Breyten Breytenbach: Dankwoord by Protea-poësieprys

Foto: Toast Coetzer

Foto: Toast Coetzer

Dames en here, ek is bly om by monde van Alida Potgieter hier in Calvinia by julle te mag wees. Sy was so gaaf om bereid te wees om wat ek te sê het vir julle voor te lees. Ek wil hê dit moet duidelik wees dat dit my woorde is, nie Alida s’n nie, ook die sydelingse opmerkings. (Dis natuurlik lafhartig van my om my onhebbelikheid in ‘n ander se mond te lê.)

My dank aan Nicol Stassen, my mede-digters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert, en die ander Proteaanse mense vir hierdie gebaar. Omdat dit van julle kom en omdat ek nog altyd respek en bewondering gehad het vir julle werk en veral vir wat julle met Versindaba vir die poësie doen, waardeer ek dit van harte Dis grootliks die rede waarom ek die prys aanvaar. Tog wil ek byvoeg – as ek my metafore mag mix – dat ek hoop julle lepelstele lank genoeg is om nie julle tonge te hoef verbrand of verpand nie, noudat julle by wyse van spreke vlooie onder ‘n groter karos geword het. Ek terg maar. Ek weet julle sal julle onafhanklikheid behou en julle bergkoninkryk sal gedy soos Lesotho destyds toe Mosjesj sy brief vir koningin Victoria geskryf het.

Dankie vir die prys. Maar op die gevaar af dat dit mag lyk asof ek in die sop spoeg wil ek nietemin beswaar aanteken. Dis nou in die algemeen. Ek het dit al by geleentheid gestel dat die toekenning van literêre pryse ‘n onding is. Mens kan mos nie na gedigte en digters kyk asof hulle in wedywering is en op so ‘n manier ‘n valse en oppervlakkige waardestelsel bevorder nie ! Reklame, die mark, die dwingelandy van die spektakel wat die soeklig verplaas na die skrywer liewers as om dit op die gedeelde skryfwerk te hou – dis tog nie álles nie. Veel beter – dit het ek ook al voorheen bepleit – dat ander maniere gevind word om jong digters aan te moedig.

Kan mens dan nie ‘n Fonds stig wat jonger genote en genieters ‘n mate van finansiële onafhanklikheid sal bied nie, al is dit ook slegs vir die tydjie benodig om ‘n bundel klaar te skrywe of ‘n reis te onderneem ? Gedigte skryf is ‘n futiele aktiwiteit en op uitsondering na, soos in my geval, byna geheel en al sonder noemenswaardige geldelike beloning. Die vertaal van verse is nog meer ondankbaar en nog minder lonend. Dis hoekom ek glo jonger digters en vertalers behoort stelselmatige ondersteuning kry. En dat die steun uit ons eie geledere moet kom, nié van die staat nie. Die Suid-Afrikaanse staat (ek gaan weer my beelde meng) is die ANC se melkkoei, oftewel ‘n vark wat almal nog uit huis en haard gaan vreet. Soos hulle voorgangers, het die huidige bestel geen aanvoeling vir die noodsaaklikheid vir ‘n gemeenskap van kreatiwiteit wat grense bevraagteken en verstel nie : hulp uit daardie oord sal daarom altyd mondjiesmaat, voorwaardelik en partydig wees.

Ek argumenteer natuurlik nou nie dat ouer siele soos ek nie ook oor die weg gehelp moet word nie. Dis goed dat ons digters en skrywers wat as ware skimmel in die tuig geword het erkenning kry vir ons werk, al is dit by wyse van genadebrood – maar seer sekerlik nie pryse of beurse nie. Hoekom nie liewers ‘n ryperd of ‘n bungalow’tjie by die see of ‘n geborgde bord kos een keer per dag by die Da Gama restaurant in die Kaap nie ? Om ouer digters te wil beloon asof hulle nog vars werk lewer is in elk geval ‘n teenstrydigheid. Mens kan mos nie groot drome skryf met ‘n stywe lyf en ‘n slap tong nie. Poësie is vir die drif en die alwetendheid en die skeppingsdrang van die jongeres (of dan dié, soos Yeats, wat te oud geword het om te onthou hy is nie meer jonk nie) – voordat die herhaalde veldslae van verloor en van twyfel jou lei na besinning se slagpale waar jy al mompelende jou woorde aftel soos bidsnoerkrale op soek na sin.

Sien, dis hoekom ek vir Nicol-hulle wil vra om hierdie toekenning van vanaand te stort in ‘n fonds vir die aanmoediging van jonger digters. Indien so-iets reeds bestaan binne Versindaba se bestek, soveel te beter. So nié, wil ek julle in alle eerbied versoek om die bedrag eenkant te hou en ander instansies te vra om by te dra tot ‘n steunfonds wat soos julle goed dink behartig kan word. Met die hoop dat julle die implikasies van daardie mooi woordjie behartig (be-hart-ig) in gedagte sal hou.

