Nadoodse ondersoek

Nadoodse ondersoek. Martina Klopper. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5224-2. Prys: R145,00. 64 bladsye. Sagteband.

Omslag

Omslag

Dit is telkens boeiend en uitdagend om ‘n nuwe digterskap in die gestalte van ‘n debuutbundel teë te kom; des te meer as dit, byvoorbeeld op psigologiese en  poësiebeskoulike vlak, om ‘n verwikkelde werk soos Martina Klopper se Nadoodse ondersoek gaan.

Nie verniet nie word aan die einde van die bundel verklaar dat dit voltooi is as ‘n M.A. in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Die uitdrukking dat poësie nie vir sissies is nie, kom hier vanpas.

Geen letterlike lykskouings word met die bundeltitel bedoel nie (hoewel Klopper in ‘n onderhoud wat elders op hierdie webwerf verskyn, getuig dat sy wel al so ‘n outopsie bygewoon het).

Dit gaan, eerstens, eerder om die ontrafeling van, en die intellektuele en emosionele beheerneming oor, bepaalde lewenservarings – volgens Jaco Barnard-Naudé in die essayportaal op hierdie selfde wefwerf waarskynlik te sien as ‘n rouproses, na aanleiding van liefdesontnugtering, wat deur middel van die poësie gevoer word. Daar is van verskillende verhoudings met mans sprake in die bundel, waarvan nie die minste nie dié met die vader. ‘n Gedig soos “Nom du père” (= die “naam van die vader”, ‘n verwysing na die Franse psigoanalis Jacques Lacan se konsep van die simboliese vader) suggereer dat die uitbeelding van aspekte van laasgenoemde (selfs bloedskandelike) verhouding nie as van outobiografiese aard gesien hoef word nie.

Nom du père

 

Jy’t jouself in haar panties ingepráát,

jul dogter – ‘n spieëlbeeld van haar ma –

se eerste woorde was “ek’s lief vir Pa”,

daarna het jy ophou praat.

 

In die begin was stilte en stilte was wet

op die reële maat van ‘n squeaking bed.

Nou is haar woordskatte onverstaanbaar

nes die vuil liefdestaal van haar pa.

Onvermydelik hou die betragting van sulke ervarings ook ‘n selfondersoek deur die “ek” (die subjek) in. Dis geen sentimentele of simpatieke selfblik wat gegee word nie. (‘n Blad word nie juis voor die mond gehou aangaande byvoorbeeld selluliet, swangerskap-rekmerke, maandstondes, ensovoorts nie.) Via twee gedigtitels word byvoorbeeld na die “ek” as ‘n “skedonk” verwys. Vergelyk:

Skedonk II

 

Hy is ‘n diesel mechanic [sic],

sy dogter ‘n geroeste kar –

die agterplaas is swart gevlek

van haar onklaar enjin-hart se lek.

 

Sy word elke maand gebloei:

Ma pomp-pomp-hou-die-clutch

terwyl Pa koes vir die olie-spuit

uit sy skedonk se vuil onderbuik.

Dié ondersoeke, soos al gesê, geskied deur middel van – of dan: op die wyse van – die poësie; dis óók, luidens die slotgedigtitel, ‘n “[n]awoordse ondersoek”. Poësiebeskoulike gedigte, waarin sowel die inspirasies en prosesse van (die subjek se) digterskap as die subjek se blootgesteldheid aan die aanskouing deur die leser ter sprake kom, is dus relatief volop in die bundel. Só lui grepe uit die driedelige openingsgedig:

Patologie

 

[…]

Hier is my liggaam

op die praalbed van papier,

dis jóú taak om die oorsaak

van my dood te bepaal.

[…]

 

Gebruik die en masse-tegniek

vir interne disseksie:

weeg elke woord,

sny “hart” en “brein”

in dik stukke fillet [sic],

vind metafore vir “moord”.

 

Hoeveel weeg ‘n gedig?

Jou verslag sal bepaal;

lywig of te lig.

[…]

 

Die digter is ‘n patoloog,

‘n gedig die lykskouingsverslag:

om te skryf is om te soek

na die oorsaak van ‘n woord.

