Onderhoud met Tom Gouws

In die teenwoordigheid van liglopers

Tom Gouws in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Tom Gouws

Tom Gouws

Tom Gouws is ‘n wiskundige, letterkundige, onderwysspesialis, skrywer, bekroonde dramaturg (Nag van die lang messe) en digter (Diaspora, Troglodiet, Syspoor en Ligloop). Hy doseer aan die Universiteit van Potchefstroom, ook dié se Vaaldriehoekkampus, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Noord-Wes (as waarnemende visekanselier en rektor) en die Graduate Academy of Southern Africa (as kanselier). Hy is tans aan die stuur van ElijahAfrica, ‘n internasionele bedieningsnetwerk. Hy is getroud met Retha en hulle het ses kinders. Die gesin woon op ‘n plasie buite Pretoria.

 

 

Tom, veels geluk met ‘n uiters opwindende nuwe bundel. Dit is voorwaar ‘n leesplesier soos min. Jou laaste bundel, Syspoor, het in 2002 by Human & Rousseau verskyn, maar volgens die datums by etlike verse in die nuwe bundel wil dit voorkom asof hulle geskryf was nog vóór Syspoor verskyn het? Bevat Ligloop inderdaad verse wat oor ‘n langer periode tot stand gekom het?

Dankie, Louis. Jy sal weet – dit is altyd vir ‘n digter baie lekker as ‘n leser plesier vind in sy werk. Anders as Leipoldt sing ek nie soos die windswael net vir myself nie – die leser voltooi as ‘t ware die teks en dit maak die skryfproses interaktief met die leser.

Ek skryf poësie vandat ek ‘n jong seun was. Terwyl die ander seuns in die houtwerkklas op laerskool boekrakkies probeer prakseer het, het ek die boeke probeer skryf wat daarin moes staan. Voor die publikasie van my debuutbundel, diaspora, het ek nie minder nie as sewe volledige bundels geskryf, as vingeroefeninge, en om my eie stem te kry. Uit dié versameling haal ek soms ‘n gedig of ‘n beeld wat uiteindelik sy lê in ‘n nuwe bundel kry. (Een so onopgesmukte gedig, wat ek geskryf het as veertienjarige, het só selfs ‘n plek in Groot Verseboek gekry.) Gedigte lê familie uit met mekaar, en uit die groot versameling tekste wat ek in my lewe geskryf het, kom daar op ‘n stadium ‘n ordeningsbeginsel (gewoonlik die idee ten grondslag van die bundel, en gewoonlik saamgetrek in die titel) wat die gedigte versamel. ‘n Bundel is ‘n versamelnes van tekste wat kan saamspeel en -kweel.

Net voor die publikasie van Syspoor het ek nie net uit die letterkunde nie, maar ook uit die formele akademie beweeg. Dit was ‘n geweldige moeilike besluit om ‘n goeie en gevestigde loopbaan te verlaat, maar die benoudheid van die Afrikaanse letterkunde en die gekkighede van die breër onderwyssisteem het my onder die kluite gelê. Ligloop was toe al bykans 90% voltooi, en ek het dit in ‘n laai gegooi en net gelos, alhoewel ek steeds bly skryf het. My kinders, oudstudente en poësieliefhebbers het my uiteindelik sover gekry om die stof van Ligloop te blaas.

Hierdie titel bevat uiteraard ook suggesties van jou vorige bundels wat eweneens met beweging en/of loop te make gehad het: Syspoor (2002), Troglodiet (1995) en Diaspora (1990). Dig jy met Ligloop voort op bekende temas uit jou vorige bundels of voel jy dat jy met hierdie bundel ‘n breuk maak met jou vorige digwerk?

