Dorothea van Zyl. Huldeblyk aan MM WALTERS

(Hierdie huldeblyk is tydens die Versindaba 2010 Poësiefees gelewer aan MM Walters wat vanjaar sy 80ste lewensjaar vier. – Red.)

Ek staan vanaand voor ‘n formidabele uitdaging: om in 5 minute ‘n oorsig van ‘n uitgebreide oeuvre te gee sonder dat die skrywer daarvan één skeptiese trekkie om die mondhoeke kry.

Want dit gaan om MM Walters, Afrikaans se voorste satirikus, wat al die volgende oor segspersone kwytgeraak het: “Maar om te sê ek is ‘gewete van my volk’ is darem so banaal, so hoogdrawend – en dit is juis waarteen ek dit het!” Daarom laat ons liewer sy werk self praat by monde van Johann Nel, wat met presies die regte arsenaal van nuanses nogeens sal laat blyk waarom Walters as ‘n woordmeester beskou kan word. Dit pas uitstekend by hierdie Versindaba se tema: “Op die woord af”. Daarom word vanaand ook in sy geheel opgedra aan Mattys Michielse Walters, beter bekend as Thys.

Walters het nie slegs poësie (6 digbundels) geskryf nie, maar ook etlike dramas, satiriese essays, vertalings (Vergilius, Chinese en Japannese gedigte) en drie boeke oor die Weskus, Saldanhabaai en die Swartland.

Reeds in my kinderdae op Graaff-Reinet, toe ons voetspore ‘n paar jaar lank (tussen 1960 en 1966) op dieselfde strate gelê het, was ek bewus van sy reputasie as onkonvensionele, vlymskerp kyker. Dit het duidelik neerslag gevind in sy eerste gepubliseerde digbundel uit 1967. Dit was dadelik duidelik dat ‘n eiesoortige stem in Cabala praat – dit is bekroon met drie pryse: die Eugène Marais-prys, die Ingrid Jonker-prys (wat ons ook graag vanaand by Versindaba sou wou oorhandig) en die WA Hofmeyr-prys.

Ondersoekers soos Rena Pretorius (in Cloete 1992:465) onderskei tussen twee grondtipes satire: die optimistiese Horatius-tipe satirikus met sy joviale, goedaardige tipe humor wat gerig op tipes eerder as op individue en die Juvenalis-tipe satirikus. Vir laasgenoemde wortel die bose ongeneeslik in sowel die mens se aard as in die struktuur van die gemeenskap. In die sterkste graad skryf dié satirikus op ‘n meedoënlose, onpersoonlike wyse; hy satiriseer lewende wesens en die toon van sy satires is wrokkig en deurtrek van haat. Hy is ernstig oor die boodskap wat hy oordra en sy oogmerk is om te verwond, te straf en te vernietig.

Walters sê self “Ek hoop nie mense sal dink my satire is bitter nie. As my verse indruk skep dat ek net wil afkraak, dan is sulke verse nie waar aan wat ek wil hê nie.” Nogtans vertoon hy m.i. trekke van albei, maar in die sin van die beste van twee wêrelde.

In Die tiende muse, ‘n versameling satiriese gedigte saamgestel deur Walters, gee hy ‘n deeglike en omvattende inleiding waaruit ook heelwat afgelei kan word van sy eie werk, soos dat satire gevat moet wees, maar ook “moreel geregverdig”, en gerig op die “tydgenootlike wêreld”. Dit gaan dus nie om tipes as sodanig nie: satire is “…gerig teen iemand of iets wat histories herkenbaar is. Die slagoffer, of dit wat gekritiseer word, kan nie fiksie wees nie (…) Dit moet ‘n gedokumenteerde historiese identiteit besit” wat dit herkenbaar maak. Hy noem ook dat satire min te doen het ‘n geestige tipe humor – dit gaan eerder om ‘n honende lag as ‘n wapen.

