Marcelle Olivier. Die Studio

Gedagtes uit Brittanje: Die Studio

Muurpapier deur William Morris - 'Vrugte'

Muurpapier deur William Morris - 'Vrugte'

Ek sit op ‘n kussing in ‘n vriendin se nuwe studio in sentraal-Cambridge, met my Mac gebalanseerd op my swart jas en op my skoot. Daar is ‘n klein skoollessenaartjie teen die een muur en ‘n ongemaklike kombuis-tipe stoel, en ‘n goedkoop, leë boekrak met drie en ‘n halwe rakke langs ‘n besem teen die ander muur. ‘n Verflenterde Suid-Amerikaanse kombers met swart en wit vierkantpatrone lê op die vloer onder my voete. Die krag werk nie, so die lig hierbinne is eintlik maar net dieselfde gryserige weer van buite wat deur die groot vermelkte vensters spoel, en aangesien dit ‘n koue dag en hier geen verhitting is nie, is my arms hoendervel. Dalk moet ek maar weer my jas aantrek…

Die mure is roomwit gepleister en, sover ek kan agterkom, gemaak van sponserige karton bo-oor sement, behalwe waar ‘n hoekkamertjie met twee stukke laaghout tussen vloer en dak opgerig is; ‘n paar grys matvierkante (van dié soort wat jy in kantore kry) en ‘n plastiekhouer is al dekorasie binne wat ek aanneem eens ‘n stoorkamer was. Daar is plek-plek gate in die kartonmure, spikkels kleurverf, en kolle bruin vog wat in die dak- en kamerhoeke bloei. Die vloer is gemaak van ou houtplanke, jare laas afgeskuur of gepolitoer, met ‘n reuk wat my herinner aan die ou Bloemhof gebou in Stellenbosch waar ek laerskool geloop het (en terwyl dit leeg was, alleen in die solder en op die dak rondgeklouter het), voor dit in ‘n kunsmuseum omskep is.

Die Cambridge studio se vloer is vol blou en pienk en geel verfspatsels en kwasmerke – een van die vorige huurders was seker ‘n kunstenaar. Hier en daar, knus tussen die planke, lê miniatuur glaskraletjies. Iemand het ‘n deel van die houtvloer grys geverf, ‘n groot kragprop met vet, grys slagare wat langs die vloerlys afloop in ‘n muur ingeslaan, en ‘n losstaande brandblusser ingedra. Daar is ‘n geroeste waterpyp en kraan wat soos ‘n dooie tak vasgewortel staan, en twee kaggels met baksteenskoorstene, waarvan die een dalk nog bruikbaar mag wees. Die plafon self is hoog, driehoekig, met twee gekettingde ligte wat van die dwarsbalke wieg. Die wind kla in onder die hangdeur met sy Yale-slot.

Dit lyk nie eintlik na ‘n watwonderse plekkie nie…

Kaggelteëltjie

Kaggelteëltjie

 

Maar die rede hoekom ek hier sit en skryf het niks te doen met die bostaande lysie onromantiese tekortkominge van die ateljee nie. Dit is eintlik as gevolg van die noordelike end van die kamer, ‘n area wat omtrent ‘n vyfde van die totale vertrek beslaan. ‘n Kaggel-paneel hier (die kaggel self is gemaak van geroeste yster, en toegestop met ‘n klomp supermark-plastieksakke) is van ‘n ligte hout, met handgeverfde teëls in skakerings van oker, pers, en porselein-blou. Party is kru, party vol detail, en vertoon Bybeltonele, plante, Engelse landskappe en kerke; iemand wat ploeg; voëls en vrugte. Die teëltjie wat in die middel bo die kaggel geset is, lees: O mirkle is the powerful ware that lies in herbs, plants, stones and their true qualities: for nought’s so vile that on earth doth live, but to the earth some special good doth give. Die mure hier is antieke donkerbruin houtpanele wat uit Cambridge se All Saints-kerk herwin is gedurende die verskuiwing en herbou van die gebou tussen 1863-1870. Twee piepklein rame is uit die donker panele gekerf om plek te maak vir helder-gekleurde loodglasvensters wat oos en wes uitkyk. Van naby blyk die werkmanskap effens power – die seksies is oneweredig, die kwashale in die tints is duidelik sigbaar, en die etse lyk soos iemand se sketse uit ‘n rofwerkboek. Dis die stained glass-doodles van ene William Morris.

