van die direkte rede binne ’n gedig. Dís iets gans anders as die hedendaagse “praatpoësie”, en die gebruik kom al reeds van die vroegste tye voor, byvoorbeeld in die antieke Griekse en Latynse digkuns.

     Die nuwe ritmes is nie sinoniem met parlando nie, óf colloquial speech óf die gebruik van direkte rede binne ’n gedig nie. Al hierdie stilistiese gebruike is totaal onderskeibaar. Hulle is gesamentlik ook nie sinoniem met die sogenaamde “praatdigkuns” nie, hoewel hierdie as tegnieke wel in “praatverse” mag voorkom.

     Met “parlando” word normaalweg deesdae verwys na ’n geselsagtige ritme wat die gedig struktureel kenmerk (dis oorspronklik ’n term in musiek). Krige gebruik (byvoorbeeld) in sy gedig “Ken jy die see” direkte rede, maar hy doen dit binne die hegte struktuur van ’n tradisionele, retoriese ritme. Dis nie parlando nie. Dis dan in ’n tradisionele vastevers! Dit bevat wel colloquial speech (volkse spraak), maar dit op sigself is nie parlando nie of tiperend van die nuwe, losser wewings in poëtikale ritme nie. Volkse spraak kom voor oor ’n wye spektrum van ritmikaliteit, van die jambiese vastevers tot by, en slegs onder meer, by die hedendaagse “praatpoësie” in sy verskeie ritmiese voorkomste, van Catullus tot verby Adam Small. Volkse spraak en “praatpoësie” is nie sonder meer met mekaar te vereenselwig nie.  Small, byvoorbeeld, staan vierkant binne die retoriese tradisie.

    ’n Kernaspek hier ter sprake is strukturele ritme. En Krige se gedig is allermins struktureel van die losser geweefde ritmiese variëteit wat soms as “praatpoësie” beskryf word. Dis juis ’n toonbeeld van die teenoorgestelde. Dieselfde geld “Oom Gert vertel”. 

     Die Afrikaanse poësie het in onlangse jare bundels die lig laat sien wat vir die eerste keer op ondubbelsinnige wyse ’n breuk maak met die retoriese ritmikaliteit wat hierdie taal se digkuns vanaf sy ontstaan kenmerk. (Daar het al heelparty ritmiese innovasies gekom, vergelyk maar Breytenbach en Krog met Van Wyk Louw en C.M. van der Heever, maar dis innovasies wat steeds ’n retoriese voorkoms nagestreef het.)

     ’n Ontwikkeling in die digkuns wat retoriese voorkoms so beduidend wil afplat soos wat ons in onlangse tye gesien het, is bepaald in die oog springend – en kan getipeer word op grond van hierdie neiging. 

     Die nuwe losser ritmikaliteite wissel van ’n klankmatige losser wewing tot ’n prosa-agtige wewing tot uit-en-uit prosagedigte. Die bindende aanname is dat daar vir ’n ritme gekies moet word wat “realisties” voel in alledaagse terme, wat die ritmes van die “ware lewe” reflekteer eerder as poëtiese konvensie. Die gedig word in ’n “lewenswaaragtige”ritme gegiet – een wat ’n geloofwaardige illusie skep dat dit ’n ritme is wat in die “werklike wêreld” bestaan en nie net ’n spel is nie (retorika). Dis nie soseer toeganklikheid  wat die oorweging is nie, hoewel toeganklikheid (in sommige gevalle) die resultaat mag wees.

       Dit het ook belangrik geword om ritmes te kies wat meer “filmies”werk, eerder as “musikaal”. (En dít het baie te doen met die vormende invloed van die leidende kunsvorm van ons postmoderne era, naamlik die film, op die digkuns.) Die begrip “framing” is hedendaags juis ter sprake, en word selfs deur van hierdie digters in verwysing na hul digkuns gebruik. Die eenhede van “framing” kan vertellende eenhede wees, of bloot tafereel-eenhede waarin klank ’n rol mag speel of nie. (As klank nie ’n rol speel nie, behoort daar ander bindingselemente te wees wat op oortuigende wyse instaan vir klankbindings.)

