Nicol Stassen. Voorwoord Versindaba 2010

Versindaba 2010

Versindaba 2010

Desiderius Erasmus het sy uitgewer Aldus Manutius van Venesië geprys en gesê dat Manutius ewe onsterflik is as die groot wetenskaplikes en skrywers van die Renaissance. Tóg geniet min uitgewers blywende faam buiten by ‘n klein groepie boekhistorici. ‘n Handvol uitgewers soos J.L. van Schaik, Human & Rousseau en A.A. Balkema het blywende roem in die Afrikaanse letterkunde verwerf. Hoewel die uitgee van boeke – soos die skryf van gedigte – oor die eeue heen ‘n besondere aantrekkingskrag vir mense gehad het, is die publiek grootliks onkundig oor wat ‘n uitgewer presies doen.

‘n Mens sou breedweg twee soorte uitgewers kon onderskei. Die een soort gee vir die mark uit en soek dus geskikte outeurs om aan daardie mark se behoeftes en smaak te voldoen. Dié beleid is die rede vir die publikasie van kookboeke, reisgidse, tuinboeke, ensovoorts. Daarenteen identifiseer ‘n klein minderheid uitgewers ‘n kreatiewe skrywer en publiseer sy/haar werk met die hoop om die lesers te vind wat daarin belangstelling sal toon.

Die literêre boekemark het egter al hoe meer ‘n prosamark geword en word gedomineer deur “topverkopers” van bemarkbare, aantreklike skrywers met eksotiese lewenstyle.

Maar literatuur kan nie van topverkopers alleen leef nie. Die digbundel is steeds die hoeksteen van ons boekekultuur, en vooraanstaande Afrikaanse digters geniet ‘n openbare bekendheid wat veel groter is as wat deur die verkope van hulle digbundels weerspieël word.

Een strategie wat ‘n uitgewer van poësie kan volg om ‘n groter mark vir sy bundels te skep, is om die nuutheid van sy digters as ‘n “verkoopspunt” te gebruik. Die behoefte aan “nuwe stemme” en “jong gesigte” het gevolglik tot ‘n drastiese verandering gelei. Waar ‘n debuutdigter voorheen min geleentheid gehad het om gepubliseer te word, en dikwels sy bundel self moes publiseer, en selfs daarna min aandag in die pers geniet het, is die teenoorgestelde op die oomblik waar. Die media het ‘n onversadigbare honger na steeds nuwer stemme. Bestaande nuwe stemme word dus gou vergeet en slegs ‘n handjievol “nuwe stemme” kry ooit die geleentheid om later hulle eie selfstandige digbundels te publiseer. Die belangstelling in ‘n nuwe digter of digbundel is dus van kortstondige, verbygaande aard, en die “lewensduur” van ‘n boek in ‘n boekwinkel word steeds korter.

Uitgewers probeer dus om ‘n tweede strategie te volg en publiseer ook bundels wat langer die openbare aandag gaan geniet. Myns insiens gaan uitgewers in die toekoms probeer om al hoe meer digbundels te publiseer wat internasionale aandag gaan geniet.

Watter Afrikaanse digbundels kan los staan van hulle taal, hulle land en hulle tyd – en dus wêreldliteratuur wees? Groot literatuur is immers in vertaling en in ‘n ander geografiese milieu en tyd net so belangrik as in die oorspronklike taal, samelewing en tyd waarin dit verskyn het.

Hans Magnus Enzensberger het in die vroeëre uitgawes van Museum der modernen Poesie (1960) daarop gewys dat daar geen nasionale poësieë meer bestaan nie – slegs ‘n “wêreldpoësie”. Hierdie gedagtes kan reeds by Goethe (1827) en selfs nog vroeër by Christoph Martin Wieland teruggevind word. Oor in watter mate daar van ‘n “poëtiese wêreldtaal” gepraat kan word, is nog geen eenstemmigheid bereik nie. In later uitgawes van Museum der modernen Poesie (1980 en 2002) beweer Enzensberger dat die poësie van die laaste dekades steeds heterogener en regionaler geword het, dat die vertaalbaarheid daarvan afgeneem en die verskeidenheid daarvan toegeneem het. Die “poëtiese wêreldtaal” het dus in talle regionale dialekte versplinter.

Ek vermoed egter dat die tyd waarin Afrikaanse digters gepubliseer is sonder dat hulle in die “wêreldpoësie” belese is, verby is. Ek vermoed ook dat ons die laaste Afrikaanse literatuurgeskiedenis gesien het waarin dit geïsoleer van die wêreldliteratuur beskou word. Ek hoop dus dat die name van digters soos Neruda, Szymborska, Akhmatova, Celan, Pessoa, Carson en andere in toekomstige Afrikaanse literatuurgeskiedenisse sal opduik.