William Morris is natuurlik bekend vir sy werk as kunstenaar en tekstielontwerper. Hy was die leier van die Engelse Arts and Crafts-beweging wat vanaf ongeveer 1880 vir tradisionele dekoratiewe ontwerpe en vervaardigingsmetodes geveg het, en ‘n vername lid van die Pre-Raphaelite broederbond; sy vrou, Jane, was een van Dante Gabriel Rossetti se gunsteling modelle. Saam met onder andere Rossetti het Morris ‘n maatskappy begin wat vandag nog een van die beroemdste tekstielname in Brittanje is, en Morris & Co. ontwerpe op hout, gordyne, en glas is te vinde in kerke, universiteite, en country houses oor die hele land heen. Morris word veral onthou vir sy muurpapier en meubeloortreksels, maar hy was ook ‘n aktiewe en wyd-gepubliseerde Sosialis, ‘n vertaler van Noorse, klassieke en Middeleeuse literatuur, ‘n belangrike voorloper van romantiese fantasie-fiksie, en natuurlik ‘n digter. In 1892 is hy die Poet Laureateship aangebied as opvolger van Tennyson, maar het om politieke redes dit nie aanvaar nie. Sy verse is deesdae nie meer wyd bekend nie, en die sterk romantiese aspekte daarvan kan op plekke nogal soetsappig voorkom as die leser nie die filosofiese konteks in ag neem nie. Vir diegene wat geïnteresseerd is om bietjie meer van sy werk te lees het Marxist Internet Archive ‘n aanlynkatalogus van baie van sy skrywe, insluitende essays oor kuns en kultuur, die politiek, en akademie, asook uittreksels uit romans, digbundels, en vertaalde werke.

Jane Morris as Proserpine (deur Dante Rossetti), en 'n selfportret van William Morris

Jane Morris as Proserpine (deur Dante Rossetti), en 'n William Morris selfportret

 

To The Muse Of The North

O muse that swayest the sad Northern Song,

Thy right hand full of smiting & of wrong,

Thy left hand holding pity; & thy breast

Heaving with hope of that so certain rest:

Thou, with the grey eyes kind and unafraid,

The soft lips trembling not, though they have said

The doom of the World and those that dwell therein.

The lips that smile not though thy children win

The fated Love that draws the fated Death.

O, borne adown the fresh stream of thy breath,

Let some word reach my ears and touch my heart,

That, if it may be, I may have a part

In that great sorrow of thy children dead

That vexed the brow, and bowed adown the head,

Whitened the hair, made life a wondrous dream,

And death the murmur of a restful stream,

But left no stain upon those souls of thine

Whose greatness through the tangled world doth shine.

O Mother, and Love and Sister all in one,

Come thou; for sure I am enough alone

That thou thine arms about my heart shouldst throw,

And wrap me in the grief of long ago.

 

 

 

Die besige, kleurvolle interieur van All Saints-kerk, Cambridge

Die besige, kleurvolle interieur van All Saints-kerk, Cambridge

In 1863 is William Morris self, asook sy maatskappy Morris & Co., gevra om die muurskilderye en van die vensters vir die nuwe All Saints-kerk in Cambridge te ontwerp. My vriendin se studio waar ek nou sit, in ‘n onbeduidende systraatjie en met sy vuil vloere en verrotte dak, was deel van Morris se werkswinkel gedurende hierdie taak, en die twee oorblywende venstertjies deel van die beplanning en proses. Hy het gevra dat die ou kerk se houtpanele hierheen gebring moet word voordat dit as weggooimateriaal verbrand of verkoop is, en waar my jas lê en stof vergaar het hy en van sy span patrone bedink en geteken, lood getrek, en glas getint en gesny voordat die finale produkte oorgedra is Jesus Lane toe om in die groot kerkvensters vasgemessel te word.

Ek sou aanneem dat, nadat die projek voltooi is, die werkswinkel dadelik uitverhuur is aan iemand anders – dalk was daar meer van Morris se oefen-vensters wat oorspronklik agtergebly het en oor die jare die niet in verdwyn het; dalk was dit maar altyd net dié ou tweetjies wat so in vanmiddag se dowwe sonlig sukkel om die kamer in te kleur. En wie presies verantwoordelik was vir die teëltjies rondom die vuurherd kan die eienaars nie sê nie, en ek gaan nie eers probeer om te spekuleer nie. Want vandag is dit vir my eintlik heeltemal genoeg om te weet dat ek my wegneemkoffie kan drink en na die herfsreën kan luister in dieselfde vertrek waar een van Brittanje se bekendste kunstenaars dalk glas-splinters uit sy vingerpunte probeer suig het.