     Dit bly absoluut verbasend waarom sommige konserwatiewe elemente in die Afrikaanse kritiek die waterskeiding wat deur hierdie nuwe ritmikaliteite verteenwoordig word, onder die mat wil vee. Absoluut verbasend – totdat jy oor die redes vir die ontkenning nadink.

 

 

     Hierdie digvorms kom al vir etlike dekades ruim voor in die wêreldpoësie, maar tot redelik onlangs kom dit nie opsigtelik voor in die Britse poësie nie (daardie tweede oggendster van die tradisionele Afrikaanse digkuns) – en glad nie in Afrikaans nie. Hoe dikwels kry jy nie ’n Afrikaanse leser wat hul bewondering sal bely vir ’n Kavafis of ’n Pessoa of ’n Szymborska sonder ’n snars van ’n besef dat dit digkuns is wat ritmikaal gesproke ver afwyk van enige iets wat hulle in Afrikaans as poësie sal eien. (Hulle eien dit in ’n ander taal, meestal in vertaling ja, maar gebeur iets soortgelyks in Afrikaans, sal hulle dit nié herken nie.)

     Die “praatpoësie”-stroming in Afrikaans het ’n uiters embarraserende blindekol wat bestaan het binne die akademiese benadering tot poësie te lande, blootgelê: dat Afrikaans sowel as Engels te lande,  ritmikaal gesproke, dikwels genoeg nie kennis geneem het nie van radikale vormomwentelinge in die wêreldpoësie in die afgelope dekades. Dit het waarskynlik weens ons taal-, geografiese en kulturele isolasie gebeur. Maar ook omdat ons onder die ban van die Britse blindekolle gestaan het wat ons oorgeërf het. Hierdie – swyende – verleentheid is die hoofrede waarom dit nodig is vir sommige kommentators om die “praatpoësie”-skeidslyn wat in Afrikaans opgedoem het so te onderspeel.

     Eers was dit digkuns waarna op geleentheid afmakend verwys is as “verkapte prosa”  – omdat dit gewoon nie herken is as poësie nie – en deesdae weer word dit wel langtand deur konserwatiewes aanvaar maar glo as  “net nog ’n vorm van iets wat al lankal in die Afrikaanse digkuns bestaan”. Bog!

     Dit kom neer op ’n ontkenning van ’n legitieme en belangrike waterskeiding in die plaaslike poësie. Hierdie ontkenning het die onbedoelde effek dat dit permissief inwerk op die nuwe vorme, pleks van vormend. Daar is voorbeelde in die nuwe poësie wat ongelukkig geskryf word sonder die nodige kritiese bewustheid van die ritmiese partikulariteit van die taal – en juis omdat ontkennings soos dit waarna ek pas verwys het ’n breuk met die tradisie veroorsaak, pleks van deurlopendheid. Wie kan sulke wagters van die tradisie ernstig opneem? Só skiet konserwatiewes hulself, sowel as die tradisie, sowel as onskuldige omstanders, in die voet.

     Een van die mees onderspeelde groot digters van Brittanje is D.H. Lawrence. Waarom was hy onderspeel as digter? Omdat hy in ’n losgeweefde diksie (“praatpoësie”) geskryf het in ’n tyd toe dit nog heeltemal vreemd was om te doen in ’n logosentriese (en fallosentriese) retoriese tradisie.

      Ter afsluiting: Die term “praatpoësie” is erg misleidend om die spektrum van losser geweefde ritmes te beskryf. In baie van hierdie gedigte, wat dikwels liriese gedigte is, is dit binnespraak, nie buitespraak wat ter sprake is. Die term “praatpoësie” skep die indruk van buitespraak. Dis ’n betekenisvolle wanindruk.

    In die tweede plek smeer die term die onderskeid tussen colloquial speech (praattaal, soos mens in Raymond Carver se gedigte kry), prosa-agtige emjambiese gedigte (soos by Danie Marais en Ronelda Kamfer) en klankmatige, gestruktureerde losser wewing soos byvooorbeeld in my bundel In die geheim van die dag.

