Carina Stander. Helfgott is hier!
Ek sien David Helfgott, die Australiese sterkindpianis van die Oscar-bekroonde Shine wat geknak het onder die druk van sy roemgierige pa, maak weer ‘n Kaapse draai! Ná jare van stilte en histeriese gelag en ná die wildewragtigsukses van sy vorige Suid-Afrikaanse toer in 2007, maak ‘n 63-jarige Helfgott weer vandeesmaand musiek in Gauteng en Kaapstad. Volgende naweek, 18 en 19 September, tree hy in die Stadsaal op.
In 2004 sit ek een Sondagmiddag in die Baxter en kyk hoe Briljantjie met ‘n koningsblou hemp al giggelend op die verhoog draf, knak-knak met die lyf, waai, na sy oë beduie, die hele voorste ry se hande skud, sy duime in die lug steek en inskuif voor die klavier. Toe kom die vloed: Liszt, Chopin, Rachmaninoff, Debussy, Schumann, Mussorgsky, Mendelssohn. ‘n Uur van ongeïnhibeerde passie. Geen bladmusiek, geen doodsbeendere, geen goedkoop sukses. Wanneer hy in die middel van ‘n stuk skielik vraend na die gehoor kyk en uitstap, neem Gillian Murray, sy vrou sedert 1984, hom aan die hand terug na die klavier. Teen hierdie tyd moet sy seker elke splinter van schizoaffective disorder herken. Saam woon hulle in The Promised Land, ‘n dorpie in New South Wales.
Vandat die eerste noot val, prewel Helfgott onophoudelik by homself. Sagte mompelings, soos ‘n kind wat homself troos. Soms neurie hy of lag. Hy speel met een hand, terwyl die ander hand stadig deur die lug swaai - verdwaald in ‘n vreemde wêreld. Hartroerend.





Helfgott se situasie is dieselfde as die van Bocelli: nie een van die twee is goeie uitvoerende musici nie. Helfgott se skiso-affektiewe gedrag en Bocelli se blindheid maak uitstekende reklame, maar as mens daardie omhulsel wegneem dan herken mens hulle vir vir wat hulle is: tweederangse kunstenaars
Leon, ek moet met jou saamstem. Jammer Carina!
Bocelli ‘maak’ dit op ‘n manier dalk nog as ‘n suiwer popster (m.a.w. oortuig dalk mense wat strelende pop wil hoor eerder as opera of lieder; ‘n soort manlike Celine Dion), maar Helfgott kan nie eens hierop aanspraak maak nie.
Sy persoonlike geskiedenis is gewis tragies, maar niks wat hy speel word nie honderd keer beter deur ‘n ander, gewoonlik minder bekende pianis gespeel nie. Sy handelsmerk, die Rachmaninov klavierconcerto #3, is ‘n goeie voorbeeld. In vergelyking met byvoorbeeld Martha Argerich se klassieke opname het Helfgott s’n myns insiens die status van ‘n Helmut Lotti ‘cover’ van ‘n Paul Simon treffer, of Dozi se Creedence Clearwater Revival album. (Don’t get me started…)
In elk geval, ek gun natuurlik almal hulle plesiere (weereens, jammer Carina!), maar oor Helfgott stem ek saam met hierdie skrywer (en ek hoor natuurlik graag ander mense se opinies hieroor; musiek word immers ook gemaak om hartstogtelik oor gesels te word!!):
http://www.denisdutton.com/helfgott.htm
Leon en Desmond, g’n rede tot jammer-sê nie. Daar is wetenskaplikes (onder andere die een met wie ek my kopkussing deel) wat julle sentiment oor die ongeoorloofde roem van gestremdes eggo wanneer dit bv by iemand soos Stephan Hawking kom. As Hawking babbelend was en Bocelli kon sien en Ingrid Jonker se geestestoestand die SABS-stempel kon dra, sou hulle nalatenskap onthoubaar wees? How knows. My skoling lê mos maar in die beeldende kunste. Ek hoef net voor ‘n enkele Van Gogh te staan om te besef dat, al had die man ook sewe stelle ore, dit net mooi boggerol aan sy genialiteit sou verander. Maar ek is g’n musiek-fundi nie. Helfgott se optrede (soos gesien in my blog) fassineer my eerder vanuit ‘n medemenslike invalshoek. Die strate en institute wemel van karakters wat nie hulle afwykings kan bestuur nie. Wanneer ‘n skilder of wetenskaplike of sportheld of kroegman of resensent of politikus wel daarin slaag om hulle mallighede te “benut”, vind ek dit verfrissend, selfs bemoedigend. Ons almal se koppe lek immers. Ons is almal is ‘n bietjie bezerk. Of moet ek nou my kop laat lees?:)
Carina, Hawking is briljant geen twyfel nie, maar sy siekte het wel aan hom ‘n roem besorg wat hy andersins nie buite natuurwetenskaplike kringe sou geniet het nie. Ek twyfel of A Brief History of Time een eksemplaar sou verkoop het as hy nie siek was nie. Dis so BTW ‘n baie, baie swak geskrewe boek en is al beskyf as die mees gekoopte en mins geleesde populere-wetenskaplike boek in die geskiedenis.
Stem saam dat Helgott en Bocelli se vermoens om te doen wat hulle doen bewonderenswaardig is, maar ongelukkig word hulle talente in die proses helemaal te hoog geskat.
Askies Carina, net vir die interessantheid: jou man se jy is ‘n wetenskaplike - mag ek vra in watter vakgebied? En sjeim, het julle net een kopkussing?
Ditto, Leon, vir oorskatting. Maar dat dit “ongelukkig” is, daarvan is ek nie seker nie. Daar is darem mos maar min dinge op dees gebrutaliseerde aarde so goed soos die verhaal van die onwaarskynlike uitblinker. En dit is Helfgott, Bocelli, Hawking en diesulkes. Hulle vertolk eenvoudig nie die rol van blote kunstenaars/ wetenskaplikes nie; eerder as ligdraers, uitstygers wat die samelewing ‘n hoop en verwagting gee deur dit wat hulle te bowe kom. En dit is ook waarvoor hulle geregtelik die ekstra erkenning kry.
Maar wanneer musikante met alle organe, ledemate, sintuie, tande en breinlobbe intakt egter gecheer word vir ‘n verbeeldinglose gedoef-doef-tjiek-tjiek, beleef my filantropiese gemoed ook ‘n insinking.
Carina, ek verstaan die medemenslike hoek waaruit jy kyk. As Helfgott ‘n lewe kan maak op hierdie manier, goed vir hom. Hoop nie hy word uitgebuit in die proses nie…
Vir my is dat maar net jammer dat soveel kunstenaars, veral in kunste wat minder onmiddellik populer is, sukkel om ‘n lewe te maak, selfs wanneer hulle werklik briljant is — en dan kom iemand met ‘n bemarkbare profiel maar minder talent en is buitensporig suksesvol!!
Maar dat ‘against the odds’ verhale inspirerend kan wees, is gewis so.
Ja-nee, Leon, ‘n gedeelde kopkussing is seker een manier om ‘n volk te bou.:) Hy’s ‘n ingenieur wat ‘n dekade lank geprogrammeer het - sommer lekker in sy pantoffels hier vanaf die huis vir veraf plekke soos Kalifornië, Hawaii, Brittanje en Gauteng. Die afgelope vier jaar is hy permanent terug in ingenieurswese. Hy en twee vennote ontwikkel ‘n endoskoop.