 

Een van die twee loodglasvenstertjies in die studio

Een van die twee loodglasvenstertjies in die studio

 

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Marcelle Olivier. Die Studio”

  1. Elsa :

    Pragtige beskrywing! Dankie Marcelle.

  2. trekboer :

    Of Morris glas in daardie ateljee uit sy vingers sou gesuig het, is ‘n ope vraag. Hy was ‘n man wat lank voor ons stadsrade al begin het met outsourcing. Daar is korrespondensie wat daarop dui dat hy aangepraat is deur die opdraggewer, waarop hy geantwoord het dat dit moeilik is om opgeleide vakmanne in die hande te kry. Hierna skryf hy ‘n brief aan die voorman om sy lyf in rat te kry want die ‘dons’ is ongelukkig met die vordering en hy sluit verdere sketsplanne in.
    Morris kon glo 1000 versreëls per dag skryf as hy op dreef is en toe Bernard Shaw hom vertel dat hy maar so met die alfabet langs rymwoorde soek tot hy een kry, was M verstom. Te veel moeite vir ‘n gedig was sy slotsom, waarmee S natuurlik saamgestem het.
    ‘n Besonder veelsydige mens, het hy al in sy studentedae verlugte manuskripte in die Bodleian bestudeer, sodat hy hulle later in sy lewe met hul aankope gehelp het. Daar is ‘n mooi storie dat hy twee bladsye van ‘n manuskrip besit het en toe die bibliotekaris hom die res van die manuskrip kom wys, het hy dadelik sy blaaie geskenk op voorwaarde dat die hele ms by hom bly tot en met sy dood, wat toe ook gebeur het.
    Hy het van die Noorse sages vertaal, die Rubayat, wat hy in sy kapasiteit as drukker/uitgewer gepubliseer het met illustrasies deur Burne-Jones. Hy het ‘n beperkte oplaag van Chaucer se Tales uitgegee in wit kalfsleer gebind met sy eie omslagontwerp.
    Borduurwerk, teëls, houtsnee, matte, tapisserie,brandglas, kleur van lap, weef, hy het alles eers self onder die knie gekry en dan die beste moontlike vakmanne aangestel om sy projekte te voltooi. Hy het vas geglo dat argitektuur die onderbou van alle goeie kuns is, dat ‘n struktuur uit die omgewing moes groei en so min moontlik ontwrigting moes veroorsaak. Sy Red House wat deur Webb ontwerp is, is in ‘n boord opgerig en die appelbome was glo so naby die huis dat ryp appels sommer deur die vensters geval het. Tuin en huis moes ‘n eenheid vorm.
    Deesdae word daar gespekuleer dat hy een of ander vorm van epilepsie gehad het of moontlik selfs Tourette se sindroom, want hy kon saam met die voorste matrose swets as hy hom vererg. Sy woedebuie was egter gou verby.
    Miskien kan jy na jou interessante bydrae oor Morris vir ons ietsie skryf oor die Persiese manuskripte wat tans in die Fitzwilliam in Cambridge uitgestal word? En wat van moderne brandglas deur Tom Denny?

  3. marcelle :

    Dankie aan beide Elsa en Trekboer vir die kommentaar hierop. En glo my, ek het geen illusies oor Morris se persoonlike deelname aan die uitvoer van die meeste van sy projekte nie.
    Ek sou juis dink dat beide die na-aan-die-aarde filosofie van die Arts & Crafts beweging asook die fisiese aard en maak van die sterk-repeterende ontwerpe in Morris se tekstiel-, glas-, muur -, en houtwerkkunste ‘n afwesige Meester en ‘n opgeleide lakei-werkspan sterk sal aanmoedig. Maar dit is natuurlik nie presies dieselfde as ‘outsourcing’ nie – want soos jy self ook noem, Trekboer, was hy wel meestal verantwoordelik vir die oorspronklike idees en ontwerpe (alhoewel dit natuurlik nie altyd die geval was wanneer Morris & Co. as maatskappy in diens geneem is nie), en het dan die praktiese uitvoer daarvan oorgelaat aan sy span.
    Volgens All Saints se geskiedenis het hy Cambridge ‘n paar keer besoek gedurende die versiering van die kerk; ek kan vanselfsprekend nie bewys dat die vlees van William Morris ooit in Citystraat se Morris & Co. werkswinkel ingetree het nie, maar ek sou nogal verbaas wees as hy nie gaan inloer en bietjie gewerkskaf het terwyl hy in die stad was nie.
    Ek is eintlik meer geinteresseerd in die agtergrond van Morris se vrou, Jane Burden, en hulle verhouding. Sy was heelwaarskynlik ongeletterd toe sy en haar suster deur Rossetti in Oxford ontdek en gevra is om te poseer; haar ma was ‘n bediende en haar pa ‘n stalkneg. Sy het haarself na haar verlowing aan Morris in die letterkunde, tale en klassieke musiek verdiep, en alhoewel sy en Morris tot en met sy dood getroud was, was hulle ongelukkig, en Jane was oor die jare in ‘n paar intense romantiese en platoniese verhoudings betrokke. William was blykbaar eens erg verlief op Jane, maar ek wonder altyd watter rol die Romanse van die situasie (Jane se skoonheid en haar armoedige agtergrond, tesame met die ideale van die Pre-Raphaelites en Morris se eie politiese neigings) gespeel het in sy besluit om haar te vra om te trou.
    Voetnota: Die BBC het laasjaar ‘n televisiedrama uitgesaai oor die Pre-Raphaelites, genaamd ‘Desperate Romantics’; William en Jane Morris verskyn slegs in twee episodes, maar dit is die moeite werd om te kyk net vir die oorvloed van pragtige onderbaadjies en dieprooi hare!

