Die digkuns as rouproses: Martina Klopper se Nadoodse ondersoek (2010)

Die digkuns as rouproses: Martina Klopper se Nadoodse ondersoek (2010)

Jaco Barnard-Naudé

 

Jaco Barnard-Naudé

Jaco Barnard-Naudé

Jaco Barnard-Naudé is mede-professor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad. In 2006 behaal hy ‘n LLD onder leiding van Prof Karin van Marle aan die Universiteit van Pretoria. In dieselfde jaar ontvang hy die Universiteit van Kaapstad se Fellows’ Award vir uitnemende navorsingswerk deur ‘n jong akademikus. In 2007 ontvang hy die Cliffe Dekker navorsingsprys vir ‘n artikel oor kritiese teorie en transformasie in die Suid-Afrikaanse kontraktereg. Hy vertrek eersdaags na Londen ten einde ‘n navorsingsgenootskap onder leiding van Prof Slavoj Zizek aan die Universiteit van Londen op te neem.

 

 

 

Inleiding

Hierdie essay vorm deel van ‘n gestadigde navorsingsprojek oor melankolie en rou in die sosiale wetenskappe.[1] Teen die agtergrond van Desmond Painter se onlangse LitNet Akademies onderhoud met Bert Olivier (Painter & Olivier 2010), waarin geïllustreer word hoe die psigologie (maar ook die hele sosiale wetenskappe) vandag deur ‘n soort neopositivisme oorheers word – ten koste van die psigoanalise as kritiese teorie – bied hierdie essay ‘n psigoanalitiese lees van Martina Klopper se debuutbundel, Nadoodse ondersoek (2010). Die Freudiaanse onderskeid tussen melankolie en rou word via die werk van Derrida en Kristeva geproblematiseer. Die kernbetoog is dat Klopper se poësie gelees kan word as ‘n soort rouproses – ‘n rouproses wat nie ooreenstem met die Freudiaanse proses nie, maar veel nader is aan die soort melankoliese rou wat in Derrida se later werk beskryf word. Die essay eindig met ‘n betoog vir kliniese afstandelikheid as voorwaarde vir sinvolle terapie.

 

Freud en Derrida oor melankolie en rou

In sy beroemde essay oor melankolie en rou onderskei Freud tussen melankolie as die ego se onvermoë om afstand te doen van die cathexis jeens die verlore of gestorwe liefdesobjek, teenoor rou wat hy definieer as juis hierdie afstanddoening (Freud & Whiteside 2005:201-218). Vir Freud is suksesvolle rou die manier waarop die ego, na die verlies van die liefdesobjek, nuwe sosiale en erotiese verbintenisse kan vorm deur afstanddoening van die ego se libidinale investituur in die verlore liefdesobjek. Hierteenoor is melankolie ‘n patologiese toestand wat bestaan as ‘n ‘profoundly painful depression, a loss of interest in the outside world, the loss of the ability to love, the inhibition of any kind of performance and a reduction in the sense of self…’ (Freud & Whiteside 2005:204). Melankolie bestaan dus vir Freud as die onvermoë om die libido te onttrek van dit wat gestorwe of verlore is. Soos Freud dit opsommenderwys stel: ‘In mourning, the world has become poor and empty, in melancholia it is the ego that has become so’ (Freud en Whiteside 2005:206). Melankolie hou dus in wese verband met ‘n tipe narsissisme – die verlore geliefde is nie die objek van rou nie, die verlore ego word in melankolie die objek van rou (Freud & Whiteside 2005:207).

In die werk van Abraham en Torok (1994) word die verskil tussen melankolie en rou geassosieer met die verskil tussen introjeksie en inkorporasie. Introjeksie is die beginsel van geleidelike self-transformasie in reaksie op die interne en eksterne veranderinge in die sielkundige, emosionele, relasionele, politiese en professionele landskap. Normale rou is dus ‘n proses van introjeksie. Melankolie, aan die ander kant, is ‘n proses van inkorporasie, aangesien inkorporasie te make het met die verwydering van ‘n onuithoudbare realiteit en die afsondering daarvan in ‘n onbegaanbare / ontoeganklike gedeelte van die psige.

Joan Kirby (2006:461-4) dui aan dat die fundamentele probleem aangaande die melankolie / rou of inkorporasie / introjeksie onderskeid daarmee te make het dat beide hierdie binêre onderskeidings steun op ‘n sogenaamde sekondêre of tweede moord op of doodsveroorsaking van die (reeds gestorwe of verlore) Ander. By introjeksie word die ander eenvoudig deel van die self; by inkorporasie word die andersheid van die Ander eenvoudig ontken wat neerkom op ‘n ontkenning van die realiteit van die verlies.

