Carina Stander. Deesdae eet ons ysterbrood en besemvleis

Deesdae eet ons ysterbrood en besemvleis. Dis Aden-drie-jaar-oud se eie woorde vir roosterbrood en beesvleis. Gister was sy verjaardagpartytjie. Sewe rampokkers in ons tuin. Tema? Dinosourusse. Hoe dan anders? Die gier is so groot, dat boetiebambi my diplomaties reghelp met: “Nee, Mama, dit lyk soos ‘n allosourus, maar eintelik is dit ‘n koelofises.” Ek hensop, maar kla nie - dino’s is ‘n gawe intro tot Latyn:).

Dinosaurussie

Dinosaurussie

Gister was die eerste keer dat ek en Gerrit soos regte, egte peuterouers ‘n temakoek gebak het. Gerslim het ‘n resep vir tuisgemaakte fondante versiersuiker gegoogle en alles netjies saam geklits. Ek het die koek gebeeldhou: ‘n onaardige stegosourus-trikeratops-kruising, kompleet met stekels en skubbe en horings en tande.

Daar is ‘n mammoet van ‘n springkasteel in die tuin staangemaak - gratis, geleen by vriende. Ons het ballonne opgeblaas, springmielies gespring, koekies gebak, klein dino’s soos fetussies in geel jellie laat stol. Ek het die kinders se gevreetjies soos oerdiere geverf. Stukke van ‘n plastiek dinosourus-geraamte en allerhande regte beendere is onder die blare in die bos versteek, waar die rakkers dit “ontdek” en gebou het. En met die skattejag kry elkeen toe stiekers en kapsules wat in die water uitswel tot dino’s. Sulke regte seuntjiepret!

Vandag is Aden se eintlike verjaarsdag. En dit bars al die hele dag in my van woorde.

“As dit donker is, is my ogies weg” sê my seuntjie.

“Askies dat ek so vlieslik (vreeslik en vieslik) op jou geskree het.”

“Dankie dat ons so lekke deurmekaar (bymekaar) kan wees,” bid hy.

Laasweek na werk: net ek en Ger en Aden op die 3km strand. Laagwater getypoele. Sien pers en oranje seesterre so groot soos ‘n man se hand. Aden steek sy vinger in die seeanemone, gooi slakkies vir die visse, roep die swart tobie op die rotse. Met die terugstap hol ‘n bosbokram voor ons uit. Later die aand ook twee bosvarke met ‘n kleintjie. Hierdie is habitat, ons broeiplek.

Vandag is my eersteling drie jaar oud en dit bars in my van woord en beeld.

Saterdag vandag. ‘n Slaapwarm lyfie kruip agt uur vanoggend by my in. Ons eet outspap met jogurt, bou torings van mega blokkies, speel met leeus en kamele. Oor die radio luister ons na Pieter en die Wolf van Prokofiev en Die Gemmerkoekman se storie, lees dan Richard Scarry en sprokies en ‘n rympieboek. Die twee ure van sy middagslapie skryf ek. Laatmiddag klim ons berg. Al deur die ouwoud tot heel bo waar die fynbos begin. Taai heide kleef aan sy trui - rooi trompetjies. Hy skater en jaag sy pa deur die keurbome wat nou pienk blom. Ek sien die strandmeer en see deur die takke. Spikkellig. Ek het geen verweer meer nie. Laat daar eendag teen my graf dan maar net dit staan: She loved well.

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Carina Stander. Deesdae eet ons ysterbrood en besemvleis”

  1. Jo Prins :

    dis goed so!

  2. Jo,jy’s nou op dieselfde plek. Sommer geweet jy sal verstaan.

  3. Jo Prins :

    Soggens drink sy haar rooibosteetjie saam met my in die bed wyl mamma vir werk aantrek. Ek moet dan ook tussendeur slukkies gevoer word. En dan waai sy ewe met die een hand vir mamma wanneer sy tatta ;-)

  4. Wysneus :

    My sesjarige wil niks weet van stories voor bedtyd nie. Nee - dinosaurus ensikopedie nommer hoeveelookal. Gisteraand raak hy skoon bewoë toe ons lees oor Barnum Brown en sy fossiel-ontdekkings. Wat’s fout? Hulle gaan niks vir my oorlos om te ontdek nie.

    (Terloops, ek dink dinosaurus-name is meesal Grieks. Myne maak name op vir sy toekomstige ontdekkings, bv. Deinodont - terrible tooth.)

  5. Jo, hartkloppings, hierdie tye van kleinmensies en oggendtee. laat my dink aan die Stokenstrom:

    Van al my liggeel dae
    teken ek hierdie een op;
    dat ek later kan weet hoe swerms
    duiwe van die dakke waai,
    en dat ek, as ek wil,
    later kan lees van ‘n liggeel
    dag en van jou hier langes my

  6. Wysneus, smaak my jy broei ‘n wysneusie uit. Deinodont, great!:)

  7. Wysneus :

    Vier wysneuse(en daar hul maltrap ma).

  8. Leon Retief :

    @Wysneus: jy kan altyd jou kinnertjie vertel dat daar sommer baie ontdekkings is om te maak om die tans ietwat deurmekaar idees oor hoe voels van dinos afgestam het reg te sien!

  9. Wysneus :

    Leon, nou die oggend sit my seuntjie na kerk in diep gesprek met ‘n ander laaitie. Ek vra hom waaroor dit gegaan het, en hy sê: “O, hy dink voëls het afgestam van pterosaurs, ipv dinosaurs.” (ek het die grammatika effens opgeknap)

  10. Leon Retief :

    @Wysneus: Askies, my vorige poging om te pos het om een of ander rede in die niet verdwyn, so verskoon asb as hierdie boodskap twee keer verskyn. Jy kan jou seuntjie vertel dat daar heel moontlik ‘n omwenteling gaan kom in die gedagtes oor presies HOE voels uit dinosouriers ontstaan het, dalk kan hy nog eedag help om die sakie op te klaar. Deinodon is die naam wat gegee is aan tande van dinos wat in die middel 1800s in Montana ontdek is, dit was die eerste oorblyfsels van dinos wat gevind is. Vandag is daar nie meer so so ‘n naam nie so jou seun kan dit dalk eendag gebruik, maar as ek reg onthou is dit Deinodon en nie Deinodont nie.

  11. Wysneus :

    Leon, jy’s reg, natuurlik. Soos iguanaDON, en hypsilophoDON.

Los kommentaar