Onderhoud met Len S. Louw

Om weer kind te kan wees …

Len S. Louw in gesprek met Louis Esterhuizen

Omslag

 

 

Len Louw is gebore en het grootgeword op ‘n skaapplaas in Damaraland in wat toe nog Suidwes-Afrika was. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en later ook Universiteit van die Vrystaat. In die laat tagtigs woon en werk hy in Nieu-Seeland en vanaf 1996 as spesialisnarkotiseur in Worcester tot sy uittrede vroeg in 2009.

Len, jy het die literêre wêreld nogal ietwat onkant betrap met jou gedigte aangesien dit jou eerste publikasie is, indien ek dit nie mis het nie? Nietemin, kan jy dalk ietsie omtrent jouself vertel by wyse van bekendstelling?

Die maklikste sal wees om een van my vers-gedagtes aan te haal:

ek is die mensmasjien

ek werk met tyd

ek verwerk die sekondes

en ryg die dae

in ‘n mite van geheue.

 

Vir die meer  konvensionele raamwerk  kan ‘n mens opsom:

Gebore 1951. Begin eie denke en menswees ontwikkel op ‘n skaapplaas in noord-Damaraland. Grootwordjare heen en weer tussen Suidwes-Afrika en die Kaap. Werk later in Natal. Ook amper 4  jaar in Nieu-Seeland in die dae toe jy nog die ander eks-Suid-Afrikaners in dié mooi, vervelig-veilige eilandjies op jou tien vingers kon tel. En Vrystaat.  Uiteindelik dwing die lewe meer gevestigheid op my af: Worcester, maar met vele reise.

Iemand se kind, se eggenoot, se skoonseun,  “Dad” vir twee,  hansie-die-kneg in die mediese wêreld waaruit ek ‘n bestaan moes maak.

Tans leer ek om knaend te kla.

Op watter stadium het jy begin gedigte skryf? En, waarom dié spesifieke passie?

Vanaf 1969, matriekdae. Ons generasie was baie ingenome met ons ontvanklikheid vir Breyten en Jonker! Hoekom gedigte? Ek weet nie en ek wil dit ook nie psigo-analiseer tot ‘n sinnelose gebrabbel nie. Miskien is daar bevryding in die vasvang en verdigting van idees en beelde; ‘n uitsweet.  Die ontknoping en belewing met die leesslag hang egter van die leser se eie menslike ervaringswêreld af en die digter het nie ‘n saak daarmee nie. En  dié wat geen eie lewenservaring het nie, sal deur ‘n onnie of resensent aangesê word presies hoe om die gedig te beleef, moenie worry nie.

Is daar ‘n rede waarom jy so lank gewag het voordat jy tot publikasie van jou gedigte oorgegaan het? Vertel sommer hoe dié bundel, “aan’t  stap“, tot stand gekom het?

Die skrywery het in sinusgolwe plaasgevind, soos alles in die lewe.

Watter ou, wat nie ‘n lewe uit die letterkunde maak nie, dink regtig aan publikasie? Versies is maar soos foto’s in laaie. Jy sal dan en wan herlees, skaaf, herkou en weer in die laai gooi.  My professionele loopbaan het regtig nie veel tyd gelaat om oor my eie ou gediggies te tob nie en boonop moes ‘n mens nog tyd inruim om ánder se gepubliseerde digwerk te lees en probeer verstaan …

As ek op kennisse se aandrang wel van die goed voorgelê het, is dit deur die beoordeelsters  (wat ‘n lekker ingesuurde woord!) bekrap en OORGESKRYF in onherkenbare, totaal on-Len herskeppings. Toe besef ek vroeg al dat die lewe wat ek deur my bril raaksien, misvormd lyk vir mense met ander voorskrif-brille. Dus, dat die Afrikaanse poësie-wêreld baie eng bewaak word.

Dan druk jy die goed weer in die laai tussen foto’s.

Hier op my oudag het ‘n kollega Hendrik Botha besluit dat Len Louw SAL publiseer, al is daar net 3 mense wat dit lees en aanklank vind. En so het ek oorgegee. Hendrik het meer toegang tot die digterskringe en het aan almal werk uitgedeel, self aan Fanie Olivier ge”neul” om tog maar ‘n seleksie te doen uit my pogings.

Gee die span al die eer vir hul oorredingsvermoë!  En vir Leti Kleyn vir haar onblusbare energie en geloof!

Die hele begrip van “reis” is ‘n belangrike gegewe in die bundel; van die titel en openingsgedig tot en met die aangrypende slotverse. Kan jy dalk vir ons uitbrei op presies wat dié begrip vir jou spesifiek beteken?

Mense wat permanensie nastreef, wat nie besef dis net ‘n reis nie, is seker maar die sout van die aarde?  Sout gee hipertensie en so aan. Ontstellende mense. Die lewe is ‘n reis van hardegat-DNS-toeval.

Len, digters in Afrikaans wat ‘n wetenskaplike agtergrond (in jou geval medies) het, is nogal skaars. Het jou mediese agtegrond enigsins ‘n invloed gehad op jou skryfwerk of is dit vir jou ‘n totaal ánder dissipline?

