Carina Stander. My skoolboyfriend is dood

My skoolboyfriend is dood. Tien jaar gelede al. Dié sien ek laasweek op Facebook. Bretton is dood, en omdat ons twintig jaar laas kontak gehad het, moet dit my seker nie skok nie. Maar nou maak hy deel uit van die gruwelike statistiek in ons land. Nog ‘n bloedjong konstabel dood tydens die uitvoer van sy pligte vir die SAPD. Nog ‘n moord in Kwa-Zoeloe Natal. Hy was deel van die Spesiale Taakmag. Hy was maar 25 jaar oud.

Ek kan nou nie sê dat ek en Bretton juis mekaar se lewensweë beïnvloed het nie. Om die waarheid te sê was ons invloed op mekaar so skraps dat ek tot laasweek toe gedog het sy naam was Brenton. Maar toe ek op veertien my eerste Valentynskaartjie en ‘n botteltjie White Mist by dié hunk met die blas vel kry, het dit my tot ware Vogon poetry geïnspireer. (Dit was, terloops, my laaste Valentynsviering tot op hede. Ek het van jongs as anti-kapitalistiese neigings getoon.)

Die kys het gehou van Valentynsdag tot Paasfees. In daardie tyd het hy een keer by my op die plaas kom kuier. Die Saterdag het ons saam met my suster en broer fontein toe gestap, toe Bretton (voorwaar ‘n goeie atleet) skielik aankondig dat hy nou te moeg is om aan te gaan. En dat ek sommer net daar saam met hom in die kloof sal wag totdat die res terugkom. My ousus was nog altyd ‘n bull-dust-detector soos min. Sy het haar oë skreef getrek teen die hormoondampe, hard gehoes en gesê: “Trek aan jou hemp, boetman, en stap saam. G’n genade vir jou nie.” Boetman vir wie daar g’n genade is nie, het toe maar sy torso bedek en die berg aangedurf.

Dit is al wat ek van hom onthou. Dit, en dat hy sy ma se oë gehad het - groen halfmaantjies wanneer hy lag.

 

Bookmark and Share

Los kommentaar