Jo Prins. Na Ginsberg

Na Ginsberg

 

Met ‘n opgerolde pienk mannetjies-leeu uit my gatsak snuif ek jou lyne op, Suid-Afrika.

Trek ek diep aan die reënboog agter tralies.

Brul ek van plesier!

Brul ek, want Jesus min my lot ook salig hier.

Al is ek ook swak en blind van rowers wat my vrou in die nag uit ons bed pluk en my harsings koevoet, nogtans noem jy my jou kind, Suid-Afrika.

En ek noem jou Heer en Herder, Saligstaker.

Staan ek hier met dié woorde, tone in die grond – skoorsoekend want ek weet die tribunaal gaan my teen ‘n muur laat staan.

Want ek is in besit van ‘n uiters geheime dokument – na my toe gepos deur ‘n mol wat ‘n spook ken.

Nou sit ek hier met die waarheid en wag vir jou.

Wag vir jou om my helder oordag tienmansterk te kom arresteer, want ek wéét van jou, Suid-Afrika.

Ek sal op die voorblaaie van Huisgenoot en You sien hoe dit met jou gaan, Suid-Afrika.

Jou sterre sal op eksotiese eilande trou en eksklusief sweer.

En minder eksklusief rondslet en Zanu-PF-partytjies hou met Bob – aan elke gewrig ‘n Breitling.

Ek weet nie, Suid-Afrika, moet ek maar net aanhou braai?

My bek hou en braai want alles sal mos regkom, Vader Jakob?

Jy blouligbende my, Suid-Afrika.

Druk my onbenullig van die pad en loer agter jou donker, koeëlvaste glas verbaas hoe ek durf ‘n vuis in jou rigting bal.

Is dít maar hoe die kaarte val, Suid-Afrika?

Dat ons toe oë sonder troewe moet speel?

 

© Jo Prins. Okt 2010

Bookmark and Share

Comments are closed.