Carina van der Walt. ‘n Digterlike inval in Barcelona

Die meeste Nederlanders hou nog vakansie in die suide van Europa: Spanje, Suid-Frankryk en Italië. Op ‘n besoek aan Barcelona laat ek my verlei deur die digter Lorca, die argitek Gaudi, die kunstenaars Dali en Picasso en die Spaanse kitaar. Sulke vertrekpunte kan tydens ‘n kort kuiertjie uitgroei tot ‘n wolk van ervarings. Wonderlik!

Die kronkelbank van Gaudi om die Griekse teater in Parc Guell, Barcelona (2010).

Die kronkelbank van Gaudi om die Griekse teater in Parc Guell, Barcelona (2010).

Federico Garcia Lorca behoort in die Spaanse letterkunde tot die Groep van ’27. Ander digters in die groep was onder andere Vicente Aleixandre – Nobelpryswenner (1977) en Pedro Salinas. Die groep manifesteer die eerste maal in die bloemlesing Poesía espaola. Antología 1915 – 1931, sonder insluiting van die Spaanstalige Chileense digter, Pablo Neruda. Dit het altyd ‘n onuitgemaakte saak gebly of Neruda nou by die Groep hoort of nie. Die bloemlesing was onmiddellik ‘n treffer. Die Groep van ’27 was veral téén dinge soos die versadigde romantiek en geswollenheid in seggingskrag, maar nouliks vír iets. Die gelade tydperk waarbinne hulle aktief was tussen 1932 en 1936, spreek vandag nog tot die verbeelding. Die Spaanse Burgeroorlog (1936 – 1939) het die einde van die groep ingelui, deurdat die bekendste digter van die Groep, Lorca, voor ‘n vuurpeloton dood is. Daardeur is sy status versterk tot martelaar vir die Spaanse vryheid.

Lorca se gedigte  is deurtrek met tragiek en ‘n obsessie met die dood, onrus, duistere frustrasies en verlangens. Sy gedigte het dikwels ‘n dreigende sfeer of ‘n ondeurgrondelike somberheid. Daarteenoor is die vorm van sy gedigte bedrieglik eenvoudig: kort versreëls, lirieke en refreine, selfs kinderrympies. As paradoks teen geswolle digterlike taal, was dit vernuwend. In die Suid-Afrikaanse letterkunde het Uys Krige en Roy Campbell die essensie van sy werk soos dit hierbo beskryf word pragtig vertaal. Klaaglied vir Ignacio Sanches Mejias is een van Lorca se bekendste gedigte. Dit is ook deur Krige vertaal:

 

Vyfuur in die middag.

Dit was vyfuur klokslag in die middag.

‘n Kind dra ‘n wit laken

vyfuur in die middag.

‘n Mandjie vol kalk wat reeds bestel is

vyfuur in die middag.

Die res was die dood en die dood alleen

vyfuur in die middag.

 

Ek hoor die kind se voetstappe weerklink deur ons smal straatjie in die Barri Gòtic. Ignacio Sanches Mejias, trotse stiervegter en ondersteuner van die Groep van ’27, is dood tydens ‘n stiergeveg.

 

‘n Doodkis met wiele is sy bed

vyfuur in die middag.    

 

Met ons besoek was die jongste nuus dat stiergevegte in die provinsie Katalonië verbied gaan word vanaf 2011. Dit is iets waarteen Salvador Dali al in 1961 op ‘n plakkaat in sy geboortedorp, Figueres, te velde getrek het. Vyftig jaar later word daar nou gedeeltelik hieraan gehoor gegee in dié noordelike provinsie. Stiergevegte en die flamenco is eintlik eie aan die stad Sevilla in die suidelike provinsie Andalusië. Die suiderlinge voel verontreg deurdat hierdie tradisie in ‘n swak lig gestel word. Hulle voel dat Katalonië dit gebruik in hulle stryd tot onafhanklikheid teen die res van Spanje. Stiergevegte is ook ‘n tema in die werk van Pablo Picasso.

