aan’t stap

[A]an’t stap. Len S. Louw. Hond BK. ISBN 978-1-874969-17-4. Prys: R100. 48 bladsye. Sagteband.

omslag
omslag

Anders as gewoonlik die geval met solobundels, is aan’t stap nie deur die digter daarvan saamgestel en afgerond nie.

Dit bevat ‘n keur van byna 40 verse uit alles wat Len S. Louw oor ‘n tydperk van 40 jaar gedig het. Die uitgewersbrief lig ‘n mens in dat ‘n ernstige siekte hom verhoed het om “die taak van verwerking en oorweging en skaaf en skuur” te onderneem ten einde die bundel publikasiegereed te kry.

Op aandrang van kollegas en vriende het “keurders en vriende” dit toe gedoen.

Wat die mate van ingrype deur laasgenoemde was, is nie duidelik nie. Die respek vir die digter wat uit die uitgewersbrief blyk, laat my egter aanneem dat die finale produk minstens sy goedkeuring wegdra.

Vandaar dat ek die opeenvolging van gedigte as bedoeld beskou, as ‘n rangskikking wat ‘n bundeleenheid verteenwoordig. Ook die bundeltitel sien ek as ‘n betekenisvolle duider in hierdie verband.

Dit blyk dat ‘n lewensloop (in relatief skrapse besonderhede) geteken word in aan’t stap, hoewel nie in streng chronologiese volgorde nie. Dat die gedigtekorpus as ‘n aaneenlopende geheel aangebied word, sonder groeperings in bundelafdelings, kan as ‘n vergestalting van die lewensloop-gedagte gesien word. Tematiese gedigreekse kan wel onderskei word: Daar is huweliksgedigte; verse oor en vir die digter se kinders en ouers; oor die Namibiese plaaswêreld waarin die digter grootgeword het; verse met Nieu-Seeland as agtergrond (die digter het ‘n tydperk daar gaan woon en werk); gedigte waaruit die digter se nering as arts blyk; en die laaste agt gedigte is gewy aan die digter se slopende siekte.

Tussendeur kom ‘n aantal gedigte voor wat, in aansluiting by die bundeltitel, die reis- en stap-motiewe op die voorgrond stoot. ‘n Sekere verydelende onafwendbaarheid aangaande die menslike lot – onderworpe soos “ons” aan byvoorbeeld die verganklikheid is – word gesuggereer. Blykens die titelgedig, in die slotposisie in die bundel, moet ons

            [s]tap kleinword toe,

            verkyker-gunter spikkels ver

            is ons pikkewyne

            in die dimensies van sneeu.

            Stap ons voort,

            want ons het niks om na te laat nie,

            die strande skoongespoel

            woestyne skoongewaai,

            bosse donker toegegroei.

            Rotsetse sonder handtekeninge.

            Ver weg vervloei ons stap-stap soos mirages

            in die dimensieloosheid van hierdie ewige oomblik.

Die lakoniese “Te voet” vat dié lotsessensie wrang-satiries vas:

pienkvoet

kaalvoet

voor die voet

katvoet, vlugvoet

koevoet

sleepvoet

sesvoet[.]

‘n Ander “stap”-gedig in die bundel het bowendien newetone wat selfs iets noodlottigs aangaande die toekoms van inheemse mense (dus ook Afrikaanses én Afrikaans) kan impliseer:

Laaste staptog

 

Sy skud die werwels

in ‘n abbabondel

steek twee voete in die pad

en skop hulle voor haar uit.

 

Hier’t ek klaar gebly, huil haar hart,

hier’t ek die klippe blink gesit.

 

‘n Kar toet haastig verby

en sonder askies rol haar spu

hom ewe vies toe in die stof.

 

Sy boggel ‘n rantjie op

tuur oor die rimpels van gister terug

en vorentoe skel die lig te fel

vir klaarte, maar

 

knorrig karring sy die steekse heup

agter die belofte aan

van ‘n halwe klaargebakte brood

‘n spuit teen die diepe pyn

 

alles in ‘n witter vreemde taal

waarin sy ten minste

sin sal vind om weg te kwyn.

Tereg word in die uitgewersbrief gewag gemaak van “‘n sombere, amper siniese ondertoon” in die bundel. Maar daar is darem ook heelparty verse, veral onder dié wat oor die huwelik- en gesinslewe handel, of waarin teruggehunker word na die grootwordjare op die plaas (na “die geur / van reën wat Khoi praat op die dakke”!), waaruit lewensvreugde en -drif duidelik spreek. Hierby sluit die volgende liries-speelse vers met sy religieuse newetone aan:

Liedjie

 

Wie’t gesê die sonneblom

moet son se kant toe blom?

Wie’t my voete genoop

om klippies te skop in die loop?

Wie’t die skielike springhaas verpes

dat hy so gly-gly om graspolle es?

Wie’t die tarentale gehiertjy

om so kerrelend deur die gras te kierie – jy?

Wie’t die wind reg laat draai

om drywende beelde uit die wolke te waai?

Wie’t die bosse gepaljas

om silwergroen mantels aan te pas?

Wie’t gesê ‘n stukkie geluk

moet staccato aan my snare kom pluk?

Trouens, die gehegtheid aan die hiermaalse lewe én die ontgogeling daardeur word soms, soos in die openingsgedig van die bundel, as saambestaande aangebied:

Reis

 

Waar ons vandaan kom,

was dit bekend, veilig en vervelig.

 

Ons reis deur hierdie hitte

met hipnotiese selfoortuiging.

Ons is taai van die stof

stram in die hitte

begin twyfel aan die vreemde pad

wat elke vyf minute verby

dieselfde klipkoppie lei.

 

Gister het ons gepraat net van ons bestemming.

Ná baie pap bande en klipkoppe

het ons versagtend

die reis begin beklemtoon

as belangrik vir ‘n bestemming.

 

Ons reis is nou ons bestemming:

waar ons heengaan

is dit bekend, veilig en vervelig.

Op heelparty plekke in die bundel is daar tekens van digterlike dwang, van óórsegging in die nastrewing van poëtiese effekte. Sekere gesogte samestellings (“nagsê-naam”, “dynsver”, “wonder-soek”, “weet-soek”, “glipblink”, “verkyker-gunter”) en segswyses of beelde (“die musiek van ewewig”, “om skaapskap te laat wei”, “reuke, kleure, nat soos asters / mooi”, “die see kielie / onder die blaaie van branders”,  “postpuberse mieliepapdye”, “al blaas die omkyk / beloftes van vergesigte”) getuig hiervan. En in klaag- en skeldgedigte soos “die kuur”, “Banneling ná die stryd” en “Zoo toe” lê die emosies nog te vlak, het dit nog te onvoldoende taal- en versgestalte aangeneem, om bo indiwiduele geldigheid uit te styg.

Maar dit wat beïndruk, ontroer of genot verskaf in aan’t stap oorskadu mankemente soos bogenoemde. Selfs al sou ‘n mens huiwerig wees om die bundel, gegewe die bepaalde ontstaansgeskiedenis, as ‘n afgewerkte eenheidsbundel te beoordeel, steek daar genoeg in om ‘n mens van Louw se digterskap te oortuig.

As poësieliefhebber is ek sy vriende en uitgewer dankbaar vir die geleentheid om die verse onder oë te kon kry.  

 [Beskikbaar by Protea Boekwinkels. Lees ook die onderhoud met Len S Louw hier.]

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Comments are closed.