Die proses van mediese spesialisasie is ondenkbaar vir iemand wat nie die vreeslike pad moes loop nie.  Ek kla nie. Ek stel dit as ‘n feit van eindproduk-eksklusiwiteit. Slu en genadeloos máák hulle uit jou ‘n narkostiseur of ginekoloog of wat ook al. Jou lewe werk jy met die smart, vrees en dikwels vals hoop van mense wanneer hulle op hul weerlooste is. Dis nie wetenskap nie.  Dis ‘n allesoorheersende lewensratwerk wat in jou slaap en denke en humor voortdonder. As jy vleis eet, ken jy die naam van die spiere waaraan jy kou. Jy leer lieg die nodeloosheid van lyding weg, want jy kan nie soos ‘n predikant gou hospitaalbesoek doen en alles reduseer tot die jirre-se-raaiselspieël nie.  O, nee! Snags vergesel die verlamde jong motorfietsslagoffer jou op jou droomreis.

Elke siekte- of vrees-verleentheid van ‘n medemens is vir jou OU nuus..

As ons maar weer kinders kon wees.

Jou verse is deurspek met ‘n besonderse aanvoeling vir die natuur en landskap … Waar kom dié spesifieke gevoeligheid vir jou vandaan?

Landskappe bespied uit ‘n lugversorgde motor, uit ‘n viertrek op gevaarlike paaie, uit ‘n hipermoderne trein deur Duitsland, vanaf ‘n bootjie in die Fjords van Noorweë of Nieu-Seeland, of uit ‘n klein vliegtuigie oor die Namib: sommige mense sien potensiaal om geld te maak, ander is hiperverveeld en slaap die pad om, ander kyk daarna soos uit ‘n ruimteskip en wonder maar oor dit alles.  Besluit self.

Heelwat van die verse in jou bundel kan as “onthou”-verse beskryf word. So ook is daar ‘n groot aantal verse wat aan spesifieke persone opgedra word. Uiteraard verleen dit aan die bundel ‘n bepaalde aanslag en fokus … Mag ek daarom vra wat die maak van gedigte spesifiek vir jou beteken? Is dit ‘n vorm van terapie, byvoorbeeld? Of merendeels dokumentering? ‘n Vorm van dagboek-hou?

Die vraag is grootliks aangespreek.  Moenie te veel analiseer nie, dan lieg ‘n mens jou later in ‘n ding in!

Een van die aangrypendste “onthou”-verse in die bundel, is myns insiens die vers “Rooison” wat jy aan ene Celia opgedra het. Vertel ons ietsie omtrent die ontstaansgeskiedenis van dié vers?

Sy het die grootword op die plaas meegemaak. Ons het saam gesien hoe ‘n dag-oud karakoellammers se kele afgesny word en hoe die son alles wat mooi is verskroei.  Ons het vroeg al geweet wat wag. 

Len, ‘n besonderse kenmerk van jou bundel is die helder “eie stem” wat daarin weerklink; iets wat nogal uniek is met ‘n eerste publikasie. Is daar egter digters (of gedigte) wat jy sou kon uitsonder as bepalende invloede in die ontwikkeling van jou eie skrywersskap?

Een dag gaande oor die een, die volgende dag oor ‘n ander. Onregverdige vraag. Ek kan byvoorbeeld  Breyten Breytenbach (se vroeër werke), Ina Rousseau, Marlise Joubert, Ingrid Jonker, George Weideman weer en weer lees. Watse onderbewustelike invloed watter digters op my waarneming van die lewe gehad het? Maak dit saak?  Nie vir my nie. Daar is buiten hulle soveel ander juwele (tussen andersins soveel geforseerdheid), dat ek as nie-lettekundige my maar deur my gemoedstemming laat lei.    

Dankie vir hierdie gesprek, Len.  Mag ek vra dat jy as toegif aan ons lesers ‘n gunstelingvers van jou hieronder plaas? (Dit kan uiteraard ‘n eie vers wees, of enige ander vers wat vir jou persoonlik van groot waarde is …)

Gaan kyk weer na die deernis in Ina Rousseau se “JAN” :

 Terwyl sy vir haar gesin ‘n broodjie

van water en witmeel maak,

dink sy weer aan ‘n man met die naam

Jan. Hoe hy eens op ‘n tyd ‘n baadjie

gedra het van bruin riffelferweel

en die woord dadelik

stukkend gebreek het tot drie enkelklanke

een dodelike stormdonker dag. So: daa de lik –

en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik

is onskadelik. Sy plaas die pan

in die oond en gaan na die hoofslaapkamer.

Baie stadig kam sy haar hare

terwyl sy deur die raam

na die sonsondergang staar.

So baie herinneringe,

so baie baie herinneringe deur so baie jare

van haar bestaan,

aan ‘n man met die naam

Jan –

© Ina Rousseau (uit :‘n Onbekende Jaartal, 1995: Human & Rousseau)

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Onderhoud met Len S. Louw”

  1. Rene Bohnen :

    Len – 1983, dokterskwartiere, Ladysmith. (Ons was in ‘n woonstel, julle was in ‘n huis) Ek gaan jou bundel beslis koop. Baie geluk, ek is bly dit het verskyn.

  2. Daniel Hugo :

    Daar is meer Afrikaanse digters met ‘n mediese agtergrond as wat ‘n mens sou dink: C. Louis Leipoldt A.D. Keet, Theo Wassenaar, A.G. Visser, Casper Schmidt, Phil du Plessis, Menno Stenvert, Henk Rall, Ilse van Staden, Gilbert Gibson en natuurlik die “wonderdokter” Eugene Marais.

  3. Ek het “Aan’t Stap” as geskenk ontvang. Dankie dat u ons laat saam stap. Dis klaar ‘n kleinood.