Anna Achmatova - vertaling in Afrikaans
Anna Achmatova - vert. deur Zandra Bezuidenhout via `n Nederlandse omdigting.
Die blou lak van die hemel het verdof
en al duideliker hoor jy die okarina,
`n doodgewone erdefluit,
maar waarom maak sy so `n kla-geluid?
Wie het haar tog van my sondes vertel?
En om watter rede wil sy my vergewe?
Deur die wilde blaretakke van die els
verlig skuins sonstrale die aarde.
Dis asof hier, op hierdie plek, nog nooit
`n mensestem weerklink het nie.
Aan hierdie swart poorte rammel slegs
die wind uit `n versteende eeu.
Dit lyk asof om te bly lewe onder hierdie hemel
maar alleen aan my gegee is
omdat ek die eerste was wat sou verlang
om van die dodelike wyn te drink.
Die pad langs die seetuin is swart;
die lamplig gelerig en flets.
Ek is heel rustig, mits mense maar vermy
om nou oor hom te praat.
Jy is vir my dierbaar, ek ken jou trou, ons bly vriende
en ons wandel, soen mekaar, word gryser.
Bokant ons sal veerligte mane
aanhou swewe soos sterre van sneeu.