‘n Mens soek egter tevergeefs na die vertalings van die belangrikste digters in die wêreld in Afrikaans. Watter Nobelpryswenners, digters uit Afrika of selfs die digters van nege van die elf amptelike tale in Suid-Afrika is al in Afrikaans vertaal? Behalwe vir vertalings van Uys Krige, M.M. Walters, en Daniel Hugo, asook die “Poësie uit die verre lande”-reeks en enkele onlangse vertalings van Chinese, Japannese en Oud-Griekse, Duitse en Nederlandse gedigte, lyk die oes maar skraal.

Die impak van Afrikaanse digters op die wêreldletterkunde is op die oog af net so klein soos die impak van die wêreldletterkunde op die meeste Afrikaanse digters. As ‘n mens deur Afrikaans Literature in Translation (1998) van Barend Toerien blaai, lyk dit nie of enige Afrikaanse digters behalwe Breyten Breytenbach en moontlik Antjie Krog ‘n besondere invloed op die wêreldletterkunde gehad het nie. In ‘n lys van die honderd beste boeke uit Afrika verskyn nie eers een Afrikaanse digbundel nie, hoewel Afrikaans darem een van die twaalf (uit meer as 2000 Afrika-tale) is wat ‘n paar skrywers op hierdie lys gelewer het.

Die nuwe digitale en elektroniese media bied egter ongekende moontlikhede om Afrikaanse poësie internasionaal bekend te stel en nuwe lesers daarvoor te wen. Die Versindaba-webblad het in die afgelope ses maande besoekers uit 122 lande gehad. Ongeveer ‘n derde van die intekenare is besoekers uit die Lae Lande. Louis Esterhuizen en Marlise Joubert het boonop met ‘n aantal kreatiewe inisiatiewe gekom om belangstelling vir Afrikaanse poësie te wek, onder andere vennootskappe met organisasies in hierdie lande. Interessant genoeg is ook ongeveer een derde van Protea Boekhuis se ongeveer 3000  facebook-vriende afkomstig van die Lae Lande.

Die uitgewer en die digter is beide entrepreneurs en makkers in ‘n stryd teen  die “naamlose massa van poësieheidene”. Daar is egter nie sprake van enige gelykwaardigheid van die uitgewer en die digter nie. Digters is op die lang duur altyd magtiger as hul uitgewers, al lyk dit op die oog af nie so nie.

‘n Derde strategie waarvan uitgewers gebruik maak om lesers vir hulle digbundels te wen, is om op die oordeel van hulle redakteurs te vertrou. Dit is egter heelwat moeiliker vir ‘n redakteur om ‘n persoonlike stempel op ‘n bundel af te druk, hoewel sommige redakteurs se bundels meer afgerond as dié van ander is. Dikwels is daar vir ‘n selfstandige redakteur ook min geleentheid om ‘n eie styl te ontwikkel as gevolg van die beperkinge van die “huisstyl” van die uitgewer of selfs maatskappybeleid.

Wanneer gekyk word na die 14 Afrikaanse digbundels wat in 2009 by gevestigde uitgewers verskyn het, is dit duidelik dat die lof van redakteurs soos Martjie Bosman van Protea Boekhuis (7 bundels), Riana Barnard van Tafelberg (2 bundels), Etienne Bloemhof  en Alida Potgieter van Human & Rousseau (2 bundels) en Dineke Volschenk van Lapa (1 bundel) glad nie genoeg besing word nie.

Hoewel daar vier gevestigde uitgewers van Afrikaanse poësie is, is daar nie eers vier boekwinkels in die land wat ‘n gesaghebbende aantal Afrikaanse digbundels aanhou nie. Uitgewers sal dus kreatiewe oplossings vir hierdie gebrek moet vind.

Die entoesiasme wat die vorige vyf Versindabas vir Afrikaanse poësie geskep het, kan nouliks onderskat word. Daar is min twyfel dat die sesde Versindaba, vir die eerste keer onder die bekwame bestuur van Stellenbosch se Woordfees, op hierdie tradisie sal voortbou en selfs ‘n nog groter sukses daarvan sal maak.

Dit is egter so dat die uitgee van digbundels nog geen uitgewer of digter al buitensporig ryk gemaak het nie en dat hierdie probleme, in die afwesigheid van groot bemarkingsbegrotings, besonder kreatief aangepak sal moet word. Gelukkig het uitgewers van Afrikaanse poësie nog nooit vir uitdagings teruggedeins nie!

Bookmark and Share

Comments are closed.