Luuk Gruwez se gedigte byeengebring

Luuk Gruwez

Luuk Gruwez

Luuk Gruwez, een van ons gereelde medewerkers aan Wisselkaarten,  is sonder twyfel een van die suksesvolste en mees geliefde digters in Vlaandere. Sedert 1973 publiseer hy byvoorbeeld nie minder nie as tien digbundels en pas het Garderobe, ‘n keur uit sy werk, met groot trompetgeskal by De Arbeiderspers verskyn; in dié mate dat Knack.be dit tot hul boek van die week verklaar het en vir ‘n digbundel is dit gewis ‘n besonderse prestasie … ‘n Handeklap wat ons maar net kan beaam, want ‘n unieke digter is Luuk Gruwez inderdaad.

In ‘n bespreking deur Victor Schiferli op De Parool word Gruwez se digkuns soos volg getipeer: “Zijn gedichten […] zijn doortrokken van sterfelijkheid. Bij sommige dichters zou dat loodzware poëzie ten gevolg hebben, vol onheilszwangere symboliek. Maar Gruwez heeft een licht geluid dat toegankelijk is. […] Gruwez is een welbespraakt dichter met een humorvolle blik op het treurigste detail, die een hekel heeft aan overdreven dichterlijkheid. Zijn verzamelde, tot de kern besnoeide gedichten, laten zien hoe hecht zijn werk is en hoe alles daar met elkaar samenhangt, dezelfde dingen die het losse zand van het dagelijkse leven zijn en gedoemd zijn te verdwijnen.”

Hier ter lande is Gruwez se digkuns natuurlik bekend aan die Afrikaanse poësieliefhebber danksy die vertalings wat deur HP van Coller van sy gedigte gemaak is. Dit het in 2007 as Bandelose gedigte by Praag verskyn.

Vir jou leesplesier plaas ek een van dié vertaalde verse onder aan vanoggend se Nuuswekker.

***

Sedert gisteroggend het daar drie nuwe bydraes bygekom. Onder die vaste bloggers vertel Andries Bezuidenhout van die jaar 2002, terwyl Carina Stander weer vertel van ‘n (terloopse) skoolliefde van haar wat deel geword het van ‘n ontstellende statistiek. In die Buiteblik is daar ook ‘n nuwe aflewering deur Marcelle Olivier waarin sy ons op hoogte bring met onlangse gebeure in Engeland.

Lekker lees en geniet die middel-van-die-week-dag. Dit is Woensdag.

Mooi bly.

LE

 

God skryf ‘n brief

 

Ek het dit nie gedoen nie. Dit was iemand anders.

Ek was toe net besig met die miervreter, kopererts,

en al die visse

in die Atlantiese oseaan.

Dit was tog sekerlik nie ek nie.

 

Ek was nie daar nie, watter dag!

Pas het ek Saturnus en Uranus se mane klaar,

of sowaar, ek moes tyd en taal versin

en titels vir die meeste van my handewerk.

 

Ek was pootuit, vind nêrens rus,

want slaap was nog nie geskape nie.

My oeuvre het in omvang toegeneem.

Veral die vrou het vreeslik sorg geverg.

Sy moes nog skouers kry en ‘n kapsel,

verliefdheid, mymeringe, moederskap.

En erogene sones waarvan ek weinig weet.

 

Ek het geen tyd gehad, watter dag!

Daar’s van my verwag deur hulle wat toe nog nie was

dat daar ‘n oerknal sou wees in die heelal.

En dan die regte volgorde, ja dit veral:

die proefbuisbaba en die tandestokkie,

die boorplatform en ook ekself.

 

Eintlik wou ek net sê, liewe vriend:

dit was beslis iemand van ‘n ander oorde,

‘n konkurrent met meer talent,

wat iets so salig en sagaardigs

geskep het soos die dood.

 

© Luuk Gruwez (vertaling: HP van Coller, Bandelose gedigte, 2007: Praag Uitgewers)

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.