In diaspora, my debuutbundel, het ek die woordjie “spoorspraak” gemunt, en in ‘n sin sou dit die verloop van my oeuvre goed kon verduidelik. My oeuvre toon ‘n baie bepaalde ontwikkelingsgang. diaspora het primêr gehandel oor die verskeurdheid in die land, in die hoogbloei van die angswekkende dae wat ons nuwe Suid-Afrika voorafgegaan het. Die diaspora van al die volkere van ons land was ‘n metafoor van my eie persoonlike verskeurdheid en onvermoë tot singewing en integrasie. troglodiet was die bundel waarin ek my (soos ook byvoorbeeld Alexander Pope) ingebuig het tot die graf en die grot, ‘n tyd van intense soeke en afsondering, selfs sterwe. In daardie duister het ek desperaat gesoek na oeroorspronge en sin, en ek het gedelf tot in die “voorVaderlike geheue”, waar ek die herrese Jesus, die seun van die lewende God, ontmoet het, los van al die godsdienstige trimmings en konstrukte waarbinne ek Hom vroeër verstaan het. Syspoor open met die gedig wat van hierdie ontmoeting vertel. Die res van die bundel is die soeke na die spanning tussen “Sy spoor” en “syspoor”, en hoe maklik ons “Sy spoor” verloor, veral in die kerk. Ligloop is die neerslag van hierdie soeke om lig te loop en in die lig te loop, maar terselfdertyd te ligloop, pasop! Van die eerste spoor van Dias (in Diaspora) loop ek ‘n bepaalde pad, ook histories, ook in die fisiese, ook in die gees, om uiteindelik gestalte te gee aan ‘n ander manier van loop, Ligloop. Uiteraard kruis my paaie veral die ganse Afrikaanse letterkunde, van Leipoldt se paaie wat met die gouwsblom knoop, verby Van Wyk Louw se hoër, kouer paaie, redelik parallel met T.T. Cloete wat met knokkelvoet cul-de-sacs ooploop. ‘n Gedig in Troglodiet, “dansmaat” ondersoek juis die manier van loop van baie van ons Afrikaanse digters. Ja, in die proses is daar baie spore, hopelik ook in die sin van die spoor as saad, wat vrygestel word.

Dus, ja – die bundels is ontvouend gespoor, en verwoord poëties die pad wat jy loop. Ligloop is dus nie ‘n breuk met my vorige digwerk nie, eerder ‘n verdere beslaggewing aan die onderwegwees.

Ligloop is besonder resonante titel. Ook word daar nogal dikwels na die kwessie van “loop” en veral “lig loop” en die variant van “loop (in die) lig” in die gedigte verwys. Vertel vir ons wat dié titel alles vir jou behels?

Miskien vat ‘n deel van die gedig “ligloop” dit die raakste saam wat die sentrale ten grondslag van die bundel is:

 

vroeëre geroepenes moes deur woestyne dool,

maar soos henog leer óns tussen sterre loop.

op die trapees van geloof trap jou voetsool

die toegegroeide paadjie van verlossing oop.

                                                           

onverklaarbaar word jy los van swaartekrag,

al sleep jy jouself voort oor moeë kalaharisand.

ten spyte van die eis van grond, loop jy sigsag

rond in God se allerdiepste binnekant.

 

Maar ook daarin is daar dikwels ontreddering – die gedig “dooimansdeur” se eerste paar versreëls verduidelik die ander sy van ligloop:

 

jy moet ligloop later, pasop! as die hart stoets hingel,

lê jou verwagting neer voor geloof se dooimansdeur.

met die jare word waansin deur werklikheid omsingel.

drome en gesigte, profesieë, moet tog éindelik losskeur

 

uit die tere vliesies van verbeelding. (God is tog reëel?)

maar met die jare word die reis belangriker as bestemming.

ek vermoed jou loop op hete kole wórd jou erfdeel.

 

Baie liglopers in die geskiedenis, Adam Enslin, Mietjie Gous, Henog, Elia, Petrus, die twee getuies van Openbaring 11, en die galery digters wat as sieners só probeer loop het, word reisgenote in die bundel:

 

ek skuil waar naglopers dwaal,

maar maak my gemaklik tuis in die gewete   

van ‘n digter. in vergete sandwoestyne

word my wandel in God deur dié profete

oopgeloop in hul verbeelde domeine.

 

Die manier waarop jy die bundel gestruktureer het, vind ek besonder treffend. Hoe het  jy elke afdeling byeengebring en binne die groter opset van die bundel geplaas? (Daar vind immers ‘n progressie van die eerste na die laaste afdeling plaas, of lees ek verkeerd?)

Jy kan nie regtig verkeerd lees nie – die leser is altyd reg! Jou waarneming is raak – ek is geweldig sterk ingestel op bundelkomposisie, het trouens my Meestersgraad indertyd spesifiek daaroor gedoen. Vormgewing is deesdae amper ‘n vloekwoord in die Afrikaanse poësie, veral ten opsigte van die hoogbloei van praatpoësie en vrye vers. Ek glo dat die werklike vaardige digter eers die verskonvensies moet bemeester vóór hy dit oorboord kan gooi. ‘n Digter is nie net ‘n woordsmid nie, hy moet ook ‘n sin hê van die wonderwêreld, die glansende kristal van die poëtiese konstruksie.

