Philip de Vos. Wanneer is ‘n kiekie nie meer ‘n kiekie nie?

 

 Oor die jare heen het ek derduisende foto’s geneem vanaf die Donald Duck-kamera wat ek in my kinderdae in Cricketstraat present gekry het en later die Asahi Pentax van 1962 toe ek begin wonder het oor fotografie en begin kyk het na ander mense se foto’s en myself geleer het hoe om foto’s te ontwikkel en af te druk.

Dit is eintlik hoe ver my kennis van fotografie strek. Oor tegniese dinge sal ek nooit met ander mense kan saampraat nie. Met álles wat ek doen, of dit nou skryf, toneelspeel of foto’s neem is, was dit nog altyd intuïtief en kan ek self nie sê of iets goed of sleg is nie, want intellektueel was ek nog nooit ingestel nie, en sal ek nooit met ander skrywers of digters of fotograwe kan saampraat nie. Dis ’n geval van: hou maar liewers jou bek, want dan sal niemand regtig weet of jy slim of dom is nie.

Daardie eerste jare van foto’s neem en ontwikkel was wonderlik. Ons het destyds op Hillside– ongeveer 4 myl buite Bloemfontein gewoon. Een aand was ek juis in die badkamer besig om negatiewe te onwikkel, toe my pa vir my sê ek moet buitetoe kom. Sag, sonder dat ek daarvan bewus was, het sneeuvlokke skielik oor Bloemfontein se dakke kom uitsak.

 

Ons hond, Bruno het altyd in die kombuis geslaap, en toe my ma dié oggend die kombuisdeur oopmaak, het Bruno so groot geskrik toe hy ’n nuwe wêreld buite sien, dat hy die vloer papnat ge-pie het. ’n Halfuur later was al die honde van die buurt buite en het vrolik rondgehardloop in die wit wêreld buitekant.

En dit was vir my ook ’n wonderlike dag: Skole was gesluit as gevolg van die sneeu en ek kon orals met my kamera saam met my vriendin Ann Horak (ek wonder wat het van haar geword) rondloop in ’n Bloemfontein wat oornag verander het in ’n Bloemfontein wat ons nie geken het nie.

Êrens in ’n lêer het ek nog steeds die negatiewe van daardie wonderlike dag.

Oor die jare is negatiewe weggebêre – party nog nooit afgedruk nie; ander wat ek vaagweg onthou, en ander wat nog al die jare na aan my hart lê.

In 1971 het ek Europa vir die eerste keer besoek en vir ses weke lank was ek in Amsterdam. Dit was ’n traumaties tydperk in my lewe ‘n Verhouding van vier jaar het stadig begin einde toe loop. Ek was verward en het of in my Amsterdamse kamertjie die Tarot-kaarte probeer lees om te sien wat die toekoms dalk inhou, of andersins het ek met my kamera in Sarphatipark gesit en mense dopgehou.

Dit was in die dae voor digitaal. Negatiewe-spoeletjies was of in 24 of 36 beskikbaar en dit was nie soos nou die geval waar jy ’n duisend foto’s kan neem en hoop dat een ordentlik gaan uitkom nie.

Eers terug in Suid-Afrika, sou ek die negatiewe self ontwikkel, en dan deur ’n vergrootglas beloer om te sien watter die moeite was om af te druk. En met die afdrukwerk, was dit ook ’n geval van om in ’n tuisgemaakte donkerkamer te staan en foto’s afdruk en papier te mors tot daar uiteindelik die gewenste afdruk in die ontwikkelaar lê. Vandag is alles te maklik. Jy druk ’n knoppie en jy kan die foto onmiddellik op die monitor beskou en as jy dit in sepia wil hê, druk jy weer ’n knoppie in Photoshop en daar sien jy jou meesterstuk. Destyds het jy miskien reeds 20 velle fotopapier gemors voordat jou sepia-afdruk uiteindelik gereed gelê het.

En hierdie omslagtigheid het my miskien meer krities gemaak oor my eie werk. Selfs nou met digitaal, sal ek nie sommer die knoppie druk nie.

Maar watter van destydse foto’s is blywend?

Na al die jare is daar nog een foto wat by my bly spook. Dit was in Junie 1971, lentetyd in Amsterdam. En ek het my ure dikwels verwyl in Amsterdam se Sarphatipark. Daar was oumense op parkbankies. Jong studente en hippies en spelende kinders op die grasperke.

En toe – tussen die kinders, het ek hom sien staan. ’n Jong seuntjie wat teen ’n boomstam aangeleun het.

Van my was hy glad nie bewus nie. Ek het met groot gesukkel met ’n telefotolens gefokus en die knoppie gedruk.

 

                

Dit was die laaste negatief op die spoeletjie van 36. Die oomblik was verby; die seuntjie vergete.

Eers terug in Kaapstad, twee maande later kon ek die negatiewe ontwikkel.

En van toe af, tot nou toe, 38 jaar later onthou ek hierdie kind wat nooit eens van my teenwoordigheid bewus was nie.

Waarom spook juis dié foto by my? Selfs in 1971 reeds het ek gedink dat daar iets is wat hierdie foto besonders maak. Wat dit was, het ek nooit gevra nie, maar ek het in 1971 die foto vergroot, met groot moeite die stofkolletjies en krappies op die negatief verwyder en dié foto juis gebruik vir die plakkaat van my heel eerste foto-uitstalling.

