Digstring: Johann Lodewyk Marais. RICHARD E. LEAKEY

Digstring. Enkele vrae oor die rugstring van ‘n gedig

Louis Esterhuizen in gesprek met Johann Lodewyk Marais

  

 RICHARD E. LEAKEY 

Here is the Africa of unlimited space,

of tranquility and of great beauty.

           

Die huis met sy wye uitkyk

suidwes oor die Groot Skeurvallei

bied aan die gesin na maande

se ondersoek ‘n verposing.

 

Hier kan hy Ol Donyo Lengai

ver in die vallei sien sluimer

en vroegaand die Masaikinders

met hulle beeste hoor aankom.

 

Wanneer die maan oplaas ligtend

bo die vlaktes en berge hang,

sal hy ‘n oomblik lank terugsit

en oor name van spesies peins.

 

  

Wanneer het jy dié gedig geskryf? Hoe het dit ontstaan?

 

RICHARD E. LEAKEY
RICHARD E. LEAKEY

Op 2 Maart 2008, maar ek het daarna weer aan die gedig verander. Ek het op hoёrskool ‘n artikel oor dr. Richard E. Leakey in Die Huisgenoot van 18 Januarie 1974 gelees. Dit vertel van Leakey se ontdekking van ‘n 2,8 miljoen jaar oue skedel aan die oewer van die Rudolfmeer (later die Turkanameer) in Noord-Kenia. Die artikel en ‘n foto van Leakey “met sy ‘Adam'” voor ‘n rak met natuurkundige boeke het ‘n geweldige indruk op my gemaak. Dit het trouens baie tot my jare lange belangstelling in die Leakeys en Kenia bygedra. Vroeg in die 1990’s het ek die charismatiese Richard Leakey twee lesings in Suid-Afrika hoor lewer. Saam met hom op die verhoog van ‘n volgepakte Great Hall van die Universiteit van die Witwatersrand was vermaarde paleoantropoloё soos proff. Phillip V. Tobias en Ron Clarke, en dr. Bob Brain. Leakey het ‘n lesing oor sý paleoantropologiese werk gelewer. Wat ‘n belewenis! Kort daarna het hy by Eskom se Megawattpark oor natuurbewaring in Kenia gepraat. Dié aand het hy korte mette gemaak met Suid-Afrikaners in die gehoor wat teen die CITES-verbod op ivoorhandel gekant was. Na dié besoek het ek omtrent alles gelees wat hy geskryf het. My latere besoeke aan Kenia het my na die Nairobi National Museum geneem waar onder meer van die skedels (eintlik “kroonjuwele”!) te sien is wat die Leakey-familie (en fossielsoekers soos Heslon Mukiri en Kamoya Kimeu!) in Oos-Afrika gevind het. Ek het ook besoek gebring aan museums en parke in verskillende dele van die land wat Richard Leakey as direkteur van die National Kenya Museums en later as direkteur van die Kenya Wildlife Service help vestig en in stand hou het (deur byvoorbeeld ‘n paramilitêre eenheid op die been te bring om wildstropery aan bande te lê). Op die eiland Lamu, hoog op teen die Keniase kus, het ek spesiaal moeite gedoen om Richard en Meave Leakey se Swahili-vakansiehuis te sien. Ek het ook gesprekke met gewone Keniane oor hierdie beroemde én omstrede man gevoer. Kortom, my gedig(gie!) oor Richard E. Leakey het eintlik ‘n lang ontstaansgeskiedenis.

 

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

 

My gedigte is selde ná die eerste skryfpoging klaar. Gewoonlik is daar ‘n hele aantal handgeskrewe of getikte weergawes van ‘n gedig. Daarna kry en/of vra ek dikwels terugvoer oor die woordkeuse, woordorde, ritme en versbou. Ek het uitstekende “literêre adviseurs”, wat help om talle gedigte hulle finale vorm te gee. Veral wanneer ‘n mens tussen twee of drie woorde moet kies, help dit baie om ‘n tweede of derde mening te kry. Ek werk hard en dikwels jare lank voordat ek met ‘n gedig tevrede is. Wanneer die gedig eers in ‘n bundel verskyn, is daar min wat ek verder daaraan kan of wil doen. Dan stop ek en bepaal my aandag by nuwe werk.