Elke digbundel van my tot dusver word binne ‘n bepaalde raam van eerste en laaste gedigte geplaas, en daarbinne is daar ook bepaalde samehange, korrespondensies en jukstaposisies. Ligloop het dan ook so twee raamgedigte waarbinne die progressie voltrek word. Die eerste afdeling is ‘n versvermeerdering van die Nederlandse skilder Vermeer, met wie ek ‘n private obsessie gehad het. (Ek het reg oor die wêreld gereis om elke liewe skildery van Vermeer met my eie oë te sien. Dis ‘n verhaal op sigself.) Daar is veel in sy werk en lewe waarmee ek myself kon identifiseer: ‘n lewende bewussyn van lig, kuns, wetenskap, geloof, en die komposisionele verhoudinge daartussen. Hierdie “Delftse doek” was as ‘t ware ‘n soeke na my genetiese tatoeëring in die lig van ‘n liglopervoorganger.

Waar die eerste afdeling aspekte van die vermeerdering van vermindering ondersoek het, werk die tweede afdeling, getiteld “tentatief”, met die ryk bron van van die vermeerdering van vermindering. Ouerword en dood is nog altyd vir my ‘n dwingende bewussyn, ook bewyssyn, wat ‘n mens moet integreer. Dit bevat heelwat gedigte oor die heilige kring van geboorte en dood. In “elia in afrika”, die derde afdeling, en “jerusalemgangers revisited” word die ontreddering en winste van hierdie proses van vermindering/vermeerdering in geografiese en historiese reliëf geplaas, en meer universeel ontgin. In die proses bou ‘n mens bepaald jou eie mitologie waarbinne jy jou in jou huidige bestaan histories en futuristies probeer peil. Om hierdie rede is daar deurgaans in die bundel spanning tussen dit wat in die verlede lê en dit wat in die toekoms verhul is, en die snypunt van bestaan waar die ek ho nou in hierdie tydgewrig bevind. So ja, daar is ‘n progressie in die bundelverloop, bloot omdat daar met die loop van tyd meer sintese kom (wat uiteraard ironies, mettertyd weer ontbind).

Bykans al die gedigte in hierdie bundel van jou is besonder sterk gekontekstualiseer ten opsigte van lokaliteit en ook tyd. Voorts is die bundel besonder ryk aan peritekste soos aanhalings, verwysings, daterings, ensovoorts. Vermoed ek korrek dat die hele kwessie van konteks vir jou iets van groot belang is? En hoe skakel jy dit met die sentrale temas van die bundel?

Elke teks is per definisie ‘n interteks, en dit sluit alle kontekste uiteraard in. Ek is geweldig bewus van konteks, want dit bepaal die betekenis van die teks. Deur van aanhalings, verwysings, daterings en voetnote gebruik te maak, rig die abstrakte outeur die konteks van die teks, skep hy rame waarbinne die gedig homself wil presenteer. Ek het ook ‘n geweldige historiese bewussyn, veral ten opsigte van die voorgangerdigters en die literêre tradisie waarteen jy inskryf en waarbinne jy jou eie stem probeer vind. My poësie is terminaal aan taal; elke gedig is ‘n latwerk van rooftekstiel. Al die temas in my werk hang ikonies hiermee saam.

Tom, jy skryf ‘n klassieke vers wat knap afgerond is ten opsigte van metrum en rym.  Tog behandel jy heelwat eietydse en moderne gegewe (rekenaars en die wêreld van die internet, byvoorbeeld). Met die deurmekaarloop van die klassieke en die eietydse word besonderse effekte verkry; soos in die slotgedig “visioen van thomas op patmos“. Is dit ‘n neergelegde werkswyse vir jou en hoe skakel jy dit met die sentrale temas van die bundel?

Al my gedigte is “voortgeplante mutasies / van die skeppende Een se verstommende veelvoud van vorm”, sê die openingsgedig van troglodiet, en die slotgedig sê: “U bind / my soekend in u fassinasie met verhulde vorms”. Gedigte kom bied hulle aan in absoluut bepaalde vorm, en dit sluit dikwels die borstrok van rym in. Die beperking wat rym en klassieke vorm vereis, is vir my deel van die soeke na die oorspronklike vorm waarbinne die inhoud gestalte moet kry. Dis nie soseer ‘n klassieke bewussyn as wat dit ‘n argeologiese soektog (soos Foucault dit bedoel het) is nie.