Meer as een maal word die subjek, wat in haar gedigte met haar lewenservarings en -kwessies ‘klaarspeel’, ook as ‘n “reeksmoordenaar” bestempel. Meer spesifiek word die New Yorkse reeksmoordenaar “Seun van Sam” (skuilnaam van David Berkowitz) as metafoor in hierdie verband uitgesonder.

Die toonaard in die bundel kan dus kwalik anders as ontluisterend, disillusionêr wees. Koel-afstandelik, stropend, bytend (self-)satiries, grimmig en grillig is terme wat by ‘n mens opkom as beskrywers hiervan. In meer as een gedig tree die motief van grimeringverwydering na vore.

Klopper se oog vir die abjekte laat ‘n mens plek-plek dink aan dié van iemand soos Breyten Breytenbach:

Kwatryn

 

Woorde krioel in jou mond

soos maaiers uit ‘n wond,

dikgevreet aan jou leuen

se versadigende gangreen.

Skending, vernieling, verval, siekte en dood is uitstaande motiewe in die bundel, en word meestal in verband met lewe gebruik. Selfs die liefde is “‘n pes /  wat binnetoe vrot”. Die dood is daarom die verkiesliker toestand, bied suiwering. Soos aan die slot van die gedig “Dialise” uitgedruk: “om te sterf is om te leef […] lewe lewer leefste dood.”

Dis in hierdie verband dat die bundelmotto, “Hic locus est ubi mors gaudet succurere vitae”, al verstaan kan word. (Funksioneel só in die ‘dooie’ Latyns aangehaal, met die betekenis: “Dit is die plek waar afgestorwenes juig om die lewendes te help”).

Maar dit slaan in hierdie bundel ook op die “[m]isdaadtoneel” van die digkuns (soos die eerste bundelafdeling, met sy sterk poësiebeskoulike fokus, heet). Die subjektiewe lewenservarings van die digter as vrou word tot literêre objektiwiteit ‘vermoor’ via byvoorbeeld die beelding en die stilistiese en vormgewingsvernuf in die bundel: “digter ontbindend tot gedig”, soos die slotreël in die bundel dit wil hê. Eers híéruit, soos in die einste slotgedig geïmpliseer, is iets van ‘n herlewing moontlik:

[…] die lyk bloos

[…]

Spier-outolise het reeds ingetree

haar ledemate is buigbaar –

die aanvang en verloop, dus,

van rigor mortis onpeilbaar.  

Die lewenservarings en -kwessies ter sprake is die onderwerp van die middelste, twee langste afdelings in Nadoodse ondersoek. Afdeling 2, “Eksterne ondersoek”, behels ‘n fokus op die subjek se eintlik deurgaans skeefgeloopte en mislukte verhoudingslewe, byvoorbeeld gekenmerk deur mishandeling en molestering, leuenagtigheid, egskeiding, (buite-egtelike) seksuele vergrype en haatlikheid (as afloop).

In “Interne ondersoek”, die derde afdeling, word die loep oor innerlike sake gehou: liefdes- en wraakgevoelens; emosionele felheid teenoor kilheid; (vroulike) seksdrange en swangerskap; kwesbaarheidsgevoelens; siektetoestande (nierversaking en migraine). Motiewe uit (veral die jonger) Elisabeth Eybers se werk, ook in soverre dit die spanning tussen “hart” en “hoof” betref (vergelyk die driedelige “Vishudda”), weerklink hier op soms grimmige wyse.

Pa

 

Jy het jou in haar volbring

en so ‘n nageslag begin,

van jou het sy ryp geword

en uit haar het ‘n vrug gestort.

 

My lyf is ‘n oorryp papaja

in die helfte deurgesny,

uit my peul jou wilde hart

pit vir pit en pikswart.