 

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

 

In die lig van wat ek vroeër gesê het, moet dit duidelik wees dat hierdie nie ‘n “toevallige” gedig is wat op die ingewing van die oomblik ontstaan het nie. Die skryf self het weliswaar redelik vinnig verloop, hoewel die gedig aanvanklik in die tweede persoon geskryf is en ek nogal met die slotreël gesukkel het. In die slot wou ek immers iets sê oor Leakey se paleoantropologiese preokkupasie, maar dit op so ‘n manier doen dat die gedig meer as net wetenskaplike feite weergee. Joan Hambidge het in haar resensie van Diorama in Die Burger (23.8.2010) bevind dat die beeldgedigte nie “dordroё navorsingsgedigte” is nie. Dit is vir my ‘n riem onder die hart.

 

Hoe het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

 

Ek het ‘n resep wat goed vir my werk. Gewoonlik probeer ek die woorde in ‘n redelik beproefde struktuur giet, tel dikwels die lettergrepe in elke versreёl, luister of die klank reg is, en besluit of suggestie genoegsaam bewerkstellig is en die gedig visueel “reg” op die bladsy lyk. Maklik, nie waar nie?

 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en met die persoon bespreek? Is daar iemand (of ‘n instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

 

Ja, ek wys graag my gedigte vir dié wat bereid is om as klankbord op te tree en, indien nodig, voorstelle ter verbetering van my gedigte te maak. Renée Marais was veral in die beginjare as ‘t ware ‘n tweede stoel agter my lessenaar. Met haar sintuig vir die poësie en taalgevoeligheid maak sy goeie voorstelle. Sedert 1986 is ek ook ‘n lid van die digtersbyeenkomste onder leiding van vader Bonaventure Hinwood wat gereeld in Pretoria bymekaarkom om mekaar se gedigte te bespreek. Mense soos Hinwood, Henk Havenga, Costa André Georghiou en Kobus van der Riet lewer almal ‘n bydrae tot my werk. Vroeër het Johann de Lange goeie wenke gehad en ek gaan steek soms kers op by die groot Sestiger, D.P.M. Botes. Ek moet ook Martjie Bosman se naam noem. Sy is ‘n intelligente leser van my poësie en kom meermale met uitstekende wenke vorendag. Ek is baie dankbaar vir die bydrae wat sy (en die twee keurders!) tot die afronding van veral Diorama gelewer het. Haar geduld is tot die uiterste beproef, want ek verander nog aan gedigte tot op die finale bladproewe! Dan benut ek ook literêre tydskrifte om van my gedigte afstand te kry en verander hier en daar nadat hulle daarin gepubliseer is. ‘n Digter hoef nie met die kaarte teen die bors te sit en speel nie, en moet ook nie!

 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 

Die gedig het die eerste keer in Literator 30(3), Augustus 2009 verskyn. Daarna is die gedig in Diorama (2010) opgeneem.

 

Kan jy ‘n ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

 

Die gedig is op “feitelike gegewens” gebaseer, maar die “fiksie” dra tot suggestie by. Maar moet nooit vergeet nie, ek is baie op feite gesteld. Antjie Krog en Petra Müller het albei al gefrons oor die prioriteit wat ek aan feite in (my) gedigte gee. Ek wil nie leer nie! My benadering is anders.

 

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

 

Dit is nie ‘n moeilike gedig nie. Die leser behoort self ‘n antwoord op hierdie vraag te kan gee. Ek dink wel dat die gedig veral iets met verwondering te make het …

 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?

 

Daar is sekerlik baie boeke agter hierdie gedig. Daar is nietemin veral ‘n gedeelte in Leakey (en Virginia Morell) se Wildlife Wars: My Battle to Save Kenya’s Elephants (2001) waarin Leakey skryf oor die gesin se woning met ‘n uitsig oor die Groot Skeurvallei “which drops away some fifteen hundred feet and stretches across forty miles”. Op ‘n helder dag “you can see for more than a hundred miles. The highlands of Tanzania’s famous Ngorongoro Crater and the last active volcano in this area, Oldonyo Lengai, are both clearly visible” (p. 24). ‘n Keer het ek tydens ‘n vlug na Nairobi dié vulkaan sien uitbars en by verskillende geleenthede oor die manjifieke Groot Skeurvallei uitgestaar. Leakey skryf mooi oor sy ervarings.