  4. trekboer :

    Ja, Janey. Sy was een van die ‘stunners’ wat Morris en sy kaders om hulle versamel het. Sy sou later (deur al die skilderye van BJ en Rosetti) die toonbeeld van die voorkoms word.
    Rosetti het skynbaar meer as een van die ‘stunners’ laat leer en ‘n bietjie geskaaf. Biograwe verskil of Morris Janey ook onder hande geneem het. Iemand wat egter alles so noukeurig bestudeer het voor hy hom daarmee ingelaat het, sou seker sy aanstaande ook geboetseer en gepolys het, stel ek my voor. Vir so ‘n basies eenvoudige vrou om met ‘n komplekse en hoogs intelligente man getroud te wees, kon nie maklik gewees het nie. Morris was skynbaar nie in staat om persoonlike gevoelens met gemak uit te druk of te betoon nie. Hy het grootgeword met ‘n kop vol Walter Scott wat verstewig is deur Tennyson (hoewel hy Tennyson nie te hoog aangeslaan het nie). Vroueverering, helde wat leef om boosheid uit te wis en dan voor die vroue te kniel was sy idee van liefde. Sy gedigte en geskrifte toon dit. Janey het verhoudings met die twee grootste laventelhane van haar tyd gehad. Vir my is dit interessant hoe baie Morris en Rosetti op mekaar trek. Die oomblik wat die verhouding verbreek is (beide het oor etlike jare gestrek) het sy op haar chaise longue neergesyg, laventel besprinkelde sakdoekie deur haar vingers gestrengel en hoofpyn gepleit. Morris wou die vrou vereer maar het ook ‘n idee gehad dat vroue ander bydraes het om te lewer en Janey was later ‘n fyn borduurster en het houtsneedrukwerk ens gedoen. Soos baie idealistiese mense het hy hierdie droom gehad van ‘n sosialistiese staat maar tuis was sy bediendes ver van sy persoonlike leefruimte gevestig en daar het talle minderjariges in sy werkswinkels hul loon verdien.

  5. Christa van Deventer :

    Hierdie vertellings deur Trekboer en Marcelle vind ek uiters interessant. Intrigerend. Vertel gerus nog! Dit lees nou soos ‘n roman.

  6. trekboer :

    Hi Marcelle,
    Op die gevaar af dat ek twak praat, Morris laat my nogal aan Don Quixote dink. So verslaaf aan sy ideeelbeeld van die vrou en die lewe dat die werklikheid hom half verbygaan. Hy en sy rondetafel het die meisies in beeld vasgelê, ‘n spieëlwêreld, soos die een waarin die Lady of Shalott verkeer. Sy kan net die wêreld en sy inwoners in die beeld sien, soos Morris dan ook. Soos die Don wek hy deernis en selfs ‘n gevoel van die heroiese. Janey bly vir my maar bloedloos.
    ‘n Mens sou kon dink dat Bernard Shaw, ‘n huisvriend van die Morris-gesin Eliza in sy weergawe van Pygmalion op Janey gebaseer het maar iewers het ek gelees, ek vergeet waar, dat Prof Higgins se moeder op die Janey van die later jare gebaseer is toe sy glo heeltemal reklusief en nogal snobberig geraak het.
    Fluit-fluit my Morris-storie is uit. Die veld brand, die droogte rek uit en die vee is maer. Ek soek nuwe weiveld.