Die “deurmekaarloop” van die klassieke en die eietydse, soos jy dit noem, en die futuristiese, hoop ek ook, is omdat ek glo dat die mens ‘n snypunt van aldrie is, en dat dit jou as ‘n flitsende kommatjie in die tydlose bewussyn van God posisioneer in die grondelose oneindigheid wat jou omgeef. Die ware digter is ook ‘n profeet, het Totius indertyd in sy intreerede in 1902 gesê, en hy leef net by die grasie van die verlede en die toekoms.

In die slotafdeling, “jerusalemgangers revisited“, maak jy van twee personas gebruik, te wete Johannes Adam Enslin en Mietjie Gous wat al om die beurt aan die woord kom. Vetel ons ietsie meer van dié twee personas?

Getrou aan die aard van die Afrikaner was die Groot Trek nie ‘n eenheidsbeweging op soek na vryheid nie. Ons weet van die bitter leierstryde en die gevolglike trekke in verskillende rigtings: Trichardt se groep, Piet Retief se groep, Andries Pretorius se groep, Langhans van Rensburg se groep – elkeen die wildernis in om die vryheid te win. ‘n Redelik onbekende splintergroep van die Groot Trek was bekend as die Jerusalemgangers. Hulle leier was Adam Enslin en ‘n profetes genaamd Mietjie Gous. Hierdie meer Charismatiese groepie, sou ‘n mens hulle so kon noem, het twee geestelike handleidings gehad: die Hollandse Statenbijbel en Wilhelmus à Brakel se Redelijke godsdiens, ‘n lywige en populêre dogmatiekhandleiding. Die twee boeke is meegeneem op die trekpad en in hulle nuwe omgewing dikwels gebruik.

Die leier van die Jerusalemganger sou ook in ‘n hoë mate deur à Brakel beïnvloed word. Dit sou veral wees ten opsigte van sy verklaring van die Openbaring van Johannes asook sy beklemtoning van die chiliasme (oftewel die leer van die duisendjarige vrederyk op aarde) en hoogskatting van Jerusalem. Chiliasme is die oortuiging dat daar in die laaste tye ‘n heerlike staat van die kerk op aarde te verwagte is.

As gevolg van gebrekkige hermeneutiese tools  het Adam Enslin, onder die driftige profetiese aanvuring van Mietjie Gouws, gevoel die tyd is amper daar om die land van melk en heuning, die Nuwe Jerusalem, te vestig. Hulle moes dit egter eers vind, en sodoende het die landkaarte agter in die Statenbijbel die amptelike trekroete geword na die hemelse paradys op aarde.

J.P. Claasen se MA-studie oor die Jerusalemgangers vertel die hartseerverhaal van hoe die groep die Midde-Oosterse kaarte gepasmaak het oor die Suid-Afrikaanse berge en dale. Hoe hulle tussen Zeerust en Groot-Marico by die berg Madikoe gebly het, en toe as gevolg van verdere openbaring getrek het na Nylstroom waar hulle die Nijl-zijn-oog as teken geëien het en toe die oortrekroete na die beloofde land toe gevat het. (Dis waar Nylstroom en Nijl-zijn-oog hul naam gekry het.)

Hulle was vas oortuig dat die gevaarvolle reis oor die berge en vlaktes van die donker en onbekende Afrika hulle sou bring by die glansende velde en ligtende hemel van Jerusalem. Sodoende sou hulle dan Jerusalem, die herwonne Paradys, vir hulleself en hul nageslag verseker. Dit was egter geen Nuwe Jerusalem of aardse paradys nie. In plaas van melk en heuning, was daar net … muskiete en tsetsevlieë. Hulle vee het almal gevrek en hulle het aan ‘n slaapsiekte begin ly wat bykans die hele trekgemeenskap van die honger laat sterf het. Totally disillusioned. Net drie het oorleef – Mietjie Gous lived to tell the story.

Antjie Krog het in Jerusalemgangers hierdie ryk en dramaties-apokaliptiese historiese gegewens gebruik, maar as ‘n nasaat van Mietjie Gous wou ek die reis ook meemaak. Saam met hierdie voorvaders “sien die jongeling droomgesigte / teken dit versigtig op as gedigte”.