Dit is juis aangaande die stabiliteit van hierdie problematiese onderskeid tussen introjeksie en inkorporasie en melankolie teenoor normale rou waar Derrida tussenbeide tree. Derrida argumenteer dat melankolie nie eenvoudig of onproblematies van normale rou onderskei kan word nie, aangesien daar geen rou is wat nie op die een of ander wyse narsissisties is nie. In sy antwoord op ‘n vraag of daar ooit iets soos ‘n nie-narsissistiese rouwerk kan wees, antwoord Derrida as volg: ‘Narcissism! There is not narcissism and non-narcissism; there are narcissisms that are more or less comprehensive, generous, open, extended. What is called non-narcissism is in general but the economy of a much more welcoming, hospitable narcissism, one that is much more open to the experience of the other as other. I believe that without a movement of narcissistic reappropriation, the relation to the other would be absolutely destroyed, it would be destroyed in advance’ (Derrida & Weber 1992:199).

Vir Derrida is daar dus geen sprake / moontlikheid van voltooide, normale rou waarvolgens die libido finaal die Ander geheel en al laat gaan nie. Derrida problematiseer herhaaldelik die onderskeid tussen introjeksie en inkorporasie deur aan te dui dat beide hierdie prosesse nie daarin slaag om die ander as Ander te huldig nie (Derrida 1986:xii). Dit sou onder meer inhou dat ‘normale’ rou en ‘patologiese’ melankolie beide misluk; beide hierdie prosesse is ‘ewe’ patologies.

Die punt is hier dat die opname van die Ander (beide in die dimensies van introjeksie en inkorporasie) konstitutief is van die verhouding tussen self en Ander. Derrida maak juis die punt dat ons nie wag vir die Ander se fisiese dood of heengaan ten einde haar te inkorporeer / op te eis nie: “One does not wait for the death of the other to deaden and absorb his alterity” (Derrida & Roudinesco 2004:160). Indien daar egter ooit sprake kan wees van ‘n verantwoordelike verhouding met die Ander moet hierdie toe-eiening van die Ander eenvoudig (voortdurend) misluk. Inteendeel, Derrida gaan so ver as om aan die hand te doen dat getrouheid afhanklik is van die geslaagdheid van hierdie mislukking (Derrida & Roudinesco 2004:160). Om dit anders te stel: die rouproses is beide noodsaaklik en onmoontlik. Sonder die narsissistiese toe-eiening van die Ander is daar geen verhouding met die Ander nie. Dit is wat rou noodsaaklik maak. Rou is egter ook onmoontlik omdat dit nie eties moontlik is om die Ander finaal deur introjeksie / inkorporasie deel van myself te maak nie. Rou is dus dit wat oorbly en dit wat oorbly is hierdie rou. Die logika hiervan sou verwoord kon word as ‘n getroue ontrouheid.

 

Martina Klopper se Nadoodse ondersoek

Omslag

Omslag

Martina Klopper se debuutversameling gedigte, Nadoodse ondersoek, staan in die teken van die digkuns as ‘n soort Derrideaanse rouproses. Hoewel die titel die kil, kliniese beeldwêreld van die forensiese patologie oproep, negeer die epigraaf (Hic locus est ubi mors gaudet succurrere vitae) reeds hierdie beeldwêreld van die titel: “dit is die plek waar afgestorwenes juig om die lewendes te help” (Klopper 2010:63). Ons het tussen die titel en die epigraaf dus reeds te make met ‘n soort dubbelsinnigheid – die (emosionele) afstandelikheid van die patoloog, teenoor die gelyktydige betrokkenheid van die lewendes by die afgestorwenes wat ‘juig’ om hulle te help.

In die derde afdeling van die programgedig ‘Patologie’ bring die digter die skryfdaad in verband met hierdie tweeledigheid van die nadoodse ondersoek: ‘Die digter is ‘n patoloog, / ‘n gedig die lykskouingsverslag:/ om te skryf is om te soek na die oorsaak van ‘n woord.’ (Klopper 2010:10). Om te skryf is dus om terug te keer na die gestorwene, die verlore liefdesobjek en om ondersoek in te stel na die omstandighede van die verlies, om vrae daaroor te stel. Die digter se ‘lykskouingverslag’ in die vorm van die gedig word dus die wyse waarop die digter haar inkorporasie / introjeksie deur rou verantwoord. Die beeldaanwending vanuit die outopsiepraktyk dui op ‘n soort afstandelikheid van die verlore / gestorwe Ander – ‘n noodsaaklike afstandelikheid wat juis die skryf van die gedig moontlik maak. Hier word die dimensie van afstanddoening in die rouproses dus ook verder belig.

