Persvrystelling. US Kollokwium 2010
Afrikaanse digters praat in Ginsberg-ritme by Versindaba se kollokwium
Vanjaar se Versindaba skop op 17 September in Stellenbosch se Sasol Kunsmuseum af met ʼn interessante kollokwium, geadministreer deur die US Woordfees en aangebied deur Maties se Departement Afrikaans en Nederlands.
Die kollokwium, aanvanklik ‘n breinkind van Etienne Britz, word elke jaar aangebied rondom die een of ander aktuele kulturele kwessie en is bedoel om gesprek te stimuleer. So was daar in die verlede al ‘n onderhoud met die musikante van Fokofpolisiekar en ‘n paneel van taalkundiges wat die Afrikaanse vertalings van ‘n paar digters van dieselfde gedig van Philip Larkin krities bespreek het. Vanjaar is vir die uurlange program ‘n paar digters gevra om vir die geleentheid (17 September in die Sasolmuseum op Stellenbosch) ‘n gedig te skryf as “antwoord” op die beat-digter Allen Ginsberg se gedig “America”, maar dan met verwysing na Suid-Afrika.
Die gedig waarin Ginsberg sy land Amerika herhaaldelik adresseer, kom uit die bundel Howl and other poems (1955) en is ‘n selfspottende en lamenterende aantyging teen die hebbelikhede en uitwasse van die Amerikaanse staat. Ginsberg was deel van die vyftigerjare se sg “beat” generasie en is as gevolg van sy openlike homoseksualiteit, sy kritiek op die verbruikerskapitalisme, en die ongebreidelde jazz-ritmes van sy poësie deur die establishment as ‘n subversiewe figuur gebrandmerk.
Die uitnodiging van die kollokwiumorganiseerders aan die digters was om ‘n reaksie op die Ginsberg-gedig te skryf: dit kon enigiets wees, tirade, pryslied, treurlied, gebed, spotvers of argumentasie. Digters wat hulle om verstaanbare redes nie formeel of inhoudelik tuis voel in so ‘n soort gedig nie, was dan vry om op enige ander manier te reageer. Die projek is bedoel as ‘n soort losse eksperiment vir ‘n informele byeenkoms rondom die poësie wat miskien ‘n insiggewende gesprek sal stimuleer oor (alweer) die kwessie van “betrokke” letterkunde in “roerige tye” in ons vaderland.
Die uitnodiging was oop en improvisatories. ‘n Hele reeks digters uit die omstreke is gevra om deel te neem. Sommige kon nie deelneem nie weens werksdruk. Ander was nie gemaklik met die inhoudelike of formele aspekte van die Ginsberg-gedig nie en het dan gewoon in hulle eie styl en stem gereageer. Digters is gevra om enige belangstellende mededigters ook uit te nooi om deel te neem. Mits dese word die publiek ook gevra om deel te neem: daar sal ‘n twintig minute lank ‘n oop mikrofoon wees waartydens lede van die publiek hulle weergawes kan lees. Die gedig van Ginsberg kan maklik op die internet gevind word, soos hier.
Die US Woordfees en die Departement Afrikaans en Nederlands hoop dit word ‘n jolige en onderhoudende aand met soveel as moontlik verskillende stemme en style, en wie weet, miskien is dit die begin van ‘n bloemlesing van gedigte in al die tale van die land met Engelse vertalings: Ginsberg in Suid-Afrika/Ginsberg in South Africa en verkoop dit soos soetkoek en word aangehaal in die parlement en geïllustreer deur Zapiro en gedaag voor die tribunale weens ondermyning van die nasionale belang. Of miskien is die besluit van die aand dat die skryf van fyn liriese gedigte oor kwesbare natuurdinge die enigste subversiewe daad is in ‘n gebrutaliseerde samelewing.
Kom luister en neem deel aan die gesprek!
Vir die volledige program, klik hier. Besprekings by Computicket.
***
| Vrydag 17 September 2010 Brief aan Suid-AfrikaKollokwium aangebied deur die US se Departement Afrikaans en Nederlands
Die kollokwium van die Departement Afrikaans en Nederlands neem vanjaar ′n buitengewone vorm aan, naamlik ′n poësievoorlesing rondom ′n tema. Ons noem dit “Brief aan Suid-Afrika”. Marlene van Niekerk het etlike digters gevra om ′n antwoord of variasie, herdigting of vertaling te skryf van die berugte gedig van die beat-digter Allen Ginsberg waarin hy Amerika aanspreek met ʼn aantal vrae, aantygings en pleidooie. Ons hoop om op die manier ′n platform te skep vir die verwoording van ′n wydgevoelde onrustigheid oor die toekoms van ons land en om daarmee ′n bydrae te lewer tot die gesprek oor die politieke aktualiteit. Kom luister na digters soos Loftus Marais, Marius Crous, Diana Ferrus, Louis Esterhuizen, Melt Myburgh en Petra Müller se briewe aan Suid-Afrika, en bring u eie gedig saam vir die oop mikrofoon. Breyten Breytenbach het ook ʼn gedig gestuur wat voorgedra sal word deur Antoinette Kellermann. Distell sorg vir heerlike wyn. 19:00 - 21:00 ● Sasol Kunsmuseum ● Gratis
|