Indien ek nog ‘n bietjie meer gebruik mag maak van die geleentheid, wil ek twee verdere sake aanroer. Die een, wat aktueel geword het, is dié van die beoogde Sensuurhof en die Stalinistiese wetgewing wat dit moontlik gaan maak vir alle sogenaamde Intelligensie-agente, en ander diewe en trogvrate ook, om hulle onbekwaamheid en gekonkel onder ‘n kombers van geheimhouding en intimidasie weg te steek. Ek hoop almal van ons sal aanhou om hierdie beplande beheer van die Partystaat oor inligting wat  deursigtig en vry bekombaar behoort te wees, hand en tand te beveg. Ons behoort ten minste te kan weet hoe en deur wie ons verneuk word. En moet tog nie dat ons op sleeptou geneem word met holle argumente van ‘kultuur’ of ‘meerderheid’ of ‘die volk’ nie…

Die tweede kwessie is Palestina. Mag ek glo dat die lot van onderdrukte gemeenskappe ons altyd na aan die hart sal lê ? Ek is daarvan oortuig dat die besetting van Palestina, die besteling van die Palestiniërs se grond en huise en olyfbome en geld, en hulle daaglikse vernedering, dié groot internasionale morele uitdaging van ons tydvak is – soos die Holocaust of die oorloë in Viëtnam of Apartheid in vroeër jare. Ek glo dat ons as skrywersvolk alles wat ons kan behoort te doen om ‘n toevlugsoord te bied vir Palestynse skrywers en kunstenaars.

Die bundeltjie wat vanaand aandag gekry het is hoeka, soos julle seker weet, ‘n voortgesette gesprek met die persoon en die werk van die Palestynse digter, Magmoed Darwiesj – by wyse van ‘n soort tweespraak. Mag dit julle belangstelling prikkel om na sy gedigte te gaan kyk. Ek weet daar is van sy boeke beskikbaar in die Protea Boekwinkel.

Vergun my om af te sluit met die gedeeltelike aanhaling van opmerkings wat Magmoed Darwiesj gemaak het

Magmoed Darwiesj

Magmoed Darwiesj

 in Ramallah by geleentheid van die besoek van ‘n aantal skrywers. Ek was bevoorreg om deel te kon wees van die groep. « Wat is die plek van poësie in ons barbaarse tye ? » het hy gevra. « Poësie is kwesbaar ten spyte van haar metaforiese steuning op die krag van sy en die fermheid van heuning. Broos, want die werk om die siel te verander en die hart groter te maak is langsaam en onsigbaar. Soos met die weerklank van ‘n donker droom kan sy nie wegkom van haar beeld as die dogter van eensaamheid en die buitenste kant nie, al bind sy ook die intieme en die universele. Dit sal digters nie loon om daardie eensaamheid te ontken nie, nóg moet hulle dit verheerlik ; hulle moet liewers aanhou om ewige reisigers te wees tussen die binne en die buite. Dis aan hulle oorgelaat om die drag vrae oor die nut van poësie ligter te maak. Dis hulle wat die vreesbevangendheid van hulle kuns behoort te hernieu deur ‘n nog groter skeppende angs – want hulle sal nooit vrygeskeld word van die poëtiese oopbloei nie . »

En hiermee volstaan ek. Met groete vir julle almal, met dank vir die mooi dinge waarmee julle besig is, en met spesiale dank aan my uitgewer wat by wyse van spreke die ekstra myl moes loop om vanaand namens my hier te praat.

 

Breyten Breytenbach,

New York, September 2010                                                            

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Breyten Breytenbach: Dankwoord by Protea-poësieprys”

  1. Hmmm, dalk maklik om te seg pryse is ‘n “onding”. Ek sal ook dink koeksisters is ‘n onding as ek ‘n hele dosyn vol in my yskas het.:) Maar as mens dit nie het nie, bring die soetigheidjie tog troos vir harde werk, nie waar nie..?

  2. Marlise :

    Ek stem saam Carina! Destyds het die geldjies van pryse vir radiodramas my gehelp om vir my dogter in Engeland te gaan kuier. 🙂 En die eerste een het my gemotiveer om nog drie daarna te skryf. Nou is al die koeksisters op. *sug*

  3. Desmond :

    Carina, jy kon dit nie beter gestel het nie! Ek stem vir selfs meer pryse, en vir dawerende, koesterende, Oscar-styl aanvaardingstoesprake! 🙂

  4. Marlise :

    Carina ek wou nog byvoeg dat daardie pryse vir radiodramas darem wel ‘n kompetisie was waaraan ek deelgeneem het. Dit het mens vooraf geweet. Met die digkuns is dit mos anders, jy skryf omdat jy ‘n passie het daarvoor, jy skryf nooit vir pryse nie! En dus het BB tog ‘n punt beet dat dit ‘n ‘onding’ is. Ek wonder of dit nie by die bewoording lê nie? Dat daar nie moet verwys word na ‘die beste digbundel’ nie, maar eerder iets soos ” ‘N goeie digbundel “? En dalk ‘n 2de en 3de bundel insluit: ‘n prys vir 2 of 3 GOEIE bundels wat in die vorige jaar verskyn het? ‘Beste’ klink so kompetisie-gedrewe. Daar behoort selfs ‘n prys te wees vir ‘n besondere tema of wat grense verskuif het, ens. En baie beurse om voor aansoek te doen, vir reis, vir skryfskole, vertaalde gedigte, afronding aan ‘n bundel, ens. Desmond, hoe klink ‘n Oscar-styl toespraak eintlik? Is BB se dankwoord nie darem ook Oscar-styl nie? 🙂