Tog is die gedig ‘n soort ‘misdaad’. Die digter eis die Andersheid van die Ander op in die maak van ‘n gedig. “Aan die binnekant van elke woord” “sny” die digter die stilte “versigtig oop”, maar vind dit “meestal dood”. Van haar “medepligtigheid” aan hierdie “misdaad” is Klopper terdeë bewus. Daarom skryf sy: “Dis die stilte ná ‘n gedig / waaragter ek aanskryf. / Ek wil woorde onttroon” (Klopper 2010:14). Om ‘n gedig te skryf is om die stilte te verbreek, maar die gedig is konstitutief afhanklik van hierdie stilte. Uiteindelik is die gedig ‘n soort tribuut aan ‘n voorafbestaande, onbesegbare stilte: “die litteken / van afgekrapte woorde” (Klopper 2010:18).

In die daaropvolgende afdelings van die bundel ossileer Klopper se poëtika voortdurend om die trope van inkorporasie en introjeksie – op so ‘n wyse dat die trope later ononderskeibaar verstrengel raak. Soos Derrida aandui, dit is hierdie soort verstrengeling, hierdie soort mislukking van Freudiaanse rou, die voortdurende bemoeienis met die verlore liefdesobjek, wat die etiese (verantwoordelike) verhouding definieer. In die afdeling “Eksterne ondersoek” belig die digter dat die gedig nie net eenvoudig litteken is nie, maar eerder die wond wat altyd besig is om nog litteken te word. Die gedig as rouwerk is dus ongetwyfeld ook ‘n testament van trauma, van ‘n wond wat sonder ophou “weer en weer sweer” (Klopper 2010:21). Hierdie herbesoek van die oorspronklike wond kom ook aan bod in die gedig “Onderlaag”, met sy sterk suggesties van die rol van die onderbewuste (unheimliche) in die skryfproses.

In die gedig “Nom du père” word die opstand teen die simboliese orde (wat in die psigoanalise van Lacan vergestalt word in die naam van die vader wat ook die “nee” (“non“) en dus die reg van die vader is) as’t ware uitgespel. Die Lacaniaanse spieëlfase word gekompliseer: die dogter word die spieëlbeeld van haar ma, nie (soos in Lacan) van haarself nie. ‘n Komplekse psigoanalise onderstroom hier. Die gedig is ‘n uitstekende voorbeeld van Kristeva se begrip van digkuns gesetel in ‘n maternale pre-simboliese khora (Kristeva & Moi 1986:90-136). In die reël “in die begin was stilte en stilte was wet” kom Kristeva se begrip van maternale reg ook ter sprake. Soos Kelly Oliver dit in ‘n bespreking van Kristeva se Powers of horror (1982) stel:

The maternal body not only embodies a separation that is material but also harbors a regulation that is prior to the mirror stage. The maternal body regulates the availability of the breast, among other things. This maternal regulation operates as a law before the Law. The maternal law prefigures and sets up the paternal Law, which, within traditional psychoanalytic theory, forces the child into language and sociality. (Oliver 1997:2)

In die gedig “One night stand” word die handelinge van ‘n tipies melankoliese geskeide vrou uitgebeeld. Sy besoek ‘n bar, ontmoet iemand wie se soene “verdowing” is, iemand wie se teenwoordigheid haar van die ego se melankoliese greep op die verlore liefdesobjek moet “bevry”. Maar die verdowing misluk, “wellus was ‘n lomp chirurg” (Klopper 2010:30). Die melankolie duur voort.

In die afdeling “Interne ondersoek” val die klem op die binnespraak. Metafore wat met die hart verband hou kom deurlopend voor en die digter speel ‘n fyn woordspel met die hart as orgaan teenoor die hart as metafoor vir emosie, sentiment, ens. Die rou-dimensie meld weereens aan in ‘n gedig soos “Haikoe”: “Jy pluk my hart: / ‘n oopgebarste krismisroos / verlep in jou hand.” Kristeva maak weer haar (min of meer eksplisiete) opwagting in ‘n gedig soos “Ritueel” waarin gedigte aan ‘n naelstring geryg uit die digter se lyf kom. Aan die einde van die gedig sit die digter aan vir die “plasentamaal” (Klopper 2010:47).