     Die term “praatpoësie” skep die indruk dat hier minder, of minderwaardige bindingstrukture is as by retoriese verse. Dis vals. Die bindings is trouens dikwels moeiliker om tot stand te bring, omdat daar sonder die “resep” van eksplisiete klankpatrone of die eksoskelet van ’n tasbaar aanwysbare vorm gewerk moet word. Elke gedig moet as’t ware sy eie vormpatrone van meet af uitvind.

    Waarin die term wel korrek is, is dat dit poësie is wat doelbewus alledaags of “plat” probeer klink, en die “ritmes” van alledaagse bewussyn probeer weergee. Dis op sigself nie nuut in die wêrelddigkuns nie, maar dis beslis nuut in Afrikaans. Helaas, meer belangrik as dat dit nuut is, is dat dit laat is. En ontkennings oor die bestaan daarvan (as synde ‘n poësie met ’n ander soort logika en ’n ander verwagtingshorison), maak dit nóg later.

     Die Afrikaanse digters wat aan hierdie stroming deel het, is welbekend. Daar moet egter bygevoeg word dat die plaaslike Engelse letterkunde onlangs ’n skitterende bydrae gemaak het met ’n digbundel van Denis Hirson, Gardening in the dark. Die uitstekende Engelstalige digter Basil du Toit het meer as ‘n dekade gelede al soortgelyke impulse in Engels gestalte begin gee. Dis totaal onderbelig.

     Om saam te vat: Daar word in sommige sektore ontken dat hier ’n waterskeiding in die benadering tot poëtiese vorm in Afrikaans is.

     Die rede vir hierdie ontkenning is dat dit ’n verleentheid is om te erken dat die presiese aard van ritmikale ontwikkelinge op die digterlike wêreldfront Afrikaans vir ’n lang tyd verbygegaan het – en skielik verskyn dit in eie midde soos ‘n spook. Boonop is daar in onlangse jare van ongebreidelde onegtheid sprake, omdat daar knaend verwys word na sulke buitelandse tradisies sonder om die ritmikale implikasies daarvan na wense te begryp.

     Die ontkenning het te make met die feit dat Afrikaans vir lank die retorika van sy ritmiese tradisie gelykgestel het aan poësie per se.   

    Maar bowenal: Dis ’n ontkenning wat permissief op nuwe ontwikkelings inwerk pleks van vormend. En hierin is ’n uitkringende gevaar geleë.     

     * Die woord “nuut” of “nuwe”  behoort nie as vervangend ten opsigte van “vorige” gelees te word nie, maar as aanvullend.

* Hou ook in gedagte dat tradisies naas mekaar bestaan en ook soms vermeng. (So kan jy ’n gedig kry wat eienskappe uit die retoriese tradisie sowel as “praatgedig”- eienskappe bevat.)

* Digters behoort  nie op  permanente basis aan enige stroming nie, hulle gaan waar hul inklinasies gaan.

* Enige bespreking soos hierdie is’n ‘stilfoto’ van’ bewegende formasies’.

Ns ‘n Afgewerkte weergawe van hierdie artikel het in Stilet verskyn. – Red.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  

