Eben Venter. Anne Carson se laterale denke

Beauty of the husband

Ek het vir die eerste maal werk van die Kanadees Anne Carson gelees. The beauty of the husband – a fictional essay in 29 tangos is haar sesde werk, ‘n verbluffend-slim, aanmekaar geweefde klomp woorde, iets tussen poesië en prosa. Nege-en-twintig tekste soos 29 tango’s voorafgegaan deur vers-aanhalings of notaboek-aantekeninge van John Keats om jou op ‘n spoor te bring.

Carson gebruik ‘n verskuiwende perspektief. Die New York Times Book Review noem haar ‘n pasticheur. Soms is dit die vrou, soms die man aan die woord oor die wispelturigheid van drange, oor gebrokenheid van hart, oor kwesbaarheid en die haat wat slegs deur intense passie gebaar kan word. Jy ontwikkel meegevoel vir die vrou en die man. 

Daar is nog iets wat aanhoudend by Carson skuif en vir my as prosaskrywer is dit inspirerend. Carson maak die mees elegante laterale sponge in haar tekste. Sy praat oor die lyf van die vrou en dan plotseling oor die Slag van Borodino. Of oor die gevoelens van die vrou as sy haar man oor die telefoon hoor praat met ‘daardie ander vrou’ en dan skielik oor die binnegoed van ‘n wasmasjien.

Vandat ek die eerste maal die breingimnas Edward de Bono se Lateral Thinking gelees het, is ek versot op laterale denke as ‘n tegniek om toe te pas op jou teks. Jy beweeg nie liniêr van hoender na eier na dooier nie, maar lateraal van koning na koolkop na gondola.

Mettertyd het ek besef dat De Bono nie die eerste persoon was wat my aan laterale denke bekendgestel het nie. Sondagoggende as ons kerk toe ry, het my ma dit reeds gedoen. My pa kon byvoorbeeld praat oor ‘n bergskilpad wat hy nou die dag in die rooigrasveld teëgekom het en dan’t my ma sommer weggetrek met: ek weet darem nie hoe sy dit oor haar hart kon kry … niemand in die kar het (aanvanklik) geweet wie die ‘sy’ is nie.

Laterale spronge én Carson veronderstel die intelligensie van die leser; neem aan die leser kan byhou. Voortdurende blootstelling aan films het ons dit aangeleer. Jy hoef nie te wys hoe parkeer die man sy kar op die gruis, hoe hy aanstap voordeur toe en dan sy vrou in die kombuis aantref. Die regisseur wys slegs die karwiel op die gruis en spring dan na die man se blik op sy vrou se rug voor die stoof, haar rug wat op hom gedraai bly alhoewel sy weet haar man is terug van die werk af. 

 

Loyal to nothing

my husband. So why did I love him from early girlhood to late middle age

and the divorce decree came in the mail?

Beauty. No great secret. Not ashamed to say I loved him for his beauty.

As I would again

if he came near. Beauty convinces. You know beauty makes sex possible.

Beauty makes sex sex.

You if anyone grasp this — hush, let’s pass.

 

– uit Carson, Anne: The beauty of the husband – a fictional essay in 29 tangos. Random House, 2002

 

Anne Carson

Anne Carson

 

 

 

 

*

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Eben Venter. Anne Carson se laterale denke”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Hierdie is darem nou ‘n onthoubare stukkie mymering van Eben Venter op Carson. Dankie!

  2. Eben, wat ‘n lekker inskrywing. Twee ander Kanadese prose poets wie se laterale spronge my stomslaan, is Anne Michaels en Michael Ondaatje. Soveel spronge deur die lug van oos na noord na wieweetwaar, dat dit later nie anders kan as om ‘n briljante spinneweb te vorm nie. Ook, soos by Carson,die afwisseling van die liriese (digterlike) en feitlike (dikwels historiese.) Dis nou iets wat my tot in my gebeentes inspireer.

  3. Gerhard :

    Eben, ek besit bykans al Anne Carson se digbundels, met die uitsondering van haar mees onlangse “Vox”. Die een wat jy moet lees, is “Plainwater”. Verbysterend. Dis al wat ek wil sê.