Johann Lodewyk Marais. Die Ernst van Heerden-versameling, Gent

I
Ek het my skool- en vroeë universiteitsopleiding ontvang in die jare toe Suid-Afrika as gevolg van sy binnelandse beleid beperkte akademiese en kulturele kontak met die buiteland gehad het. Op universiteit was ek gelukkig nog deel van ‘n generasie studente wat in die kursus Afrikaans en Nederlands deeglik in die Nederlandstalige letterkunde geskool is. Ek kon indringend leer van die Nederlandse kultuurgeskiedenis, terwyl meer as die helfte van my wysbegeerte-handboeke in Nederlands was. Hoewel ek geen Nederlandse taalkursus bygewoon het nie, het ek dit reeds van my hoërskooldae af maklik gevind om Nederlands te lees en te verstaan.

Die kulturele boikot wat in 1979 deur Nederland teen Suid-Afrika ingestel is, is kort daarna deur Afrikaanstalige akademici en kultuurleiers nog meer effektief gemaak toe hulle met mening probeer én grootliks daarin geslaag het om van Nederlands as universiteitsvak ontslae te raak. Baie van ons wou al minder met die Nederlandstalige wêreld te doen hê. Binne hierdie gewaande sfeer van kulturele selfstandigheid is Nederlands al minder in Suid-Afrika gehoor (byvoorbeeld oor die radio) en het die Nederlandstalige boek as ‘t ware van die rakke af verdwyn. Die afkoeling van verhoudings tussen Suid-Afrika en Nederland wat reeds rondom die Tweede Wêreldoorlog begin het, is toe voltrek.

Gedurende die 1980’s en begin van die 1990’s was dit vir my generasie al moeiliker om met die Nederlandstalige wêreld kontak te behou (en byvoorbeeld in Nederland te gaan studeer). Om hierdie rede moes ek tot so laat as 1994 wag voordat ek met ‘n lewende Nederlandse digter en akademikus, Ad Zuiderent, kon kennis maak. In dieselfde jaar was dit ook moontlik om Nederland en België te besoek en eerstehands met hulle uitgebreide boekebedryf kennis te maak. Ek het soos ons krieketspelers gevoel wat ná jare van afsondering weer die geleentheid gehad het om internasionaal gesig te wys. Dit was ‘n besonder bevrydende ervaring.

Reeds in 1995 het ek en Renée Marais as die redakteurs van Ensovoort ‘n nommer van die tydskrif aan perspektiewe op die bande tussen Afrikaans en die Nederlandstalige wêreld gewy. Dit was ‘n voorreg om kennis te maak met akademici van verskillende lande wat byna almal die waarde van die hernieude betrekkinge tussen hierdie taalgemeenskappe ingesien het. Wat my betref, het dit die grondslag help lê vir die verstewiging van die bande tussen skrywers, akademici en lesers in Suid-Afrika, Nederland en België. Dit was dan in 1997 ook vir my en Ad Zuiderent moontlik om die bundel Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse en Nederlandstalige gedigte oor die omgewing die lig te laat sien. Altesaam 70 vooraanstaande digters uit die twee taalgebiede het saam gedigte in een bundel gepubliseer. In 2009 het hierdie bundel ‘n agtste druk beleef.

Toe dit weer moontlik was om kulturele bande met die Nederlandstalige wêreld aan te knoop, was dit vir my duidelik dat daar literêr gesproke ‘n aantal dinge nodig was om hierdie projek te laat slaag. Ten eerste was dit noodsaaklik dat Afrikaanse boeke en ander leesstof in die Lae Lande beskikbaar moet wees en eweneens dat Nederlandse boeke en ander leesstof in Suid-Afrika redelik algemeen en bekostigbaar beskikbaar moet wees. Die vertaling oor en weer tussen die twee tale het sekerlik waarde, maar die tekste moes ideaal gesproke in die oorspronklike tale beskikbaar wees. Indien nie, sou hulle totaal van mekaar vervreemd raak en sou daar kwalik nog van ‘n spesiale band sprake wees. Waarom dan nie ook maar boeke uit enige ander taal (soos Duits, isiZulu, Kiswahili, Russies en Sweeds) vertaal nie?

II

Erns van Heerden

Ernst van Heerden

Gedurende Junie en Julie 1997 het ek ‘n kursus oor die taal en kultuur van Nederland en Vlaandere aan die Rijksuniversiteit Gent en die Universiteit Utrecht bygewoon. Die kursus was ‘n inisiatief van die Nederlandse Taalunie om Suid-Afrikaanse Neerlandici die geleentheid te bied om ná jare van afsondering met die Lae Lande kennis te maak en byskoling in die taal en kultuur in Gent en Utrecht te ontvang. In Gent het die groep van vyftien Suid-Afrikaanse Neerlandici ‘n keer die Poëziecentrum besoek. Ek was aangenaam verras oor die groot versameling Nederlandstalige digbundels, literêre tydskrifte en kritiek wat in die sentrum gehou en vir die publiek beskikbaar was. Ons gids het vertel dat min of meer alle Nederlandstalige digbundels in hierdie versameling opgeneem is. Aangesien die versameling in een gebou gehuisves is, was dit boonop maklik toeganklik vir navorsers. So byvoorbeeld het Gerrit Komrij sy navorsing vir al sy bloemlesings hoofsaaklik in die Poëziecentrum gedoen. Hy het ‘n gunstelingstoel en -plek in die sentrum wanneer hy daar navorsing doen.