Bookmark and Share

17 Kommentare op “Oor ritmisiteit: “Praatpoësie” en die Afrikaanse tradisie”

  1. Louis :

    Charl-Pierre, dankie vir die belangrike bydraes oor die kwessie van ritmikaliteit. Dat daar verskillende interpretasies sal wees ten opsigte van die sogenaamde “praatvers” en die belangrikheid daarvan, is tog ‘n gegewe is dit nie? Daar bestaan immers vele verskillende poëtikas en uiteenlopende benaderings in alle digkunste. (Gaan kyk weer na my Nuuswekker van gister.) Dit is myns insiens bepaalde persone na wie jy verwys se goeie reg om van jou (en ander letterkundiges) te mag verskil, of hoe?
    Dat ons digkuns die agelope jare ‘n enorme verbreding tov styl en aanbod beleef, is ‘n gegewe. So is daar waarskynlik meer oor dié tendense in die vaktydskrifte geskryf as oor enige ander. Selfs simposia en seminare is aan dié onderwerp afgestaan. Ook was die kritiese ontvangs tov resensies en bekroning meer as lofwaardig. (Trouens, die laaste klassiek-“retoriese” digters wat met ‘n prys bekroon was, was waarskynlik Zandra Bezuidenhout met die Ingrid Jonker-prys in 2001 en Gilbert Gibson met sy bekronings. En, indien jy Gert Vlok Nel en Breyten sou byreken, kan jy die bekroningsperiode van die sogenaamde “praatvers” selfs tot jou eie bekroning in 1997 en Gert s’n in 1995 voer.)
    Dit wil my dus voorkom asof daar allermins sprake kan wees van diskriminasie (of marginalisering)van die sogenaamde “praatvers” en dat sy toekoms inderdaad fleurig daaruit sien; veral indien na die reikwydte van Nuwe Stemme 4 gekyk word.
    Die feit is dat ons die totale verskeidenheid wat die digkuns bied, nodig het. Daarom dat ons beskeie digkuns met sy klein produksie van 15 – 20 bundels per jaar vergelykbaar is met digkunste waar selfs meer as 200 bundels per jaar verskyn. Hulle mag dalk meer van alles het om mee te spog, maar vir elke digstyl (of -aanbod) in Nederland, byvoorbeeld, is daar ‘n Afrikaanse ekwivalent.
    Daarom – dankietog vir digters soos jy wat ernstig besin oor die ambag waarmee hulle besig is. Dankietog vir digters wat hoegenaamd nie verstaan waaroor dit alles gaan nie en net wil skryf. Dankietog vir digters op prystoekenningskomitees en koerantredaksies. Dankietog vir digters wat Skryfskole aanbied en digters soos ‘n Loftus Marais, Carina Stander en Martina Klopper voortbring, ens. ens. Ons het hulle almal nodig. En eweneens is dit nodig dat hulle onderling van mekaar verskil.
    Wie is dit wat gesê het: “Some of us need to storm the castles while others need to define the happening”?
    Graag sal ek later vandag, wanneer ek ‘n tydjie het, wil reageer op ‘n bepaalde aspek wat jy hierbo aanraak. Ons praat nou-nou weer.
    Met waarderende groete,
    Louis

  2. Louis :

    Charl-Pierre, die ander kwessie in jou stuk waarby ek wil aansluit, is die kwessie van vertaling. Met jou vergelykende opmerkings tov oorsese digkunste gaan ek heeltemal akkoord; veral tov die Britse poësie (alhoewel daar onder die laureateskap van Carol Ann Duffy nogal opwindende dinge begin gebeur, lyk dit my.) Nietemin, waar ons egter oor “ritmikaliteit” tov vertaalde poësie begin praat, raak ek ongemaklik. Kan ons byvoorbeeld oor die ritmikaliteit van ‘n Szymborska praat as ons haar digkuns slegs dmv vertaling ken? Argumentsonthalwe: daar bestaan drie vertaalde bloemlesings van haar gedigte, te wete “View with a grain of sand”, “Miracle fair” en “Poems – New and collected: 1957 – 1997” en die “ritmikaliteit” in elk van dié drie vertaalprojekte verskil tog ingrypend van mekaar, is dit nie?
    Onlangs het ek ook ‘n tweetalige bloemlesing met haar gedigte bekom; toe vra ek sommer ‘n Poolse kliënt wat toevallig in die winkel was om vir my die oorspronklike te vers in Pools te lees en glo my, dit was verrassend metries. (Vir my ongeoefende oor, bygesê. Ook – dalk het hy dit gewoon só voorgelees. Ek weet nie.)
    Hoe ook al: ek vermoed dat die “ritmikaliteit” in die oorspronklike taal anders daaruit gaan sien as in die vertaalde vers … Of is ek verkeerd?
    Nogmaals dankie vir jou prikkelende stukke.
    Louis

  3. Ivan Mocke :

    Charl-Pierre, dankie vir ‘n wonderlike stuk! Toevallig lees ek die volgende op Edwin Fagel se blog-inskrywing oor eiesinnigheid en polemiek. Het jy dit gesien?
    “Grote kunst is altijd polemisch, omdat het anders is. En het is groot omdat het dat anders-zijn heeft moeten veroveren op de omgeving, op de heersende smaak, en zodoende die heersende smaak heeft veranderd. Maar die eigen smaak en die eigen opvattingen, daar word je niet mee geboren. Die moet je ontwikkelen. En je ontwikkelt je smaak alleen als je met veel kunst kennis maakt, erover nadenkt – en erover discussieert. Het gaat er m.i. in een goede polemiek niet primair om de tegenstander te overtuigen. Het gaat om het kennis maken met, en wegen van, argumenten.”