Is jy ‘n sporadiese digter of werk jy konstant aan jou verse?

Skryf is om elke vroegoggend ‘n wilde perd te gaan vang en by jou skryftafel tot rus te bring. Dit vra ‘n absolute doelgerigte poging. My kop zoem gedurig soos ‘n bos vol bye en ek moet dan my verbeelding karteer, dus is dit ‘n voortdurende proses eerder as ‘n tref-en-trap diggeleentheid. Ek bly ook gedurig die verse snoei, selfs na publikasie. En soos ons weet – alle snoei is groei. Daar kom dus nie ‘n einde aan tekste maak nie. 

Die opmerking word dikwels gemaak dat dit tans besonder goed gaan met die Afrikaanse digkuns. Gaan jy akooord met só ‘n siening, of flikker daar gevaarligte vir jou op die horison?

Daar is ‘n geweldige opbloei van die Afrikaanse letterkunde en musiek, wat vir my uiteraard verblydend is. Ek luister met groot opgewondenheid na wat ek noem die nuwe Jack Parow-generasie. In die gedig “elia leer ligloop in afrika” verwoord ek my verwagting vir Afrikaans só:

die local elia vleg khoi en germaans

tot die knarsvars tongval van ‘n nuwe taal.

profeties is dié saad oor diep waters spartaans

vervoer in biesiewiegies, kontinentaal

verplaas, geplant in die wieging van ou ossewaens. 

in die land van kus het die fetus diep asemgehaal

en uit die donker baarmoer ligvoets gedans.

soos die gees van elia vloei, ontvou die verhaal   

van God se skeppingsdroom vir afrikaans.

 

Dankie vir die geleentheid om oor jou bundel te kan gesels, Tom. Wil jy nie dalk ter wille van die leesplesier vir ons ‘n vers uit Ligloop hieronder plaas waarmee jy besonder tevrede is nie? Dalk ook kortliks verduidelik waarom jy juis dié vers sal uitsonder?

Miskien die gedig “advent”, nie omdat ek soseer besonder tevrede is daarmee nie, maar omdat dit vir my die naaste verwoord wat ek met Ligloop wil probeer sê:

 

advent

 

“She said to me: ‘What an instrument your body!

            Single and perfectly distinct from everything else!

            What a tool in the hands of the Lord!

Only God could have brought it to its shape!”

            -D.H. Lawrence

 

2 Kor. 4:16

 

sy kyk stip na die troufoto teen die muur,

dan stip na hom waar hy stol as naakfiguur,

die los buiteflappe van sy vleestent weggeskuif.

“my bruidegom het nou ‘n middeljarige se lyf,”

sê sy hartseer bruid gedemp. met dowwe oë kyk

hy onwillekeurig na die spieël wat vaagweg lyk

soos hy, skaamherken die indertydse bruidegom,

maar veel, véél is anders nou aan hom:

die eens welige swart boskaas is nou asgrys yl;

die tande afgevyl deur tyd; die lyf wat soepel geil

en passievol kon buig, is seer en stadig, ‘n ou kolos

met wit deeg aan die flanke; uit ‘n woeste klos

snorbaard loer ‘n moeë leeu se droë snoet;

vel verlep tot ou skil, mangogeel-en-swart gesproet.

 

sy kyk stip na die bruidegom se gerinneweerde tent.

met dieper oë probeer sy sin sien in dié patent

van weerloosheid. diep binne eien sy dit wat latent

gloei, ‘n sagte lig wat dié ou lap sonder fondamente

openbaar: ‘n staning vol goud en edelsteen, talente

silwer, spesery … die lyf word ‘n sakrament

– beleë wyn en uitgespaarde brood – ‘n testament

sonder sediment. sy kyk stip na dié spotprent

van die Bruidegom en hoe óngesiens Hy Hom inent.

 

© Tom Gouws (Uit: Ligloop, 2010: Human & Rousseau)

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud met Tom Gouws”

  1. Kallie Snyman :

    Lekker om van Tom se doen en late
    te lees hier in Mafikeng se strate
    waar ons hygromans soos aangevoor
    leer skryf het onder leiding van ‘n taal troebadoer

  2. Joan Hambidge :

    Bundel ryk geskakeer, ontroerend
    2010-10-16 06:00
    Die Volksblad

    Joan Hambidge
    LIGLOOP deur Tom Gouws. Human & Rousseau. Sagteband. R145.