Die gedig “Vishuddha” is ‘n belangrike sleutel in die bundel. In hierdie gedig beskryf die digter met behulp van dansbeelde die “disharmonie” tussen die intellek en die emosie. Dit is interessant dat Plato reeds hierdie disharmonie in die Republiek beskryf het met die anekdote van Leontius (Plato & Waterfield 1993:150-1). Leontius keer op ‘n dag terug na Atene en tref buite die noordelike stadsmure die lyke aan van gevangenes wat vroeër die dag ter dood veroordeel en gevonnis is. Leontius wil eers glad nie na die lyke kyk nie – inteendeel, dit is ‘n misdaad vir ‘n Ateense burger om na die lyke van ter dood veroordeeldes te kyk. Tog kan Leontius die emotiewe gedeelte van sy psige nie onder beheer bring nie en uiteindelik kan hy homself nie keer nie – hy werp sy blik op die lyke terwyl hy sy oë vervloek.

Plato gebruik hierdie analogie om aan die gespreksgenote te illustreer dat die siel nie net uit rede en begeerte bestaan nie, maar ook uit ‘n derde deel: die emosies. Klopper se digkuns onderstreep hierdie interne konflik tussen die rede en die emosies, tussen die rasionele impuls om die trauma vir goed agter te laat en die emotiewe impuls om na die trauma terug te keer, om nadoods te bly ondersoek. Hierdie disharmonie kan ook in verband gebring word met die Freudiaanse eros / thanatos konflik.

 

Slot

Die slotafdeling van hierdie bundel heet “Verslag”. In die slotgedig het ons te make met ‘n digter wat ontbind. Die aflegging van die digter se soewereine subjektiwiteit en narsissistiese impuls tot beheer word geteken as die ontbinding van digter na gedig. Dit gaan dus hier nie meer om die digter nie – die digter is maar slegs die voorwerp, die aar waarin die bloed van die gedig vloei. Is daar dus hier sprake van ‘n einde aan die rouproses, ‘n uiteindelike afstanddoening van die wond? ‘n Soort suksesvolle, voltooide Freudiaanse rou? Ek sou dit waag om hierdie vraag negatief te beantwoord en terug te verwys na Derrida: rou is nie ‘n proses wat tot einde kom nie. Met verloop van tyd leer die ego wel om die libido van die verlore liefdesobjek te onttrek, maar van volledige onttrekking is daar nie sprake nie. Die wond is maar altyd besig om nog litteken te word. Soms is dit meer litteken as wond. Op ander, moeiliker tye is dit weer meer wond as litteken. Hierdie gegewe hoef nie ‘n oorsaak van depressie of nihilisme te wees nie. In Klopper se bundel is dit ook geen sodanige oorsaak nie. Die digterstem is wel afgemete, gestroop, ingehou, sober en soms selfs kil, maar dit is nie ‘n depressiewe stem nie, of anders gestel, dit is nie ‘n stem wat as oorwegend depressief aanmeld nie. Inteendeel, dit is ‘n stem wat getrou is aan die epigraaf: dit juig om die lewendes te help. Met sentimentele, oordrewe narsissistiese psigologiese dokumente kan ons niemand help nie. Almal wat die psigoanalise bestudeer weet dat kliniese afstand ‘n voorwaarde vir suksesvolle terapie is.

 

 

Bibliografie

Abraham, N & Maria Torok & Nicholas Rand (vert.) The Shell and the Kernel (1994).

Barnard, AJ “Death, mourning and melancholia in postmodern contract. A call for re-establishing contract’s connection with the ethical” (2006) 17(3) Stellenbosch Law Review      386.

Barnard-Naudé, AJ “The work of mourning, refusal, forgiveness” in K Van Marle (ed) Refusal,            Transition and Post-Apartheid Law (2009).

Derrida, J & Elisabeth Roudinesco, Jeff Fort (vert.) For What Tomorrow… (2004).

Derrida, J & Elisabeth Weber (red.) Points … Interviews, 1974-1994 (1992).

Derrida, J “Foreword: Fors. The Anglish Words of Nicolas Abraham and Maria Torok” in       Nicolas Abraham, Maria Torok & Nicholas Rand The Wolf Man’s Magic Word: A     Cryptonymy (1986).

Freud, S & Whiteside (red.) On murder, mourning and melancholia (2005).

Kirby, J “‘Remembrance of the Future’: Derrida on Mourning” (2006) 16 (3) Social Semiotics 461-     472.

Klopper, M Nadoodse ondersoek: gedigte (2010).

Kristeva, J. & Leon Roudiez (vert.). Powers of horror; an essay on abjection (1984).

Oliver, K “Julia Kristeva” in Grodin en Kreiswirth (reds.) 1997.

Painter, D & Bert Olivier “LitNet Akademies-onderhoud: Desmond Painter gesels met Bert   Olivier oor Eros en lewe in die 21ste eeu” (2010).

Plato & Robin Waterfield (vert.) Republic (1993).

 


[1] Vir vorige bydraes wat hierdie tema inkorporeer sien Barnard-Naudé (2009) en Barnard (2006).

Bookmark and Share

Comments are closed.