  4. Daniel Hugo :

    ‘n Los opmerking: “Ken jy die see …” is waaragtig nie die enigste gedig wat Krige geskryf het nie. Ken Charl-Pierre wel die gedigte uit sy bundel “Die einde van die pad en ander oorlogsverse” van (reeds!) 1947? Die vrye vers wat Krige daarin skryf, was sekerlik iets nuuts in Afrikaans. In “Hart sonder hawe” van 1949 publiseer hy ook Engelse verse in dié trant.
    Ten slotte ‘n vraag: Is dit nie erg onbeskeie van Charl-Pierre Naudé om homself as die middelpunt van die hedendaagse “vernuwing” in die Afrikaanse poësie te beskou nie?

  5. Rita :

    Charl-Pierre, hoekom ‘n vreemde woordskepping soos ‘ritmikaliteit’ gebruik? Is dit nie maar net ‘ritme’ nie? Of dan “ritmiek/ritmisiteit” nie?

  6. Charl-Pierre :

    VIR LOUIS, OP JOU EERSTE KOMMENTAAR:

    Laat ek puntsgewys reageer op jou voorbehoude.

    1. Jou kommentaar wil-wil dit laat deurskemer dat jy my van verdagmakery verdink. Die woord beteken om insinuerend oor iemand anders te praat, dus sonder voldoende stawing en om deur middel van vaag omlynde suggesties negatiewe vermoedens oor iemand by ander mense te laat ontstaan. Dis mos nie wat ek doen nie! Ek verwys na ’n baie spesifieke gebeurtenis, waar spesifieke opinies, deur twee spesifieke indiwidue gelug is. Ek kritiseer daardie menings op ’n sistematiese wyse deur middel van ’n helder argument wat uitloop op ’n helder omlynde konklusie. Ek stel myself bloot om of reg bewys of verkeerd bewys te word. Ek laat niks vermoed nie. Ek sê in geen onseker terme iets nie. Ek moet jou reguit sê: Ek dink jy lees verkeerd. Wat moes ek doen? Hulle name NIE noem nie? DIT sou mos verdagmakend gewees het.
    2. Ek het nooit gesê die nuwe tendense word nie na wense gereken nie. Ek sê daar is SOMMIGE indiwidue wat die tendense hopeloos onderspeel vir wat ek sien as bedenklike redes, en dat hulle dit met bedenklike argumente doen en boonop vanuit gesagsposies. Omdat hierdie indiwidue hulself in gesagsposisies bevind ten opsigte van ander, ontvanklike indiwidue – die een as aanbieder van literere radioprogramme aan ’n dikwels naiewe gehoor, en die ander as onderriggewer aan studente – hierdie onderspeling waarskynlik ’n baie negatiewe impak het wat misleidend en skadelik is. Ek se presies wat, waarom en hoekom.
    3. Ek het nie ’n byltjie te slyp met die veelvoud van menings oor die letterkunde nie, maar met die myns insiens swak argumente wat sommige van daardie menings “staaf”. Natuurlik is dit indiwidue se goeie reg om van my en ander literatore te verskil, maar as dit ’n professor van die letterkunde is wat ’n insig kwytraak wat erg misleidend is en dan boonop met hoogdrawende selfvertroue, dan is dit my goeie reg om dit te kritiseer.
    4. Breyten skryf glad nie “praatverse” nie, hoewel hy gedigte geskryf het wat dit antisipeer. Gert se digbundel het niks te doen met “praatverse” nie, myns insiens. Die diksie is retories, en dis ’n praat-toon wat hy gebruik binne ‘n retoriese diksie. Sien my argument hierbo oor Adam Small, en Uys Krige, wat eweneens praat-toon gebruik. Praat-diksie en praat-toon is twee verskillende dinge.
    5. Daar bestaan natuurlik vele poetikas. Sien my vorige twee bloginskrywings onder “ritmikaliteit” wat hieroor handel en die nodigheid van respek vir en kennis van die veelvoud beklemtoon. Ek self beoefen beide die meer natuurlike sowel as die retoriese ritmes, so ek is nie besig om ’n argument ter wille van myself voor te sit nie, maar ter wille van egtheid van argumentasie.
    6. Ek het nooit gesê dat daar in die algemeen diskriminasie is nie. Daar is wel selektief en uit bepaalde oorde diskriminasie. Dit is wat ek hierbo sê. Dis heel duidelik. En my probleem is nie soseer eers met daardie diskriminasie nie, maar dat die gronde daarvoor so swak meegee onder skrutinering.
    7. Natuurlik: Dankie tog vir baie dinge. En ook vir jou skrywe, wat my die kans tot verdere verheldering bied.

