Toast Coetzer. Suid-Afrika

Suid-Afrika  

 

Vir jou Suid-Afrika alles en niks; asemhaal.

Vir my, twee resepte, R87, mediese fonds- en bankkaart

18 Augustus 2010.

My kop is ‘n platgetrapte brood

Suid-Afrika, die oorlog, waarom die oorlog teen jouself?

Sny jou vingers af met jou los hand.

Ek voel g’n goed, voertsek!

Ek bloei in my pen in, opgeswel soos ballon.

Suid-Afrika, wanneer maak jy my trots?

Behalwe vir wanneer jy sokkerdoele skiet?

Wanneer gaan jy jou voete sien, aan vodde?

Waardig wees, ‘n held, ‘n heldin, vir jou miljoene werkers?

Suid-Afrika, hoekom kan jy nie lees nie?

Suid-Afrika, jou mielies gaan als Zimbabwe toe?

Ek’s gatvol vir alles wat jy vra.

Wanneer kan ek iets terugkry vir al my Big Issues, die bedelaars,

die sakke klere?

Suid-Afrika, ja, dis net jy en ek hier, en Precious maak nie

eers ordentlik skoon nie.

Jou geharwar maak my moeg.

Jy wou my wat maak, wát?

Ons kan nie eers hieroor armdruk nie, dis sinneloos.

Die dokters is in Toronto ek glo nie hulle gaan terugkom nie

dis te verstane.

Verstaan jy of hoor jy of probeer jy hoor of is jy dronk iewers by

‘n partytjie?

Ek wil by die punt kom.

Ek weier om te glo jy’s verlore.

Suid-Afrika, sit, ontspan, ek betaal my belasting.

Suid-Afrika die kokerbome blom reeds in April.

Vandag in die koerant op die internet gelees, drie mense

beroof en toe gestoor in die vrieskas van hul roomyswinkel.

Suid-Afrika ek dink ek gaan aansluit by COSATU.

Suid-Afrika ek was nog altyd ‘n werker maar ek was wit.

Ek’s nie jammer daaroor nie.

Ek drink en my oë sloer op knieë.

Ek sit hier met koue vingers bokant Helen Zille

se huis.

Hulle sê sy koop No Name Brand produkte.

En drink sommer kitskoffie.

Ek glo nie noodwendig in rewolusie nie.

My kop sê vir my hou wat jy het.

Ek bid soms, vir ingeval.

Ek voel die hartklop van bome, weerlig maak my jags.

Suid-Afrika, ek sê vir jou, die mense hier kom van oral

Jy moet dit onthou, jy is almal.

Ek praat met jou.

Gaan jy jou hart laat lei deur dit wat gebeur op

DSTV?

DSTV is my herder.

Ek kyk daarna wanneer ek kan, in kroeë en hotelle.

Dis aan in almal se huise waar ek kuier, dit loer na my op

die sypaadjies van die stad.

Ek kyk daarna wanneer ek koffie koop.

Dit voer my inligting wat my aandag aftrek van die wêreld.

Die wêreld was eens doodernstig. Televisie was ernstig.

Alles behalwe ek was ernstig.

Ek weet nou: ek is Suid-Afrika.

Ek praat alweer met myself.

 

Aasvoëls sirkel bo my rond.

My kanse op oorlewing is skraal.

Tensy ek my Leatherman styf vashou, met een oog oop slaap.

Ek het ook tot my beskikking ‘n kar ‘n brein ‘n beperkte bankbalans

nege paar skoene twee voete en ‘n voël en

een duisend vyfhonderd en agt Facebook vriende

Oor die haweloses in my parkeerterrein swyg ek

ek reverse oor hulle toilet en beddegoed

en dan glimlag hulle nog vriendelik terug ook.

Ek’s klaar met die hoerhuis op die televisie, volgende

is die internet.

Ek wil staatspresident word al is ek wit

Suid-Afrika hoe kan ek jou waardig prysdig

as jy in jou eie kots lê en snork?

Ek wil die wiele laat aanhou rol soos BP my verse

maal spekvet in die kraal tollies elke laaste een
Suid-Afrika ‘n vers is joune vir R5000

VAT uitgesluit

Suid-Afrika hou vir Selebi vir lank in die tronk

Suid-Afrika red die ietermagog

Suid-Afrika lank lewe Jaco + Z-Dog

Suid-Afrika jou verkragters groei aan bome

Suid-Afrika ek het grootgeword met vrees

ek het mondig geword met vrees ek het dertig geword met vrees

dis goedkoop dit kos die klank van ‘n voetstap in die tuin

‘n brandende band om die nek kettings en tralies en slotte

oor die skouer kyk en beursie styf vashou as ek dit nou

so skryf klink dit seker nie so erg nie maar tog
Sê nou maar Jan Hendrik Hofmeyr het ‘n lang en vol

lewe gehad sê nou maar Ruth First se pos het weggeraak

eenmaal het ek vir Madiba bo ‘n skare sien uittroon. As hy weer kom,

kom haal hy sy pêrels.

Suid-Afrika dink mooi oor wat jy doen.,

Suid-Afrika dis nie hulle nie dis jy.

Jy en jou ma en jou pa en jou vrou.

En jou kinders.

Hebsug sal jou lewendig opvreet. Hebsug kan nie

genoeg kry nie. Hebsug sit en wag vir jou in ‘n toe

garage met die motor wat luier.

Sy wil die Vrystaat verorber. Haar hol afvee met

‘n Noseweek. Sand laat ophoop in die klinieke.

Hy grawe langwerpige gate vir die lyke.

Spyt kom altyd te laat. Ai. Hy deel grond uit soos ‘n pak kaarte.

Dan kom die wind op. Gmf. Sy slaan die sweep oor

ons rûe. Help.
Suid-Afrika dinge raak ernstig.

Suid-Afrika dis hoe dit vir my lyk van waar ek sit.

Suid-Afrika kan dit reg wees?

Ek beter my pen opspoor en skryf.

Dis nou as ek die boeie om my gewrigte kan loswikkel

die muilband uit my mond kan spoeg, fok dit, anders praat ek

Morse-kode met my oë

Suid-Afrika ek sit ieder geval my skouer teen die wiel.

 

Kaapstad, 18 Augustus 2010

 

 

[© Toast Coetzer. Voorlesing by die US Kollokwium in die SASOL Kunsmuseum op Stellenbosch, op 17 September 2010]

Bookmark and Share

Comments are closed.