Aangesien daar onder die groep Suid-Afrikaners wat daardie dag die Poëziecentrum besoek het heelparty letterkundiges was, was daar meer as gesonde belangstelling in die versameling. Ek het dit nogtans ‘n groot jammerte gevind dat daar nie ook in die sentrum ‘n volledige of ten minste betreklik volledige versameling Afrikaanse digbundels, tydskrifte en kritiek bestaan het nie. Ons gids dié dag, me. Van der Perre, en later die hoof, mnr. Willy Tibergien, het positief op die gedagte aan so ‘n versameling Afrikaanse digbundels gereageer. So ook my kollegas proff. Wannie Carstens van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (deesdae die Noordwes-Universiteit) en Dorothea van Zyl van die Universiteit van Stellenbosch.

Vir my was die uitdaging om ‘n redelik uitgebreide bestaande versameling Afrikaanse digbundels in die hande te kry om aan die Poëziecentrum te skenk. Terwyl ek nog in die sentrum rondgekyk het, het ek onthou van Ernst van Heerden se versameling digbundels wat ek ‘n keer tydens ‘n besoek aan sy huis te siene gekry het. Van Heerden het genoem dat sy bundels in die twee groterige boekrakke in sy studeerkamer naastenby volledig is en dat baie daarvan deur die digters geteken is en persoonlike opdragte aan hom bevat het. Tydens my besoek aan België was Van Heerden reeds ernstig siek en het ek geweet dat die digter Lucas Malan na sy afsterwe sy literêre kurator en die erfgenaam van sy boekery gaan wees.

In gesprekke daarna tussen my, Carstens, Van Zyl en Anton Basson (met heelwat Belgiese bier daarby!) het die opgewondenheid toegeneem om ‘n Ernst van Heerden-versameling in Gent te vestig. Ek het onderneem om Ernst van Heerden en Lucas Malan te probeer oorreed om die digbundels aan die Poëziecentrum te skenk. Van Heerden het boonop in 1953 op ‘n proefskrif oor die beeldgebruik in N.P. van Wyk Louw se poësie aan die Rijksuniversiteit Gent gepromoveer. Dit sou dus heeltemal gepas wees om die versameling daar te huisves en om op dié manier hulde aan Van Heerden te bring wat saam met heelparty ander verdien om wyer bekend te wees.

Ek het Lucas Malan gebel en hom gevra of hy my versoek aan Van Heerden sal oordra. Dit het min oorreding geverg om Malan se goedkeuring te kry en hy het onderneem om met Van Heerden daaroor te gaan praat. Hy kon my kort daarna meedeel dat ‘n erg verswakte Van Heerden ingestem het en dit as ‘n goeie gedagte beskou het. Ek het die besluit aan Carstens oorgedra. Van Heerden het in September 1997 gesterf en die taak is aan Basson, destyds verbonde aan die Universiteit van Vista, opgelê om die versameling te katalogiseer.

Met die hulp van die Algemeen Nederlands Verbond, die Orde van den Prince, die Vlaamse Instituut voor Zuidelijk Afrika (VIZA) en die Gentse tak van die Marnixring is die versameling van 609 bundels na België geneem. Met die steun van die Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit en Protea-boekwinkel op Stellenbosch word die versameling gereeld aangevul.

Poëziecentrum en 't Toreken in Gent

Poëziecentrum

Die Ernst van Heerden-versameling is op 27 November 1998 amptelik aan die Poëziecentrum oorgedra. Die geleentheid is deur Carstens en Van Zyl bygewoon. Hulle het ook die tiende herdenking van die bestaan van die versameling bygewoon, wat gereeld met nuwe bundels aangevul word. Carstens noem die versameling “die grootste erflating vir Afrikaans van die Taalunieprojek, wat eintlik ingestel was op die uitbou van Nederlands in Suid-Afrika. Dit demonstreer die waardevolle wedersydse gevolge van ‘n sinergie tussen Afrikaans en Nederlands.” Vir my is dit nog steeds ‘n wonderlike gedagte dat daar so ‘n versameling tot stand gekom het waarin Afrikaanse poësie, die belangrikste enkele skepping in die Afrikaanse kultuur, opgeneem is.

 

III

Die afgelope paar jaar is daar ‘n lewendige debat oor die voortbestaan van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein. (Ensovoort het verlede jaar ‘n hele nommer daaraan gewy.) Uit dié gesprek en my eie betrokkenheid by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) weet ek hoe riskant die bewaring van ons kulturele erfenis is. Ek het immers beleef hoedat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) Africanaboeke wat vroeër onder spesiale toestande bewaar is vir R1 stuk verkoop het. Die instandhouding, voortbestaan en gebruik van sulke versamelings is op die spel.

In ‘n era waarin duisende Suid-Afrikaners (onder andere ‘n groot aantal Afrikaanssprekendes) hulle in die buiteland bevind, is dit gewens om Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) boeke daar beskikbaar te hê. Saam met die akademiese belangstelling in Afrikaans by ‘n twintigtal buitelandse universiteite kan dit daartoe bydra om die belangstelling in en bestudering van Afrikaans lewendig te hou. My droom is dus dat daar selfs meer versamelings soos dié in Gent tot stand sal kom. Dit behoort wonderlik te wees om ten minste één boekery (benewens die versameling in die Suid-Afrikaanse Instituut in Keizersgracht 141, Amsterdam) in die buiteland te hê waarin ‘n uitgebreide versameling Afrikaanse boeke in alle genres bewaar word. Hopelik sal ons die nodige befondsing vir sulke inisiatiewe en skenkings bekom.

(Aangebied vir die Marnixring van Johannesburg op 12 Augustus 2010. Johann Lodewyk Marais.)

Bookmark and Share

Comments are closed.