Philip de Vos. Fiona Coyne

Op die 4de Augustus kry ek ’n e-pos:

Fiona Coyne wants to be friends on Facebook,
 
Dié dag het ek gewonder waarom Fiona Coyne juis vir my skielik as Facebook-vriend wou hê en het met my slegte gewoonte van uitstel, besluit om wel later daarop te reageer.

Ek het Fiona leer ken toe ek destyds nog operasanger was,en ons saam in die musical Annie opgetree het.

Ek het later weer van haar bewus geword as die sogenaamde bitsige aanbieder van The Weakest Link TV-program.

In 2004 was ek juis besig met foto’s neem vir my fotoboek Milieu met foto’s van kreatiewe Suid-Afrikaners en het besluit om haar te nader, maar is vertel dat sy deur die TV-maatskappy beveel is dat sy slegs in haar kenmerkende swart drag afgeneem mag word.

Met die neem van die foto’s was ek, ten spyte van haar swart klere van ’n skugterheid bewus, so anders as haar beeld op TV.

Daarna het ek Fiona nooit weer gesien nie.

 

Vandeesweek , op 18 Augustus lees ek die volgende opskrif in Die Burger:

Weakest Link aanbieder sterf.
 
 
’n Dag daarna:
 Aktrise neem eie lewe.
 
 
En op die 20ste: 
 Vrees vir mislukking en eensaamheid lei tot selfmoord.
 
 

 

 

En skielik onthou ek van die e-pos van die 4de en dat ek nooit daarop reageer het nie. Op die Facebook-blad is daar slegs twee opsies as iemand vra om jou vriend te wees: confirm as friend of anders ignore. En ek  het geen een van die die twee gedoen op die dag dat ek dit ontvang het nie.
En al wat my nou steeds bybly is die foto van haar in Milieu, weerloos en effens skugter.
 
  
Bookmark and Share

11 Kommentare op “Philip de Vos. Fiona Coyne”

  1. Daar is seker niks so erg as ‘n skuldige gewete nie. Fiona was ‘n merkwaardige vrou, al het ek haar nooit persoonlik geken nie, het ek groot waardering vir haar werk as aanbieder gehad.

  2. Eduard Bantjes :

    Dankie Philip,
    Dit is vir my so ongelooflik hartseer. Ek kan nie ophou dink aan haar en aan Willie.
    So klein soos sy was was sy so dynamic.

  3. Soos so dikwels weet ons nie werklik wat diep binnekant gebeur het nie. Dis ‘n wonderlike inskrywing, Philip.

  4. Nooit die geleentheid gehad om haar te ontmoet nie……maar haaar werk as aanbieder en aktrise was puik…en jou skrywe….uitstekend…

  5. Marlise :

    Dankie vir jou inskrywing, Philip. Die foto van Fiona is pragtig, kunstig. Sy moes in ‘n diep depressie verval het om so iets absurd te doen soos haar eie lewe te neem. Dit was vir my oneindig hartseer om dit te verneem – ek het haar as TV aanbieder bewonder. Sy had ‘n vinnige skerp brein. Sy het eintlik soveel nog gehad om voor te leef, en sy was nog jonk, maar kon dit sekerlik net nie meer raaksien of ervaar nie. En natuurlik dink ek dat haar egskeiding haar in ‘n verdere belewenis van eensaamheid en mislukking gedompel het. Al sou jy instem tot ‘n Facebookmaat met haar, dink ek eerlikwaar nie dit sou iets op daardie stadium verander het nie. Facebook is ‘n baie oppervlakkige en vlietende vorm van kommunikasie, myns insiens. Dit kan eenvoudig nie diepgaande en direkte kontak met mense en vriende vervang nie. En dis laasgenoemde wat werklik vervullend is.

  6. Dear Philip,

    We are all guilty – Even if you had accepted the Facebook friendship request would you have done anything about it?

    It may seem tedious but returning a simple thing like a Poke on Facebook means a lot to a lot of people.

    My younger sister who is not the greatest correspondent forwards me emails everyday and requests a read receipt with each one without as much as a simple “Hi” – Its her way of staying in touch. At first it used to irritate me but now I accept it and am grateful for the contact.

    Lots of love and hugs
    Johnnie

  7. Karen Barnard :

    Philip, ek vind dit so hartseer dat die mens so ‘n eensame wese is. Midde van al die woelinge van die daaglikse is daar so baie wat worstel met onsekerheid en onbeantwoorde vrae. Ek self raak so vasgevang in die vereistes van die oomblik dat ek dikwels vergeet om om te sien na die behoeftes en oomblikke van uitreik van die om my. Die Arbeit uber alles-sindroom is dikwels ons sosiale ondergang.

    Found the photo poignant – revealing vulnerability.
    Regards Karen

  8. Vicky Taljaardt :

    Loop ons nie maar almal met ‘n “het-ek-nie- maar” in ons lewe rond nie ?
    Dankie Philip dat jy my net weer bewus gemaak het.

  9. Op 18 was ek en Fiona in 1983 die jongste onder die dramastudente en het saam klaargemaak. Daar was geen swak skakel in haar ketting nie – nie toe nie. Sy was vasbyter aanhouer niks en niemand kon haar drome of planne stuit nie. Ek het soms so na haar gekyk en gedink sjoe girlie maak niks op aarde jou ooit down nie, is daar ‘n oomblik dat jy nie die lewe geniet nie? En ek kyk weer na haar foto met die bos woeste rooi hare en is verbysterd. Sy was ‘n advertensie vir lewe. Haar redes verstaan ek maar nie dat iemand soos sy juis sy so totaal kon hoop verloor nie. Ai Philip ons is almal maar net kleipotte wat maklik breek. Dis so blerrie sad…

  10. Simoné :

    So vlietend is alles, so onvoorspelbaar…Laat ons elke dag die goed wat ons kan doen, doen en die mooi in alles en almal om ons raaksien. Dankie vir die raak-skryf van jou gevoelens, Philip. In ‘n mate meer mense s’n wat jy verteenwoordig.

  11. Anton Stoltz :

    Dit was my voorreg om destyds nogal paar keer lekker te kon kuier saam met Fiona en Willie. Haar spitsvondigheid en entoesiasme vir alles teater sal my altyd bybly. Die dag toe sy my FB maatjie uitnodiging aanvaar het was vreugdevol. Sy was steeds die pragtige mensie wat ek onthou. Op gevreetboek het ons netso lekker gekuier. Ek mis haar.