Die digterlike ‘vernuf’ in die bundel word nogal opvallend gemaak: kragtige metaforiek, klank- en woordspel, kompakte versvormgewing. Terselfdertyd gee dit selde aanleiding tot volgehoue reëlmaat of vormgeyktheid. Eindrymgevalle kom byvoorbeeld sporadies voor, en dan liefs op die paarpatroon, veral in die gedigslotposisie. Meer dikwels word die patrone daarvan egter onderbreek, word dit afgeswak tot halfryme. Kwatryne en sonnetvorme duik op, maar sonder die geykte metrum- en rympatrone.   

Myns insiens kan hierdie min of meer weifelende stellingname tussen stilistiese en vormlike beheer/vastheid en onvolkomenheid as na twee kante toe funksioneel gesien word. Dit kan ‘n versvergestalting wees van die rasionele greep op die emosionele ontwrigting wat (slegs deels suksesvol) nagestreef (kan) word; én dit kan as ‘n uitdrukking gesien word van dit wat die digkuns in die traumaverwerkingsproses soos uitgebeeld in die bundel sélf verteenwoordig: objektiverende ‘geweld’ op subjektiewe inhoude.

Die digter is ‘n “eksorsis’ (bladsy 16); die digkuns as ‘n “monster” (bladsy 18).

Die merke wat hy laat

sal later rowe maak.

‘n Gedig is die litteken

van afgekrapte woorde,

staan daar in “Monster”.

Hier en daar het ek op ‘oneffenhede’ afgekom wat myns insiens nie bevredigend tuisgebring kan word onder sulke sieninge aangaande styl en vorm in die bundel nie:

  • ‘n paar twyfelagtige woordkeuses (“besete / met bose beelde”; “trek […] ‘n […] gewaagde lae hals aan”; “tussen die lyne / vou dit toe in snawel en rug” [pleks van “tot”?]; “My hart is ‘n ou kragboks: / swaar gelaaide drade / peul daaruit”);
  • enkele eindryme wat van dwang getuig (“kaal wortels droom van tak-wees / van weer groen en hand-wees“; “tot vlesige blare by my vel uitpeul – / my eie hart in dorings verseël“);
  • metafore wat nie oral haaks voeg nie (uit “Die brein is ‘n aartappel”: “hy eet jou saam met bangers op / uit jou mond peul jou mashed-up kop“); of wat ‘n bietjie verstandelik geforseerd uit die outopsiewêreld betrek is; of wat (miskien as gevolg van laasgenoemde) ‘verduidelik’ (moet) word. Deel II (reeds deels aangehaal) van “Nawoordse ondersoek” kan as voorbeeld dien (die vindingryke, klinkende momente daarin ten spyt):

Rigor mortis

 

Beelde is soepel:

as die liggaam suurstof verloor

en die proteïene in spiere

onnatuurlik verbind

soos geheue met die leuen

verstyf beeld tot metafoor.

 

Wanneer is sy dood?

En was dit moord?

Spier-outolise het reeds ingetree

haar ledemate is buigbaar –

die aanvang en verloop, dus,

van rigor mortis onpeilbaar.

Maar Nadoodse ondersoek bevat baie meer wat dubbel en dwars vergoed vir sulke onafhede. Dit beïndruk as bundelgeheel en munt uit in bepaalde besonderhede, soos uit heelparty van bostaande aanhalings behoort te blyk.

Ek was bevoorreg om, as eksterne eksaminator van Klopper se M.A.-verhandeling, haar bundel in ‘n vroeër stadium van ontwikkeling onder oë te gehad het. Ek meld dit omdat daar in die afgelope week in ander portale op die Versindaba-webwerf geskryf is oor die werkinge en (vermeende) uitwerkinge van slypskole en die begeleiding van kreatiewe skryfwerk. Ja, ek meen dat ek sweme van die eie digpraktyke van Klopper se studieleier (Joan Hambidge) kan verneem – maar dit is beperk genoeg om onnoemenswaardig te wees. Wat wél werd is om te noem is dat die verdere ontwikkeling/slyping van die bundel ‘n steeds meer afgewerkte produk opgelewer het, een waarin die eie stem van Klopper duideliker en sekerder spreek.

As dít die resultaat van skryfleiding is, wil ek sê: Maak gerus weer so.  

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Comments are closed.