Melanie Grobler. Lemoenbloeisels

Lemoenbloeisels

 

Historical amnesia is a dangerous phenomenon, not only because it undermines moral and intellectual integrity, but also because it lays the groundwork for crimes that lie ahead.

– Noam Chomsky –Hopes and Prospects

 

 

1.

 

ek dog mirakels bestaan nie meer nie, maar nee sê die vigslyers

met ʼn knip van die oog volg hul die man met ʼn kleurvolle vlieër

 

nooit sal hy weer lemoenbloeisels ruik nie.  ʼn skoot deur die hart

ekstaties hoog word hy nou op skouers deur modderige stegies gedra

 

die vroue ween en die wit duif vee die hemel met sy vlerke

hoër en hoër die wit geskilde lemoen van sy vlerke, die vlerke

 

van vrede wat vlieg.  in die middag as die slapelose digters

om die graf vergader sal die wit duif slaap

 

2.

 

die bloeisels is die dodemars van die sneeu

maar die politikus skil die lemoen en sê dis die son

 

3.

 

asof daar uit geweldadige rye getree word

val die grys gefluister op die grond

 

die vonnis staan op die magistraat se dorpsbef geskryf

en alles verander na ʼn grommende gerug

 

hierdie brose niks, hierdie vormlose angs wat ons

snags bedreig.  god hurk oor die huis van my kinderdae

 

en ek bid ʼn falsetto gebed, bewe soos ʼn hond

in die duisternis van ʼn laat naggedig

 

4.

 

koringbrood van moord en mielies van geweld, rogvelde

van dood.  dwarsoor die dorsland van transformasie

 

loop mans na fabrieke en mynskagte.  tussen geweerskote

en sonsondergang buk werkers agterdogtig oor

 

gerugte van gevangenisskap van skoenlappers.  die land is hoog

en die land is laag.  nou is die vers die pad van rewolusie

 

wat lei na beddings gevul met plakkers huisies versteen teen die ewigheid

 

5.

 

waar christus se varkblom blom

hang die verwonde maan oor die plakkerstad

 

by die kruispad van verbeelding is my hande

twee duiwe wat spartel.  brand weer saam met my

 

my lief, as jy afrika aanvaar kan jy hier sterwe

 

6.

 

dwalend van genesis tot die apokalips, langs lyne

en sirkels na die diepte van die labirint

 

die ou vrou, beskerm deur die waansinnige skadu

van ʼn sambreel, struikel in die straat.  as die wit duif

sy oë knip sien sy die mars van die werkers

 

o gebalde vuiste wat glimmer in die geweldadige

middagson.  o twee duiwe wat spartel buite my hande

 

 

 

© Melanie Grobler.  Ongepubliseerde gedigte. Oktober  2010.

Bookmark and Share

Comments are closed.