Die Suid-Afrikaanse Engelstalige digter Roy Campbell het onder andere The Shadow of My Soul, The Guitar en Song of a Horseman (1860) van Lorca vertaal. Onrus, verlange en ondeurgrondelike somberheid spreek alles uit The Guitar:

 

The lament begins

Of the guitar.

The wine-cups of daybreak

Are splinter afar.

……..

It weeps monotonously

…….

It weeps for things

Far out of sight.

……..

It weeps,

…….

Oh, the guitar! the Heart

That bleeds in the shades

Terribly wounded

By its own five blades.

 

Ek luister in ‘n kerkie op een van die honderde pleine in Barcelona na die meeslepende klanke van die klassieke kitaarspeler, Xavier Coll. Sy uitvoering van Albéniz se Asturias stort soos ‘n mantilla met eindelose fraiings oor my skouers. Voor my geestesoog sien ek die afbeelding van Picasso se The Old Guitarist uit sy Blou Periode. Hierdie bekende skildery ontstaan na die selfmoord van sy vriend, Casagemas. Die bekendste gedig wat na die skildery verwys, is van die Amerikaanse digter, Wallace Stevens: The Man With the Blue Guitar:

 

The man bent over his guitar,
A shearsman of sorts. The day was green.

They said, “You have a blue guitar,
You do not play things as they are.”

The man replied, “Things as they are
Are changed upon the blue guitar.”

 

Die vurige ritmes van die flamenco op ghitaarklanke agtervolg my tot in Parc Guell. Dis ‘n vertoonvenster van Gaudi se talent. Die park staan nie terug vir die grillige, robuuste argitektuur van sy talle huise of vir die Sagrada Familia nie. Is die Sagrada Familia ʼn 20ste eeuse toring van Babel?, wonder mens. Na byna 130 jaar is die bouwerk hieraan nog nie naastenby voltooi nie. Die hoogste torings moet nog gebou word. Dit is tyd dat ek my eie Afrikaanse gedig oor die Sagrada Familia klaarskryf. In Parc Guell lê die Griekse teater van aangestampte leemgrond omring deur ‘n slingerende bank met kleurryke, ingelegde teëlwerk. Die eerste kongres oor die geskiedenis van die Katalaanse taal het in 1906 hier plaasgevind.  

 'n Installasie van Dali waarin 'n dooie stier 'n sentrale rol speel (Valencia, 1954).

'n Installasie van Dali waarin 'n dooie stier 'n sentrale rol speel (Valencia, 1954).

Poësie is egter in my belewingswêreld ‘n taal op sy eie. Dit laat hom deur geen taalgrens inperk nie. In die Groep van ’27 gaan my voorkeur uit na die gedigte van Pedro Salinas. Hy is bekend vir sy liefdesgedigte. Hierdie liefdesgedigte is deel van sy nuuskierigheid na die oorsprong van dinge of van ‘n idee. Dit druk ook sy verlange na suiwerheid uit.

Hieronder volg my vertaling van die allereerste gedig wat ek van Salinas gelees het:

 

Grond. Niks meer.

Grond. Niks minder.

En dit moet genoeg vir jou wees.

Want op die grond steun jou voete,

op jou voete die regop bolyf,

op jou bolyf die vasberade kop,

en daar, onder die hoede van die voorkop,

die suiwer idee en op die suiwer idee

die dag van môre, die sleutel

 – môre – van die ewige.

Grond. Niks meer of minder.

En dit moet genoeg vir jou wees.

 

Soos hulle in Nederlands sê: “het smaakt naar meer”. Dit geld in elk geval vir my!

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Carina van der Walt. ‘n Digterlike inval in Barcelona”

  1. Pieter Wolmarans :

    Hierdie is ‘n wonderlike stuk, Carina. Dankie daarvoor. Veral vir die treffende gedigte wat jy aanhaal.