Walters is ook ‘n ernstige denker wat die sg. ‘geding’ met God in die Afrikaanse letterkunde voortsit waarvoor Toon van den Heever (m.i. miskien ietwat onnodig, want dit geld maar vir een of twee gedigte) bekendheid verwerf het. Dit is soms humoristies, soos in “Kerkkoor” (Cabala 63) wat vir my baie herkenbaar is uit my Graaff-Reinet-dae,  soms baie ontroerend, soos in Sprekende van God (1996), en soms (in die woorde van Joan Hambidge) “aweregs”, soos in Satan ter sprake (2004).

Weens sy skerp intellek en eiesoortige blik op sake is sy gedigte dikwels terselfdertyd kostelik, herkenbaar en nogal “wicked”, venynig en ontluisterend. Daniel Hugo gebruik uiteenlopende woorde soos “duiwelsadvokaat” en “dartelend” om dit te beskryf. Juis hierdie kombinasie maak dit so genoeglik – as jy jou nou nie vererg omdat dit te na aan jou nerf kom nie! Maar juis dan werk dit.

Luister en geniet Thys Walters in die gedaante van Johann Nel. Johann lewer ‘n groot bydrae om Walters se poësie onder die aandag te hou. Mag daar nog heelwat gedigte en uitvoerings daarvan deur Johann kom.

 

 

M.M. Walters. Foto: Philip de Vos

M.M. Walters. Foto: Philip de Vos

M.M. Walters is in 1930 op Moorreesburg gebore en matrikuleer aan die Hoër Jongenskool Wellington. Hy studeer aan die Universiteite van Kaapstad en Suid-Afrika en doseer Afrikaans en Nederlands aan die Graaff-Reinetse en Paarlse Onderwyskolleges en die Universiteit van Kaapstad. Walters woon in Simonstad. Sy eerste gedigte is in Standpunte gepubliseer en later saamgevat in die bundel Cabala, waarvoor hy die Eugène Marais-, Ingrid Jonker- en W.A. Hofmeyr-prys ontvang. Daarna volg nog vyf digbundels waarvan die laaste een Satan ter Sprake is. Walters publiseer verskeie dramas, waaronder Die vroue van Kores en Die wingerdstok sal rank en die bundel satiriese essays, Saturae.  Benewens vertalings uit Vergilius, publiseer Walters ook Shi-ching: Liedereboek (2003), ‘n keur uit die Chinese poësieskat, en Aki no kure: Herfsskemering (2006) uit die Japannese digkuns. Walters publiseer ook drie koffietafelboeke met gedigte en foto’s uit die streke van die Swartland en Weskus.

Ander biografiese inligting oor  MM Walters

Walters is op 23 Januarie 1930 op Moorreesburg in die Swartland gebore. Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1972 sy MA-graad behaal met ‘n verhandeling oor Peter Blum onder leiding van prof Merwe Scholtz. Vanaf 1950 gee hy onderwys onder andere in Natal, by SACS in Kaapstad en op Ladismith in die Suid-Kaap. In 1960 word hy aangestel aan die Onderwyskollege op Graaff-Reinet as dosent in Afrikaans. Vanaf 1967 is hy verbonde aan die Paarlse Onderwyskollege as dosent in die Afrikaanse letterkunde tot in 1971, toe hy as dosent in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Kaapstad aangestel word – ‘n pos wat hy tot en met sy aftrede beklee, waarna hy hom in Simonstad vestig. Hy is getroud en het twee kinders.

MM Walters se eerste gedigte word in die letterkundige tydskrif Standpunte gepubliseer. Later word hierdie gedigte saamgevat in sy eerste bundel Cabala, wat in 1967 verskyn. Hierdie bundel word in 1968 bekroon met beide die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys en in 1969 met die WA Hofmeyr-prys. Cloete beskou ook hierdie bundel as waarskynlik die belangrikste eersteling-bundel wat na Breytenbach s’n verskyn het.

