Ons doen net ons werk…
ONS DOEN NET ONS WERK
by watter verdieping sou die hyser stilhou in die nag?
buik vol reënjasse, donkerbrille vir irisse
- hoëveld winterbleek -
verstarde onbegrip
wat tot waansin in pupille spiraal
by watter verdieping sou die hyser stilhou in die nag?
nekke deur senings aan handskoene verbind
druk hysbak- en tweerigtingradioknoppies
gespe boeie om polse, wurg strotte, plathand oorskulpe
ysterhande in kunsleer met nylon nate
by watter verdieping sou die hyser stilhou in die nag?
die antwoord in leggerkabinette
growwe grein op foto’s, onbehendige sketse
deur ooggetuies dikteer, aantygings, bystanders,
organogramme, beskrywings deur “bronne”
ek vra weer:
by watter verdieping gaan die hysbak stilhou in die nag?






Skaars 2 maande in die Letteregebou en die hysbakke gee jou al koorsdrome?! Hehe. Maar ernstig nou: ek hou van die gedig.
Nee, Desmond, dis nie die Letteregebou nie, alhoewel geheime agente 15 minute by beplande klopjagte hier sou moes voeg. Dis maar net die geluide wat die staat op die oomblik maak, en die taal wat gebruik word. Dit klink so bekend.