    DIE titel Ligloop aktiveer om in die lig te loop, dus spiritueel te wees, en om versigtig met die gegewe in die bundel om te gaan. Reeds in die programgedig word die leser gemaan “trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop” (“he wishes for the clothes of heaven”, bl. 11).

    Die motto uit Bakhtin (“We are the voices that inhabit us”) aktiveer die gesprek met T.T. Cloete en Antjie Krog. Daar is ’n gesprek met Akmatowa en Sergei Esenin wat ’n gesprek met die Russiese letterkunde oopmaak. Yeats word herskryf – met sukses – en ’n gedig oor Johannes Kerkorrel tree in gesprek met De Lange se vers en die liedere van die sanger.

    Die Bybel, veral Elia, verskaf ’n ander ryk voedingsbron waarop die digter teer. Die spel met die Afrikaanse digkuns en die WVK word in ’n wrang distigon van Watermeyer beskryf: “elia en die ou boereplaas” (73). (Trouens, dit sou ’n fassinerende ondersoek wees om al die motto’s en verwysings te aktualiseer.)

    Cloete se klassieke vers “Die vroue van Vermeer” word deur Gouws “vermeerder in vers”. Krog se Jerusalemgangers word herbesoek via J.P. Claasens se studie oor hierdie trekkers. Breytenbach se “allerliefste” word nou in die kuberruim aangespreek en in ’n distigon, “elia en die ou boereplaas” (bl. 73) word die profeet Elia ’n masker vir Gouws se blik op die Afrikaanse letterkunde en die siening van die plaas. In ’n wrang “aftelrympie” word die bloedige verloop van die land se geskiedenis weergegee met die onthutsende slot via Peter Blum: allesverloren.

    Daar is vele motto’s by gedigte en Van Wyk Louw open die religieuse dimensie in die bundel wat in sterk kontras staan met die verwysings na die politieke en aktuele wat soos ’n fyn draad (of lig?) deur die bundel skyn.

    En ook Eybers is hier in sowel ’n vers wat aan haar opgedra word en in daardie bekende spanning tussen die man en vrou. Die webbe roer hier en die leser word telkemale bewus van die gedig wat uit die self spruit.

    Gouws is bewus van die self as ’n konstruksie en die spel met die “wisseling van lywe” word behendig volgehou: soms in die skoene van Vermeer, dan as diensmeisie, dan as Elia, soms net as digter of méns. In “wyding”, ’n liefdesvers, word die geliefde ’n vers gegee waaruit sy eendag moet put:

    eendag as jy oud is en saggies met jouself praat, en bewe,
    en die tou te kort word vir die skep uit putte van herinnering,
    vat dié vers, geliefde, lees dit weer as onvoldoende wyding
    van ’n digter wat na woorde soek vir die diepgang van ’n lewe.
    Soms is die self ’n kleitablet, ander kere ’n sakrament.

    Titels van bundels en gedigtitels is in kleinletters en die verse getuig van ’n streng tegniese beheer. Die beelddig is veral in Afrikaans deur Johan van Wyk met Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978) verrassend ontgin. Cloete se Marilyn Monroe-verse bly ook bakens hier.

    Dit is ’n ryk geskakeerde bundel bedoel vir die ernstige poësieleser. Veral die verse oor Vermeer is aangrypend.

    Die bundel nooi eweneens ’n psigoanalitiese lesing uit via Lacan, veral met die verwysings na spieëls, die camera obscura, meniskus en studie oor die betekenis van simbole (soos die leeu) in die skilder se werk. In ’n gedig “advent” (bl. 44) word die self genadeloos bekyk.

    Die twee hooftemas in die bundel word goed teen mekaar afgespeel in ’n gedig oor Moeder Theresa se nalatenskap en Vermeer se bankrotskap. Die speelse vind ons hier in ’n klein juweel: “resep vir sinlike soesji” (bl. 53).

    In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002.

    Ligloop is ’n bundel oor die “verskeie teksture van die landskap van die self”, soos die digter skryf in “die geograaf” (bl. 29). Die invloed van D.J. Opperman en die maskers van die digter word aanskoulik geïllustreer in die slotgedig wat ons as ’n visioen kan lees.

    Die verwysings is goed verwerk en vorm en inhoud word één in hierdie ontroerende bundel.