In 1969 word Walters se tweede digbundel, Apocrypha, deur Nasionale Boekhandel gepubliseer. Oor Heimdall, Walters se derde bundel, skryf AP Grové in Hoofstad van 22 November 1974 dat ons hier poësie het wat waarskuwend die aandag vestig op onheilstekens van die tyd, gevaartekens in ons gemeenskap.

In 1975 wend Walters hom na ‘n nuwe genre en verskyn die eerste van sy dramas, Die vroue van Kores: ‘n spel oor die lot van mense.

 4) Skryf drie dramas voor sy volgende digbundel: die satire. Saturae word in 1979 deur Tafelberg gepubliseer.

MM Walters is ook die skrywer van drie boeke oor onderskeidelik die Weskus, Saldanhabaai en die Swartland, sy geboortegrond. In 1994 word Walters se bundel satiriese essays Saturae: die essays by Tafelberg gepubliseer. Hennie van Coller skryf in Volksblad van 9 Januarie 1995: “Hy bewys dat hy die derde satiriese genre, die essay, net so vlot kan hanteer as die satiriese poësie en drama waarmee hy al naam gemaak het.

(5) Volgens Fanie Olivier sluit Walters se volgende digbundel (sy eerste sedert Saturae) in 1996, Sprekende van God, direk by sy vorige vier bundels, sowel as sy bundel hekelstukke, Saturae: die essays, aan.

(6) Satan ter sprake, in 2004 deur Protea Boekhuis gepubliseer. In hierdie bundel gee hy ‘n aweregse blik op die “geding met God” (Joan Hambidge).

In die 1990s is Walters die redakteur van die reeks Poësie uit verre lande wat deur Perskor uitgegee is en wat vertalings van Portugese en Spaanse gedigte deur Uys Krige bevat, asook vertalings deur Marthinus Versveld. Walters is self later verantwoordelik vir die bekendstelling van Chinese en Japannese gedigte in Afrikaans met die bundels Shih-Ching liedereboek en Aki no kure – Herfsskemering: ‘n bloemlesing Japannese gedigte wat onderskeidelik in 2004 en 2006 by Protea Boekhuis gepubliseer is.

In 2004 skryf Walters die drama Die meester met Johann Nel en Pieter Retief in die rolverdeling en regie weer eens deur Juanita Swanepoel.

Fanie Olivier beskou MM Walters as die voorste satirikus onder die huidige geslag skrywers en ook miskien die enigste wat dit as genre bestudeer en deurlopend beoefen.

Bronne:

MM Walters as samesteller : Die tiende muse: Afrikaanse satires . Johannesburg: Perskor, 1986 [ISBN 9780628030573 (hb)]

MM Walters as redakteur :Poësie uit Verre Lande (reeks). Johannesburg: Perskor, 1991

 

Daniel Hugo skryf op die Versindaba-webwerf die volgende:

Die digter M.M. Walters het op 23 Januarie vanjaar stil-stil 80 geword.

Ek ken Thys Walters as die lang gentleman met die ongelowige laggie. Dié grootste (letterlik en figuurlik) satiriese digter in Afrikaans lag sy lewe lank al verbaas, verbysterd én diep ontsteld oor die domheid van selfvoldane mense: materialiste en teoloë, nasionaliste en liberaliste.

Walters is ʼn virtuose duiwelsadvokaat, ʼn woordvaardige ketter, wat sy geloof in die woord (met ʼn kleinletter) versus die Woord (met ʼn hoofletter) soos volg bely in sy laaste bundel Satan ter sprake  (2004): “dit is die wóórd wat ek as god / bo alle ander gode eer”.

Die twee hoogtepunte van sy poëtiese oeuvre is die dartelende Saturae (1979) en die diepgaande Sprekende van God (1996). In die laasgenoemde bundel is hy sowel skeptiese kritikus as eerlike worstelaar met die Christelike geloof.

Thys het vroeër graag Piet Duin van die Weskus se heuninglikeur geskink. Ek het altyd gedink: so smaak die gode se ambrosia. En dit is die boeiende paradoks van Thys Walters: terwyl hy lag vir die gode se karpatse, skink hy hulle euforiese drank; terwyl hy met hulle spot, eer hy nostalgies hulle nagedagtenis.