Selfs om ’n plakkaat te maak was ’n hele gedoente. Om die woorde as deel van die plakkaat te maak. moes jy eers Lettraset letters gaan koop en ’n stuk ruitglas, dieselfde grootte van die uiteindelike plakkaat. Na die plasing van die letters op die stuk glas, moes jy in jou tuisgemaakte, tydelike donkerkamer, komberse voor die vensters en deure sit om die lig buite te hou en met die vergroter die beeld deur die glas projekteer. En dan eers, na ’n yslike gesukkel en 20 fotopapier-velle in die asblik het jy hopelik uieindelik die plakkaat.

Waarom dan bly hierdie foto so spesiaal vir my? Ek het nog nooit daaroor nagedink nie, want ek het nog nooit my eie werk probeer ontleed nie. Dit klink al te veel na jakkals prys sy eie stert, maar ek het tog hierdie foto vroeër vandeesweek beter bekyk.

Om die negatief te soek = 2 minute.

Skandering = 5 minute

Die prentjie op my Rekenaar-monitor = 1 minuut

Agt minute teenoor die 3 of 4 uur wat ek dalk destyds gebruik het voordat ek die uiteindelike produk kon sien.

Ek gesels juis verlede week op Facebook met Alwyn Roux wat op die oomblik in Nederland met studienavorsing besig is. In ons gesprek kom my foto ter sprake. Wat maak dié foto dan so spesiaal vir jou? En ek kon nie die vraag beantwoord nie.

Eers gister het ek die foto weer goed bekyk.

En om die waarheid te sê, het ek nog nooit enige van my versies of foto’s ontleed nie – want op die ou end, reken ek, dit klink darem ’n bietjie te egoïsties en aanmatigend.

Ten spyte daarvan en omdat ek hierdie week iets móés hê vir my blog, is hierdie lang inleiding omdat ek nie werklik weet waaroor om te skryf nie.

In sy geheel beskou, sê hierdie foto dalkies iets van kindwees. ’n Seuntjie alleen teen ’n boom. ’n Uitdrukking van (?) Om die waarheid te sê, ek weet self nie wat nie.

Miskien sê die detail dalk meer. Eerstens die gesig as geheel en dan as jy nader beskou: Die oë – after all het iemand geskryf: The eyes are windows to the soul.

Dan die mond – effens na onder getrek.

 

 

 

 

 

 

 

  

Of is dit dalk die hande wat iets sê?

Die een hand effens geklem.

Die ander verlep na onder.

 

Of is dit dalk iets te doen met die voete? Die een voet stewig op die grond die ander voet, half gelig.

En dan natuurlik die feit dat hy so styf teen die boom aanleun.

Maar miskien moet ek maar liewer net die foto onthou uit ’n tydperk in my lewe toe ek self nie so gelukkig was nie.

En in elk geval, die foto van die seun teen die boom het seker maar net ’n sestigste van ’n sekonde van sy lewe vasgevang en ’n sestigste van myne.

Wie hy was, sal ek nooit weet nie en hy sal ook nooit weet dat ek hom 38 jaar gelede teen ’n boom sien staan en my kamera se knoppie gedruk het nie.

 

  

 

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Philip de Vos. Wanneer is ‘n kiekie nie meer ‘n kiekie nie?”

  1. Wonderlike stuk. “Die gapings tussen kiekies maak my bang.” (Lucas Maree)

  2. Francois Hougaard :

    Eerstens Philip: Absoluut BRILJANT!
    Hier is wat vir my aangrypend is…
    Die vergelyking van die groei van die “jonge” seun en die groei van die “grote” boom, maar die boom se groei-punt is in die negatiewe spasie van die foto (Regs onder), wat samespel is met die kind se gesigsuitdrukking.
    Wel, dit is aangrypend en om eerlik te wees, die eerste foto waaroor ek ‘n paar minute lank sal kyk en tyd spandeer daaraan om iets daaroor te skryf.
    Welgedaan Philip.
    Francois

  3. Van Onselen :

    O die heimwee.
    Die ontwikkeling van jou belangstelling in die neem van fotos was vir my inspirerend. Jy het nie op[gehou “groei” nie Mooi so
    Hoop tog dat daai seuntjie nie groter word nie.
    Hou my op hoogte van jou blogs.
    Wen jy ?

    Drukkies

  4. Wonderlik, Philip

    Die oomblik wanneer ‘n kiekie jou laat stilstaan en dink, dan, dan raak dit iets meer.

    Van my foto’s is tegnies goed, maar niks werd nie. Ander is baie meer werd, al is daar tegnies soms goed wat haper.

    Dis ‘n pragtige foto.

    Dalk moet ons dit Nederland toe stuur en probeer uitvind wie die knaap is?

  5. karin brynard :

    Dankie vir die lekker stuk, Philip. Vir my is die foto juis aangrypend oor die weerloosheid van die kind, sy voete tentatief op die grond, ‘n amperse treurigheid op sy gesiggie. Die manier waarop hy teen die rotsvaste boom aanleun vertel vir my dat hy dalk op daardie oomblik sy ma mis. Of so-iets. So sal elkeen dalk iets anders in die foto sien.

  6. Phillip, dis die oumensgesiggie wat dit doen, die wereld druk op sy skouertjies, daar is meer verkeerd as wat hy behoort verkeerd te he op daai ouderdom. Nou hardloop die verbeelding weg…

  7. Ellen Botha :

    Ai Philip, jy wat nie eintlik geweet wát om te skryf nie, het almal wat dit gelees het so betrokke by hierdie hele klein geskiedeins gemaak, dat dit regtig ‘n wonderlike idee sou wees om die seuntjie te probeer opspoor… en moontlik ‘n foto van hom te kry soos hy nou daar uitsien. Dit op sigself mag weer lei tot nog ‘n storie uit jou meesterlike pen!