  7. Charl-Pierre :

    OP RITA SE TWEEDE KOMMENTAAR:
    Ek het die woord “ritmikaliteit” op grond van die woord “poetikaal” geskep om ‘n spektrum van aspekte te dek soos metrum, klankpatrone ens.

    Jou woord “ritmisiteit” is uitstekend, en beter as myne. Ek sal dit voortaan gebruik, dankie.

  8. Daniel Hugo :

    Vir Charl-Pierre Naudé ter inligting. Ek het al twee-en-‘n-halfjaar gelede by die SAUK bedank. Sedertdien is my bydrae op die radio beperk tot 25 minute per maand op die program “Leeskring”. Ek is dus ook nie meer in ‘n posisie om van Charl-Pierre Naudé se gedigte op die poësieprogram te laat voorlees nie – soos wat ek inderdaad in die verlede gedoen het. Ek voel wel gevlei dat daar soveel waarde geheg word aan my “gesagsposisie”!

  9. Charl-Pierre :

    Rita het die woord “ritmisiteit” voorgestel, dis myns insiens beslis beter as “ritmikaliteit”, hoewel ek steeds sou praat van “ritmikaal gesproke” (op die trant van “poetikaal gesproke”).

    Mens moet omsigtig te werk gaan as jy verwys na vertaalde digkuns. Maar om jou vraag te beantwoord: Ek dink ’n mens kan beslis in ’n meerdere of mindere mate, afhangende van watter taal ter sprake is, praat oor die ritmikaliteit van digkuns wat mens slegs in vertaling ken. As jy praat van – byvoorbeeld – die werk van die Sweedse digteres Tua Forstrom, of die Portugese digter Nuno Judice, is dit tale wat relatief toeganklik is vir baie Afrikaanssprekendes (vir my in elk geval) en Engelssprekendes. Jy kyk na die vertaling in die Engels of die Nederlands, of in albei, dan kyk jy na die Sweeds wat Germaans van aard is of die Portugees en gaan weer terug na die Engels of Nederlands, dan luister jy miskien na ’n voorlesing van een of beide hierdie digters op ’n CD van Poetry International – en jy gebruik jou poëtiese aanvoeling wat jy oor baie jare geslyp het of moes geslyp het, en ja – jy kan veel te wete kom en veel sê oor ritmisiteit van die oorspronklike gedigte. Dis belangrik om te let op die ritmisiteit wat ’n goeie vertaler kies.

    In die geval van ‘n Poolse digter – met Pools wat as Slawiese taal veel minder toeganklik is vir die Afrikaanse oor – kan jy eweneens veel sê en weet, maar jy moet versigtiger wees in jou uitsprake. In Szymborska se geval sou ek ’n Nederlandse vertaler soos Gerhard Rasch met Clare Kavanagh se Engelstalige vertalings vergelyk, ek sal kyk na die aard van die ritmiek soos dit op die Engelse of Nederlandse bladsy staan, en ek sal baie te wete kan kom oor die aard van ritmiek in die oorspronklike Pools. Mens moet darem jou intuisie ook gebruik. Die Here het dit mos vir jou gegee, soos my ma sou se.