 

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

 

Nie noodwendig nie. Ingeligte en literêr geskoolde lesers is belangrik, maar dit gee my groot vreugde indien nieliterêre lesers en lesers wat in ander dissiplines geskool is in my werk belangstel. Die nieliterêre leser is baie belangrik en ek wens ons kan nog meer van hulle in die Afrikaanse poësie geïnteresseerd maak. Die Afrikaanse poësie bied immers ‘n ryk skat. Met my werk oor die omgewing en bietjie belesenheid in die natuurwetenskappe hoop ek om ‘n effens ander dimensie by te dra, al het ek sekerlik voorlopers soos N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Wilma Stockenström en T.T. Cloete.

 

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

 

Verstegnies verskil die gedig waarskynlik nie baie van my ander gedigte nie. Tematies handel die gedig oor Oos-Afrika, wat al meer en meer ‘n onderwerp van my navorsing en gedagtes is. Ek het die afgelope tyd iets van ‘n digterlike ontploffing beleef en die meeste van die gedigte is geskryf na aanleiding van my Oos-Afrikaanse leeswerk en reise.

 

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

 

Nee. Nie alles wat ek skryf handel oor Suid-Afrika en hoef oor Suid-Afrika te handel nie. ‘n Mens sou dit dalk vir wat dit werd is ‘n Keniase of Afrika-gedig kon noem.

 

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

 

Ek is tevrede met die gedig. Oor Leakey sal ek moontlik nog meer (gedigte) skryf.

 

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

 

Die lede van die digtersbyeenkoms het positief op die gedig gereageer. Nadat Literator hierdie en nog ‘n klompie ander gedigte oor figure ontvang het, het die hoofredakteur, prof. Hein Viljoen, laat weet dat hulle “treffend en aktueel” is. Ek het dus niks om oor te kla nie, hoewel die gedig tot dusver deur min ander lesers uitgesonder is.

 

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ‘n ietsie daarvan.

 

My eerste gedig was ‘n liefdesgedig wat ek oor my skoolmaat, Dalene van Rooyen, geskryf het. Ek was in standerd 5 op Harrismith en ek het haar een aand by ‘n volkspelebyeenkoms raakgeloop, met haar gedans en die aand dolverlief daar weggegaan en lank daarna verlief gebly. Dit sê nogal iets van die poësie dat iets so intens en persoonlik soos die liefde ‘n mens uitdrukking in hierdie medium laat soek of jou hart daarin wil laat uitstort. Ek was in standerd 5 nog geen groot leser nie, maar die muse het my om een of ander rede kom opsoek. Nou ja, eerste liefdes het ‘n manier om ‘n mens by te bly en dalk probeer ek maar nog altyd om daardie eerste gedig oor en oor te skryf en te verbeter! Ons Engels-onderwyseres in die hoёrskool, Miss El Bedford, het ons immers ad nauseam “corrections of corrections” en “corrections of corrections of corrections” laat doen. Dit het, vreemd genoeg, ‘n soort literêre perfeksionisme by my wakker gemaak.

 

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 2001 ‘n D.Litt.-graad (cum laude) vir sy proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf. Hy het vroeër onder meer ‘n M.A.-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal.

Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ‘n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog vyf bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002) en Plaaslike kennis (2004). Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek.  Sy nuutste digbundel Diorama het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn. Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring kom van Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Digstring: Johann Lodewyk Marais. RICHARD E. LEAKEY”

  1. Leon Retief :

    Johann ek waardeer jou gedigte want die natuurwetenskappe le my na aan die hart. Jy is bevoorreg om mense soos Leaky te kon ontmoet. TS Eliot het ‘n onderskeid getref tussen “poetry” en “verse”, ken jy Langdon Smith se “Evolution” – weliswaar “verse” en nie “poetry” nie maar interessant en eintlik heel leesbaar.

  2. Gerhard :

    Hierdie is loshande een van die beste digstringe nog. Dankie, Johann! Jou villanelle oor Nelson Mandela is net so skitterend.

  3. Joan Hambidge :

    Johann Lodewyk se Digstring beklemtoon hoe ‘n mens telkens ‘n gedig moet herskryf en afwerk.