Een van die ontroerendste gedigte wat ek ken is sy “Haven om te landen” uit Sprekende van god. Vanuit die stoepkamer van sy hooggeleë huis in Seaforth, Simonstad, hou die digter die aandskemer oor Valsbaai dop:

                                     In die koue grys skemer van die agterberg

                                    laveer die laaste bote huis toe:

                                    dun wit seile in ʼn wintersee soek

                                    na ʼn haven om te landen.

                                   

                                    Die meeue trek saam op Duikersklip

                                    dig teen die donker en die wind

                                    en oor die water hang ʼn hunkerende roep

                                    na ʼn haven om te landen.

 

                                    Die stomp neus van die Steenberg

                                    los op tussen see en lug,

                                    die nag word swart sonder lig wat wink

                                    na ʼn haven om te landen.

 

                                    En ou herinneringe en vertwyfeling

                                    sak oor my soos ʼn swaar seemis

                                    en heelnag deur dreun die branders en nêrens

                                    is ʼn haven om te landen.

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Dorothea van Zyl. Huldeblyk aan MM WALTERS”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Ek stel belang om die vertalings van Vergilius waarna die huldeblyk verwys, in die hande te kry. Miskien kan iemand hier help? By voorbaat dank. 🙂

  2. Louis :

    Ongelukkig het ons nie kopieë van die Walters-vertalings nie, Charl-Pierre. Wel van NA Blanckenberg se vertaling van die Aeneïs wat as “Van wapens en ‘n man” deur Uitgewery Boschendal uitgegee is in 1980. Maak dit jou opgewonde? 🙂

  3. Daniel Hugo :

    Dit is die eerste keer dat ek hoor van M.M. Walters se Vergilius-vertaling. ‘n Glipsie van die huldebetoner?

  4. Marlise :

    Daniel, die enigste plek wat ek in bogenoemde stuk vind waar daar melding gemaak word van Vergilius is in die biografie. En die biografie kom van ons webblad af, by sy Gedigtekamer. En ek kan nie onthou waar ek die biografie vandaan gekry het nie. Dalk ‘n fout aan ons kant? Dalk is dit vertalings wat opgeneem is in ‘n ander publikasie met ander vertalings ook by? Ek sou dit graag wil regstel in ons biografie oor Walters.

  5. Louis :

    Goed, die raaisel rondom die MM Walters-vertalings van Vergilius is opgelos. Op persoonlike navraag het MM Walters geantwoord dat NA Blanckenberg ‘n klassikus was en nie as sulks bedrewe as digter nie. Blanckenburg het dus die Vergilius-teks woord vir woord vertaal, waarna Walters dit in aanvaarbare Afrikaanse poësie moes herskryf. Vandaar die dankbetuiging voor in Blanckenburg se Vergilius-vertaling (“Van wapens en man, 1980: Uitgewery Boschendal): “My innige dank gaan aan mnr. MM Walters van die Universiteit van Kaapstad, wat, soos in die geval van my vertaling van Vergilius se ‘Landelike poësie’, my taalgebruik en verse gekontroleer het.”
    Dieselfde werkswyse het, aldus MM Walters, gegeld vir die vertaling van ‘Bucolica’ en ‘Georgica’ (1975: HAUM).

  6. Daniel Hugo :

    Dankie vir die speurwerk, Louis!

  7. trekboer :

    Vir die van u wat naarstig en met ‘n opgewonde hart ‘n boek soek, probeer gerus janita@pulpbooks.co.za
    Die dame verrig soms die onmoontlike. Ek hoop nie hierdie aanbeveling word as ‘n poging tot gratis advertensie beskou nie. Dis egter uiters frustrerend as ‘n mens ‘n boek, veral vertalings, soek en die verkoopsmense staar jou aan. How do you spell Brink? Of, can you repeat that, never heard of it.