    Die argument dat mens ’n digter vlot moet kan lees in die oorspronklike brontaal voordat jy iets oor haar ritmisiteit kan sê, is nie waar nie. Baie vertalers ken nie brontale heeltemal vlot nie, daarom werk hulle met iemand wat daardie brontaal ken, maar as jy ’n aanvoeling vir die taal en vir digkuns sowel as die digter het, kan jy veel te wete kom.

    Die vertalings van Szymborska en Rasch is albei ritmies op verskillende maniere, maar ook op gelyksoortige maniere. Ek dink Rasch plant klankpatrone in wat nie in die oorspronklike is nie om op te maak vir ‘n inkanterende ritme, of n vanselfsprekende medeklinkerrykdom wat Pools mag hê wat Nederlands nie het nie. Niks daarmee verkeerd nie. Hy skep ‘n gelyksoortigheid. Kavanagh beklemtoon weer die spreektalige gevoel by uitstek. Sy is besonder goed met ‘n soort “onsigbare” ritmisiteit.

    Dis nodig om die ontvangertaal, as dit nie jou eie taal is nie, na wense te ken, helaas. Sy gebruik spreektalige ritme (“praatvers”), maar sy doen dit baie ritmikaal, hoewel nie noodwendig met rym en halfrym en al daai nie.

    Natuurlik is Szymborska ritmies gesproke ’n uitstekende digter! Jy se dit asof spreektalige gedigte en ritmisiteit nie saamgaan nie. Enige goeie vertaling behoort dit te toon. Ek dink hierdie faset van ritmisiteit word tans onderbeklemtoon in Afrikaans, ek dink daar is ’n idee vry dat spreektalige verse nie ritmikale noodwendigheid hoef te besit nie, en dit is ‘n verkeerde idee. Wat werk vir Danie Marais, gaan nie werk vir elke spreektalige opslaggie nie. Maar, om so ’n moontlike probleem hoegenaamd aan te spreek, moet daar begrip wees vir die soort poësietit wat ter sprake is by spreektalige verse.

    En, ag, Louis, ek leer ook maar soos ek aangaan, jy weet. Ek dink glad nie ek het al die wysheid in pag nie.

  10. Daniel Hugo :

    Albei woorde rhythmicality/rhythmicity bestaan reeds in Engels. Van nuutskeppings is hier geen sprake nie.

  11. Rita :

    Daniel, my groot Pharos Afrikaans-Engelse woordeboek waarmee ek 10 rotte kan doodslaan met een hou, verwys hoegenaamd nie na ‘ritmikaliteit’ nie. Daarom het ek gedink dis ‘n woordskepping. Slegs ritmiek en ritmisiteit word aangegee. As dit in Engels bestaan en mens vertaal dan die woord na willekeur, is dit nie maar ook ‘n ‘woordskepping’ nie? Of is dit nou ‘n anglisisme? Wat ook al, ek is geen taalkenner nie, maar dit blyk dat Charl van hierdie woord hou. Ek geniet hierdie diskoers geweldig – dit gebeur maar min op hierdie webblad dat lesers deelneem aan argumente en hulle griewe/menings, ens. ‘n bietjie uitsorteer. So leer mens mos, of hoe?

  12. Charl-Pierre :

    Beste Daniel,
    Dankie vir jou skrywe. Puntsgewys:

    1. My huidige kritiek wat jou behels, en my vorige kritiek op jou, is en was spesifiek van aard. Dit het spesifieke optredes of opinies van jou in gedagte gehad. Dit beteken nie jy het nie ook goeie dinge as kritikus of keurder vermag nie. Jou interpretasie van my kritiek op jou is so tipies van die sosiaal onvolwasse aard van ons samelewing, waarin die eie historiese identiteit alewig beleef word as op die spel wanneer daar kritiek op ’n bepaalde optrede gelewer word.
    2. Dit behoort vir lesers van hierdie bloginskrywing duidelik te wees dat ek myself nie as die middelpunt van die spreektalige vernuwing in die digkuns sien nie. Waar kom jy daaraan? Niemand is noodwendig die middelpunt nie. ’n Middelpunt veronderstel ’n beweging, ’n eenselwigheid – en dis juis wat ek in my bloginskrywing redeneer nie die geval is nie. Wat ek wel gedoen het was om ’n soort gedig te skryf wat nie voorheen in Afrikaans geskryf was nie. Dis objektief aantoonbaar. En dit het die verdelingslyn waarvan ek praat vir die eerste keer duidelik verteenwoordig. Maar dit daar gelaat.
    3. Oor Uys Krige. Jy sal onthou dat ek juis na Krige verwys het in my toespraak by die aanvaarding van die Ingrid Jonker-Prys in 1997. Natuurlik ken ek die bundels waarna jy verwys. Natuurlik was dit ’n vernuwing. Baie dinge was al ’n vernuwing. Baaaiee. Die maan kom op, hy gaan onder. So? Krige val, helaas, vierkant binne die retoriese tradisie. Dis my punt. Kyk weer na die verskille tussen die retoriese en die “spreektalige”, soos ek dit in my bloginskrywing uiteensit. Jy suggereer dat wat hy gedoen het en wat ek doen in die betrokke bundel van my hierbo na verwys, is soortgelyk. Daar is ’n fundamentele verskil, die soort verskil wat jy gaan miskyk as jy nie ritmikaal in voeling is daarmee nie.

  13. Daniel Hugo :

    Beste Charl-Pierre
    Ek wil dit nou vir eens en vir altyd onomwonde stel: ek het nog nooit ‘n veldtog teen die digter Charl-Pierre Naudé of sy soort poësie gevoer nie. Ek voel beslis ook nie as digter bedreig deur die soort vers wat jy skryf nie.
    Vriendelik
    Daniel

  14. Louis :

    Charl-Pierre & Daniel –
    Dit is jammer dat ‘n hoop kole tussen julle nou weer tot vlam gekom het. Die gesprek tussen julle is egter nie iets wat bydrae tot die besprekingspunt van “ritmikaliteit” nie. (Of is dit nou “ritmisiteit”?) 🙂
    Nietemin, kan ons dus maar halt roep ten opsigte van dié heen-en-weertjie tussen julle, asseblief? Ek twyfel of enigiets daardeur besleg gaan word …
    Met waarderende groete jeens jul albei,
    Louis

  15. Charl-Pierre :

    Beste Daniel,
    Dankie vir jou laaste nota. Vir die rekord, ek ‘n hope respek vir ‘n groot deel van jou poetiese oeuvre – ek dink trouens dat ‘n afdeling van Skeurkalender die spreektalige tendense 🙂 – vir jou werk as keurder aan my eerste bundel en VIR jou jarelange werk as omroeper, resensent en kritikus waarin jy die digkuns bevorder het onder die bree publiek. Hiervan behoort resensies van my in die verlede te getuig. Ek het my verskille met jou. Dit gaan oor ‘n spesifieke terrein(e) en aspekte. Ek dink by besprekings soos wat ek hier gelewer het, is dit belangriker om by die beskrywing van formasies te bly eerder as om agentskap daaraan toe te skryf. Laasgenoemde is kontensieus. Dis hoe ek dit self verkies, en my bespreking behort dit te wys. Dis tog wat interessant is: die formasies, die redes vir verskuiwings. Dit “behoort” nie aan enige iemand nie. As ‘n surfer ‘n golf vang, is dit SY golf? Ja. En nee. Dankie vir jou insette. Ek het hulle met kontrapunte geopponeer maar dit beteken nie dat ek dit nie na waarde ag nie. En jy is op jou opinie geregtig. Louis, dankie dat jy skeidsregter was. 🙂

    Aan ander lesers hier: Ek wil nie he dat my klem op tradisie verkeerd verstaan moet word nie. Ek bepleit nie ingryping in die outonome daad van skepping nie. I am just spreading a little consciousness. Mag ELKE
    nuwe digter wat meet af die heelal ontwerp!

  16. Charl-Pierre :

    Daar het ‘n deel van ‘n sin hierbo weggeraak. Dit moet lees: Ek dink trouens dat ‘n afdeling van Skeurkalender die spreektalige tendense antisipeer.

  17. Charl-Pierre :

    En aan Ivan Mocke: Dankie vir jou attent maak op daardie stuk van Fagel, en jou inset. Ek het dit nog nie gelees nie, maar sal vandag.